Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende



Die Sondagmiddagstilte waaraan so baie mense gewoond is en ná ‘n gejaagde week verlangend uitsien, is iets wat selde deel van ons huishouding uitmaak. Nie dat dit nie vir die grootste deel van die huis belangrik is nie. Inteendeel: ek hunker elke dag na die stilte wat vir sommige net Sondae beskore is.

Maar by ons huis was stilte te veel gevra.

Dinge begin gewoonlik aan die etenstafel al warm raak. Pa is moeilik omdat hy alleen buite in die son moes staan en vleisbraai. En as die son die dag nie skyn nie, dan is hy moerig oor die reën wat juis daardie dag moes val en sy toutjietjieshare oor sy slape en voorkop vasplak. Soos gewoonlik het hy sy hoed binne gelos, want dit het nie gereën toe hy begin braai het nie. Dan gloei sy bolwange behoorlik wanneer hy homself met ‘n sug aan die etenstafel kom neerplak. Son of reën; sy wange gloei wanneer hy hom soos ‘n tiener opruk.

Sulke tye is hy daarop uit om met almal ‘n verskil op te tel. As die gesprek oor politiek gaan, kan jy maar weet hy gaan van jou verskil. As ma dink dat die dominee die oggend in die erediens ‘n heel skaflike boodskap gehad het, sal pa hand en mond sweer dat hy nog nooit in sy lewe so ‘n spul snert uit een man se mond gehoor het nie. En as ma sou sê dat sy nie lekker die boodskap kon volg nie, sal pa sê dat dit die eenvoudigste is wat hy in ‘n lang tyd gehoor het, en dat hy seker is dis geskryf met die doel om as kinderpreek gebruik te word.

Op sulke dae sal ma die gesprek sommer vroeg doodsmoor. Sy’s die rustige een in hulle verhouding, as ons dit nog ‘n verhouding kan noem. Ek kry baiemaal tydens so ‘n gesprek die idee dat ma met haar eie gedagtes besig is en dat sy net voorgee dat sy luister, kompleet met haar kop wat af en toe knik terwyl sy jou stip in die oë kyk; maar intussen hoor sy geen enkele woord wat jy sê nie. Ek vrek oor haar attitude. Op ‘n manier is ek baie soos sy, en daarom is daar ‘n band tussen ons wat ons nog nooit werklik in woorde omgesit het nie. Dit is maar net daar. Dit was nog altyd.

Vandag was ons gelukkig en het die gesprek aan etenstafel oorleef sonder dat ‘n woord gestry is. Miskien omdat ma vandag die middagete voorberei het. ‘Wat anders moet ek met die boudvleis maak wat ons by Lenie gekry het?’ was haar argument. Pa het na ete aangebied om te help met die skottelgoed. Ek het my oë gerol oor die vreemdheid van dié aanbod toe ek seker was dat hy nie kyk nie, en ma het my kamma ‘n skop onder die tafel gegee. Sy het my met ‘n groot frons tussen die oë aangegluur, maar haar oë het gelag soos die vlamme van ons kaggelvuur wanneer alle ligte in die vertrek uitgedoof is.

In my kamer het ek my op my rug uitgestrek, en my nuwe boek van Robert Johnson, The Fisher King & the Handless Maiden, oopgemaak. Ek was gereed vir ‘n namiddag van nuwe ontdekkings. Maar ek het skaars my lê gekry, toe ek die harde gedruis van stemme uit die kombuis hoor. Dis met min verbasing dat ek die boek op my bors laat sak en na die gesprek luister. ‘Hoe kan jy dit regverdig om na ‘n konsert in die kerk te gaan luister!?’ roep pa dit uit. ‘Die Here se huis is ‘n plek van aanbidding, en nou word dit ‘n rowerspelonk gemaak, ‘n plek waar hoere en diewe bymekaarkom’, bulder sy stem tussen die geluid van borde wat teen mekaar kap.

In my verbeelding sien ek die toneel wat in die kombuis afspeel, en ek lê in afwagting vir die geluid van vallende en brekende borde en koppies. Dit gebeur nie. Ek staar teen die plafon vas terwyl ek na die woordewisseling luister. Eintlik is dit nie ‘n woordewisseling in die ware sin van die woord nie, want dit is meestal net pa wat skree. Ek weet alte goed waaroor dié herrie nou gaan: die stad se simfonie orkes het vanaand ‘n uitvoering in die kerkgebou tydens die erediens. Vanoggend tydens die oggenddiens is die gemeente daarna uitgenooi, en uittreksels uit The Messiah van Händel gaan uitgevoer word. Ek weet dat dit ma se gunsteling is, en sy luister gereeld na die musiek op die cd. Eintlik hou pa ook van sulke musiek, maar vandag hou hy voet by stuk dat dit die walglikste gemors is wat hy nog ooit gehoor het.

Pa weet ook dat ma nooit geld sal hê om na ‘n uitvoering in die stad self te gaan luister nie, maar hy sal wragtag sy nou-reeds-bekende holier-than-thou act gooi. Die woorde in die kombuis het opgehou, maar die borde praat nog hard in die manier wat hulle teen mekaar klap en in die rak neergeplak word. Pa sou nog verder wou praat, maar ma het lankal besluit om haar swygreg uit te oefen. Ek neem weer my boek op en lees verder. Only feeling brings a sense of value and worth, duik die woorde voor my op. Ek lees nog ‘n paar bladsye verder, maar gaandeweg oorval die moegheid my en ek sit die boek op die stoel langs my bed.

Dis eers heelwat later dat ek wakker skrik. Die huis is doodstil, soos die keer met Arnau se selfmoord toe ma en pa vir vier dae aanmekaar gehuil het. Dit was een van die min kere wat hulle iets saam gedoen het. Ek stap in die koel gang na die kombuis, sommer net om te kyk of daar nie enige ooglopende skade is nie. Op pad soontoe hoor ek pa se diep snorke uit sy kamer. Ek loer in en sien hom plat op sy rug lê, met sy snor wat die trilling van sy bolip effens wegsteek. Ma is nêrens te sien.

Ek kry haar buite waar sy onder die vyeboom sit en tydskrif lees. Sy merk my eers op toe ek langs haar staan, en sy skrik effens. Dan glimlag sy en spring op. ‘Wag, ek kry vir ons koffie’, sê sy en verdwyn die kombuis in. Later sit ons so en koffie drink sonder om te gesels. Sulke tye kommunikeer ons die beste, elkeen met ons eie gedagtes en drome. Om dan later, wanneer ons sou praat, te ontdek dat ons gedagtes min of meer dieselfde was.

Pa se harde stem boelie ons uit ons eie wêreld: ‘Waaraan sit en dink julle so?’ bulder hy uit die kombuisdeur. Ek pes dit as iemand my vra wat ek dink. As ek wou vertel het waaraan ek dink, dan sou ek mos kliphard gedink het. Sonder om vir ‘n antwoord te wag, kom die volgende vraag: ‘Kry mens nie iets om te drink hier rond nie?’ Ek staan gesteurd op en gaan gooi vir pa tee. Rooibos. Hy haat kamtig rooibos, maar kon nog nooit die verskil agterkom nie. Soos nou weer wat hy alles opdrink sonder om ‘n woord daaroor te sê.

Kwart voor sewe toe sit ek en ma in die kerk. Pa luister kerk op die radio by die huis. Ek het nie eers geweet daar is saans kerk op die radio nie. In die ruimte voor die kansel is daar verskeie staanders en instrumente opgestel. Ek sien viole wat op stoele lê, en fluite, en ‘n tjello wat half skuins teen die kansel leun. Die statige vleuelklavier staan op sy gewone plek. En dan is daar die tromme. Nie sommer gewone tromme nie. Koper, met ‘n boepens aan die onderkant, op pootjies sodat die boepens nie grond raak nie.

Die musikante en dominee stap in. Almal in swart en wit, dominee, kerkraad, musikante, die lot. Almal word verwelkom en daar word gebid. Dan is dit die musikante se beurt. Bo die kansel is ‘n groot elektroniese bord wat elke gedeelte wat gespeel word, se naam aandui, vir diegene wat nie weet nie. Ek weet dat ma weet, en ek glimlag oor haar geluk.

Behalwe vir die man agter die tjello en een man by een van die viole is al die musikante vrouens. Hulle is entoesiasties en dit is duidelik dat hulle energie uitvloei in die musiek, asof hulle self die note is wat hulle hande na die mense voor hulle uitsteek. Vir die grootste deel van die vertoning sit die meisie agter die tromme doodstil voor haar en kyk asof sy ook deel is van die gehoor. Wanneer haar geleentheid om te speel aanbreek, staan sy stadig op, neem die stokke en val op die regte plek in. Daarna gaan sit sy weer sonder om die gehoor se aandag van die ander musikante af te trek.

Maar sy het mý volle aandag. Die spanning groei in my soos ek in afwagting sit en wag dat sy weer moet opstaan en deel wees van die musiek. Haar teenwoordigheid fasineer my en ek sien haar gelaatstrekke en regop, slank liggaam totdat ek later nie meer die musiek hoor nie en net bewus is van my eie hartklop. My oë bly op haar vasgenael.

Händel se Halleluja dring stadig tot my deur. Die musiek vul die hele kerkgebou. Die meisie staan op en maak gereed om te speel. Die swart pullover span styf om haar borste. Ritmies speel sy saam met die orkes. Ek raak vervleg in haar spel. My hart klop saam met die maat van die tromme. Is dit net ek of het sy almal in haar ritme? Sy lei my deur die lied sonder dat ek die musiek hoor. Later is dit net ek en sy en die ritme in die gebou. Die lied bereik sy klimaks en die note sterf geleidelik weg. Die meisie gaan sit. Die mense se oorverdowende handeklap bring my terug na die stampvol kerkgebou.

Ek vee die sweet van my handpalms af, voel hoe die fyn straaltjies onder my arms afloop.

Ons kry vir pa waar hy voor die televisie sit. Hy kyk op toe ons inkom, maar sê niks. Te harregat om te vra hoe dit gegaan het. Ma stap ligvoets die kombuis in om snacks aanmekaar te slaan, en ek sorg dat ek in my kamer kom. Ek soek byna koorsagtig na die cd van Händel, en kry die snit van Halleluja op. Met my oorfone oor my ore lê ek op my bed, my oë toe. Ek sien hoe die pullover styf om die meisie se borste span, die ritmiese beweging van haar arms soos sy die tromme speel. Ek is deel van die musiek en deel van haar ritme en polslag; sal van nou af altyd deel daarvan wees.

Ma kom die kamer binne sonder dat ek daarvan weet. My oë gaan oop toe sy aan my arm raak. Ek weet sy het geklop, maar die oorfone maak dat ek nie kon hoor nie. Sy glimlag, sit ‘n bord met toebroodjies langs my neer, en stap uit. Sy los my alleen saam met die meisie met die tromme.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Dit vat my terug na my eie kinderhuis. Dit klink tydloos. Ma se 'donkie-voor-'n-toe-hek-uitdrukking terwyl pa sy bors slaan soos 'n groot aap...en ek met my musiek, gedagtes en drome oor daai een oomblik in tyd. Mooi geskryf, ek het dit geniet.
13 jaar 2 weke 6 dae 7 ure oud


Meisie met die tromme.
Ek kon geen draad in die storie vind nie. Dit is soos iemand wat rigtingloos ronddwaal.
13 jaar 8 maande 2 weke 2 dae 6 ure oud


Na aanleiding van jou vorige 2 skrywes het ek spanning begin opbou binne myself: gewonder wanneer geweld gaan uitbreek. Die beskrywing van die pa se optrede het my so laat dink. En toe draai dit 'n mooi storie van verliefdheid uit!
14 jaar 3 weke 1 dag 6 ure oud



Gedoria

deur Martha Maria Jones

Gedoria is my debuut digbundel. U kan dit koop by www.afrikaansenuusagentskap.co.za of u kan my kontak by 0760176453. Ek is tot alles in staat deur Christus.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar