Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

As jy my ooit sou vra hoe ek my pa sal onthou, is daar tonne stories wat ek kon vertel, en eienskappe wat heeltemal te oorlaai is met verwagtinge, maar van al my pa se goeie en slegte eienskappe sal die 'drama weergawe' van die storie seker die een wees wat ek in my hart sal koester...

Dit het alles begin toe ek een Vrydag van skool af huis toe kom met 'n opdrag, blinkoog en borrelend met die genade van idees en wêrelde van moontlikhede. Ek het geweet dat die keer ek nie self gaan wil sukkel nie, my ma sal ook nie oudergewoond kan help nie. Die opdrag is uitsluitlik vir die spesialiteitsvernuf van my pa bedoel.

So, het ek met trots en wapperende skooldagboek dit by my pa se tekenkamer ingewaag. As jy nie 'n belangrike doel het, of met koffie in die hand by daai deur in nie, verkieslik albei, is sy kantoor taboe terwyl hy werk. Dit was nooit ʼn gesproke reël nie, maar ons almal het dit stilweg geweet. So met my waagmoed baie bars ek in en staaf my doel met 20 sekondes dapperheid.

"Pappa, ek kort hulp met huiswerk."

Sy gemoed kon mens in sekondes klokslag tel en aanskou. Eers hou hy op met teken, dan sit hy regop, en laaste, die ergste, gee 'n swaarmoedige sug wat aandui dat hy nou besig is, en net wil klaar werk. Dan daai ewigheid van 3 sekondes wat hy homself eers instel om te draai en gesels.

"Nou waarmee moet ek jou help?"

Hier's my kans, en ek het dit geweet. In my verbeelding is ek nou op die voorgrond van 'n stryd en moet nou sê of vir altyd sonder vrede stilbly. My gemoed sterk flap ek die boek oop en gee nog 2 treë nader tot teen sy stoel.

"Dis vir Biologie, ek moet 'n akkedis vang, en skool toe vat, maar eers later skool toe vat. Mr. Nauta het gesê dat ons hulle eers moet vang en dan bestudeer en dan sal hy sê wanneer ons hulle moet skool toe vat."

Mens kan sien hoe die ratte van sy brein agter sy oë die inligting inneem en verwerk, en stadig ʼn vraag formuleer.

"En wat gaan julle met die akkedisse doen in die klas?"

Toe slaan dit my, soos 'n vuishou uit 'n onverwagte oord. Ek het myself so ingeleef op die akkedis dat ek vergeet het dat ten uiteinde dit die skeppingtjie se laaste sou wees. Ek het eers gedagdroom dat dit die grootste vetste akkedis sou wees, maar nou, nou was my waagmoed, my trots en my opgewondenheid ewe skielik ingesluk en met tydelike teleurstelling wat oplossings soek op my voorkop bestempel.

"Ons gaan hulle dissekteer en kyk hoe hulle binne lyk, maar nie noodwendig almal nie, maar almal moet een vang en hou."

In daai sekonde kom die plan blink na vore en ek praat sommer terwyl ek opgewonde dink.

"As ons 'n kleintjie vang dan gaan Mr. Nauta hom nie oopsny nie, want ons gaan nie kan sien nie."

My pa sit sy potlood op die rant van die tekenbord, staan op en vat die boekie uit my hand terwyl hy uitstap.

"Gelukkig is dit somer, kom ons gaan kry jou akkedis."

So stap ek agterna, met my eerste klas alliansie, reg vir oorlog.

In die kombuis laai ons vir ons misie 'n 2 liter roomys bak, met gatjies in die deksel gemaak vir lug. Daarna motorhuis vir 'n ou vissie net, net ingeval ons hande nie vinnig genoeg is nie, en 'n klein waterbakkie. Laaste plek vir gereedmaak die tuin, vir twee redes;

1. Eerste om die bak in 'n habitat te verander. My pa vertel my hoekom hy versigtig alles doen, eerste grond rondom die waterbakkie, dan bo-oor die grond gras snippers, met die water laaste.

2. Die jagtog vir die perfekte akkedis wat nie oopgesny sou kon word nie.

Ons het daardie namiddag tot amper donker gejag, suksesvol, twee akkedis sterte, en 3 akkedisse gevang. Die eerste een moes ons laat gaan omdat hy sy stert afgegooi het, en my pa nie gedink het dat 'n halwe akkedis steeds tel nie. Die tweede een was te groot, ongeag ons meesterskap, sou daai akkedis verseker slaag om geslag te word. Die laaste een was perfek! Nie te groot nie, nie te vet nie, en het sy stert gehad. Amper faal bruin van gelaat met 'n wit spikkellyn aan elke sy. Koeëlronde swart spikkel-oë wat van niks behalwe leemte getuig nie, en 'n tong wat proe aan sy nuwe tydelike omgewing.

Ons was oorwinnaars. Die akkedis was veilig en weens my pa se vlieëplak 2 vlieë 'n dag gevoer tot die dag wat Mr. Nauta besluit het om ons 5 dae later opdrag te gee om ons akkedisse skool toe te bring.

Angstig het ek my nuutgevonde troeteldier in sy nuwe habitat langsaam saamgevat. Dissie het goed gedoen, hy was nie die kleinste nie, maar by verre nie die grootste nie, sukses! Ons het in ons doel geslaag om sy lewe te red en ek sou hom kon vrylaat in die tuin, en in my gedagtes sou hy vir al die ander akkedisse kon vertel oor sy avontuur.

Opgewonde hardloop ek na skool Biologie klas toe, tel vir Dissie op snol vir die hek. Ek moet 2 blokke ver vir die busstop, en ek's gewoonlik laat en kry my broer wat in die Hoërskool is elke dag vies daaroor daar.

Iewers in my haas trap ek die kalwer mis, en val knieë te pletter, en die roomysbak 'n goeie 2 meter verder. My hart sink. Ek pluk my op, kry my boeke en bestorm die roomysbak. Dit is nog toe. 'n Sug van verligting, daar's nie tyd om te stop en te kyk of Dissie binne oorleef het nie, so ek doen dit maar in my loop. Plaas ek wag tot ek in die bus is.

Met die val moes die arme akkedis gevaar sien kom het en met die oopmaak van die blik spring hy uit, land eers op die kalwer en kies koers oor die pad. Dit sou my kinderhart oorleef, maar hy kon nie voorspel dat daar 'n kar kom nie, hy het nie geweet waar hy is nie, en het net opgetree soos enige kreatuur sou.

Die kar tref sy lyf plat, opslag dood. Ek was dadelik in trane, en woedend. Onmiddellik venyn teenoor my eie stupiditeit en God, en alles wat bestaan. Die arme diertjie was daar as gevolg van my. My beste probeerslag om hom te red, het uitgeloop op moord van die kreatuur...

Ek was in tyd vir die bus, maar die prys daarvoor was vir my te hoog. Ek wou net vir Dissie vrylaat, en nou kon ek nie.

Daardie aand kom my ouers by die huis. Moegheid oor hulle gelaat, dit was 'n lang dag. Tog, stap my ma kombuis toe vir koffie, en my pa loop oudergewoonte na sy bank om die televisie aan te skakel. Hy sien my verpletterd emosionele wantoestand, en neem aan dat ons nie die lot van Dissie kon red nie. Hy vra versigtig en presies:

"So, hoe het dit by die skool gegaan, het jou akkedis oorleef?"

Ek bars uit in trane en vertel die hele saga met dramatiese oorvloed en detail soos net my pa se gene kon. My traumatiese ervaring, en my nuttelose selfverwyt. My pa se antwoord was een wat my hart nie onmiddellik kon gesond maak nie, maar wat in die langtermyn verseker my siel laat kalmeer het. Hy het saggies geantwoord:

"Ai, ek weet nie wat om te doen nie. Ek kan vir jou 'n nuwe akkedis gaan vang, dan kan ons hom hou?"



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Akkedis
Dankie dat jy dit gedeel het Bekkie.
Het my laat terugdink aan al my eie kinder-emosies wat tog so intens kon wees.
6 jaar 9 maande 2 weke 2 dae 8 ure oud



Mari

deur Rachelle du Bois

Die pragtige Mari Wolmarans vat haar seuntjie en vlug weg uit ʼn gewelddadige huwelik. Sy is die rykmanslewe gewoond, maar nou is sy sonder heenkome of inkomste. Sy gaan woon by haar broer Thinus waar sy die aantreklike kunstenaar Dewald Bosman ontmoet. Sy is geskok en verward toe hy aanbied om met haar te trou ter wille van die drie-jarige Dirkie. Sy is nie gereed vir ʼn tweede huwelik nie, maar sy neem tog sy huweliksaansoek aan ter wille van haar seun. Dit sal egter slegs in naam wees tot sy anders besluit. Maar sal sy? Sal sy vir Dewald kan liefkry soos hy vir haar? Dewald is betower deur die verruklike Mari. Sy het sy voete onder hom uitgeslaan en sy enigste begeerte is om haar lief te hê as sy vrou. Die oulike Dirkie kruip vinnig in sy hart en hy neem hom voor om vir hom ʼn toekoms te verseker, want hy kan en hy wil. Vir Mari en vir Dirkie. Sal hy daarin slaag om haar hart te wen?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar