Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Oupa en sy kleinkind Jannie, vang vis by Bloubergstrand. Hulle sit daar by die rotse. Voor hulle lê Robben Eiland, so tien kilometer oor die water. Suid-Oos van hulle lê ou Tafelberg met Leeukop aan die een kant en Duiwels Piek aan die anderkant. Jannie sê vir sy oupa: “Oupa, kyk daar op die berg. Dit lyk of daar ‘n tafeldoek oor is.”
“Ja, Ou Jan van Hunks en die duiwel rook alweer pyp.”
“Wie is Jan van Hunks Oupa?”
“Ken jy nie die storie van waar ou Tafelberg sy kleed vandaan kry nie?”
“Nee Oupa.”
“Jy sal nou vir my lag as ek vir jou hierdie storie vertel, maar dit is die naaste aan die waarheid wat jy sal kom. Jan van Hunks, die berugte pyproker!!
Ha-haaaa,!! Van Hunks, of, Mynheer Jan van Hunks!! Noem hom wat jy wil!! Hy sal altyd die begin en die einde van die storie wees!!

Lank gelede, en ek praat nou van honderde jare gelede, om amper presies te wees, so vyfhonderd en twintig jaar gelede, het Jan van Hunks, ‘n man wat jy nooit sonder sy pyp in sy hand sou sien nie, sy voet vir die eerste keer hier aan wal gesit.
Mense sê hy het saam met Bartolomeu Dias gereis toe hulle die Kaap ontdek het. Dit was in 1488. Hulle het dit toe die Kaap van Storms genoem.
Maar nee, sê ander mense, Jan van Hunks was ‘n Hollander, en die Hollanders het eers in 1652 saam met Jan van Riebeeck hier in die Kaap aangekom.
Ja dis reg so, hy was ‘n Hollander, sê die wat dink hulle weet van beter, maar hy het jare voor Jan van Riebeeck se tyd, na Portugal gevlug omdat hulle hom in die tronk wou stop en hang, omdat hy ‘n seerower was. Hulle het sy skepe gekonfiskeer en amper al sy bemanningslede in hegtenis geneem. Hy was gelukkig dat hy dou voor dag sy skip verlaat het om aan land te gaan. Blykbaar het een van sy slawe wat ontvlug het, vroeg daai oggend na Jan gaan soek om hom te waarsku. Hy het vir ou Jan ook net opgespoor aan die rookwolk wat oor die plek gehang het waar hy en ‘n ander seerower gesit en rook het.
Van Hunks het op ‘n gereelde basis iemand uitgedaag om te sien wie kan die meeste rook. Hy sou ook altyd spog dat hy nog nooit ‘n daalder (‘n muntstukkie wat 15c werd was) verloor het in so ‘n weddenskap nie, behalwe dáárdie dag toe hy hom so vinnig uit die voete moes maak. So het hy en Spook, sy getroue slaaf, saam ontvlug.
In Portugal het hy een aand, pyp in die hand, in die drinkgat gesit en vertel hoe sy skip in ‘n storm beland het en hoe hy op ‘n plek geland het waar, niemand hom sal glo nie, die mooiste plek op aarde is. Die storm was woes. Die branders het oor die skip se rand gebreek, dit was donker en die mis was so dig, jy kon nie eers jou hand voor jou oë sien nie. Die storm het bedaar en die waters het stil geraak. Dit was baie vreemd want na so ‘n storm, was die waters gewoonlik nog baie woes.
Dit was eers toe dit begin lig word en die mis opklaar, dat hulle in verwondering op die dek gestaan en hierdie asemrowende prentjie aanskou het.
Regs van hulle was daar land en die oggendster het vlak bokant die stukkie aarde gehang. Links van hulle was daar land, reg voor hulle was daar die mooiste grootste berg wat hulle nog ooit gesien het. Die berg was majestueus hoog en sy hele boonste gedeelte was so plat soos die van ʼn tafelblad. Aan weerskante van die plat, amper vierkantige reuse berg, het twee groot pieke gelê. Twee pieke wat soos twee reuse piramiedes gelyk het. Die son wat net sy kop begin uitsteek het, het die voue en skeure in die berg onthul en hier en daar groot skaduwees gegooi. Die paar wolkies wat nog in die lug gehang het, het pienk verkleur. Teen die piek van die linkerkantste bergpiek het duisende voëls gesirkel. Die opkomende son het hulle vlerke spierwit teen die donker agtergrond van die berg weerkaats. Hulle was verstom. Dit was ʼn asemrowende gesig. Hulle het net daar anker gegooi en met klein bootjies na die naaste land gevaar.
Nou-ja, soos jy weet is vars water elke seevaarder se grootste bekommernis, maar hulle was so gefassineerd met die berg, dat hulle sommer dadelik teen die hange op is. En daar, het hy vertel, het hulle die heerlikste, varste, soetste water gekry, wat sommer in strome teen die skeure van die berg afgestroom het.
Op geen ander plek in die hele wêreld is sulke lekker water nie.
Dit is so mooi, die wildernis lyk soos ʼn blommerangskikking. Die plantegroei is ongelooflik mooi. Die blomme, so groot soos ʼn man se twee hande saam, groei wild aan die bome.
Net daar en dan het almal soos een man besluit om net daar af te pak en te bly.
Hy het vertel van die wonderlike tyd en ervarings wat hulle daar beleef het vir bykans ʼn jaar, en dat, as dit nie vir die skepe op die horison was wat hulle moes gaan “ondersoek” het nie, hy nou nog daar sou gebly het.
Langs hom het ‘n man gesit wat nie kon help om te hoor wat Van Hunks, gehul in ʼn rookwolk, soos hy kort-kort aan sy pyp gesuig het, alles te vertel gehad het nie. Sy naam was Bartholomue Dias. Hy het opdrag gehad van Koning John van Portugal om te gaan soek na ʼn nuwe seeroete na die ooste. Hy het juis na die seemanne se drinkplek gekom om bemanningslede vir sy skepe te werf.
Gou het hy ʼn geselsie met Van Hunks aangeknoop en kort voor lank was dit ʼn uitgemaakte saak dat Van Hunks hom op sy reis sou vergesel. Hy sou beslis kon gebruik maak van ʼn man met soveel kennis van die see.
Maar nou-ja, hoe dit ookal sy, wanneer Mynheer Jan van Hunks hier aangeland het, sal nou nie juis ʼn verskil aan die storie maak nie.
Jan van Hunks het ʼn huisie gehad teen die hange van die berg. Dit was aanvanklik ʼn klein huisie wat hy sommer self met hout aanmekaar getimmer het. As jy nie van beter geweet het nie, sou jy glo dat Van Hunks ʼn kaggel in sy huis gehad het. Die rookwolke het altyd oor sy huisie se dak gehang.
Daar was niemand in die hele wêreld wat by Jan kon kersvashou wat pyprook aanbetref nie.
Nie lank nadat hy hier geland het nie, het ʼn groot skip se seile net-net op die horison verskyn. Jan en sy makkers is hier weg met ʼn paar roeibootjies. ʼn Paar jaar later is hy terug met ʼn groter skip en ʼn hele boel slawe.
Die slawe het vir drie dae aanmekaar, dag en nag, groot, swaar trommels van die skip afgelaai en na Van Hunks se huis gedra.
Nadat Jan van sy reistog af teruggekeer het, sou jy hom elke middag teen die koppie, wat vandag bekend staan as “Duiwels Piek, aan die voet van ou Tafelberg, sien opstap met sy sak twak, sy verkyker en sy kannetjie witblits. Die stories is natuurlik rondvertel dat Van Hunks al sy skatte daar bo in ʼn grot versteek het. Hulle sê hy het elke dag gaan seker maak dat sy skatte nog veilig was, alhoewel niemand dit ooit daar naby sou waag nie. Ander het weer vertel dat hy op die hoogste piek gaan sit het om oor die see uit te kyk. Dit het kompleet gelyk asof hy enige dag ʼn ongewenste skip verwag het. Sê hulle, daar is ʼn seekaptein wat gesweer het hy sal vir Jan kry, hy sal vir hom soek tot hy hom kry, en kry sal hy vir hom kry, en dan sal hy met sy lewe boet vir dit wat hy gedoen het.
Daar was ook die ewige stories dat Van Hunks sewe vrouens gehad het. Vrouens wat hy afgeneem het by sy slagoffers. “Ag nee man, dit is sommer snert”, het Spook verontwaardig geprotesteer. “Jan het net een groot liefde gehad en dit was ʼn pragtige jong vrou wat saam met hom die sewe seës bevaar het. Sy was ʼn dapper vrou, beter met die swaard as enige van sy makkers. Sy was bang vir niks en niemand sou dit waag om haar teen te gaan”.
Wat van haar geword het, het niemand ooit gewaag om te vra nie, en niemand het gesê nie.
Maar nou-ja, daar het hy onder die hang van ʼn groot oorhangende krans, met sy rug teen ʼn rots gaan sit, en jy kon sy rook van ver af sien.
Jan Van Hunks was ʼn groot man. En ek bedoel groot van gedaante. Lank, maar gladnie lenig nie. Hy het oor die twee meter in sy skoene gestaan, sy nommer 16 skoene, en hy was sterk en gespierd. Dit op sigself het baie mense met respek na hom laat opsien. Sy ma was ʼn fyn Hollandse prinses het hy vertel, en sy pa? Nou-ja, wat sal hy sê?
Sy digte bos blonde grys hare was krullerig. Dit het ver oor sy skouers gehang en in lokke gedraai. Sy bruingebrande gesig was sterk van voorkoms met hoë wangbene en ʼn amper vierkantige ken. Bokant sy oë, daardie blou oë wat dwarsdeur ʼn mens kon kyk, het hy ʼn woeste paar wenkbroue gehad. Spierwit wenkbroue. Hy het ʼn besondere neus gehad. Sy neus was langer as die gewone man s’n, en bo by die brug van sy neus het dit ʼn hobbel gemaak. Jan van Hunks was ʼn gedugte teenstaander in sy jong dae. Daardie neus van hom was ʼn paar keer gebreek toe hy uitgedaag was vir ʼn vuisgeveg. Eenkeer was dit juis oor sy rookdampe wat sy teenstaander nie aangestaan het nie. Sy een oor het ook ʼn hap uit waar een van die skeepskapteine hom bygekom het met ʼn swaard, toe hy probeer het om dié se skip te kaap. Hulle sê dat die skeepskaptein en Van Hunks, groot vriende geword het nadat Jan sy lewe gespaar het omdat hy so dapper geveg het.
Van Hunks se grootste kenmerk was sy pyp. Jy sou hom nooit sonder sy pyp en sy hoed gesien het nie. ʼn Swierige hoed het hy gedra. ʼn Mooi swart hoed waarvan die kante so plat teen sy kop gevou was.
Sy getroue lyfbediende, Spook, sal vir jou vertel, Van Hunks het met sy hoed op geslaap. Sy pyp styf vasgeklem in sy vuis.
Mynheer Jan van Hunks het nie net ʼn swierige hoed gedra nie. Nee, hy was ʼn man wat gehou het van mooi klere. Sy hemde was van die fynste sy uit die ooste. Hy het gehou van mooi hemde met pofmoue tot by die elmboog. Van daar af was dit styfpassend met ʼn enkel ry pêrels versier tot by die gewrig. Twaalf pêrels aan elke mou. Die krae was van die fynste kant uit Holland. Sy kniebroeke was van die beste linne uit Spanje. Sy skoene, laarse wat tot by sy broek, net onderkant sy knieë gekom het, was van die beste sagste leer uit Italië. Die gespes op sy skoene was van suiwer goud.
Om sy lyf het hy altyd die mooiste leerbelde met gespes van egte silwer en diamante gedra. Aan sy sy was ʼn pistool van silwer en ʼn haakmes met egte robyne versier.
Hy het altyd sy verkyker, een wat so lank kon uitskuif, sy sak twak en ʼn kannetjie witblits saam met hom gedra.
Om sy nek het hy dik swaar kettings van egte goud gedra, en aan sy vingers was ringe van diamante en egte regte edelgesteentes.
Sy baadjies, wat net bokant sy kuite gehang het, was van die beste brokaat met silwer en goue drade geweef.
Ja kyk, jy kon sien dat Mynheer Jan van Hunks ʼn gegoede man was, en geleerd.
Hy was nie ʼn ongeletterde man nie. Hy kon skryf in die mooiste handskrif en kon met enige persoon in sy eie taal praat. Mense sê hy het ʼn ou Hottentot gehad wat vir Jan witblits gestook het. Hulle het hom dikwels daar by die ou man sien sit, pyp in die hand, en gehoor hoe hulle in ʼn baie eienaardige kliek-klak taal met mekaar gesels. Saam het die twee daar gesit en rook en ure met mekaar “dik dinge” gepraat.
Kliek Klak, soos Van Hunks hom gedoop het, het altyd vir Jan die veld ingeneem en allerlei bossies, wortels en blare uitgewys om medisyne mee te maak.
Vandat Jan met Kliek Klak te doen gekry het, het hy die nuwe bome, met die blare met nege vingers, met die eienaardige soeterige reuk, aangeplant. Hy sou dan sy twak, wat hy eers in suiwer rum geweek en gedroog het, met die bossies meng om sodoende sy eie unieke rookgoed te maak. Hulle het dit “giggel twakkies” genoem, want, het hulle gesê, as jy daai twak gebruik om jou pyp mee te stop, het dit ʼn groot gegiggel afgegee. Vandat Jan daai twak begin rook het, was hy nie meer so beduiweld en befoeterd nie.
Toe Van Hunks eendag daar teen die berg opstap, sien hy daar sit ʼn vreemdeling op sy plek. Hy wou die man met die gitswart kleed, met die swart breërandhoed wat half oor sy gesig hang, nog verergd roskam omdat hy homself so ongenooid op sy plek kom tuismaak het, toe die man hom sommer op sy naam aanspreek.
“Mynheer Van Hunks, ek het uit ʼn baie betroubare bron verneem dat jy die heel beste tabak kweek wat iemand soos ek maar net van kan droom.”
Dit was genoeg om Van Hunks ʼn bietjie meer geneë te maak.
“En:” sê die vreemdeling met die swart toga en die swart hoed wat oor sy oë hang
“Ek verstaan dat niemand jou nog ooit “uitgerook” het nie.”
Dit was genoeg om ʼn glimlag op ou Jan van Hunks se gesig te sit. Om die waarheid te sê, hy het sommer ʼn breë glimlag agter sy groot hand weggesteek.
“Ek hoor jy het gesê dat jy tot die ou duiwel uitdaag om teen jou te rook, en dat selfs nie hy ʼn kans teen jou staan nie?”
“Ha-haaaaa.” Nou lag Van Hunks klip hard.
“Wil jy nou vir my sê dat jy my wil uitdaag!!?”
“O nee!!” Sê die vreemdeling met die swart toga en die swart breërandhoed.
“Kan jy jou voorstel hoeveel twak dit sou verg as ons twee in ʼn rookstryd betrokke moes raak? Jy sal vragte en vragte vol rookgoed moet hê!! Mynheer Van Hunks, ek weet niemand het jou nog ooit geklop in ʼn rooksessie nie, maar besef jy dat ek ook nog nooit so ʼn sessie verloor het nie!? Dit sal ʼn kwaai stryd wees, en dit sal ʼn groot hoeveelheid tabak verg en waar dink jy sou ons soveel rookgoed vandaan haal!?” het die vreemdeling baie slinks gevra.
“Wil jy wed?” vra Jan.
“As jy die rookgoed voorsien, hoekom nie? Vra die vreemdeling in die swart kleed en die swart breërandhoed.
“Sê net die dag en die tyd en ek sal daar wees,” sê Jan.
“Twak en al!”
“Hoe klink presies ʼn jaar van vandag af? Selfde tyd, selfde plek?”
So gesê, so gedaan. Jan het net gou ʼn draaitjie geloop en toe hy weer terug kom, is die vreemdeling weg. Hy wou hom nog vra wie hy is en waar hy vandaan kom.
Van Hunks het net sy kop geskud en is lag-lag die berg af. Hy sou seker maak dat die vreemdeling genoeg rookgoed het, en nie ʼn verskoning sou hê oor hoekom hy die uitdaging sou verloor nie.
Hy het onmiddellik die ou Hottentot laat kom. Die twee van hulle het daar gesit en koukus vir dae aanmekaar. Toe, sonder uitsondering, is al sy slawe aangetree. Hulle het opdrag gekry om ʼn groot stuk aarde te ontbos. Al die fynbos en blinkbaar en sommer net alles wat daar gegroei het is uitgehaal.
Van Hunks en ʼn paar van sy slawe is die berge in. Hulle het al die grotte wat daar was gestroop van al die vlermuismis wat hulle, hulle hande op kon lê. Hierdie mis is in groot biesiemandjies geskep, na die ontboste area geneem en goed in die grond ingewerk. Toe die grond gereed was, het die ou Hottentot, Kliek Klak, met ʼn paar van sy vrouens daar aangekom en hulle het vir dae net saadjies geplant. Negevingerblaarsaadjies. Daar moes mannetjiesade en wyfietjiesade wees het die Hottentot gesê. Die slawe het net hulle koppe geskud, want dit was vir hulle ʼn hele deurmekaarspul. Hulle het niks van hierdie “mannetjiessade” en “wyfietjiesade” verstaan nie. En? Het hulle gevra, wat het vlermuismis met die hele saak te doen?
Op ʼn dag kom Spook homself by Jan se voete sitmaak. Spook was ʼn groot lang sterk swartman. ʼn Kop langer as Van Hunks homself.
Hy het altyd ʼn paar tree skuins-agter Jan gestaan, met sy arms gevou, soos die legendariese “genie”, gereed om sy meester te dien en te beskerm.
Uit respek vir sy meester sou hy hom nooit eerste aanspreek nie. Daar sou hy sit tot Jan eerste met hom praat.
Van Hunks kyk vir Spook en dink aan die dag toe hy hom die eerste keer gesien het.
Van Hunks het ʼn slaweskip onderskep. Hy het al die slawe oorgelaai op ʼn ander skip en bevel gegee om die mense terug te neem na hulle eie land. Onder in die ruim van die skip het hy ʼn man gevind wat na aan die dood was. Sy rugvelle was oopgekerf en geïnfekteer. Hy het ʼn baie hoë koors gehad. Die bemanning wou hom oorboord gooi. Die reuk was een te veel vir hulle en hulle het nie geglo dat hy sou lewe nie. Jan het die man na sy kajuit laat neem en sy wonde self versorg.
Hy het ʼn pap van gedroogde bossies gemaak en op die oop wonde gepak. Ander blare het hy tee van gekook en hom met moeite laat sluk. Hy het nagte by die man gewaak. Stadig maar seker het hy beter en sterker geword totdat hy heeltemal herstel was. Van daardie dag af, het hy vir Jan soos ʼn skaduwee gevolg. Dit is dan ook waar hy sy naam vandaan gekry het. Spook.
Spook was nie net Van Hunks se getroue slaaf en sy lyfbediende nie. Nee, hy was ook Jan se beste vriend.
“Ja Spook?” vra Jan.
“Wat is op jou hart?”
“Ag nee my meester. Ek loop nou lank en wonder wat vir ʼn man het soveel twak nodig vir hierdie rokery. Net die duiwel homself kan soveel rookgoed oprook, en dan sê ek vir Meester, julle sal swaar kry om dit te doen. Julle sal vir dae en dae aaneen moet rook”
“Ja wel Spook, ek dink myself daaraan. Net die duiwel het genoeg moed om my uit te daag vir ʼn rook kompetisie. Ha-haa, almal weet ek is die bobaas roker.
Maar hoe dit ook al sy. Mynheer van Hunks het elke dag op sy stoep gesit, sy pyp gerook en gekyk hoe sy bome groei. Én het daai bome gegroei. Hulle was later langer as Van Hunks homself! Toe kom die tyd dat die bome versorg moes word. Elke dag is ou blare uitgepluk. Daar was nie tyd vir enigiets anders nie. Almal was heeldag in die “bomeland”, besig om ou geel blare uit te pluk. Maar Van Hunks was so gelukkig as wat niemand hom nog ooit gesien het nie.
Daardie jaar, het tot die kinders, wat dit nooit naby Mynheer Jan van Hunks se huis sou gewaag het nie,
daar in sy vrugteboord kom vrugte pluk, met Mynheer se goedkeuring!! Daardie jaar, was Mynheer Jan van Hunks sommer ʼn ander mens!!
So het die tyd dan nader gekom vir die groot rookwedstryd. Mynheer Jan van Hunks het persoonlik toesig gehou oor die oes en inweek en droogmaak van die twak en die blare. Hy het persoonlik omgesien dat die mengsel net reg was soos hy daarvan hou . Soos die mandjies vol rookgoed geword het, is dit teen die berg opgedra en in die grot langs die groot rots gebêre.
Hy het seker gemaak dat daar ook genoeg witblits was, want so ʼn gerokery kan ʼn man nogal sleg dors maak.
Die groot dag het uiteindelik aangebreek en Mynheer Jan van Hunks het dou voor dag sy huisie se deur agter hom toegetrek en die bergpaadjie gevat.
Daar aangekom het hy die mandjies vol rookgoed en die witblits op ʼn groot plat klip uitgepak. Hy het homself onder die oorhangende krans, met sy rug teen die rots tuisgemaak. Pyp in die hand het hy gesit en wag.
Jan het aandagtig gesit en luister na enige geluide, soos takkies wat breek, wat die vreemdeling se aankoms sou verklap, maar niks. Toe hy sien staan die man met sy swart toga en sy swart breërandhoed voor hom.
“A-haaaa Mynheer Van Hunks, ek sien jy het ons afspraak nagekom!!” sê die vreemdeling in ʼn joviale stem.
“Hoekom sou ek dan nie! Ek is ʼn man van my woord! Om die waarheid te sê kon ek nie wag vir hierdie dag nie, mynheer wie? Hoe voer u die van?”
“My vriende noem my Nick, en sonder om te lieg, my vyande ook!! Ha-haaa.” Lag hy uit sy maag uit.
”Kom, kom sit hier. Waar is jou pyp?”
Kyk, Jan het ʼn merkwaardige pyp gehad. In al sy reise oor al die oseane heen, in al sy besoeke aan al die lande, het Jan nog nooit so ʼn mooi groot pyp soos syne gesien nie.
Die man wat voor Jan op die klip sit, met sy bene oorkruis onder hom ingevou, met die groot swart breërandhoed wat sy gesig versteek, pluk ʼn pyp daar uit wat skrik vir niks.
Die bal van die pyp, so groot soos ʼn volstruiseier, is uitgekerf in die vorm van ʼn man se kop. ʼn Lelike gesig met twee horings langs die kante. In die plek van die oë is twee groot bloedrooi robyne, so groot soos duifeiers. Die pyp rus op die grond en die pypsteel maak ʼn lang boog tot by ou Nick se mond.
Nick lig die silwer klap af en sê: “Nou toe Mynheer van Hunks, laat ons stop, waarvoor wag ons?”
“Kry eers ʼn sluk van die beste witblits wat jy nog ooit geproe het” sê Jan en hy gee vir die man die kruik aan. Dié vat die kruik, gooi dit oor sy skouer en draai sy kop weg dat Jan nie sy gesig kan sien nie en vat ʼn paar groot slukke. Hy hoes en proes en snak na sy asem.
“Jô, in die donkerste hole, of die diepste duisternis van die aarde, het ek nog nooit iets met so ʼn lekker skop geproe nie. Mynheer, dit smaak vorentoe!”
Hy gee die kruik vir Jan en dié vat ook ʼn paar slukke. Van Hunks sit die kruik tussen hulle neer en trek ʼn groot mandjie rookgoed nader.
“Nou toe, laat ons stop” sê Van Hunks en hy verbaas hom aan die groot homp twak wat die man in sy pyp stop. Jan stop sy pyp en haal sy tonteldoos uit, kap-kap met die metaalring teen die steentjie, maak die grassies brand en steek sy pyp aan. Tot sy verbasing sien hy ou Nick se pyp brand reeds. Hy het nie gesien dat die man sy pyp brandmaak nie, maar nou ja, so begin die kompetisie.
Van Hunks neem ʼn diep teug, maak sy wange bol met sy lippe styf opmekaar, dan pers hy die lug uit sy mond uit met sulke phoeit-phoeit geluitjies. Die rook skiet in perfekte sirkeltjies die lug in. Hoe hoër dit styg, hoe groter word die sirkels totdat dit in die lug bly hang.
Nick kyk wat Jan doen en probeer hom namaak. Sy rook skiet in ʼn damp by sy mond uit. Hy teug weer en probeer nog ʼn keer. Weer skiet die rook in ʼn damp uit.
Nou doen Van Hunks dit stadig sodat die man mooi kan sien wat hy doen, maar tevergeefs. Hy kom nie reg nie.
Jan lag en verduidelik:
“Jy moet jou lippe rond maak en nie so hard blaas nie man”.
Ou Nick probeer weer maar nou waai die briesie die rook terug in sy gesig. Hy hoes en proes.
“Probeer om stadiger uit te blaas. Jy moet as’t ware die rook met jou tong probeer uitstoot” sê Jan.
Ou Nick vat ʼn groot teug aan sy pyp en probeer weer. Nou blaas hy ʼn perfekte sirkel uit. “Hô-hô” lag hy.
“Wie’t gesê jy kan nie die duiwel nuwe truuks leer nie!” bulder hy.
Jan van Hunks kyk hom agterdogtig aan. Wie is hierdie man wat sy gesig so wegsteek en hom nie in die oë wil kyk nie?
Nou vat Nick groot teue aan sy pyp, maak sy wange bol en blaas sirkels wat hoog bo-kant hulle koppe uit stoot. Die windjie dra die sirkeltjies bo in die kranse in.
Hy is baie in sy noppies met homself. Hy vat sommer sulke groot slukke vuurwater tussen die geblaas deur.
Nou is die man baie vrolik. Hy spring op en dans so ʼn paar passies. Sy hoed val van sy kop af, hy buk vinnig, tel dit op en gaan sit weer en rook sy pyp met mening. Maar Jan het klaar die horings langs sy kop gesien. Hy het die rooi gloed in die oë gesien toe die ou hom so ʼn onderlangse kyk gegee het. Nou weet hy dat dit regtig die duiwel is waarmee hy te doen het, en Van Hunks weet, vandag is die dag dat hy sal moet rook soos wat hy nog nooit van-te-vore gerook het nie.
Die biesiemandjie voor hom is leeg en Jan stoot die hoeveelste een nader.
Dit lyk na onweer. Jan kyk op en sien dit is die son wat al laag hang en so donker lyk agter die rookwolke.
Hy trek nog ʼn kruik witblits nader. Die ou duiwel begin al geel in die gesig lyk. Selfs ou Jan begin al grys om die kiewe voel.
Die twee rook dat die wit-blou dampe staan. In die weste sak die son. Die wolke bo-kant die horison verkleur in geel en oranje.
Waar van Hunks sit, kyk hy oor die see en hy sien hoe die son agter die water weg raak. Nou is die wolke rooi en oranje en purper. Die water weerkaats in die wolke. Hemel en see vorm ʼn eenheid en dit lyk of die horison aan die brand is. Stadig omvou die nag sy donker kleed oor die aarde en dit is nag.
Nog rook die twee dat die dampe waai.
Die rookwolke sluip teen die kranse op. Dit vou om die pieke en die windjie dra dit oor die berg.
Jan prop sy pyp weer vol twak en suig en blaas.
Die duiwel boots hom na en die dampe draal.
In die ooste hang ʼn volmaan. Vannag lyk die maan vir ou Jan darem baie rooi. Die wolke wat voor die maan verby sweef lyk vir hom soos rookwolke. Daar glip ʼn rilling langs sy ruggraat af. Wat van as die ou duiwel nou vir hom wat Jan van Hunks is, ʼn pakslae gee. Hy kyk vir ou Nick so onderlangs aan en sien dat hy so groen lyk in die maanlig. Jan skep moed en stop sy pyp.
Nou word dit lekker koud daar in die berge. Duiwel se kind spring weer op en dans die ritteltits om warm te word. Van Hunks lag in sy mou.
“Haai ou Nick, verlang jy huis toe?” vra Jan en hy lag uit sy maag uit vir sy eie grappie. Ou Nick lyk verergd. Sy oë lyk soos twee vuurvonke in die donker. Hy kom plak homself voor Jan neer, gryp die kruik en vat net nog ʼn groot sluk.
Die vlermuise is al besig om terug te keer na die grotte en die twee rook nog steeds.
Jan kyk oor die see. Uit die water weerkaats duisende liggies in die maanskyn.
Nou begin die lug pienk word. Die water verkleur silwer en pers in die oggendlug.
Die voëls begin lewe kry. Die son steek sy kop uit en Jan is dankbaar vir die sonnetjie wat ʼn bietjie hitte bring.
Nog rook die twee teëstanders ʼn barshou. Nou kan Jan in die daglig sien dat die berg toe is onder die rook. Hy kyk vir die mandjies met die rookgoed in, en hy kry ʼn hol kol op sy maag. Hulle het meer gerook as wat hy verwag het. Sê nou net die twakkies raak op en daar is nie ʼn wenner nie? Maar nee, daar is darem nog ʼn paar mandjies oor.
Hy kyk vir ou Nick. Dit lyk of die ou se gesig aan die brand is. Sy swart rand hoed sit nou so skeef op sy kop. Dit lyk nie meer of hy omgee of iemand sy gesig sien of nie. Hy haal swaar asem.
Jan voel self al of iemand vuur gemaak het in sy borskas. Hy voel hoe gloei sy eie wange. Skelmpies druk hy ʼn paar van Klik Klak se gedroogde blare in sy kies. Hy vat ʼn groot teug uit die kruik en gee dit vir ou Nick aan.
Die son bak nou warm reg van bo.
Nog stop hulle pyp en nog rook hulle groot bolle rook wat oor die berg opstyg.
Dit is al weer nag en Jan sien die duiwel se oë gloei in die donker. Sy yslike pyp lyk ook aan die brand.
Hy trek die laaste mandjie rookgoed nader. Nou is Mynheer Jan Van Hunks regtig bekommerd.
Hy hoor ʼn naguil roep bo-kant hom in die kranse. Sy hart sink in sy skoene. Die naguil se geroep kan net onheil voorspel. ʼn Gevoel van verlatenheid spoel oor hom. Hy hoor ʼn fluit-geluid en kyk vir ou Nick. Dit is sy bors wat so fluit. Hy hyg na sy asem. Jan se mond hang oop. Die rook kom nou sommer by ou Nick se neus en ore uit. Hy hoor ʼn snaakse roggel geluid en Nick spring op en skreeu:
“Dit sal nie die laaste wees wat jy van my sien nie Mynheer Van Hunks! Ek moet nou eers gaan, maar ek sal jou weer sien!” en met ʼn blou vlam verdwyn hy in die donker nag in.
Van Hunks skreeu agterna:
“Volgende keer bring jy die twak!”
Jan hoor ʼn geskuifel en toe hy opkyk staan Spook, sy arms oor sy bors gevou, met ʼn breë glimlag op sy mond.
“Jy het die duiwel ʼn goeie pak slae gegee my meester”.
EN vandag nog, as die berg met wolke bedek is, sal die mense sê:
“Dit is Van Hunks en die duiwel wat daar sit en rook”.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Jy skryf goed!
12 jaar 1 maand 4 dae 18 ure oud


En dan sê jy dat jy nie skryf nie!! Lekker weggevoer na jare terug. Baie dankie Magriet.
12 jaar 5 maande 2 weke 12 ure oud


Jan van Hunks
Hierts! Ou Jan ek het voorwaar jou storie geniet. Dit was baie mooi en ek kan jou nou sien staan met jou stywe broekie wit sy-hemp en pragtig no 16 stewels, wens ek kon die goue tooisels kom steel. Magriet ek het werklik die prentjie gesien en die storie baie geniet. Baie dankie dat jy dit met ons kom deel.
12 jaar 5 maande 2 weke 2 dae 11 ure oud


Lekker gelees: kan dié verhaal oor en oor lees met die vele interessante stukkie-stories daarin!

12 jaar 5 maande 2 weke 2 dae 13 ure oud


Mynheer...
Ekke is nie 'n kenner op die gebied van skryf nie, Genade tog, ekke kan nie eers spel nie... maar ek kan lees, en ek kan verstaan en ek kan ervaar.
Vir my as gewone leser, as ek al my ses sintuie kan gebruik as ek iets lees, is dit baie goed, maar as ek daarby nog hardop uiting kan gee, met 'n lag, traan of sug, is dit perfek.

Ek het jou storie so geniet, ek kon letterlik sien en ervaar, ruik, ek kon hoor ens. Ek kon daar "bar" sien en die bier en whisky ruik. Ek kom die 'dagga' veld sien en kon daai soet rook reuk ruik en daarmee saam die dommel van die rook gemeng met sonlig ervaar en het my lighooftig by die berg af laat sweef. Ek kon die ou skepe sien, manne met lang hare en lang baarde. Ek kon die berg, die waterstrome en die see ervaar. Ek kon letterlik die bergaf en vanonder met 'n verkyker staan en lag-lag weet waar die 'mis' vandaan kom.
Jou verskuilde geskiedenis les was 'n welkome insetsel wat ek eers later besef het, want ek het eerstens die storie gelees en ervaar.
Met dank dat ek dit kon deel.
Gawe Groetnis.
SueEè
12 jaar 5 maande 2 weke 3 dae 11 ure oud


puik storie
12 jaar 5 maande 2 weke 4 dae 14 ure oud


die pyproker is bekend aan my
wat die ou duiwel kom staan en uit rook het .. maar hierdie oorvertelling was nou lekker nuut en vars en ek\'s sommer lus om in \'n tyd masjien te klim en terug te rys na 19voetjek (spelling hie hei .. hoe se mens vir die hond) se tyd :-)
12 jaar 5 maande 2 weke 4 dae 19 ure oud


Van Hunk
Met my geboorte(halfeeu terug) het my pa vir my 'n stel Kinderensklopidias gekoop, sulke groenes met sulke bont omhulsels. Hier by 5 jaar het ek die stories(legendes) in deel 10 ondek en daar was die pyprook storie in. Maar dit is met pure genot wat ek hierdie luisteryke vertelling waardeer het. Daar was nog so paar stories in daai reeks gewees. Miskien het dit tyd geword dat ons daai geskiedenis vir ons nageslag weer eens gaan uithaal en afstof. Wel gedaan Piet Magriet.
12 jaar 5 maande 2 weke 5 dae 1 uur oud


Baie dankie
Baie dankie julle almal, ek waardeer julle kommentare uit my hart uit.
Dankie vir die tyd en die mooi woorde. Dit laat my werklik nederig voel.
PM
12 jaar 5 maande 2 weke 5 dae 18 ure oud


Mynheer Jan van Hunks
Ai, Piet Magriet, het ek dit nie nou terdee geniet nie! Voorwaar \'n pragtige stukkie werk. Ek sal dit weer en weer lees want ek sien baie hierin. Ek is mal oor die styl, die woordeskat en die humor wat uitstaan. Al wat ek nou wil noem is hierdie is goed, nee baie goed gedoen, ek is trots op jou!!!!
Ek gaan dit vanaand vir my kleinkinders voorlees voor hulle gaan slaap.
Groete,
Oupalouis
12 jaar 5 maande 2 weke 5 dae 19 ure oud


In my vorige lewe was ek en ou Jan seerower kollegas. Hierdie is die mees volledige weergawe van Jan se verhaal wat ek deur die eeue gelees het. Dis goed uiteengesit en ek hou van die humoristiese weergawe. Almal het ou Jan altyd veroordeel oor sy rokery. Dit het hom nogals in moeilike situasies laat beland. Ek hou hiervan.
12 jaar 5 maande 2 weke 5 dae 23 ure oud


Lanklaas die storie gelees en die weergawe is mooi. Het veral van die bekrywing van die uitrustings gehou. Om een of ander rede het ons die storie as Van Donck en die duiwel geken.
12 jaar 5 maande 2 weke 6 dae 20 ure oud



Jesus, die Doper met die Gees

deur Christo Nel

In die taal en idioom van Afrikaanssprekende mense neem Christo gelowiges na die sowat 319 verse in die Bybel waarin daar direk na die Heilige Gees verwys word.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar