Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die vrou voor my, is bleek met donker kringe om haar oe. Haar hande wring senuagtig in
haar skoot, waar sy kiertsregop op die stoel voor my sit. Ek bestel tee sodat ons kan ontspan.


“Ek is so hartseer vandag” begin sy.
“Waar trek mens die streep en se: “Van hierdie dag af, moet my kind na hom, of haarself
kyk? Kom daar ooit 'n tyd wanneer mens ophou om 'n Ma te wees?”


Sy sug effens, neem 'n slukkie van die tee wat intussen gekom het en gesels verder...


“Ek dink nie ek was die beste Ma op aarde nie. Ek het my kinders streng grootgemaak en
hulle gefoeter as hulle stout was. Partykeer lekker op hulle geskree, as hulle nie wil hoor nie.


Vir die grootste gedeelte van hul lewens, was ek 'n enkel Ma. Soms was ek so moedeloos want
ek het nie geweet waar ons volgende kos vandaan sou kom nie. Ek het baie gesukkel dat hulle
Pa die onderhoudsgeld moet betaal, en as hy die dag betaal, was dit skaars genoeg om liggaam
en siel aanmekaar te hou. Ons lewe het uit raap-en-skraap bestaan, maar ons drietjies was tog
gelukkig.


My jongste kind was gebore met 'n ernstige hartdefek. Sy was so 'n oulike ou babatjie, maar
so bitterlik siek. Voor sy drie maande oud was, moes sy 'n sewe ure lange operasie ondergaan
en ek onthou dat ek tot God gebid en gesmeek het, dat Hy haar lewe moet spaar.


Dit was bitter moeilik om haar groot te maak, want sy het aanmekaar longprobleme
ontwikkel waarvoor sy behandel moes word. Ons mediese fonds was totaal uitgeput.


Ek het kinders grootgemaak, 'n huishouding bestuur en voltyds gewerk. Party dae was ek so
moeg dat ek nie geweet het hoe ek die volgende dag gaan opstaan nie. Terwyl ek hiermee
geworstel het, het my huwelik uitmekaar geval. My man het op 'n dag uitgestap. Uit ons huis
en uit ons lewens en 'n nuwe lewe begin met 'n jong, ongetroude vrou. Ek en die drie kinders
het agter gebly en moes probeer oorleef.


My kinders het redelik ongeskonde uit hierdie disfunksionele gesin gekom. My oudste au pair
in Engeland, die seun, is na matriek gekeur vir die polisie en is tans besig met sy opleiding. My
jongste, die siek enetjie, het matriek met onderskeiding geslaag. Sy het egter besluit sy wil nie
dadelik iets met haar lewe doen nie, maar 'n jaar “afvat”. Sy wou haar eie vlerke gaan
uittoets. Ek dink sy was van mening dat sy op haar eie 'n beter lewe kan skep, as wat sy by my
gehad het.


Sy het by twee vriendinne in 'n woonstel ingetrek. Sy het vertel dat sy by 'n restaurant 'n
werk as kelnerin gekry het, maar ek het eers later uitgevind, dat sy by 'n kroeg gewerk het.
Ek wil nie eens dink wat als daar aangeaan het nie...Maar daar was niks wat ek kon doen om
haar te keer nie. Sy wou eenvoudig net haar eie ding doen.


Haar een vriendin het my op 'n Maandagoggend gebel en gese Liezel is weg. “Hoe weg?” het
ek gevra. Skynbaar moes sy die Vrydagaand aan diens gaan, maar het nie by die werk
opgedaag nie. Hulle kon haar ook nie op haar selfoon in die hande kry nie. Niemand het
geweet waar sy is nie.


Ek was verskriklik geskok! Ek het visioene van my kind iewers in 'n sloot gehad. Verkrag, of
dood, of albei. Ek moes haar later gaan aanmeld as 'n vermiste persoon. Terwyl ek daar



gestaan het en intieme besonderhede oor haar moes weergee, het dit gevoel asof dit met
iemand anders gebeur en nie met my nie. Ek moes een van haar foto'tjies vir die polisie gee en
haar Pa bel, voor hy dalk oor die nuus hoor sy kind is weg.

By die woonstel waar sy woon, het ek op haar bed gesit en gestaar na haar foto's, haar
sertifikate, die prente teen haar muur en haar beertjie wat sy as baba gekry het. Ek het die
beertjie vasgehou en weer gebid.

'n Polisie inspekteur het my daar kom sien en nog vrae gevra. Dit het gevoel asof en 'n slegte
Ma is, wat nie weet wie is al haar kind se vriende, hulle kontaknommers, of sy drink en
dwelms gebruik en of sy losse sedes het nie.

Terwyl ons nog besig was met gesels, vlieg die voordeur oop en daar staan Liezel. Haar hare in
'n wilde boskaas, skoene in die hand, met haar jeans se broekspype opgerol. Sy was uit die
veld geslaan oor die hele bohaai. “Waarom maak julle so 'n issue? Ek het niemand gese
waarheen ek gaan nie, want ek het gedink niemand sal my mis nie!” Die polisieman het haar
uitgetrap en sy het later gese sy is jammer. Sy sal sorg dat haar selfoon in die toekoms aan is.”

Die vrou vee haar trane met die agterkant van haar hand weg, voor sy verder gesels.

“Nie lank na hierdie episode nie, het haar vriendin weer gebel. Ek het Liezel in haar bed
gekry, so koorsig dat ek geskrik het. Ek het die vriendin gevra wat aangaan en sy het gese
Liezel sal haar doodmaak as sy vertel, maar sy het nou nie 'n keuse nie, want sy is siek.

My kind het 'n aborsie gehad. 'n Agterstraat aborsie wat verskriklik verkeerd geloop het. Ek
het haar dadelik hospitaal toe geneem en sy was vanoggend opereer. Hulle moes 'n totale
histerektomie doen. Sy sal nooit kinders kan he nie. Ek het daar gesit tot sy bygekom het en
haar vasgehou. Sy het nie gepraat nie.

Ek weet nie of ek 'n slegte Ma was nie. Ek weet net my kind het die lyn oorgesteek. Sy sal
nooit weer 'n kind wees nie, maar ek sal nooit ophou om haar lief te he nie.”




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

YML
Eva...
Baie, baie goed geskryf! En baie hartseer.
9 jaar 5 maande 3 weke 3 dae 19 ure oud


Oe, dis hartseer en dis waar, hulle bly mens se kinders.
10 jaar 9 maande 2 weke 9 ure oud


Hartverskeurend. So dikwels maak 'n mens verkeerde keuses ten spyte van 'n "goeie" opvoeding. Goed geskryf.
10 jaar 9 maande 2 weke 18 ure oud



KIEKIES

deur Kiekies

'n Potpourri van aardse en menslike insidente, wat wissel van skreeusnaakse humor tot hartroerende tragedie.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar