Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

My volgende afspraak laat my byna skrik, toe sy inkom. Nog nooit tervore het ek so 'n klein,
maer mensie in lewende lywe ontmoet nie!

Sy kom versigtig ingestap. Byna asof sy bang is sy gaan haar balans verloor, of dat haar bene
haar nie gaan dra nie. Oor haar een arm hang 'n handsak, wat hopeloos te groot vir haar
klein lyfie vertoon. Die ander hand, leun swaar op 'n stapkierie.

Haar hare is 'n oportunistiese oranje-rooi gekleur, terwyl haar wenkbroue met swart potlood
strepies ingekleur is. Haar vel is leeragtig dik, bruingebrand en verfrommel, soos iemand wat
hopeloos te veel tyd in die son deurgebring het, maar ek besef gou dat ek met 'n ou apie te
doene het. Iemand, wat die harde snykant van die lewe deeglik gevoel het.

Sy gaan sit swaar en haar meerkatgesiggie breek oop in 'n glimlag, wat jou ook onwillekeurig
laat saam glimlag. Sy steek 'n sigaret op en blaas 'n lui, ongeergde wolkie die lug in.

“Ja, as drank my nie kon doodmaak nie, sal sigarette seker” se sy en gee 'n diep, binne-bors
hoesie.

“Ek was vir baie jare 'n alkoholis” begin sy. “Ek is seker nou so sewe jaar van die drank af.
Dit was nie maklik nie, hoor!” se sy driftig.

“Die liefde vir drank begin altyd onskuldig, soos in my geval. Niemand wil tog doelbewus in 'n
skommelende, bewende wrak verander, behalwe as jy jouself stadig wil doodmaak nie. Toe ek
'n jong meisie was, was die in ding om “stofe-pipe” jeans te dra, jou bloes hoog onder jou
borste vas te knoop en om agter op die motorbikes saam met die manne rond te kerjakker.
Ons hare was wit gebleik, ons lippe rooi en die lewe een groot “party” na 'n ander. Daai tyd,
as ons so bymekaar gekom het, het ons 'n paar drankies gedrink, maar dit was alles “social”,
'n manier om 'n standpunt te maak, as jy weet wat ek bedoel?

Dis in hierdie groep, wat ek my man, Billy, ontmoet het. Siestog, ek het gehoor die ou is ook so
twee jaar gelede oorlede. Die arme ding! Ook maar baie met sy gesondheid gesukkel, die
laaste ruk, het ek gehoor.

Billy was seker die beste “mechanic” wat ek van weet. Daar was nie 'n enjin wat hom kon
onderkry nie. Ons is later getroud en het huis opgesit. Ons het nog steeds saam met die ander
bikers uitgery, as daar tyd was. Dis 'n kultuur, wat net bikers verstaan. Iemand wat nog nooit
op 'n bike was nie, sal nie verstaan waarvan ek praat nie.

Billy se werk was so goed en so gewild, dat hy later 'n besigheid oopgemaak het. Dit het goed
gegaan en ons het 'n huis in skuldbult gekoop. Kompleet met 'n swembad en braaiplek.
Daardie tye, as jy 'n huis met 'n swembad gehad het, was jy beskou as 'n ryk mens.

Ons het baie pelle gehad wat gereeld kom kuier en braai het. Soms, as ek in die oggende
opgestaan het, het ek die helfte van die mense wat uitgestrek oor die hele huis se vloer le en
slaap, nie geken nie. Ek het nie 'n idee gehad waar hulle vandaan kom nie!

Dinge het gelukkig bedaar, toe ons kinders eers gebore was. My oudste was 'n seun, Jean-
Pierre. Hy het die oulikste, blonde krulhaartjies gehad. Twee jaar later, was Marlize gebore.
Ons lewe was perfek, tot die dag wat die swembad se hek oopgestaan het.


Ek het later oor en oor in my gedagtes die gebeure afgespeel, maar ek nooit vasstel hoe
daardie hek oopgekom het nie. Ek het almal om my blameer, maar eintlik was ek die
verantwoordelike persoon.

My vriendin, Sandy, het by my gekuier. Ons was in die kombuis besig om mekaar se hare te
kleur en die kinders het daar om ons gespeel. Marlize het op 'n stadium begin huil en gese:
“Boeta weg, Boeta, weg.”

Die vrou sluk swaar aan 'n denkbeeldige knop in haar keel. Met haar hande, druk sy haar oe
toe, asof sy daarmee die beelde in haar gedagtes probeer wegdwing.

“Hy was op die bodem van die swembad. Ek het sommer met my klere aan ingspring en hom
uitgehaal. Sandy het die ambulans gebel, maar dit was te laat. Hy was klaar weg.”

Sy sukkel weer 'n tydjie om haar emosies onder beheer te bring.

“Al het Billy dit nooit gese nie, het ek geweet hy verwyt my. In my binneste was die
onbeskryflikste pyn! Daar is nie woorde om daardie pyn te beskryf nie! Ek kon nie daarmee
saamleef nie! Een aand het ek 'n glas brandewyn geskink en later 'n bietjie beter begin voel.
Toe skink ek nog een...

Nie baie lank daarna nie, het my lewe uitmekaar begin val. Billy het my konfronteer en gese
ek is 'n alkoholis en dat ek moet hulp kry. Ek het dit ontken en net gewag dat hy ry, voor ek
die drank uit my wegsteekplekke gaan haal het. Ek kon eenvoudig nie ophou nie!

Billy het later van my geskei en Marlize saam met hom geneem. Hulle het by sy Ma gaan bly.
Ek het hulle nooit weer gesien nie.

Die res van my lewe is iewat vaag, asof daar 'n wolk oor my gedagtes hang. Ek weet ek was
kort-kort by 'n nuwe man, maar drank is 'n jaloerse minnaar. Daar is nie plek vir nog een nie.
Drank wil ook nie gedeel word nie.

Ek was op 'n tyd in 'n rehab, ek is nie seker nie, maar dink die hof het my daarheen verwys.
Toe ek daar uitkom, was my lewe so donker en so misrabel, dat ek nie gou genoeg weer kon
begin drink nie.

Ja, daar was besorgde familie wat probeer help het. Almal goeie mense wat op die ou end net
eenvoudig te moeg van bid en te moeg van al die probleme geraak het. Hulle het hul rue op
my gedraai en ek sal hulle nooit daaroor kwalik neem nie. 'n Alkoholis is nie 'n maklike mens
nie.

Ek het later by 'n groep bergies beland. Hulle het my vriende geword en my die dinge van die
strate geleer, om te kan oorleef. Snags het ons in die park, of sommer op die kerk se stoep
geslaap, as daar nie ander skuiling was nie. Meeste van die tyd het ons gebedel en baie min
daarvan, was gebruik om kos te koop. Al petrol wat ons nodig gehad het, was enige vorm van
alkohol. Selfs hoesmedisyne het gedoen, as ons niks anders kon kry nie.

Een dag het ek wakker geword toe ek voel hoe iemand se skoen in my ribbes skop. Dit was 'n
munisipale werker wat die afvoersloot moes skoonmaak. Dit was winter en baie koud en hy
het probeer vasstel of ek nog leef. As mens gedrink is, hou die drank jou warm en jy besef nie
jy kan sterf van die koue nie.


Die ambulans het my hospitaal toe geneem. Daar was 'n hele paar vriendelike mense, wat my
probeer help het. Die dokter was so 'n vriendelike jong man en op 'n manier, het hy my aan
Jean-Pierre herinner. Miskien was dit sy blonde hare. Hy het gereel dat hulle my na 'n staats
rehab oorplaas, waar ek baie lank gebly het. Hulle het later vir my plek in die ouetehuis gekry
waar ek nou bly. Dis nie so sleg daar nie.”


Sy kyk 'n oomblik vraend na my.
“Ek wil jou iets vra, maar ek weet nie of jy my sal kan help nie? Ek dink deesdae so baie aan
Marlize. Ek het haar skandelik gefaal! Ek dink nie my tyd is meer lank nie en ek moet
probeer om haar vergifnis te kry.”


Sy krap vervaard in die handsak en haal 'n pienk koevert, geadresseer in 'n onseker, ronde
handskrif, uit.


“Ek het so 'n tyd terug hierdie brief aan haar geskryf, waar ek probeer verduidelik het,
probeer vra dat sy my moet vergewe, maar ek is so bang. Ek het intussen uitgevind dat sy 'n
onderwyseres is en dat sy drie kinders het. Drie kleinkinders wat ek nog nooit gesien het nie.
Ek het ook haar regte adres gekry.


Wat ek nou wil vra is: Ek probeer moed bymekaar skraap om dit te gaan pos. Dink jy ek moet
dit pos?”


Ek kyk na die klein, geharde vroutjie voor my. Iets aan die ronde wit kraag van haar bloes en
die manier waarop die oopknooptrui oor haar geboe skouers hang, lig haar verskriklike
weerloosheid vir my uit.


Ek staan op. “Kom, ek stap sommer saam met jou, dan gaan pos ons die brief.”





Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

v99
Hoe hartseer en metr soveel deernis geskryf. Gelukkig is vergifnis nooit te laat nie. Het dit geniet - nee met jammerte vir die vroutjie gelees mat al haar selfverwyte
11 jaar 3 weke 6 dae 5 ure oud


Hoe dikwels probeer ons nie van ons probleme en seerkry wegvlug net om later wel die gevolge van ons onttrekking(deur watter kierie ookal) te moet dra. Hartverskeurend en met deernis geskryf.
11 jaar 3 weke 6 dae 10 ure oud



Vir vanaand sal ek net jou hand vashou

deur Zymrly

Gedigte saamgevat oor die seer van die lewe. 'n Handvol emosies wat aan die hart raak omdat die tonele, gedagtes en emosies deel is van elke dag se lewe



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar