Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

'n Donker skaduwee val oor my waar ek by die koffietafeltjie sit. Dit is my afspraak met haar
groot postuur, wat hygend na asem en natgesweet op die klein, ronde stoeltjie plaasneem. Die
dennehout pote protesteer ernstig onder haar gewig en wonder of ek nie dalk die kelnerin
moet naderwink, om te kom help nie.

Sy gee 'n joviale laggie. “Ek weet nie of die stoel my gaan dra nie. Ek sal moet baie, baie stil
sit.” Sy gee weer 'n gemoedelike laggie. Ek weet nie eintlik wat om te se nie en bestel tee. My
afspraak bestel wortelkoek en bied gulhartig aan om my porsie ook te betaal.

Nadat ons oor ditjies en datjies gesels het, begin sy:

“Ek dink dit is redelik duidelik waarom ek vandag hier is. “ se sy en glimlag 'n pragtige
glimlag, wat eie is aan groot mense met mooi hare en lieflike gesigte. Ek bly liewer stil, maar
buig effens vooroor om beter te kan luister.

“Ek dink nie daar was ooit regtig 'n tyd in my lewe, wat ek van myself gehou het nie. Ek was
'n vet baba, 'n dik kleuter en 'n lywige tiener. My enigste poging tot aktiwiteit toe ek jonk was,
was toe my Ma my ingeskryf het vir balletklasse. Ek was seker so vyf, of ses jaar oud. Die
balletjuffrou het my vreemd aangekyk en die ander dogtertjies, het gegiggel. Ek het glad nie
verstaan waaroor hulle so lag nie, tot ek in die kleedkamer gekom en hulle hoor praat het.
Hulle het na my verwys as “die baba olifantjie”. Dit was die einde van my voorneme om 'n
ligvoetige ballerina te word en my eerste gewaarwording van my lyf. Dit was nie lekker nie.

Ma het altyd getroos. Sy het my bederf ook. Allerhande lekker eetdingetjies, veral met haar
basaarkoeke en poedings. Ek het geglo dit is hoe mens moet eet en kon nie verstaan waarom
my skoolmaats nie een so dik is soos ek nie.

Kinders is “mean” en ek het al die byname op skool gehad, waaraan jy kan dink. Daardie jare
was daar ook nie plus nommer klere beskikbaar nie en Ma, het vir my laat klere maak by
Tannie Gerty. Groot geblomde rokke met plat skoene, omdat my voetbrug van my gewig
gesak het. Beslis nie 'n prentjie wat jy in jou skoolalbum wil bere nie!

Verstaan my mooi, ek probeer nie dat jy my moet jammer kry nie, maar ek wil he jy moet die
agtergrond verstaan waar ek vandaan kom. Ek wil ook nie nou die “blaming game” speel
deur te se dat ek lyk soos ek lyk, omdat dit my Ma se skuld is nie. Ek is vandag 'n grootmens,
letterlik en figuurlik en ek en ek alleen, het toegelaat dat ek so lyk vandag.”

Sy sug diep en moedeloos.

“Ek het soos die strokieskarakter “Little Lotta” gevoel en gelyk, behalwe dat ek nie aggresief
van geaardheid is, sodat ek die skoolboelies op hul plek kon sit nie. Natuurlik was ek ook nie
by die matriekafskeid nie. Wie wil 'n Translux bus, wat nog net 'n nommerplaat kort, uitneem
na so 'n belangrike geleentheid?

Toe ek begin werk, het ek 'n verstommende 10 kilogram afgeskud. Ek dink dit was van pure
stres. Ma was so bekommerd, dat sy sommer dieetaanvullings gaan koop het. Vitamine B6,
B12, Vitamine C en sommer yster ook, om doodseker te maak ek ly nie aan een of ander
dodelike siekte nie.

Ten spyte van Ma se pogings, het ek 'n verdere 25 kilogram verloor. Vir die eerste keer in my


lewe het ek soos 'n mens gevoel! Ek kon nie genoeg kry van die klerewinkels nie. Ek het nie
meer nodig gehad om skaam te voel vir oorvriendelike winkelassistente wat klere aandra, wat
hulle dink jou dalk sal pas nie. Ek het ook nie meer nodig gehad om skaam te kry as ek in 'n
restaurant inloop, of vinnig somme moes maak om seker te maak dat ek deur 'n spasie sal kan
beweeg, sonder om meubels om te stamp nie. Dit was die gelukkigste tyd in my lewe!

Ek het geslaag daarin om my nuutgevonde gewig konstant te hou, vir 'n hele paar jaar.
Natuurlik het ek ook die fout gemaak om te dink ek sal nooit weer in my lewe sukkel met 'n
gewigsprobleem nie.

In hierdie tyd het ek vir Jeff, my toekomstige man ontmoet. So snaaks as wat die lewe
partykeer is, was Jeff 'n skraal persoon met 'n fyn beenstruktuur. Al was ek op daardie
stadium binne normale gewigsperke, het ek soos 'n ballon langs hom gelyk. Jeff het maklik
met homself gespot. Hy het altyd gese dat as hy 'n pelsjas aantrek, sal hy kan deurgaan vir 'n
pypskoonmaker. Hy het my geleer om ook vir myself te lag en met myself te spot. My
geliefkoosde seding was om te se dat ek weier om met 'n swart swembroek by die see te swem,
want die laaste keer wat ek dit gedoen het, het greenpeace se mense probeer om my in die see
te rol...

Ons is getroud en het 'n normale huwelikslewe gehad. Soms was daar konflik, maar dit was
seker soos met enige ander getroude paartjie. Ons was gelukkig.

Ek is nie seker nie, maar ek dink die gewig het weer begin aanpak, na my kinders se geboorte.
Ek was paniekerig! Ek het al wat 'n dieet is uitprobeer, maar sonder sukses. Jeff het
aangebied om te help deurdat hy en ek saans kan gaan fietsry en kyk dat ons gesond eet. Ons
het nooit by daardie punt uitgekom nie. Ek dink ons was so vasgevang in 'n dodelike roetine
van werk, eet en slaap, dat daar nie plek was vir iets anders nie.

Ek kon nie ophou eet nie. Snags, as almal slaap, dan staan ek op en verrineweer die yskas.
Niks het voor my staande gebly nie. Brood, gebraaide hoender, jogurt, 'n hele blok kaas,
afgerond met gaskoeldrank, was net 'n versnappering vir my. Natuurlik het die kilogramme
begin bykom en bykom en bykom, totdat ek omtrent nie meer klere gehad het om aan te trek
nie. Ek moes noodgedwonge leer om klere te maak, maar selfs my mooi, moderne pakkies,
kon nie die probleem wegsteek nie. Selfs onderklere wat groot genoeg is, was 'n probleem om
in die hande te kry.

Soms het ek Jeff se oe op my gevoel in 'n onbewaakte oomblik. Ek kon sy walging aanvoel. Ek
het gewalg aan myself en kon ook nie meer in die spieel kyk, of na my weerkaatsing in 'n
winkelvenster nie.

Ek het begin om al die maarmaak goed wat adverteer word, te koop met geld wat ons nie
gehad het nie. Jeff het my kredietkaart opgeknip en ons het bitter rusies gehad as hy weer 'n
nuwe produk op een van my wegsteekplekke ontdek het. Saam met elkeen van hierdie wonder
“kure” was 'n blaadjie met 'n “gebalanseerde dieet”. Indien jy die dieet nie noukeurig volg
nie, kan die maatskappy nie gewigsverlies waarborg nie. Ek het gewoonlik op 'n Maandag
vuur en vlam weggespring, om hier teen Donderdag so uitgehonger te voel, dat ek letterlik
alles eet waarop ek my hande kan le.

Natuurlik het Jeff gatvol geraak vir alles. Hy kon ook nie meer aan my raak nie en ons is
geskei. Ons is nou sewe jaar geskei. Ek is so eensaam...”

Sy begin saggies te huil. Haar kop vooroor met 'n sneesdoekie voor haar neus.


“Ek weet nie waarom ek nie kan ophou nie! Ek het altyd sulke goeie voornemens! Soms
motiveer ek myself deur aaklige foto's van myself op die yskas te plak, maar op die ou einde
vreet ek net weer.

My dokter het al ernstig gepraat oor my gewig. Hy het gese my kniee gaan ingee en dat ek op
die randjie van diabetis is, maar nog steeds luister ek nie! Ek het ook gehoor hoe hy met sy
kollega praat en na my verwys as 'n “morbidly obese, middle aged woman”. Ek was so
skaam! Ek dink soms gewone mense besef nie dat vet mense nie noodwendig dom, of 'n
gehoorprobleem het nie.

Ek het nou die dag na 'n program op televisie gekyk van Suid-Afrika se vetste man. Hy het
daar op sy bed gesit, of gele en ek het hom so jammer gekry. Hy is nie meer in staat om die
mees basiese dinge vir homself te doen nie. Mens kon sommer sien hoe hy sy menswaardigheid
verloor het.

Hulle het gepraat oor 'n moontlike operasie om sy maag te verklein. Hulle het ook mense
gewys, wat alreeds so 'n operasie suksesvol gehad het. Hulle lyk almal nou maer, gesond en
gelukkig. So 'n operasie kos ongeveer R30 000. Hierdie arme man probeer nou uitvind of sy
mediese fonds so 'n operasie sal betaal, want sy dokters beweer as hy nie drasties gewig
verloor nie, sal hy binne vyf jaar sterf.

Ek bid vir hierdie man en hoop hy sal slaag om gewig te verloor. Hy doen dit nie net vir
homself nie, maar hy doen dit ook vir my en al ons ander dikkes wat iewers wegkruip en nie
R3000 het om ons van onself te red nie.

Miskien moet ek ook probeer om 'n brief aan my mediese fonds te stuur. Ek is seker my
dokter sal 'n verslag kan aanheg oor my gesondheid. Ek is 70 kilogram oorgewig. Dis 'n hele
mens se gewig!

Miskien kan ek ook so 'n operasie kry en dan hoef ek nie te voel asof dit beter is om te sterf, as
om so verskriklik oorgewig te wees nie. Net miskien, as ek hard genoeg probeer, sal Jeff
terugkom na my toe...




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar


VREEMDELING IN MY VADERLAND

deur Piet Schoombie

Dit handel oor die probleme wat baie Suid-Afrikaners in die nuwe SA ondervind en hulle wroeging met die vraag of hulle moet ry of bly. Lesers sal hulle ten volle kan vereenselwig met die realiteit van korrupsie, misdaad en moord in dié boeiende verhaal..



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar