Kortverhale

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

“Iewers in die Bybel staan geskrywe, dat mens nie jou vertroue op konings en prinse moet stel
nie. Hulle sal jou altyd faal!”

'n Kleed van moedeloosheid hang oor die vrou voor my. Sy roer ingedagte haar koffie, nadat
sy ons gesprek met hierdie stelling begin het.

“Ek het grootgeword in die tyd toe daar van vroue verwag was om by die huis te bly en
kinders groot te maak. Daardie tye was 'n onderwyseres, of 'n verpleegster na opgesien as 'n
uiters professionele vrou. Dit was ook die tyd toe vroue dieselfde werk as mans gedoen het,
maar minder betaal was, bloot net omdat sy 'n vrou is en by die huis hoort.

My Ma was een van hierdie vroue. Sy was 'n onderwyseres en ook die broodwinner van ons
gesin. Ek onthou dat sy baie briewe aan die onderwysdepartement en aan die minister geskryf
het. Hulle het haar nooit terug geantwoord nie. Sy is oorlede, nog voor sy kon sien dat dinge
vandag 'n bietjie anders is, alhoewel daar nog baie in die arbeidsmark teen vroue
diskrimineer word. Ja, dit was die sogenaamde “goeie ou dae”, waaraan soveel mense se
herinneringe nog kleef. Ek wonder wat was so “goed” daaraan?

My gewese man, was 'n arrogante blink Stefaans. Ons het omtrent die swerfjare van Poppie
Nongena beleef, soos ons van plek tot plek, provinsie tot provinsie, getrek het. Altyd oppad na
'n beter salaris, of beter bevorderings geleenthede vir hom. Ek was later skoon naar as ek 'n
kartondoos gesien het!

Ek moes ook werk om blink Stefaans se beeld te help poleer. Klerkie hier en klerkie daar, 'n
minister sonder portefeulje, dit was ek. Net sodra ek begin om 'n goeie werksrekord op te bou,
dan trek ons weer. Daar was ook nooit geld sodat ek verder kon studeer nie, al wou ek baie
graag.

Ou blink Stefaans het later gevoel ek blink nie meer mooi genoeg vir hom nie en vir hom 'n
pragtige, professionele poppie aangeskaf wat hom kan help om sy beeld verder te poets. Die
egskeiding het hom finansieel seergemaak, maar daarvoor was “Poppie” nou daar om hom
weer op sy voete te help.

My ou karige egskeidingsgeldjies het ek in 'n koffiewinkeltjie bele. Dit was 'n groot fout want
sonder besigheidservaring, was die plek gedoem tot mislukking al het ek die beste voornemens
in die wereld gehad. Hulle het my woonstel, my motor en my meubels gevat. Hulle het tot my
Ma se silwer messe-en-vurkestel gevat en verkoop om my krediteure te betaal. Dit was een
van die pynlikste ervarings in my lewe!

Gelukkig het ek werk gekry by 'n kleinerige invoer maatskappy. Hulle het my 'n lagwekkende
salaris betaal, maar ek was dankbaar dat ek 'n werk gehad het. Ek het myself geleer en nagte
om gewerk. Ek het geleer van skeepsterme, rand en dollar wisselkoers, oorsese oorplasings,
advertensies, uitstallings en wat ookal opgeduik het. Intussen het ek die nuwe mense wat
aangestel is, opgelei. Weereens 'n minister sonder portefeulje.

Moet nooit die fout maak om te dink jy is onmisbaar nie! Nadat my salaris vir sewe jaar
bykans stilgestaan het, het ek die moed bymekaar geskraap om my base te nader vir 'n
verhoging, of vir beter voordele. Hulle het baie simpatiek geluister, maar hulle skouers
opgehaal. Juis ek sal verstaan van die nypende ekonomie en die hoe kostes. Na hierdie
gesprek, het die baas 'n splinternuwe, duur motor gekoop en vir ses weke, op 'n oorsese


vakansie gegaan.

Ek is weg by hulle met 'n glimlag en 'n duur bottel parfuum, vir al my jare diens. My nuwe
werkgewers was 'n effektebeurs genoteerde maatskappy. Hulle het my 'n beter salaris, 'n
mediese fonds en pensioenvoordele aangebied. Hulle sal beslis mooi kyk na hulle personeel!

Omdat ek geweet het die tyd stap aan en dat ek op agt-en-veertig nie weer maklik 'n werk sal
kry nie, het ek alles ingesit. Weereens lang ure gewerk, nagte omgeworstel met 'n nuwe
besigheid en 'n nuwe besigheid se reels en regulasies.

Na vyf harde maande se diens, word ek toe onverwags siek en word opgeneem in die
hospitaal. Verskeie toeste was gedoen en ek was ingelig dat my mediese probleem
onomkeerbaar is, maar wel behandelbaar. Ek het intens bewus geword van die uurglas wat
besig is om vir my leeg te loop.

My direkte hoof het my kom besoek in die hospitaal. Ek was verras oor sy belangstelling en
die ruikertjie blomme. Ek het hom vertel wat my toestand is en wat die dokters gese het. Hy
het my arm 'n drukkie gegee en my sterkte toegewens. Ek was drie dae afwesig van die werk
af.

Terug by die werk, was almal vriendelik en besorg. Ek het hulle verseker dat ek nie van plan
is om dood neer te slaan nie en dat die lewe voortgaan, soos altyd. My baas was effens afsydig,
maar ek het my nie daaraan gesteur nie en aangegaan om die pakke werk op my tafel af te
handel. Ek was nog diep ingedagte besig, toe my telefoon lui. Dit was 'n beampte van ons
Hoofkantoor se personeelafdeling. Sy het gese dat sy 'n e-pos van my baas af ontvang het oor
my gesondheid. Sy het verder gese dat die maatskappy nie die risiko kan neem om my verder
in diens te hou nie. Hulle sal my 'n maand se salaris betaal, maar ek moet dadelik my
rekenaar afskakel en die kantoor verlaat.”

Die vrou voor my vee moeg oor haar oe. Dit is byna tasbaar hoe sy die vernedering van vooraf
beleef.

“Wat het jy daarna gedoen?” vra ek

Sy sug weer diep

“Ek het hulle gaan rapporteer. Natuurlik het hulle geweet dat hulle verkeerd was en my 'n
drie maande salaris, as skikking aangebied. Ek het dit aanvaar want op daardie stadium was
ek desperaat vir 'n inkomste.

Ek het ernstig begin werk soek. Weet jy hoe duur is dit om die koerante te koop, fakse te stuur
en onderhoude wat op niks uitloop, by te woon? Ek het ook nie meer internet toegang gehad
om daar te kon probeer iets kry nie.

Ek het by 'n kontantlenings plek beland. Die eienaar was grillerig, die plek grillerig en die
hele besigheid druis in teen my morele beginsels, maar ek het dit gedoen, want ek moes eet. Na
ongeveer 'n jaar se diens, was daar weer 'n dag wat die pensioenarisse hul lenings kom betaal
het. Op so 'n dag, vorder 'n mens baie kontant en daar is ook nie tyd om gou bank toe te gaan
nie. Ek was beroof. Ek het nou nog nagmerries oor daardie dag! Hulle is weg met R20 000
kontant. My baas was woedend omdat ek soveel kontant in die kantoor gehad het. Hy het my
dadelik afgedank.”


Sy bly weer 'n lang oomblik stil

“ Ek het seker al by vyftig plekke aansoek gedoen vir werk. Van hierdie vyftig het slegs twee
my genooi vir 'n onderhoud. Die personeel beampte by die een onderhoud, was 'n jong meisie.
Sy het pront-uit gese: “Tannie, jy het al die ervaring waarna ons soek, maar ongelukkig is ons
op soek na iemand wat jonger is.” Kon hulle nie vooraf op my CV gesien het wat my
ouderdom is nie? Ek moes 'n klomp geld spandeer aan vervoer, net om vir die onderhou te
kon gaan!

Met die ander onderhoud, was dit 'n man wat my gesien het. Hy het verveeld op sy stoel gery.
Hy het gevra waarom ek by so baie plekke gewerk het. Toe ek begin verduidelik van die
rondtrekkery saam met my eks, kon ek sien hoe hy belangstelling verloor. Hy het oor my
skouer na die muur agter my gestaar en kort daarna opgestaan, my hand geskud en gese hulle
sal my bel. Dis al meer as 'n maand en hulle het nog nooit gebel nie.

Ek het my CV ook ingestuur vir 'n advertensie vir 'n skoonmaker/teemaker. Die eienares van
die besigheid het my gekontak en gevra of ek mal is, of dalk nie die advertensie reg verstaan
het nie. Ek het my situasie aan haar verduidelik en gese ek sal die beste skoonmaker wees wat
hulle nog ooit gehad het. Sy het baie simpatieke geluide gemaak, gese sy sal vir my bid en
daarna die foon in my oor neergesit. ”

Die vrou kyk met desperaatheid na my.

“Ek weet nie hoe ek my huur gaan betaal, of kos, of elektrisiteit koop nie. My krediteure wil
my swartlys en ek weet nie meer wat om vir hulle te se nie. Al weet hulle ek is werkloos, bly
hulle my aanmekaar bel! Ek kan ook nie waag om my telefoon af te sit nie, want dalk kan
iemand my bel oor 'n werk!

Weet jy, as mens nie werk nie, voel dit asof almal dit weet. Asof jy in die straat by onbekendes
verbyloop en dat hulle weet dat jy jou menswaardigheid verloor het. “

Sy skud haar kop liggies heen-en-weer.

“Elke oggend begin ek hoopvol, maar soos die dag vorder, wonder ek of alles nog die moeite
werd is. Ek wonder of dit is waartoe mens se lewe kom, al het jy hard gewerk en die beste
gedoen wat jy kon, onder omstandighede?

Daar is so baie wat ek nog aan 'n werkgewer kan bied, maar die konings en die prinse van die
wereld, dien 'n ander God as ek.”




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Hierdie afspraak het baie deernis by my ontlok. Die totale magteloosheid en frustrasie. Baie goed geskryf.
11 jaar 3 weke 5 dae 13 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    Gee my hoop - selfs toe daar geen hoop meer was nie

    deur stefan s

    Die boek se inhoud gaan hoofsaaklik oor die tema “hoop”. Hoop kan op verskillende maniere of geskep, versterk of vernietig word. Daar word gekyk na faktore wat ʼn direkte of selfs indirekte invloed uitoefen op die hoop wat daar in menseharte bestaan. Die boek is anders as ander deurdat daar aan die einde van elke hoofstuk ʼn gedig van hoop en bemoediging, deur stefan s, geskryf is wat by die tema van daardie hoofstuk aansluit. stefan s is ʼn predikant wat reeds 30 jaar in die bediening staan en in drie gemeentes gedien het. Ek is tans besig met twee afsonderlike kursusse in nood- en traumaberading. Ek is self deur diep waters wat as motivering gedien het vir die skryf van die boek met die spesifieke onderwerp “hoop”.



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar