Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek hardloop die trappies af agter hom aan. Ek kan nie dat die liefde van my lewe sommer net so weggaan nie. Die simpel gat in die sypaadjie wat ons al lankal toe moes gemaak het stop my deur amper my enkel te breek. Ek kom swetsend tot stilstand en kyk op.
My enkel klop; ek kan nie verder loop nie. Ek kyk onsteld hoe Stephen van my af wegloop; hy kyk nie eens een keer terug nie. Die groen t-hemp wat hy aan het span oor sy breë skouers. Sy vuiste kan ek van hier af sien is geklem, kneukels heel moontlik spierwit. Maar sy rug hou hy regop soos hy verder wegloop.
Dis verby. Sonder rede.
En hy weier om vir my te sê hoekom, waarom, hy dinge tussen ons beëindig het.
Ek druk ‘n vuis in my mond en gil. Gil al my frustrasie, al my pyn, in die demper wat my hand geword het.
Vir sewe maande was ons saam. Vir sewe maande het ons saam gelag, saam gehuil en saam baklei. Vir sewe maande het ek my alles in hierdie verhouding geploeg.
Vir wat?
My lyf begin ruk; ek’t al lankal ophou gil; ek hyg na asem wat net nie by my longe wil uitkom nie.
Ek weet wanneer die skok eers verby is, gaan die lelike ek te voorskyn kom. Die lelike ek wat dinge sê en doen wat ek nie regtig bedoel nie; daardie wese wat net veg want daar is geen redeneervermoë oor nie.
‘n Toeter laat my opkyk. Dis al laat genoeg dat minibussies hul kliënte nader roep om hulle huis toe te vat. Die son sit nog hoog; dis laat somer en skemer kom eers na al die sepies op TV al klaar is. Ek kyk om my rond. Die wêreld het nie gaan stil staan nie. Al het dit gevoel asof my eie wêreld aan skerwe gespat het – ontplof het soos in ‘n wetenskapfiksie fliek – het niks vir enigiemand anders verander nie.
“Lelanie?” vra ‘n stem huiwerig.
Ek kyk om. Christina staan en kyk versigtig na my.
“Hy’s weg,” sê ek sag.
“Ek’s jammer.”
Ek knik. Daar’s nie veel meer wat ons vir mekaar kan sê nie. Die persoon wat ek mee wil praat het sommer net geloop; sonder ‘n verduideliking.
Sy vat my hand – ‘n groot gebaar van iemand wat nooit van fisiese kontak hou nie – en lei my terug na die ingang van die gebou wat ons al vir ‘n lang tyd weet nie net ‘n woonstelblok is nie.
Ek hinkepink die trappies op. Christina sê niks nie. Ons stap deur die deur regoor die ingang. Die wêreld verander en ek vind myself in die hoofkantoor van die ambassade tussen Mens en Fee.
Wel, dit was altyd die ambassade. Nou is dit meer ‘n oorlogkantoor. Niemand weet regtig hoekom die Donker Feë besluit het om die mensdom aan te val na eeue, nee milleniums, van vrede nie. Maar, dit maak nie regtig saak nie. Al wat ons weet, is dat ons in ‘n geheime oorlog met die Donker Feë is en die meeste van die mensdom daaruit moet hou.
“Waar is Stephen?” vra Lizelle toe ons die sitkamer instap.
“Nie nou nie,” waarsku Christina haar terwyl sy my help om op ‘n rusbank te sit.
Lizelle vra nie weer nie. Ek weet nie of die feit dat Christina my hand vasgehou het of die uitdrukking op my gesig haar stil gehou het nie. Ek wil ook nie weet nie. Ons is wel ‘n familie, maar dit beteken nie dat ek alles omtrent myself altyd wil deel nie.
“Sit stil, ek bring ys vir daardie enkel,” sê Christina en loop weg.
Ek het skaars tyd om te begin tob, toe kom generaal Webber die vertrek in. Dadelik vul die vertrek met al die ander soldate in die oorlog teen die Donker Feë. Christina kom stil langs my sit en gee vir my die yspak aan wat sy gaan haal het.
“Vriende, ons gaan nog ‘n kantoor moet oopmaak. Ons kan nie vinnig genoeg orals wees wanneer die vyand aanval nie. Ek’s seker daarvan dat dit nie as ‘n skok kom nie.” Generaal Webber sug en kyk om hom rond. “Ek het klaar die groep verdeel tot die beste van my vermoë. Ek kan nie al die wat beheer oor die elemente kan uitvoer in een groep hou nie. Ek kan ook nie ons beste vegters in een groep hou nie. Ek…”
Ek kan sien dat hy spartel vir woorde. Nog altyd het net die beste van die beste uitgegaan om te veg. Met hierdie verdeling beteken dit dat almal gaan moet veg. Selfs Lizelle wat beter daarmee is om almal se wonde te versorg en die wapens reg te maak. Ek kyk vinnig van haar bleek gesig af weg.
“Kaptein Stephen Odendaal gaan die nuwe buitepos lei. Die lys van almal wat saam met hom gaan het ek op die yskas vasgemaak. Ek’s jammer,” sê hy na ‘n rukkie. “Ek wens ek kon sê dat ons meer mense gehad het wat kon saam veg. Ek wens ek kon sê dat die Feë Koningin ‘n plan gemaak het en die Donker Feë onder beheer gebring het.” Hy kyk weg.
‘n Stilte het oor die vertrek geval. Ek kan na niemand kyk nie. Ek kan nie besluit of ek op die lys op die yskas wil wees of nie. As ek is, kan ek Stephen dwing om met my te praat. As ek nie is nie… dan kan ek naby my familie bly wat nog onbewus is van alles terwyl hulle hul normale lewens lei en my net dan en wan sien.
“Ons het nog vanaand en môre saam. Vind uit waar jou nuwe pos is en maak vrede daarmee,” sê generaal Webber en loop die vertrek uit.
Ek’s seker daarvan dat ek trane in sy oë gesien het.
“Bly hier, ek sal gou gaan kyk,” sê Christina en vleg vinnig deur die ander in die vertrek.
‘n Beweging by die sydeur laat my soontoe kyk. Ek snak na asem. Stephen.
Ons oë ontmoet. Iets onleesbaars flits deur syne voordat hy wegkyk.
“Ons albei bly hier,” sê Christina saggies soos sy weer langs my kom sit.
Ek knik dat ek haar gehoor het. Ek kan nie besluit wat ek voel nie. Ek weet nie wat ek dink nie. Ek weet nie wat ek moet dink nie.
Hoeveel tyd verby gegaan het nadat ek vir Stephen die sitkamer sien inkom het en ons oë vir ‘n oomblik ontmoet het, weet ek nie. My gedagtes het hul eie gang gegaan nadat Christina my meegedeel het dat ons twee net hier gaan bly. Ek het so half en half waargeneem hoe ander afskeid neem: trane, drukkies, bemoedigende praatjies en ‘n klap op die rug. Maar hoe gaan ek afskeid neem van die man wat my alles was die laaste sewe maande; die man wat vroeër gesê het dat dinge tussen ons sumier verby is; die man aan wie se sy ek Donker Feë geveg het sedert ons vroeg winter ontmoet het?
Ek kom so half by toe iemand nuut langs my kom sit.
Stephen.
“Christina het my sopas uitgevreet,” sê hy met die glimlag wat my bene nog altyd so lam maak.
Ek kan nie meer doen as net knik nie.
“Ek skuld jou ‘n verduideliking. Ek het gehoop dit was duidelik vir jou hoekom ons verhouding nie kan werk nie…” Hy sug. “Saam teen die Donker Feë is ons twee ‘n wonderlike span. Ek gaan nie daaroor stry nie. Maar ons albei het die hartsog wat sulke lewe-of-dood gevegte opgevlam het vir iets meer verwar.”
Ek kyk geskok na hom.
“Nee,” sê ek en skud my kop. “Nee.”
“Dink goed daaroor, Lelanie. Wanneer ons nie te midde van ‘n geveg met bonatuurlike wesens is nie, dan het ons niks vir mekaar te sê nie.”
“Nee,” ek voel al dom dat dit die enigste woord is wat ek kan sê.
“Hou jy van kaas?” vra hy skielik.
“Wat?”
“Hou jy van kaas?” vra hy weer.
Ek weet dat ek net na hom kyk asof hy ‘n breinbesering het.
“Presies,” sê hy met ‘n hartseer trek om sy mond.
Dit voel of al die lug uit my geslaan is. Hoe kon ek nie sien dat wat ons twee gehad het, nie regtig-egtig was nie? Ons kan dan nie eens ‘n gesprek oor kaas hê nie, so simpel soos dit klink.
Hartsog, dis al. Hy druk my hand in vaarwel en staan op.
Wow. Hy knik vir my en loop weg.
Ek het regtig gedink hy’s die een. Ek het regtig gedink dat hy my so lief het as wat ek hom het – met ‘n alles-verterende-liefde waar niks en niemand anders saak maak nie.
Darem het ek nou ‘n verduideliking. Selfs hierdie halfhartige een wat hy my gebied het is beter as geen verduideliking nie. My verbeelding sou soveel erger dinge voorendag mee gekom het – foute wat ek nie regtig het nie, maar hom kon wegdryf.
Dis ‘n verligting om te weet. Al moet ek nog al hierdie nuwe emosies verwerk.
Ek kyk sy aantreklike figuur agterna vir die laaste keer.
Waar daar begeerte is, gaan daar ‘n vlam wees. En waar daar ‘n vlam is, gaan iemand brand. Maar net omdat jy gebrand het, beteken dit nie jy’s dood nie. Ek’s bewys daarvan. Hopelik is ek sterk genoeg om op te staan en aan te gaan met my lewe. Kan maar net probeer – al sê Yoda ook wat oor “probeer”.

*“Do or do not, there is no try.” – Yoda.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

"alles-verterende-liefde"
. . . doen presies dit!

Goeie storie vir besinning . . .
3 jaar 10 maande 2 weke 3 dae 20 ure oud


afskeid
Stem!
3 jaar 10 maande 2 weke 4 dae 6 ure oud


n amper klou en byt afskeid
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die AFSKEID projek.
3 jaar 10 maande 2 weke 4 dae 6 ure oud


verhouding
Pragtige werk Ronel
3 jaar 10 maande 2 weke 4 dae 17 ure oud


'n (
Wie het nie al in ‘n gedierte verander wat net kan klou en byt wanneer ‘n verhouding net skielik tot ‘n einde kom nie?
3 jaar 10 maande 2 weke 4 dae 18 ure oud



Reistog van Genade

deur Hannelie

My genade reistog van diagnosering van bipolariteit en my reistog na die veiligheid van God se Arms



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar