Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Dit is seker maar in meeste gemeentes so - ‘n man het jou sitplek in die kerk en daar wil jy sit. En laat ‘n ander arme siel nou net homself op jou plek gaan sitmaak het! Dan is daar baie surigheid, veral as ‘n man nou jou gewone plek moet prysgee en agter tant Fienie moet te sitte kom. Want dan sien jy niks van die preekstoel of die dominee nie - daardie reuse hoede wat sy dra, maak dit net mooi onmoontlik. Die sitplekke agter haar is altyd leeg.
Party van die mense wat van die plase af kom, was nie bekommerd oor plek in die kerk as hulle dalk laat is nie. Hulle weet mos waar sit hulle. Maar dan was daar weer diegene wat goed omgekrap kan raak as hulle ‘n sitplekkie soek, maar weer moet wyk voor die dringende en heftige gefluister dat so en so hier sit - die plek is soort van gereserveer.
Die ding kom toe by die kerkraad uit. Daar is broeders wat ongelukkig voel omdat ander mense op hulle plek kom sit. Kan hulle dan nie maar hulle sitplekke reserveer nie, wil hulle weet. Ander broeders is weer omgekrap omdat hulle nie kan sit waar hulle wil nie. Is hierdie gereserveerde sitplekke dan altemit verkoop, wil hulle weet.
Die hele gedoente bring dominees Visagie toe op ‘n idee. Sommer ‘n blink plan, sê hy vir die eerwaarde kerkraad. “Kyk, broeders,” lê hy sy saak voor. “Ons kort mos alweer bietjie fondse. Nouja, kom ons gee die lidmate geleentheid om vir hulle ‘n vaste sitplek te koop in die kerk. Miskien met ‘n klein bordjie met hulle naam op, so teen die leuning vasgespyker. Ons kan dalk al die sitplekke op die manier verkoop - daar is mos plek vir almal in die kerk. Dan het ons weer bietjie fondse en die probleem met vroeg kom en laat kom en sitpleksoekery is ook sommer opgelos.”
Die plan vind algemene byval onder die kerkraadlede. Wat op aarde kan daarmee verkeerd wees? sê hulle vir mekaar. Dis ‘n gawe manier om bietjie fondse in te samel vir die saak van die Here ...
Die volgende Sondag word ‘n gemeentevergadering gehou. Sommer net na die erediens. Die dominee verduidelik die saak, lê klem daarop dat fondse dringend nodig is en verduidelik dat broeders en susters wat nie ‘n sitplek kan bekostig nie, dan maar in die ongeresveerde plekke kan gaan sit. Nou wel nie die beste sitplekke in die kerk nie, maar darem ... Daar sal nou nommers op die banke aangebring word en dan kan die broeders en susters kom aandui waar hulle wil sit. Daarna sal die bordjies aangebring word. So gesê, so gedaan. Die broeders en susters bespreek hulle plekke en sal dan teen die einde van die maand die geldjie bring. Daar is vrede in die kerk.
Die vrede duur egter nie lank nie. Oom Dawid Esteban was nie in die kerk toe die vergadering gehou is nie - hy kom nie dikwels kerk toe nie, want hy boer goed sestig kilometer ver. En toe hy nou so twee Sondae later in die kerk instap, met vrou en kinders agterna, toe sien die duiwel sy kans sy ding te doen. Oom Dawid en sy gesin skuif in ‘n leë bank in en net toe hulle hulle sit gekry het, kom die “eienaar” daar aan. ‘n Heftige gefluister volg, daar word aan die arm getrek en beduie en uiteindelik staan oom Dawid op en stap uit, gevolg deur die tannie en die kinders
Teen die Woensdag van die volgende week klop oom Dawid Esteban aan by die pastorie. Oom Dawid is ‘n korrelkop wat amelewe dwars trek teen enige nuwe ding, en sommer teen gevestigde dinge ook. Maar skatryk. Tog is sy kerklike bydrae maar kleinerig. Dis seker hoekom hy nooit op die kerkraad kon kom nie - oor sy beneukgeit, nie sy klein bydrae nie. Hulle sê jy moenie aan sy verkeerde kant kom nie en jy moet tog nooit, nooit met hom besigheid doen nie.
“Ek voel beswaard, Dominee,” sê hy toe hulle in Dominee Visagie se kantoor sit. “Is dit nodig om die kerk se sitplekke te verkoop?”
“Ag, broer, dis maar net ‘n manier om bietjie geld in te kry vir die saak van die Here,” antwoord die dominee. “Daar word niks sleg bedoel nie.”
“Is die kerk alweer kort aan geld?” wil oom Dawid weet.
Die dominee sug. “Ja, broer. Ons sukkel maar om ons verpligtinge na te kom.”
Om Dawid haal sy tjekboek uit sy sak. “Hoeveel kos ‘n sitplek, Dominee?”
"Tien rand vir die jaar, oom Dawid. Gaan Oom ...”
“Hoeveel sitplekke is daar?”
“Vyf honderd, oom Dawid.”
Oom Dawid skryf en hou dan die tjek na die dominee toe uit. “Hier is vyf duisend rand. Dis my bydrae vir die kerk, Dominee. Vat dit. Ek voel al lankal ek dra te min by.”
Bly oor die oom se duidelike inkeer, ontvang Ds Visagie die tjek met groot dankbaarheid. Die kerk moet vir oom Dawid ‘n briefie skryf, dink hy toe hy die oom groet.
Toe Ds. Visagie daardie volgende Sondag by die kerk kom, staan sy gemeentelede nog almal buite, kerkraad en al. Dit raas en lawaai. Voor die toe deur, met sy arms voor sy bors gevou, staan oom Dawid. Onbeweeglik. Onversetlik. Niemand gaan vanoggend by hierdie kerk in nie.
“En nou, Oom?” vra Ds Visagie toe hy by die kerkdeur kom. “Hoekom staan oom hier en hoekom is die deur nog toe?”
Oom Dawid trek ‘n sleutel uit sy sak en beduie na die kerkdeur. Daar is ‘n grendel aangeskroef en met ‘n los slot gesluit. “Niemand gaan in nie, Dominee,” sê hy. “Ek het mos al die sitplekke in hierdie kerk gekoop. Ek laat niemand op my banke sit nie.”
Die dominee probeer die ding as ‘n grap afmaak. “Kom nou, oom Dawid, die diens moet al haas begin,” pleit hy. Maar die oom wil niks weet nie. Die dominee begin warm word onder sy boordjie.
“Toe nou, oom Dawid,” pleit Dominee weer.
“Not ‘n dêm,” sê die oom en staan sy staan. “Laas Sondag het julle my uit die kerkbank uit opgejaag. Maar nie vandag nie.”
“Asseblief, Oom!”
“Orraait. Daar is ‘n voorwaarde. Ek sal die deur oopsluit, maar dan sê jy nou en hier vir al die mense, Dominies, hulle kan maar sit waar hulle wil.”
Die kerkraad word inderhaas bymekaargeroep daar onder die seringboom vir ‘n impromptu vergadering terwyl oom Dawid staan waar hy staan. Dis maar ‘n kort vergadering - oom Dawid sal hierdie dag van vandag sy sin kry - daar is nie ‘n ander uitweg nie. Die eerwaarde kerkraad kom staan weer saam met die dominee by die deur en hy kyk vermanend na die jongmense wat wil bars van die lag. Hy verduidelik dat die kwessie van gereserveerde sitplekke vir eers daar gelaat word en dat die gemeente nou weer kan gaan sit waar hulle wil, en dat niemand opgejaag mag word as hy eers sy sit gekry het nie.
Oom Dawid is tevrede en sluit die deur oop, en die kerkdiens kan begin - goed ‘n halfuur laat.
Die daaropvolgende Donderdag word die kerkraad bymekaargeroep vir ‘n dringende spesiale vergadering. Almal is bra somber - dis ‘n gewigtige agenda vanaand, met net een besprekingspunt: gereserveerde sitplekke in die kerk. Die besprekings is warm - baie warm en Ds Visagie moet kort- kort vermaan teen onaanvaarbare taalgebruik.
“Op die koop toe, Broeders,” rapporteer die dominee so byna-byna uit sy humeur uit, “op die koop toe en na alles wat Sondag gebeur het, het die bank oom Dawid se tjek teruggestuur. Hy het betaling gestop.”
‘n Geskokte stilte. Dan staan oom Koos Hamersma, die skriba, op - gewigtig, met ‘n diep frons. “Dominee, Broeders,” begin hy. “Ons moet vir broeder Dawid ‘n brief skryf en hom sê hoe voel ons oor die saak.”
“Miskien moet ons hom liewer maar gaan opsoek,” meen Ds Visagie. “Ons stuur ‘n kommissie.”
Die idee van ‘n brief skryf kry groter aftrek. Niemand wil afgevaardig word na oom Dawid toe nie – almal is bra lugtig vir die oom. Daar word ooreengekom dat die skriba die brief sal skryf, maar dat hy dit eers aan die dominee sal voorlê voordat dit gepos word.
Sommer die volgende dag kom die skriba aan die dominee se deur klop met die brief wat hy opgestel het.
“Nou maar laat ons sien, Oom,” sê dominee en vou die brief oop. Hy lees die twee bladsye deur, vou dit toe en sit dit peinsend, eintlik verlangend voor hom op die lessenaar neer.
“Ja, Oom, ek dink Oom het die ding gesê soos ons almal voel,” sê hy uiteindelik. “Maar daar is nou ‘n paar foutjies in Oom se brief.”
“Watse foute?” Oom Koos hou nie van kritiek nie. “Is dit altemit spelfoute?”
“Ja, Oom. Mens spel donnerse met twee enne en bliksem is ook nie reg gespel nie.”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ano
Brief
whahahaha! Het nie daardie een sien kom nie :-))))

Geen kritiek - net 'n guns 'seblief? Wat van groter spasies tussen die paragrawe - dit lees dit so 'n bietjie makliker :-D
5 jaar 1 maand 3 weke 14 ure oud


n brief van die kerkraad
Kostelik!!! .. ja so kry mens maar in elke kerk die ou korrelkoppe.. heerlik gelees
5 jaar 2 maande 1 week 4 dae 12 ure oud



Susanna Maria Magdalena

deur Lorelei

Die lewensverhaal van n jongvrou wat gedryf word deur Stemme in haarself. Haar soeke na haarself en God asook n stryd tussen Lig en Duisternis.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar