Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die kar luier saggies by die rooi lig. Hy kyk links, verby die vyfrat-diagram op die rathefboom, in die rigting van die mossienes. Die knip dig. Moes hy dit eerder in die gleuf langs die deur gesit het? Hulle sal hom in elk geval nie stop in hierdie verkeer nie.

Hy het nie vanoggend by die vulstasie gestop vir koffie, soos hy gewoonlik doen nie. Hoe minder mense hom vandag sien, hoe beter. Daarom het hy gister die tenk volgemaak. Hoe ver gaan hy vandag ry? Wat gaan hy doen, na die tyd? Miskien moet hy by die werk bly asof alles normaal is; dit doen hy reeds vir sewe maande. Alles is nie normaal nie. Dalk moet hy maar net by die werk bly asof niks gebeur het nie. Sy hart pomp meteens weer vinniger as sy gedagtes verdiep raak in die rede vir sy diep gemoed.

‘n Sweetdruppel vorm op sy linkerslaap onder die donkerbruin hare, ten spyte van die koel Augustus-oggend. Sy bene wip op en af op die bal van sy voete. ‘n Lighoofdigheid neem besit van sy kop. Hoeveel keer is hy nie al hierdeur nie? Professor Lens het verlede maand tydens die Bestuursontwikkelingskursus gesê ‘n mens moet beheer van jou lewe neem – selfontleding; identifiseer die probleem en tree aktief op om dit op te los.

Dinge moet vandag verander, en dit beteken dieselfde vergaderings met dieselfde mense gaan nie werk nie. Hy is moeg vir hierdie gevoel, moeg vir die bedreiging wat hom elke dag in die gesig staar. Die lig word groen, hy stamp sy voet hard op die petrolpedaal neer en moet skielik rem trap as hy byna in die wit buffer van die Fiesta voor hom vasry. Nog verkeer. Hy vee sy voorkop met sy regterhand af, vee sy hand droog teen sy broekspype.

Sy keel begin brand. Sy asem jag al van vyfuur af. Gewoonlik ry hy net na ses om ‘n rukkie voor agtuur op kantoor te wees. Wanneer laas was hy voor agt op kantoor? Sy lyf lig stadig in die oggend. Maar vanoggend hy wil daar wees wanneer dit nog stil is. Vark Francis, soos hy agter sy rug genoem word, is al teen halfsewe soggens agter sy rekenaar in sy kantoor. Direkteur, slawedrywer, manupileerder van formaat. Politikus. Die motors voor hom beweeg nege, tien tree op ‘n slag. Hy ruik rook. Dalk brand hy die koppelaar. Twintig oor ses, nog drie kilometer – hy is reeds in die middel van die sakedistrik. Hy het nie gedink daar sal soveel motors die tyd van die oggend wees nie. Dinge moet vinniger gebeur.

In Alicerylaan draai hy regs. Die meeste voertuie hou reguit aan. Hy sit in derde, in vierde; ietwat roekeloos vat hy ‘n blou sedan aan die regterkant verby en pluk die stuurwiel dadelik na links om ‘n Porsche 911 verby te vat. ‘n Swart vrou agter die stuur. Geen meer verkeersligte nou nie. Die bande skree en eggo in sy ore as sy voertuig deur die glyweg skiet.

Sewehonderd meter, agthonderd meter, die ligte siersteenmure verskyn aan die regterkant. Hy sien nie die wagte nie. ‘n Vinnige swaai van die kaart, die hek gaan nie oop nie. Hy swaai weer, stadiger dié keer.

Ry binne, regs by die eerste sirkel van die kantoorkompleks, dan links by die T-aansluiting. Uit gewoonte amper links om die ondergrondse parkering binne te ry, maar dan maak hy sy fout reg en hou verby. Die besoekersparkering is aan die linkerkant buite; oop. Hy trek in.

Dit is sy plan. Stop hier, gaan in. Hy sal sê hy het dokumente kom optel en dan ‘n kliënt gaan sien. Of dalk moet hy eeder sê hy was bank toe. Hy kan wel gaan, en ‘n alibi opbou; geloofwaardigheid aan sy storie verleen, natuurlik net as iemand hom sou vra. ‘n Kliënt sal sien as hy nie homself is nie, die bank is beter.

As hy met die motor se neus vorentoe parkeer, sal hy vinniger kan wegkom. Die enjin luier nog, hy sit die ratkas in trurat en ry agteruit. Die motor wip as dit oor die skuins randsteen afgaan tot op die plaveiselpad, en wip nog ‘n slag as hy by die parkering aan die oorkant, dié van Morolopeng Ing, oorsteek. Sy linkerhand reik na die mossienes.

Hy wil die enjin afskakel. Hy haal diep en stadig asem en draai die sleutel. Hy kyk op na die vensters van die kantoorgebou voor hom, die grootste in die kompleks, vier verdiepings hoog. Dit wat daar binne gebeur; agter geslote deure; hoe mense behandel word… Sy borskas begin op en af dein. Dan, in die hoek van sy oog sien hy die Mercedes. Vark Francis se Mercedes AMG. Hier buite sal makliker wees. Klik-klik. Die venster wil nie oop nie. Hy draai weer die sleutel, dit klingel , hy druk die knoppie en die linkerkantse venster skuif oop. ‘n Kil bries vlieg die voertuig binne.

Dit is nou of nooit, die hoek is nog reg. Sy hand vat raak, hy lig die Smith en Wesson. Sy vinger klam op die sneller. Die digte, kort, swart hare, die optrekkerige neus, Francis, agter die korrel.

Die aansitter krap as hy die sleutel draai, die enjin was reeds aan. Sy kop draai, steeds. Hy sit die vuurwapen in die mossienes terug. Miskien is more ‘n normale dag op kantoor.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

RANGEERWERF

deur Johann P. Boshoff

Hierdie selfpublikasie, met die volledige titel RANGEERWERF: DIE WAARHEID GELIEG, bestaan uit nege (9) homofiliese kortverhale met sterk biografiese inslag opgeneem. Dit is 'n rangering deur die lewe.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar