Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Albert was maar ‘n effense skaam outjie. Veral oor hy in die tweede kwartaal van Graad 1 vanaf Natal na die Weskaap verhuis het en die juffrou nie mal was oor hom nie. Want sien, terwyl hy nog in Graad 1 in Richardsbaai klei en sandbak gespeel het, het sy toekomstige klasmaats in Durbanville al in Graad R begin om te lees en skryf. En toe Juffrou Viljoen DIT besef moes hy met alle geweld terug Graad R toe.

Gelukkig het hy ‘n ma gehad wat nie nonsens vat van kabouters nie en is daardie situasie sonder die vloei van bloed, of relegasie na Graad R, aangespreek. Hy moes ure en ure na skool ekstra werk doen, maar binne 'n paar weke kon hy basies lees, skryf en wyser- en syferhorlosies lees. Gelukkig vir hom het die skoolsielkundige bevestig dat hy nie ‘dom’ is soos liewe Juffrou beweer het nie. Maar ongelukkig het die juffrou gemaak dat die kinders hom as ‘n sagte teiken gesien het.

Dit het natuurlik ook nie gehelp dat hy ore gehad het wat Dumbo sou trots maak nie.

Na jare se boelie en afknou deur klasmaats het die skoolsuster eendag voorgestel dat sy ouers die ore laat plat maak. Maar alhoewel hulle nooit tekorte gehad het nie, was daar nie geld vir sulke dinge nie. En die medies het nie gedink dis ‘n bak plan nie. So het die jare aangeloop en het hy stadig maar seker die oorlog begin verloor. Net as dit lyk asof hy goeie rugby kan speel, breek hy sy arm. As hy maatjies kry, is dit die verkeerde tipe en soms het agterdog maatjies weggejaag. Ja, hy het moeilike Laerskooljare gehad. Hier en daar was daar darem onderwysers soos Meneer Smith, Juffrou Kotze en Juffrou De Wet wat die wêreld se verskil gemaak het.

Graad 7 was klaar en ‘n lang vakansie het voorgelê voor die Hoërskool begin. Hy het gewonder wat daai plek gaan inhou...kan hy tussen die massas verdwyn of gaan die massas erger wees.
Daardie middag toe Albert by die huis kom sê sy ma, “Trek gou uit, ons moet gou dokter toe gaan”. En ‘n uur of so later stop hulle by dokter Meintjies. Hy is ‘n plastiese chirurg. En hy verduidelik hoe hy Albert se ore gaan verander dat niemand ooit sal weet hoe dit gelyk het nie. Dit klink amper te goed om waar te wees. Soos ‘n siek grap. Hy wonder hoe die dokter kan maak asof iets wat so ‘n las is net so kan verdwyn.

Die volgende week gaan hy teater toe. En so uur of drie later word hy wakker. Nog effens deurmekaar is die eerste ding wat hy soek ‘n spieël, maar die gesig wat hom begroet is een waar sy kop toegedraai is met verbande en groot plakpleisters. Hy het geweet dis te goed om waar te wees.

Drie weke later vat sy ma hom weer na dokter Meintjies toe. Die verbande moet af. Toe hy in die spieël kyk het hy vir die laaste keer in sy lewe gehuil. Dis ‘n wonderwerk het hy gedink. Sommer so kan hy amper nie sy ore sien nie...en wanneer hy hulle uiteindelik sien is sy ore so mooi soos hy daaroor gedroom het. Niks sal hom weer van stryk bring nie. Niks.

Die eerste dag by die Hoërskool is baie vreemd. Hy is so gewoond daaraan om die middelpunt van negatiewe energie te wees, dat hy skoon jaloers is op die ander graad 8 leerlinge wat so erg ontgroen word. Niemand sien hom raak nie, nie eers die boelies van verlede jaar nie. By die klasindeling beland hy in die dom klas. “Dis seker waar ek hoort”, dink hy. Die oorgrote meerderheid van die kinders in sy klas kom van ‘n ander laerskool in die dorp – hulle het ‘n spesiale klas vir kinders met leerprobleme gehad. Die meeste ander was verlede jaar ook in graad 8. Waar fisiese kenmerke sy probleem was, is verstandelike vermoëns nou.

Waar Albert so goed en selfs beter vaar as leerlinge in die slimste klasse, sien sy klasmaats dit as ‘n uiterste prestasie om enige toets te slaag. En vir die eerste keer in sy lewe word hy geboelie oor hy “dink hy is beter as ander mense”. Deon Pieters het seker gemaak dat Albert weet wie is die baas. Toe die skool aan die einde van die eerste kwartaal sê hy kan maar van 6E na 6B skuif as hy wil, en jammer vir die foutjie, het hy nie...want wat sal Deon aan hom doen?

Die jaar het nie regtig veel verskil van die vorige jaar nie. Behalwe dat Albert nie weer gehuil het nie. Selfs nie eers die dag toe Deon hom in die sangklas goed gedônner het oor hy blykbaar vir Amanda, sy meisie, geloer het. Sy blou oë van die gebreekte neus het lank gevat om gesond te word. Twee weke op skool is lank. Van die meisies in sy klas het baie van hom gehou; goeie maniere, aantreklik, slim en stil. Maar helaas, het hy nie geweet wat om met hulle te doen nie.

Met groot baklei het sy ma hom oortuig dat hy in dieselfde skool moet bly vir Graad 9. Sy pa se woorde, “Los die kind Mart. Laat hy maak soos hy vra”, het op dooie ore geval. Graad 9 in dieselfde skool het op hom gewag.

Na die klasindeling besef hy dat hy terug is tussen sy klasmaats van twee jaar gelede. Hy voel hoe die trane opbou. Maar hy byt sy lip en loop die klas binne. “Hey Albert, jissie maar jy het lank geword en waar was jy verlede jaar?”, vra Hannes.

Sy lewe was nooit weer dieselfde nie.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

WoW
Dit gee my hoendervleis. Ek is ook nuuskierig hoe jy aan die storie gekom het, uit ondervinding?
8 jaar 11 maande 6 dae 2 ure oud


die weervoorspelling
trials and tribulations....
met daai ore kon hy slot gespeel het.
wag in spanning vir die opvolg.
lekker vertel
8 jaar 11 maande 1 week 3 dae 18 ure oud


ore
Hou baie hiervan Ratel. Biografie? Want as dit is se jou naam baie. Sterk, en 'n kwaai humeur wat nie nonsens vant nie. En slangetjies oorwin.
8 jaar 11 maande 1 week 3 dae 18 ure oud



Susanna Maria Magdalena

deur Lorelei

Die lewensverhaal van n jongvrou wat gedryf word deur Stemme in haarself. Haar soeke na haarself en God asook n stryd tussen Lig en Duisternis.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar