Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Piet en Jan is vir Meneer Geel so bang soos die duiwel vir ’n slypsteen, want hy is nie bang om met die latte se gal te werk nie. Hy glo, “buig die boompie solank hy jonk is”, beteken die sweepgeluid van ’n geboë kweperlat! Sonder om te blik of te bloos, sal hy dan sedig predik dat “die doel die middele heilig.” As hy besluit het, dit is klaar met kees, is die koeël deur die kerk (en al die bobbejaantjies is gekwes). Mooi broodjies bak, vloei soos water van ’n eend se rug af.

Piet, wat gewoonlik Job se geduld en Salomo se wysheid het, vererg hom nie sommer vir elke bagatel nie. Maar Jan wéét dat Piet se spoggerige nuwe selfoon, sy achilleshiel is. Hy hou aan om olie op Piet se vuur te gooi, deur te beweer dat sy nuwe selfoon uit Noag se ark kom en dus van nul en gener waarde is. Dit het Piet se bloed laat oorgekook. Jan het besef dat hy nou sy kop in die verkeerde bynes gesteek het, toe Piet heeltemal uitrafel en begin gal afgaan oor hy so in die gesig gevat is. Jan wou nog wal gooi, toe stamp Piet hom met die kop in die sloot.

Meneer Geel het die haantjies op ’n afstand dopgehou. Hy ken vir Piet en het eers gedink daar sal dadels van kom, want Piet se blaf is erger as sy byt. Maar toe hy sien dat Piet die bordjies verhang en vir Jan met die kous oor sy klipkop, waaruit die bloed tap, huistoe stuur, kon hy nie meer Gods water oor Gods akker laat loop nie.

“Piet, Jan, kantoor toe! Iemand moet julle onder hande neem!” Hulle wou eers rieme neerlê, maar besef gou dat die kool nie die sous werd is nie. Hulle het hulle rieme styfloop. Meneer Geel het die hef in die hand.

Soos ’n skaap ter slagting, verlangende na vleispotte van Egipte, stap hulle die pad na Rome. Hulle het besluit dat al hoe hulle nou die kastaiings uit die vuur kan krap, is deur in dieselfde juk trek.

“Meneer”, begin hulle die eierdans uitvoer. “Ons weet ons het ons eie hande afgekap en ons monde verbrand met die pap wat nie op die grond geval het nie, maar dalkies het Meneer die kat aan die stert beet? Meneer het tog self nog groen koring op die land. Moet nou asseblief nie die baba met die badwater uitgegooi nie!”

Maar Meneer Geel antwoord net: “Seuns, dink julle regtig julle kan my ’n gat in die kop praat? Julle kan julle poging om my heuning om die mond te smeer, maar op julle magies skrywe en met julle hempies afvee. Julle weet ek glo, dat boontjie kry sy loontjie moet kry.” Toe die eerste rottanghou die boude tref, weet hulle, hulle het die bal heeltemal misgeslaan. Meneer Geel is nie agter ‘n kalkoen uitgebroei nie!



Spaar Geld op Versekering

Kommentaar

Ander idiome
Baie oulike gebruik van bekende idiome
2 jaar 2 dae 7 ure oud


Dankie
Ja, het geniet om dit te skryf. En dis hoe die onnies was in my dae. Toe "mense regte" nog "goeie maniere en repek" beteken het
2 jaar 2 dae 10 ure oud


Vorige taal . . .
Baie goed geskryf
- sekerlik net so lekker hieraan gewerk!
2 jaar 4 dae 14 ure oud



Dans van die Vlammevers

deur Evelyn van der Merwe -Elvina

100 Gedigte met inspirasie, humor en ‘n kykie na die ou dae.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar