Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Reggie se bebloede vuis is in onmag geklem. Hy voel geen pyn nie. Soldate mag niks voel nie. Hulle is helde vir volk en vaderland. Die bebloede senings bars wit deur die kneukels, waar die sonbruin vel eers was. Die prys wat hy moet hy betaal om as oorlogsheld van Noord Afrika terug huistoe te keer, het hy in waansin teen die buitemuur probeer uitwis.

Werk- en geldskaarste na die depressie van 1929 tot 1933, sy vrou Anna en sy ongebore kind was die motivering om as Suid Afrikaanse soldaat in permanente diens van die Suid Afrikaanse gekombineerde geallieerde magte teen Axis in Noord Afrika te gaan veg. Een van honderdmiljoen soldate wêreldwyd, waarvan 50 tot 85 miljoen dood is. Hy was begenadig om te kon terugkeer na sy vaderland na vyf jaar se gevegte in een van die dodelikste konflikte nog in die menslike heugenis

Met hulle aankoms in Egipte het hulle aanvanklik meganiese werk aan die tenks gedoen en is toe gestuur na Khataba woestyn noordwes van Kairo, vir strawwe uitmergelende opleiding. Opleiding in woestyn oorlogvoering met A15 Crusader Tenks, toegerus met ‘n 6 ponder Britse 57 mm teen-tank-afweer-kanon. Gedurende 1942 word die tenks met die Shermans met ‘n 50mm kanon vervang. Met bykans ‘n honderduisend soldate in Egipte en Cyrenica is die menigte ‘n angswekkende gesig, inge-ets in die jong gemoedere, moontlike dood wat wag, is onafwendbaar. Die duisende malende troepe en massiewe kamp is oorweldigend!

Oor die ekstra komberse vir die koue nagte was daar aanvanklik groot vreugde totdat die manne selfs hulle lieste rou en aan flarde begin krap het. Die gejeuk was onuithoubaar! Die manne het so erg gejeuk hulle het gedink dit is luisbesmetting en hulle risiko loop om leegsuip te word nog voordat die oorlog verby was. Eers nadat die komberse van naderby ondersoek is, is daar vasgestel dat dit kameelhare was wat met gom aanmekaar vasgeplak was en die oorsprong van die gejeuk was. Ou Piet Stoof het niks oorgekom van die kameelhaar-komberse nie. Sommer vroeg in die oorlog het al sy varkies op loop gesit, rieme neergelê, die barre woestyn ingevaar. Reggie glimlag, Piet se vel is so deurtrek en dik aangepak met swart stoof-roet hy dink nie daar sal ooit weer iets wees wat vir Piet wit sal kry nie. Sy daaglikse koolstoof-skoonmaak-poleer-bomskoksindroom vir vyf jaar lank het hom in ‘n swartman met fletsblou oë verander.

Dag temperature van veertig grade plus, yskoue woestynnagte, min kos, swak voeding, voortdurende spanning en vrees vir die dood, verminktes, dooies en manne wat van hulle koppe afraak het sy tol ge-eis. Verskeie manne om hom knak, huil hartverskeurend soos kinders. Die ergste is die gewondes wat in hulle sterwensuur na hulle moeders roep. Bloed, lyke dooie oë, stukke ledemate en afgerukte koppe maak geen indruk meer nie. Hy sit gebukkend in die tenk, sy gedagtes by sy vrou en seun duisende kilometres vêr. Langs hom het Lang Gert aan die vloek gegaan oor die Egiptiese duif-eiers en boelie-beef wat hy nie meer in sy liggaam kan inkry nie. Reggie weet dit is maar sy manier om die vrees uit sy sisteem te probeer kry vir die naderende geveg.

Hulle is een van drie divisies, driehonderd vier en dertigduisend Suid Afrikaners in Noord Afrika. Hy dink aan die “Afrika Eed” wat hy geteken het, vat-vat aan die rooi epoulet op sy hemp wat langs hom lê. Sweet loop in strome van sy kaal bolyf af, die versengende woestynhitte vasgevang in die tenk tap elke greintjie krag uit sy liggaam. Hy het as deel van die tweede divisie op 10 Junie 1941 uit sy vaderland Egipte toe vertrek om by die eerste divisie wat alreeds ontplooi is aan te sluit. Met geen opleiding in Suid Afrika beskikbaar en net twee tenks wat die weermag besit het, moes hulle sonder enige ondervinding die oorlog aandurf. Die voorwaardes van die Afrika eed het bepaal dat hulle as soldate in enige deel van Afrika ontplooi mag word.

Hy glimlag wrang toe Lang Gert (gunner) skree: “Jagabibi jagabibi, vandag vrek julle! Toe!.... Greeff!.... vat die stange laat ons die vuilgoed gaan plattrap. Hier kom ons!…… ‘sahraa’! (woestyn)”! Die kragtige M4 Sherman tenk met 400 perdekrag enjine beur brullend vorentoe, dertig ton metaal op ‘n verwoestings missie. Die vyf manne in die tenk, is ‘n hegte eenheid vir oorlewing, geen foute kan gemaak word nie. Die voortdurende gevegte stomp die manne af, hulle voel niks, denke leeg, hulle gaan soos outomate voort, swetend taai van fyn poeierstof uit die woestyn se sandblik. Alle gevoel van empatie en deernis verhard en verstomp tot meganiese menswees, doodmaakmasjiene binne-in ‘n masjien. Op 15 Augustus 1945 word vrede verklaar. Egipte is ‘n miernes van bedrywighede. Kos is nou eers skaars en skokolade word geruil vir enige iets wat eetbaar is. Die duisende troepe is ongeduldig, die lang wag maak hulle gespanne hulle wil huis toe gaan.

Oorlog-suf met twee-en-veertig pitswere op sy nek, vertrek Reggie uiteindelik per skip van Alexandria na Durban. Sy gemoed is rou. Sy broer Ronald is op 16 April op negentienjarige ouderdom, vier maande voor vrede, met die inval van Bologne in Italië, doodgeskiet. Die heerlike kos wat op die skip bedien word is hemels. Die lekkerste is die smaak van vars botter wat hy vir vyf jaar nie geproe het nie. Die opgewondenheid, fisiese pyn en ongemak asook verlies van sy broer, maak sy gemoed vol. Hy moet sy trane bedwing, hy is uiteindelik oppad huistoe en helde mag nie huil nie. Op Durban hawe kry hy alles behalwe ‘n helde-ontvangs. Die ‘rooi lissies’ word erg geterroriseer, as verraaiers uitgekryt en kroeggevegte is aan die orde van die dag. Na twee dae terug op eie bodem, pak hy sy terugreis huistoe aan, hy wonder of die bomskok met tyd sal weggaan en hoe sy familie sy vreemde nuwe menswees gaan hanteer.

Reggie stap agterom die huis, hy wil die verrassing op sy vrou se gesig sien as hy in die agterdeur staan. Hy steek vas onder die pruimboom. Die bo-deur van die kombuis is oop. Anna staan met haar rug na hom gedraai en voor haar staan sy vierjarige seun. Blondekoppie met hemelblou ogies. Hy was in Egipte toe Hennie gebore is en die eerste blik op sy kind ruk sy menswees. Hy sluk hard aan die emosie wat in hom opwel. Hy stap tot by die agterdeur, stoot die onderdeur oop. Anna draai om haar oë wydgesper. Agter haar, half weggekruip staan Hennie met ‘n vraende uitrukking in sy ogies. Reggie se oë sak af na Anna se buik. Rond, vol swanger. Hy draai om en hoor Hennie se stemmetjie: “Mamma hoekom huil die oom?”

Reggie se bebloede vuis is in onmag geklem. Hy voel geen pyn nie. Soldate mag niks voel nie, hulle is helde vir volk en vaderland. Die bebloede senings bars wit deur die kneukels, waar die sonbruin vel eers was. Die prys wat hy moet hy betaal om as oorlogsheld van Noord Afrika terug huistoe te keer, het hy in waansin teen die buitemuur probeer uitwis.

Hy draai om en vat blindelings koers. Verskeur deur innerlike pyn, sit hy die vyf medaljes wat hy in sy linkerhand vasklem, terug in sy broeksak. Hy wou dit so graag in Hennie se klein handjie gesit het.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

oorlog
Baie goed geskryf. My ma (92) se broer is in Elalamein??? Egipte dood die 16 Des 1941 as huursoldaat. Die susters verwyt hulle ontslape pa nog omdat hy toestemming gegee het omdat hy gegaan het -hulle was 5 dogters en hy was die naamgenoot. Die storie het my baie geboei. Doet zo voort.
6 jaar 8 maande 3 weke 2 dae 10 ure oud


Uitstekend
Uitstekende verhaal - baie realisties.
6 jaar 8 maande 4 weke 6 ure oud


Wrange prys
Jy vertel goed...mens verwag wel 'n hartseer einde, maar wanneer dit kom, maak dit seerder as wat jy verwag het. Boeiend geskryf...
6 jaar 8 maande 4 weke 9 ure oud


oorlogsheld
Baie goeie, boeiende vertelling :)
6 jaar 8 maande 4 weke 13 ure oud


***
Sjoe! Hier het jy my aandag so vasgevang. Dit is in 'n tydvak wat ek nog goed onthou -- ek onthou ook die dag van vredesluiting het ons nie skoolgegaan nie -- ek was toe 11 jaar oud.

Jou beskrywings is uitsonderlik realisties en die slot maak dit meer as net 'n storie.

Baie goed gedoen.
6 jaar 8 maande 4 weke 13 ure oud


Oorlogsheld
Sjoe! dis voorwaar baie mooi geskryf, dankie.
6 jaar 8 maande 4 weke 16 ure oud


Kommentaar
Hierdie verhaal is 'n pragstuk. Jy kan voorwaar trots wees daarop. Jy verwoord die instense emosies op meesterlike wyse. Welgedaan.
6 jaar 8 maande 4 weke 20 ure oud



Gister se Onthou

deur borrels

ek pluk 'n klompie letters van 'n laning woord-bome af dan bou ek 'n vers daarmee die trand daarvan soms bietjie laf maar die woorde van die verse kom diep hier uit my hart dit skets die liefde van die lewe soms met pienk en soms met swart



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar