Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

HOOFSTUK 1
Ek kan die presiese dag en oomblik onthou wat my lewe ophou bestaan het soos wat ek dit geken het. Dit is een van daardie gebeurtenisse in ‘n mens se lewe wat jy onwillekeurig vergelyk met iets soos die dood. Behalwe, as jy dood is, hoef jy nie te voel nie en hoef jy ook nie te bekommer oor wat in die verlede gebeur het, of nog voorlê in die toekoms nie.

Dit was ‘n Woensdag, ‘n doodgewone Woensdag waar die nat, koue motreen van die Kaap die wêreld toegevou het in ‘n ondeursigtige kombers. Toe die alarm afgaan, wou ek dit nie hoor nie. Ek het my bene opgetrek teen my bors en die duvet styf onder my ken vasgeklem. Miskien as ek die skril geluid bloot ignoreer, sal dit vanself ophou...

Ek voel Bennie, my man, se warm maag teen my rug druk en daar is niks wat my so veilig en geborge laat voel, soos sy lyf teen myne nie. Die alarm skree eentoning aan en aan. Bennie kom half-orent en klap-klap op die bedkassie tot hy die monster se knoppie afdruk. Ek knyp my oë toe en maak asof ek slaap.

Hy druk sy slaapwarm hand teen my nek. “Wakker word Vlooi, dis tyd om op te staan.” Ek koester die laaste bietjie warmte van die komberse en besluit dan om maar die dag aan te durf. Bennie is alreeds in die stort. Ek hoor hom neurie en ek kan nie help as om te glimlag nie. Die man is so van noot af dat hy moet passop die bure se honde en katte, hardloop nie reguit SPCA toe ter wille van oorlewing nie.
In die kamer langsaan, slaap my twee engeltjies. Hulle is twee engeltjies terwyl hulle slaap, maar o, wee, as hulle begin beweeg! Die vyf jarige Jenna lê op haar sy met haar beentjies opgetrek teen haar bors, net soos haar Ma. Isabel, die jongste, is begrawe onder haar teddiebeer en sy lê met haar kop na die voetenend van die bed toe. Nugter alleen weet hoe sy dit regkry om haarself so om te draai en nie van die bed af te val nie. Geen normale mens wil haar as ‘n slaapmaatjie hê nie, omdat sy so vroetel en alles om haar uitmekaar skop. Sy het van babatjie dae af blou moord geskree as mens sou waag om haar styf in ‘n trooskombersie toe te draai.

My moederhart kry so ‘n nare pyn as ek hulle so vroeg in die oggend moet wakker maak om speelskooltjie toe te gaan. Alhoewel ek nie ‘n werkende ma is nie, moet die kleintjies tog die regte stimulasie kry en ook ‘n kans om met ander kinders te sosialiseer. Heimlik is ek tog bly as hulle die paar uur weg is, want dit gee my ‘n kans om my eie persoonlike vrou dinge te doen, sonder klaende stemmetjies, trane en vloermoere.

Hierdie Woensdagoggend het Jenna juis ‘n deftige vloermoer gegooi omdat sy nie van die nuwe ontbytpap hou nie. “Ek wil my oaties hê,” kerm sy en rol op die kombuisvloer rond. Moedeloos probeer ek haar optel, maar haar beentjies skop styf en sy woel haar los uit my greep. Sy snik en hik gelyktydig deur haar trane. “Ek wil my Oaties hê!”

Natuurlik is die driejarige Bella op die stadium waar sy alles wat haar sussie doen na-aap en uiteindelik sit ek met twee klaagliedere vir Oaties en twee vloermoere.

“As julle nou julle pap eet en stilbly, sal Mamma vir julle elkeen ‘n Beach Barbie koop.” Onmiddellik hou altwee op met huil. Dit is magiese toorwoorde en sonder enige verdere probleme, kon ek hulle by die speelskooltjie gaan aflaai. Hulle kyk nie eens terug terwyl hulle in die paadjie afhardloop met hulle pienk rugsakkies wat wip agter hulle aan nie. Ek hoor hoe Jenna kliphard vir die ander kleintjies skree: “My Mamma gaan tog vir my ‘n Beach Barbie koop, wê, wê, wêêê!”
Na die oggend se dramas soek ek ‘n bietjie vrede vir my siel. Hoekom ek gedink het ek sal dit by my Ma kry, weet ek nie, maar tog draai my suurlemoen geel motortjie se neus outomaties na hulle adres toe.
Ek ry deur die stil woonbuurt met sy imposante wonings en golwe en golwe groen gras, terasse en eksotiese bome en blomme. Ek het nog nooit voorheen daaroor nagedink dat ek bevoorreg is om ryk ouers te hê nie. Dit was maar net altyd so.
My Pa met sy besighede wat byna nooit by die huis was nie en my Ma, met al haar gedoentes en dinge vir die kerk en al wat ‘n fondsinsamelingsprojek is. Tog was sy altyd daar terwyl ek op skool was. Nie dat ek hierdie uitblinker leerling was nie, maar so nou en dan het ek iets gedoen wat my Ma opgehemel het onder haar vriendinne, sodat ek rooi van skaamte wou wegkruip.

“Dames, julle moet dit hoor! Janie het haar klaviereksamen cum laude geslaag”, waarna die Tannies “ge-oe” en “ge-aa” het. Ek weet vandag nog nie of dit was oor my sogenaamde prestasie nie en of dit uit vrees vir my Ma was nie. My Ma kan nogals intimiderend wees as sy die dag wil.
Akademies was ek gemiddeld, baie gemiddeld sou ek sê. Eintlik was ek baie gemiddeld in alles: Gemiddelde voorkoms, gemiddelde figuur, gemiddelde intelek, maar ek het in ‘n huis grootgeword waar geld nie ‘n kwessie was nie. Tog was die ryk huis nie ‘n waarborg vir vriende nie. Die meisies het my vermy, behalwe as ek ‘n nuwe speelding skooltoe bring. Dan was ek die hoof attraksie vir die dag, tot die nuwigheid sy blink verloor het.
Toe speelgoed nie meer vir groot meisies bedoel was nie, het klere my passie geword. Ek is dol oor mooi klere en my Ma, blink Stefanie wat sy is, het baie goeie smaak en dit aan my oorgedra. Sy het seker gemaak ons koop by die “regte” winkels, laat ons hare en naels doen by die haarstilis en manikuris wat maande vooruit bespreek is. Sy het ook gesorg dat ons al die geleenthede bywoon waar mens gesien word.
Hierdie dinge was nie vir my ‘n voorreg nie, nie iets spesiaals nie, maar deel van my daaglikse bestaan. Ek dink nie ek het ooit eens nagedink oor hoe “gewone” mense leef nie. Hulle was vir my gesigloos soos die kassiere by die winkel, die posman, die assistent by die boetiek en al die ander mede inkopie jagters.
Op hierdie Woensdagoggend, was my Ma opgesmuk asof sy gereed is vir ‘n koninklike besoek. Haar silwer-blonde hare perfek gekap, haar grimering eksie perfeksie en haar uitrusting ‘n waas van fuschia, seegroen en blou ten spyte van die koue dag.
“Hallo my kind,” sê sy en pik my versigtig op my wang sodat haar lipstif nie moet smeer nie. Ek stap deur die gang tot by haar ontwerperskombuis en gaan sit op een van die stoele by die deftige eethoekie.
“Waarheen gaan Ma?,” vra ek nuuskierig. Sy skakel die koffiemasjien aan en kom sit langs my. Sy sug diep asof die wêreld se laste op haar skouers rus. “Ag, daar is hierdie vergadering vanoggend met die vroue by die kerksaal. Ons moet geld insamel vir die kankerfonds en vandag moet ons idees uitruil oor hoe ons dit gaan doen. Jy kan sommer saamkom Janie, miskien het jy ‘n paar idees vir die ou klomp fossiele.”
Dit is die laaste ding wat ek wil doen, maar ek voel hoe knik my kop sommer vanself. Dis hoe dit altyd is met Janetta Brink is. Geen mens kan vir haar nee sê nie al is dit die mees verveligste, of onmoontlikste ding op aarde. Ten minste is dit iets om te doen terwyl ek wag dat dit twee-uur word om die kleintjies te gaan haal.
Hierdie vroue byeenkomste van my Ma is op sig self ‘n komiese drama op sy eie. Dis ‘n lagwekkende spel van wie wil beter wees en meer belangrik wees as die ander. Dit sal pret wees om hulle dop te hou as hulle in aksie is en veral my Ma, wat om een of ander rede altyd onder die indruk verkeer dat sy die koninginby is.




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Perfekte lewe
wonder nogal hoe gaan die perfekte lewe verloop en eindig, goed geskryf!
8 jaar 6 maande 1 week 5 dae 12 ure oud



Waarheen met die Nuwe Wyn

deur Christo Nel

Die boek, WAARHEEN MET DIE NUWE WYN, wat in 2004 vir die tweede keer nuut gepubliseer is, is bedoel om ‘n bydrae te maak as deel van die gesprek rondom Bybelse vernuwing wat tans onder veral Afrikaanssprekende gelowiges aan die gang is oor wat Christen-wees en kerk-van-Christus-wees beteken.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar