Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

HOOFSTUK 2
Die kerk se parkeerplekke staan vol blink motors parkeer, toe my Ma haar ewe blink motor so na as moontlik aan die kerksaal se ingang parkeer. Die vroue kwetter soos ‘n klomp spreeus om ‘n bak pap, toe ons instap.
‘n Pofpienk Tannie wat ek vaagweg kan onthou as ‘n “goeie” vriendin van my Ma, storm op ons af. “Janetta, ons het amper gedink jy gaan nie meer kom nie.” My Ma antwoord haar komkommer koel: “Berthatjie, hoe sal ek nou nie opdaag nie? Ek is die sameroepster hier of het jy vergeet?”
Bertha kyk na my. “Ag, toe, maar dis goed om vir jou te sien Janie. Kom jy jou jeugdige insette vandag gee vir ons ou klomp? ” Ek glimlag verlee en mompel iets wat ek self nie kan verstaan nie.
Nadat almal ‘n koppie tee het en hulle sit gekry het, staan my Ma op en maak belangrik haar keel skoon. “Dames, baie welkom aan almal wat vandag hierdie uiters belangrike vergadering bywoon. Julle weet reeds hoekom ons vandag hier bymekaar is, ek hoef nie in besonderhede in te gaan nie, maar dit gaan oor ons voorneme om fondse in te samel vir ‘n uiters belangrike saak.”
Sy bly ‘n oomblik stil en frons effens om nog verdere gewig aan haar woorde te verleen. “Welkom ook vandag aan my dogter, Janie, wat haar idees met ons gaan deel. Dit sal verfrissend wees om ‘n jeugdige perspektief te verkry oor ons toekomstige projek.”
Ek voel hoe ek rooiwarm raak van verleentheid terwyl almal my aanstaar. Van die vroue glimlag en groet hardop, terwyl een ‘n vriendelike wuif in my rigting waai. Ek waai verlee terug.
“Nou, voor ons formeel begin, kom ons sluit net ons oë vir gebed en leiding.” Almal sluit gedienstig hulle oë.
Ek kan die kinderagtige opwelling nie ignoreer om tydens Ma se gebed, deur my wimpers na die klomp tannies te loer nie. Die een deftiger aangetrek as die ander en die een probeer om ouliker en meer belangrik te wees as die ander, maar daar is ‘n onderlinge nydigheid en openlike afguns in hulle gesprekke wat ongemaklik aan ‘n mens kom kleef.
Die res van die vergadering verloop nie veel beter nie. As een vrou ‘n voorstel maak, skiet die ander dit summier af. “‘n Koekverkoping? Ag, nee, nie alweer nie! Ons het laas baie geld ingesamel maar dis soooo vervelig!” “ Wat van ‘n gemeente ete? Dit ook al tot vervelens gedoen, asseblief nie weer nie.”
“Wat van ‘n pretloop?, probeer ‘n ander een opportunisties. “Dit was ookal gedoen en onthou, die helfte van die mense het nie eens opgedaag nie.”
Na ‘n uur van heen-en-weer voorstelle rondslinger, word daar formeel tot die slotsom gekom dat niemand weet wat om te doen nie. Die opdrag vir die volgende vergadering is, dat elke lid moet ‘n praktiese, werkbare voorstel hê. Almal knik instemmend hulle koppe. Ten minste is daar een ding waaroor almal saamstem.

Ons ry terug met Ma wat kliphard kommentaar lewer oor almal se persoonlike sake en hulle voorstelle. Veral pienk Tannie Bertha loop deur. Dit is duidelik dat my Ma nie van haar hou nie, tog is sy sover ek weet haar beste vriendin. “Opgesmukte, beterweterige ou heks,” skinder my Ma. “Sy wil altyd alles oorneem en op haar manier doen!” Ek onderdruk ‘n glimlaggie en sê maar liewer niks, terwyl my Ma soos ‘n besetene jaag na die spoggerige, nuwe inkopiesentrum wat ‘n paar weke gelede oopgemaak het in ons dorp. Een van Bennie se breinkinders, dink ek ingenome met my man se vernuftigheid.

Ons sluit die oggend se kuier af met ‘n ligte middagete by ‘n koffie restaurantjie. “Hoe gaan dit met Bennie?” vra my Ma en in dieselfde asem: “Hoe ver is hy nou met die ontwerp van daardie nuwe skool?”
Ek dink nie my Ma stel vir een oomblik regtig belang in my man se argitektoniese talente nie, maar vra eerder uit oor sy wil bepaal hoeveel geld hy gaan maak uit die nuwe projek.
“Dankie, tog, dat jy ‘n man het wat finansieel vir jou en die kinders kan voorsien.” My Ma vee haar lippe fyntjies af met ‘n servet. “Ons was in die begin so bang die man het nie genoeg ambisie nie” sê sy sonder om te blik of te bloos. Ek voel sommer hoe my nekhare begin rys as sy hierdie onderwerp weer tot vervelens toe aanraak.
In die begin het sy en my Pa vir arme Bennie onder kruisverhoor geneem toe dit duidelik was dat ons trouplanne het. Bennie was net-net uit die universiteit uit en vir alle praktiese redes nog ‘n arm student. Ek kon aan die manier hoe Bennie se ore rooi word, sien hoe hy hom vererg het vir hulle, maar hy het deurgedruk en in duidelike terme sy toekomsplanne aan hulle uitgestippel. Ma was weer bekommerd oor waar ons gaan woon. Sy sou dit nie kon verduur as ons iewers in ‘n eenman woonstelletjie in ‘n snaakse buurt moet gaan bly nie.

Na ons wonderlike, mooi troue verby was en ons oppad na ‘n luukse spa vir ‘n kort vakansietjie (‘n geskenk van Pa natuurlik), het Pa gewigtig ‘n wit koevert aan Bennie oorhandig. Ons was nou die eienaars van ‘n skatlike kothuis wat hulle vir ons gekoop het. “Om mee te begin,” het Pa gesê en Ma was opgewonde oor die kleurskemas wat sy uitgekies het vir die binneshuise versierder.
Later, toe ons by ons bestemming aangekom het, moeg na al die opgewondeheid en spanning van die dag, het Bennie sy misnoë uitspreek oor ons lewens so gereel word deur my ouers. Op daardie oomblik het ek my effens vererg vir hom en gese: “Sies, Bennie, skaam jou! My Pa-hulle probeer net goed doen en wil ons net help.” Bennie het hom nie van stryk af laat bring nie en my styf om my lyf gegryp en piksoene oral op my gesig geplant. “Dan is dit tyd dat ons twee hierdie reuse dubbelbed inwy… “, glimlag hy ondeund en gooi my agteroor op die bed.
Toe ons later in mekaar se arms lê, ons gesigte rooi van passievol liefde maak, kon ons nie anders as om te erken dat die lewe nie beter kan raak nie. Alles is perfek. Ons gaan ‘n perfekte lewe hê.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

perfek
ek wag vir die volgende hoofstuk!
8 jaar 6 maande 2 weke 3 dae 18 ure oud



Agter Geslote Deure

deur Johan Botha

Hoe sê ‘n vyfjarige kind vir iemand groter as hy om hom nie te verkrag nie? Hoe reageer hy as hy sien hoe sy ma mishandel word deur ‘n dominerende vark van ‘n pa wat op drugs is? Wat gebeur met hom wanneer hy ouer word en probeer om by die samelewing in te pas, ‘n samelewing waar hy sukkel om met ouer mans te kommunikeer? Hoe probeer hy om sy eie identiteit te skep en ‘n beter mens van homself te maak? Dan word hy aangesê om sy pa te vergewe? Hoe? Waar sal alles eindig? Hierdie is sy lewensverklaring.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar