Kortverhale

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

My flenterverlanghart was aan flarde, 'n baie besige jaar was so te sê agter die rug en ek was betreklik broos en oop vir oortuiging dié Sondagmiddag waar ons onder die moerbeiboom sit en kuier het: van ons kinders wat in Suid-Afrika bly het by ons kom vleisbraai en gelag en gesels. My jongste meisiekind-kind, haar man en ons twee kleinkinders was nie by ons nie. Die eerste kleinseun was toe al amper vier maande oud en sy Ouma het hom nog net op haar rekenaarskerm gesien……hulle het toe in Taiwan gewoon, gewerk en (ook soms!) geween van verlange, dertienduisend kilometers ver van hier!

Toe ek dus nà 'n glasie wyn ewe dapper aankondig dat ek sommer lus is om op 'n vliegtuig te klim en vir hulle te gaan kuier in die komende Desembervakansie en myself nie regtig glo nie, was my Eersgeborene se aanmoediging al wat ek nodig gehad het: "Ag ja toe, hoekom nie Mamma? Wat is nou makliker as dit? Mens klim op Jan Smuts op en jy klim in Taiwan af!" Het ek maar geweet!

'n Maand of wat later, gepaspoort, gevisum en gepak, staan ek toe in my "nifty" sweetpak en Sketchertekkies op Johannesburg Internasionale Lughawe, styf teen Manlief se sterk skouer. Vir drie weke gaan ons twee van tafel en bed geskei wees (eina, my hart!). 'n Ma en 'n Ouma se hart trek mos ook maar deurentyd toffie na 'n kind of kleinkind tussen êrens en elders!

Onnodig om te sê: my tasse was toe te swaar, want sal 'n Ouma mos nou nie maar alles waarop sy haar hand kan lê wil inpak nie: van Hertzogtertjies tot 'n blou blik met prinsesse buite-op geverf (vir kleinkind se Barbie-popklere) en natuurlik kleertjies en nog kleertjies vir die nuwe seuntjiekind en Ouma-se meisiekind wat al vier is, goeters soos rooibostee en vakuum-verpakte biltong wat mens nooit as te nimmer in Taiwan sal kry nie. My eie goed was maar 'n handjievol! Ek koop toe maar nog 'n ou tassie wat kan deurgaan as handbagasie…ten duurste, sommer net daar op die lughawe. "Mens sit nie sulke goed in 'n tas nie!!" roep my aanlas-seun stomverbaas uit toe hy help om die pakwerk minder te probeer maak. Ek sien die vonkel in sy oog….ek groet my Liefmens en betree die onbekende, nuwe wêreld…met baie meer moed as verstand!

Die vlug van Johannesburg na Hong Kong duur so elf ure: ek sit heelvoor langs die venster, genoeg beenspasie, duisende goete en geite om my…as ek mooi oplet wat die twee Taiwanese langs my doen, sal ek nou-nou weet hoe werk die T.V., die luidsprekers, die gordel, die skinkbord wat kan uitspring…sommer alles. As mens kan lees, kan jy ver kom….net eers my leesbril kry.

Teen half drie die middag (ons tyd) bestel ek middagete van die spyskaart af. Toe die lugwaardin die bord vis en sous en slaai bring, stamp sy per ongeluk teen die T.V.- skerm en daar beland alles op my sweetpak en spat teen my t-hemp en mors op die vloer en op my sexy sokkies! Ek weet op daai oomblik nie of ek moet kwaad word of huil nie! Al wat sy oor en oor sê, is: "I'm so sorry, I'm so sorry!" Dit voel naderhand of ek ook moet jammer wees dat ek op die vliegtuig is…gelukkig word die probleem gou opgelos en kry ek 'n Oosterse sweetpak met fênsie knopies en lussies vir knoopsgate om te gaan aantrek iewers in 'n benoude spasietjie. My eie sou gewas en ge"blowdraai" word en is toe later in 'n plastieksakkie aan my terugbesorg. Ek het haar dadelik haar sondes vergewe toe sy in 'n soet stemmetjie vir my gevra het: "What size do you wear? Medium or small?" Gedagtig aan hoe "medium" en "small" hierdie fyne vroutjies van die Ooste is, was dit sekerlik as troos bedoel en dit het gewerk!! Later het ek ook nog die heerlikste boks tjoklits present gekry as blyk van hul opregte meegevoel en innige simpatie. Ek het daarvan met smaak verorber soos wat die vliegtuig sy weg deur die wolke gebaan het……

Ek kon teen dié tyd nou al mooi volg wat om my aangaan en het die vlug begin geniet. Die Tjonkies langs my was vas aan die slaap. Ek het elke kilometer oor die Indiese Oseaan dopgehou, musiek geluister met die oorfone op my kop en die uitdrukking van 'n gesoute wêreldreisiger op my gesig.

Iewers het my dag ses ure gekrimp en land ons toe veilig op Hong Kong teen twintig voor agt die volgende oggend. Hier moes ek oorklim! Ek het gemaak of ek alles weet, maar ek het nie die vaagste benul gehad waarheen ek moes gaan of wat ek moes doen nie. Ek kon die vreemde aksent-Engels van die aankondigers gladnie verstaan nie en het toe maar besluit om die goue middeweg te volg en in die bondel te bly. En het hierdie bondel beweeg!

Vinnig, vinnig het ek saamgedraf om nie agter te raak nie, die handbagasie-rugsak stewig op my rug, handsak en kamera in die hand…en heelpad weet ek nie waar ek heengaan nie! Ek lees die naamborde, maar niks maak sin nie, ek klim op roltrappe wat hemelhoog is en bly verbete in die bondel! Skielik gewaar ek 'n lang man met vaal hare en gewone oë ( een van my dam se ganse!)…al die ander het swart hare en skrefiesoë gehad…."Weet jy waar hierdie trein heengaan? " (ek dink dit was 'n trein!) Nee, hy weet ook nie! Ek klim in en hou styf vas, bid sommer net daar in suiwer Afrikaans en hoop ek of my kamera val nie iewers langs die pad af nie, want hierdie oop-ding-wat-soos-'n-trein lyk, beweeg vinnig!

Toe amper almal uitklim, klim ekke ook maar uit. Skielik is dit asof net ek oor is….almal het sommer net ewe skielik om my verdwyn. My hart tamboer in my binneste! Die rugsak raak al swaarder…en ek kyk beangs rond. Waar sal my hulp vandaan kom? Die uur in "transit" is baie vinnig besig om uit te loop! Voor my staan 'n groot nommer 36, die nommer op my kaartjie is dof en onduidelik. Ek snel na  die  China-man wat eensaam in sy hulphokkie sit en wys my kaartjie vir hom, my gesig en lyf lyk seker soos 'n vraagteken vanself!  Hy kyk op sy rekenaar. "Number 72!" sê hy ewe kordaat…"Is it far from here?" Sweet slaan oor my Ouma-lyf uit…."Just straight on from here!" kom die geaksentueerde woorde oor sy dun lippies. Hygent hert, sondig siel vol sorgen! Vandag wen ek my eie marathon! Ek gooi die rugsak oor my protesterende rug en begin skarnier so vinnig as ek kan…37,38, 39….genade! 72 is aan die einde van die aarde! 'n Kruier kom verby ( roep mens hulle nog by daai naam?) "Can you please help me? I have to be at 72?" "You should have taken the train!" Ag nee, moenienoumetmyoortreinepraatnie!
Sy "Come with me!" klink soos musiek in my ore. Ek gooi my rugsak sommer so in die uitnodiging op sy karretjie en wikkel my boude om by te hou. Na dese pas 'n "small" dalk rêrig vir my…..ons lugwaardin kan maar weer haar vis en sous op my uitmors!
Ons woerts-warts hier op en daar af, hier links en daar regs en toe ek weer kyk het hy my met sy kortpad reg voor nommer 72 laat beland en dit voel kompleet of ek tuisgekom het!
Ek bedank hom hartlik en hy glimlag van oor tot oor.

Toe ek uiteindelik op die REGTE plek sit en na die yslike horlosie voor my kyk, sien ek daar is nog 'n hele vyftien minute oor voor my vliegtuig na Taipei sou vertrek. 'n Sug van verligting, 'n traan van blydskap en 'n lekker voetewas in 'n kleedkamer daar naby…dit alles het die ou klein , kosbare kwartiertjie in my lewe vinnig volgemaak.

Toe ek later in die vliegtuig na Taipei sit met die salige wete dat ek NIE weer hoef oor te klim nie, het ek besef hoe groot die grootste lughawe ter wêreld is en hoe klein ek presies is! Die weersien van my kinders en kleinmensies was wonderlik. Van die lughawe af het ons met 'n bus en daarna 'n taxi tot in Tai Chung, waar hul huis was, gery. Toe die taxi een plek vinnig om 'n draai in die baie, breë straat vol motors gaan en my kind vir my met haar wysvinger beduie en sê: " Hier is Amy se skool!" ja net toe…….breek my damwal en ruk my skouers en stroom die trane oor my wange. Ek mag mos maar, ek is mos 'n Ouma, 'n ma en iemand se vrou……!






Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

;n Vreende land, 'n vreemde wêreld.
Sussa, ek hierdie stuk werklik geniet. Dit was omtrent 'n ervaring wat nie gou behoort vergeet te word nie. Rika du Plessis.
7 jaar 2 maande 1 week 1 dag 17 ure oud


Heerlik!
Dit was komies en pragtig en vol ritme en presies reg. Dankie vir die deel.
Ek het respek vir elkeen wat die waarheid leer van 'wie lees kan presteer'
7 jaar 7 maande 4 dae 19 ure oud


'n Vreemde land, 'n Vreemde wereld
Sussa,

Ek kan getuig dat hierdie storie van begin tot einde presies is soos wat jy dit beskryf. Dit is asof jy my storie vertel het. Nes jy het ek ook so alleen opgeklim om vir my seun in China te gaan kuier en o wee, HK is 'n verlore nagmerrie. Ek het soos 'n vaskeerde van een kant na die ander gehardloop en nie geweet waarheen nie en niemand verstaan wat jy vir hulle vra nie.
Pragtig geskryf. Hoop jy het net soos ek baie lekker gekuier. Wens ek kon weer gaan maar sal lank moet spaar.
Groete
Franna
7 jaar 10 maande 2 weke 6 dae 11 ure oud


O liewe land, my hande is skoon papnat gesweet. Ek kon ongelooflik met jou identifiseer en ek het maar nog net in Suid-Afrika rondgevlieg. Dit moet voorwaar 'n groot verlange na jou geliefdes wees om jou die moed te kon gee om so 'n reis aan te pak. Was die terugvlug darem minder spanningsvol gewees?


8 jaar 4 maande 1 week 2 dae 20 ure oud


Kom ek probeer weer. Was so uitasem gehardloop saam met jou dat ek eers mooi moes dink voor ek praat en toe stuur ek voor ek dink... Ek is bly jy kon lekker kuier. Het die reis saam met jou geniet. Die bekendheid van gelate aanvaar wanneer mens voel wat ookal gebeur...ons sal dit hanteer en daar deur... het my laat glimlag. Die luukse van 15 minute. Niemand sal weet hoe kosbaar dit is tot daardie uurglasie leeg geloop het nie. Dankie vir die deel met ons.
8 jaar 4 maande 1 week 3 dae 18 ure oud


"Ek mag mos maar, ek is mos 'n Ouma, 'n ma en iemand se vrou……!"
Jy mag mos maar - want jy is jy!
8 jaar 4 maande 1 week 3 dae 22 ure oud


jy mag mos maar, ja, en ek het dit geniet, omtrent saam jou gehardloop om die einde te bereik.
a.
8 jaar 4 maande 1 week 4 dae 1 uur oud


Ek het by Skrywersontwikkeling gaan kyk, kan hierdie as Kortkuns deurgaan? Dis sekerlik te lank vir 'n Happie en ek glo nie dis heeltemal 'n kortverhaal nie. Wie kan help?
8 jaar 4 maande 1 week 4 dae 2 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    ENGELE EN ROWERS

    deur Piet Schoombie

    Vier-en-twintig lekker lees kortverhale, sketse en artikels oor uiteenlopende temas en situasies.



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar