Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ta'hettie was besig om brood te sny toe sy die getimmer en geskree by haar kombuisdeur hoor. Met die lang broodmes swaaiend in haar dik, gepofde handjiemaak sy die sifdeur vir Sarie, haar buurdogter, oop. Die simpele meisiekind gil en skrou toe eers; so erg dat Ta'hettie se broer, oom Sampie, uit die hoenderhok aangehol kom.

"Magtag Hettie, sit weggie mes. G'n wonner die tjind skrou so nie! Julle gaat my henne laat ophou lê!" skree hy op die tante en verbouereerd druk sy die ellelange mes onder haar voorskoot se borsdeel in. Maar die lempunt kruip tot onder haar oksel in; dit steek seer en sy vererg haar liederlik vir al die geraas om haar.

"STIL!" bulder sy, en die oompie sluip mompelend en vingerwysend terug na sy hoendertjies, en sy vrede op aarde, toe. Sarie gaan sit sommer plat op die vloer langs die opwasbak met haar arms oor haar kop. Ta'hettie vee die lem van die mes met 'n punt van haar voorskoot af en sit dit langs die broodplank neer. Sy draai om en kyk fronsend na die meisiekind wat steeds snik asof daar dood in die familie is.

(Nou moet ek, as die hoofverteller, eers intjip. Aangesien dit Ta'hettie se storie is, en vertel móét word volgens haar 'tistamint', soos sy ons weldeeglik laat verstaan én wat oral oppie 'properly' plekkies geteken en getjap was, mag ek nie afwyk van die feite, soos dit deur haar aangeteken is, nie. Natuurlik sal ek, um, as begunstigde, net my uiterste bes probeer doen, maar..., en dis 'n groot maar dié, net ter wille van duidelikheid van bedoeling van die tant se doen en gesegde , sal dit soms nodig wees om so ietsie by te noem wat ons as dorpsmense opgemerk het. Miskien, net almeskie miskien, soms sommer so gedink het ook...)

"Sarie Sousboudjies, wat se getjank en geskrou is dit vanoggend alweer? Het ek nie laas keer gesê 'n meisiemens doen nie sulke goed as 'n mannetjieskind se oë begin skeeftrek nie?" Die tante slaan met die afdrooglap oor die meisiekind se langsitbene; sy trek hulle vinnig op en staan regop. Haar oë is rooigehuil en haar hare deurmekaar.

"Ta'hettie, Ta'hettie...," begin sy, maar die hartseerstorie het haar tong geknoop, en sy begin weer snik. Die tante druk die meisie sonder seremonie rofweg op 'n stoel neer en loop sukkel-sukkel na haar spens toe. Sy praat aanhoudend, saggies en bykans onhoorbaar met haarself. Sarie se snikke raak genadiglik ook sagter en sagter. Sy lê vorentoe met haar kop tussen haar arms op die kombuistafel, gesus deur die tante se bekende veraf-stem.

"Word wakker, meisiekind! Kom, kom; sit regop en drink!" Ta'hettie hou 'n klein flessie uit na Sarie en sy sluk sonder vra, die bitter mengsel en glimlag skamerig vir die tante wat 'n dik sny varsgebakte brood voor haar neersit. "Eet! " sê Ta'Hettie gebiedend, "Jy's te maer; g'n wonner dat Gertjie na ronder meisiekinners beginne loer nie."

(Dít was die 'understatement' vannie jaar: Sarie Sousboudjies té maer? Nooit gesien nie! Sy was, soos al ons ouer oompies, en diégene wat nog oë genoeg gehad het om die vroulike anatomie én kurwes te kan waardeer, heel kweelmondig sou beaam het, 'n ryp vy; uitgeswel rondborstig en reg vir....; ja wel, kom ons sê maar, um, reg vir die regte een. En Gertjie Grobbelaar was 'n robbies. Punt.)

Eers na die derde sny brood kom die storie uit. Sarie lek met 'n welsalige sug die laaste soet stroperigheid van die stukkies appelkooskonfyt van haar vingers af terwyl Ta'hettie stilswyend naby staan en wag. "Dít was hemels!" sug die meisie en staan stadig op met die broodbordjie in haar een hand, maar Ta'hettie se geduld het nou dunner as 'n garingdraadjie geword.

Sy druk Sarie terug in haar stoel en sê: " Praat, laat ek hoor!" En Sarie vertel, eers met rukke en stote totdat die kwaad weer haar oë laat blits, en haar stem hoog en skril word. "Shhhh, dis genoeg," sê Ta'hettie en gaan staan by haar broodplank. Sy vryf ingedagte oor die korsgedeelte van die varsgebakte brood voor haar en tel haar broodmes, die een met die ekstra lang lem, dreigend op.

"Ek sny sy .....," kom dit tussen haar saamgeperste lippe uit, "En daai meisiekinners se...!"

(Ta'hettie sweer sy het die woorde nooit gesê nie; dis nou dié woorde wat na 'sy' en na 'se' kom! Maar toevallig, presies op daardie oomblik het die sentrale-meisietjie en haar bankmaatjie daar in die kombuis se oop agterdeur kom staan. Dit was hulle af-middag en hulle wou eiers by oom Sampie koop. En dis dié woorde wat hulle tweetjies onder eed by gesweer het en Ta'hettie en Sarie net so heftig ontken het. En álmal laat wonner het wie wassit wat meineed gepleeg het! Ja..., ons wonner nog steeds; ma' wag, ek hol nou vorie trein se trap uit! )

Vererge die tante haar toe liederik erg vir die meisiekinners (juis ook dié twee met wie Gertjie Robbies saam innie bed mee gevang was) wat daar so grootoog en oopbek vir haar staan en kyk. Sy loop haastig-haastig met haar hinkepink-lyf agterdeur toe met die lang mes wat so saam-saam in haar hande heen-enne-weer, en vorentoe'n agtertoe wikkel. Die meisiekinners skrou soos maervarke wat geslag gaan word en vat die pad soos properliese 100 meter-atlete. Hulle hol die arme oom Sampie en die mandjie eiers in die paadjie voor hulle onderste bo, kop-oor-gat sodat die eiers die hele wêreld vol spat.

En dít was wat sý kop laat uithaak het. Of dan, verder laat klap het.

(So seg die tante, en dít was haar en Sarie se storie die hele tyd; dwarsdeur die ondersoek, tot en met die vonnisoplegging. Natuurlik hettie dorpsmense kante gekies. Ta'hettie was oujongnooi en het Sarie Sousboudjies as haar eie kind beskou. Mmm, ons het ma' altyd gewonner oor die ding wat toe nie tussen haar en Sarie se pa uitgewerk het nie....; ma' dis sommer praatjies daai ene, al was daar mense wat oppie Bybel daaroor wou....; nee, ons lossit ma' eerder! In elk geval, oom Sampie was, voordat hy hoennertjies geword het, 'n veespekulant. Die mense van die omgewing ennie dorp wat hy nie een of anner tyd bedonner het nie, het hy afgedreig, opgedonner en nog wat: nié 'n gawe Kristinmens gewees nie. Ma' met sy hoennerkopsiekte het die dorpsmense so bolangs vergeef, ma' onnerlangs: nooit! )

Hulle sê, ........ ????? - Word vervolg -



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Dis kosbaar, ek wag vir die res! :-)
9 jaar 7 maande 2 weke 3 dae 8 ure oud


hier kom 'n storie, 'n inleef in die storie van Ta'hettie en kie, en ek sit grootoog, getrou op my kombuisstoel om niks te mis nie
a.
9 jaar 7 maande 3 weke 18 ure oud


Nag van die lang mes1
Gaan beslis jou opvolg lees.
9 jaar 7 maande 3 weke 2 dae 10 ure oud


Nou is ek verskriklik nuuskierig. Uitstekend en baie boeiend geskryf.
9 jaar 7 maande 3 weke 3 dae 13 ure oud



HOOP

deur Ano

HOOP is 'n hulpmiddel vir persone wat sukkel om die dood van 'n geliefde te verwerk. Die hoofstukke is kort en aan die einde van elkeen is 'n paar vrae wat jy aan jouself kan stel. Vrae soos 'Van watter metodes maak jy gebruik om van jou rou af weg te vlug', of 'Hoe hanteer jy verjaarsdae en ander feestelike byeenkomste'? Hierdeur hoop ek die leser sal tyd in introspeksie deurbring en vir homself 'n paar antwoorde vind.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar