Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

"Hulle sê... WAT?" snak Ta'hettie na haar asem. Sy laat sak die gehoorbuis van die telefoon verslae tot teen haar bors, en só sit sy vir 'n oomblik: toe-oog, met haar lyf wat vanself vorentoe en agtertoe wieg. Maar Ta'hettie was nog nooit 'n wiggel-waggel-ag,wat nou toggie?-mens nie en toe haar oë oopgaan, staan sy doelgerig op. Die ou vervloekste heup neuk weer die laaste tyd, dink sy vies aan laasnag se sukkelslaap. Dis altyd so as daar onweer in die lug is, en nou wéét sy immers wat voorlê.

Oom Sampie sit tussen die henne wat meestal klaar hulle eiers vir die oggend gelê het. Hy voer vir hulle geelmielies: pit vir pit, naam na naam. Ta'hettie bekyk die spulletjie skreefoog. Sampie is haar broer, maar ook net dit. Sy't te veel swaargekry met al sy nonsies van sy jongdae, maar bloed is bloed, en toe die malkop hom tref, moes sy hom maar onder haar vlerk laat inkom. Dis nou weer tyd om saam te staan, laer te trek en uit één mond te praat!

"Sampie, die mense praat glo allerhande vreeslike dinge oor hierie wegraak van Gertjie. 'Sant Gawie het nounet gebel; hy kom nou-nou 'n verklaring by my en by jou kry oor eer-gistraand. Oor wa' jý was en wa' ek was; oor wa' jy moontlik kon gedoen het óf dalk ekke. En nóú, Sampie, nou wil ek eerste weet wat jý weet!"

(Ag, ma' nou moet ek eers weer (as Hoofoorverteller; die Oor waarin gebieg was, én gebied was om háár storie suiwer en korrek, so na aan die waarheid as wat bliksem ampers 'n vloekwoord is, oor te vertel om háár kant vannie saak ook te stel) ietsie noem. Dis uiters gekompliseerd – nee, sommer 'n vloek vanne knoop – dié ding van lank, lank terug tussen sersant Gawie Vermeulen en Ta'hettie; ôk sommer die nou-se posmeesteres, die aflos-bankbestuurderes ennie burgermeester se vrou. Húlle was almal hier oppie dorp doerietyd saam: jonk, jollig en jeukerig! En 'Sant Gawie wasse bul gewees, tot mý ma het ôk so gesê! Ma' dis nou eers genoeg gesê! Punt.)

Hy maak eers of hy doof is – disse fout – en sy tel hom aan sy hemp met haar dik handjies vannie grond af op totdat sy oë gelyk met hare is: " Jý beter ma' ore kry, Kleinboet, of ék neuk jou!" sis Ta'hettie dat die spoegies so oor sy verskrikte gesig trek. "Wa' was jy en wat het jy...?"

"My eiertjies! My eiertjies! Hulle het my eiertjies stukkend, stukkend, stukkend gebreek!" Die trane rol oor sy wange en hy hou aan om dié woorde oor en oor te sê. Ta'hettie los hom maar net daar in die vrede van sy hennehok: 'Sant Gawie gaan nie meer as sy uit ou Sampie vandag kry nie!

Die voordeurklokkie lui toe sy amper by die kombuisdeur is. Sy skraap rustig die hoendermis van haar voete af en hoor hoe 'sant Gawie roep-roep aankom kombuis se kant toe. "O, daar's jy, Hettie. Gedog jy's land-uit, he-he," lag hy en plak hom op 'n kombuisstoel neer. Hy snuif in in die lug en sê:" Komaan, jou skoene is skoon genoeg. Waar's my korsie, en ek soek nie..."

"Ja, ja, ek weet; g'n appelkoosjêm vir jóú lekkerbek nie. Wag, ek gaat haal die heel vy'tjies innie spens." Sy sukkel-loop deur na haar spens toe; 'sant Gawie haal twee bekers uit die kombuiskas en maak die ketel vol water. Hy gaan sit by die kombuistafel en maak sy swart tassie oop.
Hy skrik toe Ta'hettie agter hom praat: "Maak oop, Gawie; ek wonner net of jy nog genoeg kragte in jou hanne oor het om mý botteljies oop te maak!"

Met sy korsie en konfyt klaargeëet en die warm koffie haastig afgesluk, begin sy ondervraging van Ta'hettie: "Hettie, lat onsie speletjies speel nie. Gertjie Karelse het spoorloos verdwyn. Daar's bloed oral in sy kamer wat hy by tant Lenie huur en vanoggend; sommer netnou-netnou, het ons dié verskriklike 'ding' daar buite sy kamervenster ontdek."

Hy lê vorentoe, vat haar hand in syne en sê met 'n smeekstem: "Ag, Het; liewe, liewe Het, het jy gedoen wat jy gesê het jy gaat doen?"

Ta'hettie ruk vererg haar hand los en druk haar vinger amper in sy oog: "Glo jy twee bakviskinners se losbekke vóór dié vanne jare, jare oue vriendin? Skaam jou, Gawie Vermeulen; maggie zip van jou broek nooit weer loskom nie!" Sy vlieg op en gaan staan hande op die heupe voor hom: "Oud, ja, Gawie Vermeulen; miskien het jý ook gesôrre vir mý oudword voor my tyd! Ma' ek sê nou jou: daai robbies het gekry waarna hy gesoek het. Te veel jonge meisies het hy teen hulle sin beetgekry. Ek sê weer, hy't gekry wat hy gesoek het. En skrywe my woorde nou op jou blaai'kie daar voor jou: ek, Heiletta Harmse, het nooit iets gesê oor dit wat ek gaat afsny van iemand met 'n NAAM nie. Luister weer, en skrywe woord vi' woord wat ek nou sê!"

Rooigesig skryf 'sant Gawie haar woorde een vir een neer; hy laat haar teken en gaan soek dan na oom Sampie in die hoenderhok. Skaars twee minute later kom hy weer by die kombuisdeur in, vat sy tassie op die kombuistafel en sê kopskuddend: "Maller as 'n haas vandag, dié oompie; hy kekkel dan aanmekaar saam met sy henne!"

Ta'hettie sê niks. Sy hou 'n toegedraaide brood uit na hom én die botteltjie vyekonfyt. Hy vat dit en piksoen haar wang: "Dankie jong!" Met sy wegstap voordeur toe, steek hy vas en sê oor sy skouer na haar kant: "Jy's natuurlik reg, soos gewoonlik: hy ís of was 'n robbies; dis waar. Maar die waarheid sal een of ander tyd móét uitkom, en ek hoop net...," en daarmee loop hy by die voordeur uit.

(Ja, dit was nou omtrent 'n ding gewees op daardie stadium; nogal jammer vir 'sant Gerrie gevoel. Hy was, 'after all', die ophouer van gesag en geregtigheid, maar ook sy gewete, want sien, sý drie dogters was soos groen koring oppie land; ampertjie-ampertjies ryp genoeg om geoes te word. En hy was 'n kwaai pa, ek weet mos; moes self maar koes-koes hol om weg te kom voordat hy...! Ma' dis genoeg; issie mý storie nie; ek's maar net die Verteller van Ta'hettie se kant vannie storie!

Ewenwel, die 'vreeslike' ding waarvan 'sant Gerrie gepraat het, hettie hele dorp aan die gons; dit was omtrent 'n geroer en geraai gewees. Omtrent helfte het geglo dis die ware Jakob se dingetjie daai; dié verrimpelde stukkie vlees?/ vleis? / wat ook al waar dit net buitekant Gertjie Robbies se venster gevind was. Stel jou dit voor: 'n man verdwyn ('n robbies, onthou !); bloed; sweerwoorde/ontkenningswoorde van 'n afsny-dreigement; 'n motief; verdagtes; hoofverdagtes: dit was omtrent asof die 'movies' na onse dorpie toe gekom het!

En Ta'hettie...? Wat sou sy hieroor te sê gehad het?)
- Word vervolg -



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ek gaan nou onmiddellik die volgende ene lees. Puik!
9 jaar 7 maande 1 week 3 dae 6 ure oud



Die Lied van Lorelei

deur Rachelle du Bois

Mikrobioloog Talana de Waal keer na haar familie se sitrusplaas in die Laeveld terug om navorsing te doen. Sy bring haar vriendin en kollega, Dr Lerina Keyser saam. Alles gaan voor die wind tot haar kleinboet en sy vriend besluit hul ouer broers, Marius en Armand se liefdeslewe het 'n hupstoot nodig. Die misverstand wat volg het katastrofiese gevolge. Die vreeslike flater laat die wraak van die meisiekinders vlamvat. Tot die bye swyg en die swartvlieë hou op eiers lê . . .



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar