Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Ta'hettie kyk met sagte oë na Sarie. Vandat Gertjie Robbies nie meer die laaste paar weke oppie dorp is nie, is dit asof sy net mooier word, dink sy. En daar's 'n oulike jongetjie wie se naam Sarie alte dikwels die afgelope paar dae noem, en dan bloos sy ôk nog so skaam-skaam. Mmm, miskien moet sy dalk dié jongeman vir ete oornooi om te sien of hy darem murg in sy pype het. Dis dalk net wat sy selwers nodig het om van hierdie simpele aanklagte teen haar en Sampie deur die twee bakvissie-meisiekinners te vergeet. Verbeel jou, en al wat 'sant Gerrie te sê het, is sy moenie 'worry' nie.

(Want hoekom nie? Die óú 'kliek' het mos weer saamgekoek soos van ouds (so dink ék in elk geval, en vannie anner mense oppie dorp ôk), want toe 'sant Gerrie vir die posmeesteres die 'evidence' oorhandig om te pos na die stad waar die polieste se slim mense moes sê wát die verrimpelde stukkie dingetjie eintlik was, het sy net haar kop geskud. Hulle mag mossie 'rou' vleis mettie pos stuur nie. Toe skryf hy (so sê sommige mense) maar 'biltong' daarop en sy tjap die boksie en sit dit dóér eenkant neer; net vir ingeval daar dalk almeskie 'n bloederigheidtjie kon uitloop en die anner briewe vuil maak. Sy't later getuig dat sy nie met sekerheid kan sê of die briewesorteerder dit wel innie possak gesit het of nie; ook nie of die woordjie 'biltong' moontlik diefstal kon veroorsaak het nie. Die feit van die saak is dat dié veelbesproke pakkie se inhoud nooit uitgekom het dáár waar dit moes uitkom nie.)

Oom Sampie sit en bekyk deur die hele ete die jongman oorkant hom aan tafel. Die oom sê nie boe of ba nie; die lepel in sy hand met kos gaan vanself mond toe; hy kou, sluk en skep weer, sonder om sy oë 'n oomblik van hom weg te neem. Skielik praat hy: "Hou jy van hoennertjies?" Ta'hettie raak stokstyf en Sarie kyk half- verbouereerd af na haar bord.

Maar heel op sy gemak antwoord jongman: "Mal oor hoendertjies, Oom. Ek hoor Oom se henne is die beste lêhenne oppie dorp!" Oom Sampie giggel en draai sy kop skamerig skuins.

"Wil jy kom kyk?" vra hy en begin opstaan uit sy stoel, maar sy suster keer hom met haar hand; sy wys na die bord kos voor hom en skud haar kop. Hy giggel weer en vat 'n happie van die rys. Vir die res van die ete is die oom doodstil; hy kyk nie meer op nie en eet sy bord blinkleeg.

"Jy kan ma' trou," sê oom Sampie skielik na Sarie se kant toe, en stoot sy stoel terug. "Hy's nie 'n skaapslagter nie; jy kan ma' trou!" Stomgeslaan kyk die ander drie hom agterna waar hy fluit-fluit by die eetkamerdeur uitstap.

Ta'hettie draai na die twee jongmense: "Nie 'n woord hieroor aan enige iemand nie, gehoor; veral nie dié van 'n skaapslagter nie!" Haar oë blink en sy vryf haar pof-handjies opgewonde teen mekaar. Die twee kyk vraend, maar sy skud net haar kop: "Annerdag!"

Vroegoggend keer sy oom Sampie in die hoenderhok vas. "Die bloed...," sê Ta'hettie, haar hanne weereens oppie heupe, "Kom, kom, Sampie, ek wil wéét vannie bloed!" Hy lag net, kindsgewys plesierig. "Ek gaan jou henne se stertvere almal uittrek!" dreig sy en maak asof sy 'n hen naby haar voete wil gryp.

"OK, OK, man; tsk Sus, jy's 'n ou goorgat!" skree hy vies op haar.

"En jy's 'n ou hoennerkop!" skree Ta'hettie terug.

"Ék het die robbies weggejaag; wê-wê, jy konnie!" Sy gaan sit plat op haar sitvlak tussen die hoenders, en wys vir hom dat hy ook moet sit. Met 'n vinger op haar lippe wys sy dat hy saggies moet praat en só kom sy storie, stuk-vir-stukkie uit om die hele legkaart te voltooi.

(Ja, en die landdros moes dié saak toe maar kopskuddend uitgegooi: geen lyk, geen verrimpelde stukkie vlees-verslag nie én geen getuienis ook nie, want... die bankdametjie is glo vir diefstal (o, nè!) 'uitgevang' deur die aflos-bankbestuurderes. Sak en pak weg die dag voor die hofsaak teen Ta'hettie en oom Sampie; sonner om eers 'n adres te los waar sy innie hanne gekry kan word. Haar maatjie, dis nou die ene vannie sentrale, se boepie het glo vreeslik skielik beginne wys waar sy was toe sy kamstige siek was (só hettie burgemeester se vrou vir almal oppie plaaslyne te vertelle gehad). Snaaks dat sy sommer ôk die dag voor die hofsaak allie pennetjies van ál die telefoonlyne uitgetrek het, haar goeters by die losieshuis opgepak het en oppie trein geklim het: niemand weet waarheen nie!

'Sant Gerrie glimlag: "Het mos gesê jy moenie 'worry' nie, Hettie!" en vryf oor sy jongste dogter se kop. Hulle sit in die koelte van die groot kareeboom en Ta'hettie skink koeldrank. Hy sê knipogend vir die dogter "Mienkie, gaat haal ysies uit die vrieshokkie; Outante se kop het alweer ve'geet."

Sy hardloop kombuis toe; 'sant Gerrie leun vorentoe en vra saggies: "Hettie, hoe op aarde het Sampie vir Gertjie Robbies so vinnig vannie dorp af gekry? Kom, kom..., jy weet mos jy kannie vir my lieg nie!" Maar sy skud net haar kop: niemand oppie dorp hoef te weet nie; nie van die geslagte skaap, van die vetdermpie óf dat broer Sampie toe nie só hoennerkop is as wat almal, én sy ook, gedink het nie.

Ta'hettie druk sy hand amper moederlik en sê: "Gertman, jy's 'n óú vrind; jare al, maar dié ding sal ma' saam met my graf toe moet gaat. Nou sal ek mos alte mooitjies ka' sien wie my ware vrinne oppie dorp is: dié wat dink ek en ou Sampie is skuldig aan moord en mense-slagting, ennie anner wat wéét wie ek is.

(Mmm, dat 'n mens tot sulke uiterstes moes gaan om te weet wíé en wie nie jou vriende issie! Ewenwel, vir my, as die 'blue-eyed'- voorste innie die ry van allie jongemanne om die hand van Sarie Sousboudjies, het sy 'n sawwe plekkie innie hart gekry. Ôk haar huis en alles ge-erwe na haar en haar broer se dood. Ôk dié opdrag uit die graf om eendag ha' volle storie oor te vertel op pampier! )

Sarie loer na die rekenaarskerm: "Wat tik jy so een-een vinger?" Hy klap die skermpie vinnig toe en lyk baie skuldig.

"Is mos Moedersdag een vannie dae. Is sommer 'n love poem vi' jou, ma' jy maggie kom loer nie! Sy knik instemmend en nooi hom vir koffie saam met haar onder die kareeboom. Met haar wegstap kyk hy haar liefdevol agterna. Sarie Sousboudjies het na hulle ses kinners gewis die verkleining van haar troetelnaampie afgeskud! Die jongetjies oppie dorp ken haar deesdae net as Ta'sous wie die lekkerste kos innie hele kontrei kan maak.

Hy sit nog 'n oomblik stil. Die annerdag het hy 'n groentetuin beginne maak doer innie hoek vannie groot tuin waar ou oompie Sampie se hoennerhok destyds gestaan het. En dáár het hy die gebeendere gekry: eers erg gegril, wetende wat hy wel weet van die destydse hofsaak teen Ta'hettie en haar broer. Maar met mooikyk maak allie beentjies, al wassit geelwit verweer, toe mooitjies 'n skaap se hele lyf, en toe weet hy waarheen mev. Dominies se troetel-ramlam verdwyn het op dié nag wat Gertjie Robbies ook so spoorloos verdwyn het. Én hy wonner ôk toe hoeveel vannie bloed die arme Gertjie in sy keel af gekry het én of daar dalk 'n mes se vlymskerp lem ôk teen sy gorrel gedruk was...: oompie Sampie was 'n groterige ou mens en hoenner-kopsiekte kon dalkies vir hom dinge laat doen wat Gertjie Robbies nie aan sy eige lyf gedoen wou hê nie!

(En so het ou 'sant Gerrie ôk dié ding saamgedink daar wa' hy oppie stoep vannie oumensies se tehuis te lekker innie son gesit het! Laaste onopgeloste saak van sy lange loopbaan as poliesman losgeknoop, maar ôk dan net so gelos, want allie mense wat sou wou weet, was al meestal langboompies toe. Kaalbek lag ou 'sant Gerrie vi' my en vertel van oom Sampie en sy skaapslagtery toe hy nog 'n veespekulant was; kon hom net nooit vasgetrek kry nie. Hy kón slag, en vinnig ôk; Gertjie Robbies moes sweerlikwaar ietsie daarvan geweet het!)

Met die laaste happie van 'n souserige koesister afgewas met sy koffie, vee hy rughand langs oor sy mond en sê: "Sarie, my skatlam, va'middag gaan sit ons 'n slag blomme, nie net oppie graf van Ta'hettie nie, maar ôk op ou oompie Sampie s'n!"

(Enne, toe ve'tel hy (is mos maar nou net ekke) ma' vir haar die hele ou storie, net mettie sousboudjies-stukke uitgelos: 'n slim man wéét mos waar sy brood gebotter én gejêm is!)



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

'n Wye glimlag vir die verteller. Dit was nou baie lekker om die storie te kon lees.
9 jaar 7 maande 2 weke 1 dag 13 ure oud



vir koeitjies en kalfies

deur Doret Johnstone-Robertson

'n Lekkerleesboek met kort stories vol liefde, spesiaal vir vrouens en kinders.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar