Titel: Nag van die rose 6 - Die liefde
Weergawe:
Aantal woorde: 1697
Kere gelees: 1115
Datum gepubliseer: 30 Nov 2007
Dinsdag het Woensdag geword, toe Donderdag, later weer Dinsdag, en toe hulle weer sien was dit Saterdagaand, meer as ’n week na die laaste brief vanaf Die Ridder, en steeds was daar geen nuwe slagoffers nie.
Erika het na die reëndruppels op die dak geluister en haar gedagtes het vir haar ou Laurika Rauch liedjies gesing. Sy was op daardie oomblik gelukkiger as ooit van te vore in haar lewe en sy het die saligheid van die oomblik ingedrink.
’n Lenige manslyf het nader aan haar geskuif en Divan het sy kop op haar skouer gerus: “Wat verwag jy van eendag?”
Erika het haar oë opgemaak: “Eendag wil ek alles hê wat die meeste vrouens begeer, maar wat net sommiges bereid is om te erken.”
Divan het opgekyk na haar: “Ek reken dat ek maar tevrede sal moet wees met ’n kriptiese leidraar, aangesien jy my duidelik laat verstaan het wat presies ons verhouding behels. Ek weet so-by-so nie hoekoem ek enigsins nog erenstige gesprekke met jou probeer voer nie.”
Erika het hom speels op die voorkop gesoen: “Wat is hierdie so-by-so wat jy so ongesiens in jou sinne rondgooi?”
“So-by-so is uniek Namibies en dis moeilik om te verduidelik. In literêre terme beteken dit dieselfde as, onder andere, inelkgeval, maar aan die ander kant is dit ’n simbool van wie ons ou volkie is. Dis so deel van die lug wat jy in Namibië inasem soos Windhoek Lager en warm somers. Dis drie klein woordjies wat wys wie ons was en wie ons nou is,” Divan het ’n tipe heimweë in sy oë gekry, want Erika nog net van gedroom het.
Sy het saggies oor sy wang gestreel: “Jy wil nie dalk jou tesis oor die “betekenis van so-by-so vir Namibië” skryf nie? Klink na opwindende leesstof as jy my vra.”
Divan het voor hom uitgestaar: “Ek is jammer as jy nie verstaan hoe dit voel om regtig lief te wees vir jou land nie. Ek wens net hierdie hele moord storie wil end kry, sodat ek kan teruggaan na die plek waar ek hoort, want my siel hunker na die stilte van die vlaktes en die saligheid wat jy vind in die wete dat jy tuis is. Op aande soos vanaand spook Karen Zoid by my en sing die hele tyd oor en oor die selfde liriek – die stilte wat roep soos die mens se verlange.”
Erika wou self ook heimweë kry, sonder om werklik te weet hoekom: “Klink na ’n lekker plek om huis te noem. Op ’n ander punt – het jy ’n obsessie met Karen Zoid?”
Divan het geglimlag en vinnig ’n piksoentjie gesteel: “Nee, sy is nie heeltemal my tipe ie, maar haar woorde is ’n ander kwessie. Ek moet wel bieg dat my kleinsussie dink dat haar man die beste ding sedert gemarineerde skaaptjops is. Terug by jou, aangesien ek my siel vir jou oopgemaak het, reken ek dit is tyd dat jy ten minste eenkeer my vrae eerlik antwoord.”
Die keer was dit Erika se oë wat ’n trek van heimweë gekry het: “Ek soek daardie gevoel van tuiswees waarvan jy nou gepraat het en hopenlik sluit mt hemel ’n man en ’n paar kiddies in.”
“Dit klink nie na ’n te slegte droom nie, laat weet my maar as jy nie ’n ander ridder kry nie, want op die stadium is ek bereid om dalk die pad saam met jou te stap – al is jy amper oud en oor die muur,” Divan het homself gemaklik gemaak teen die kussing.
“Wat is dit veronderstel om te beteken?” Erika het blindelimgs ’n hou na sy kant toe gegooi, maar hy het haar arm gevang voor sy kon kontak maak.
Hy het speels geglimlag: “Ek bedoel niks daarmee nie. Probeer maar net sê dat jy amper vyf-en-dertig is en ons het nou die dag in die koerant gesien wat gebeur as mense vir die eerstekeer op daardie ouderdom swanger word en ek dink nie jou gestel sal dit kan hanteer nie. Dus wil ek jou maar net aanraai om vroeër aan daardie droom te begin werk, as later.”
Erika het haarself probeer loswriemel, maar Divan het die oorhand gehad: “Jou kamma besorgdheid oor my toekomstige sielkundige welstand is ongevraagd en siende dat ek nog drie jaar van vyf-en-dertig af weg is, hoef jy regtig nie nou al die perde op te saal nie. Maar, wanneer dink jy sal ’n goeie tyd wees om aan daardie droom te begin werk?”
“Nou,” Divan het haar ooglede gesoen en stadig afgeskuif na haar mond. Na ’n diep soen het hy in haar oor gefluister: “Ek hoop nie jy gee om dat ons die maansverduistering mis nie?”
Erika het haar oë stadig oopgemaak: “Dit reën inelkgeval, so – bly stil en soen my.”
Die nat koelte wat buite die huis gelê het, het gemaak dat Erika diep onder Divan se blad wou inkruip, maar sy kant van die bed was alreeds leeg en koud. Erika wou nog verward wees, toe haar foon skielik op die bedkassie begin rondspring.
Nick het nie vir Erika kans gegee om behoorlik te antwoord nie: “Maak dat jy op Navil Hill kom. Hulle het ’n vierde slagoffer gekry.”
Erika het haar moë, maar gelukkig liggaam uit die bed gesleep en vyftien minute later het haar kar langs die ander polisiemanne se karre gestop. Nick het haar tegemoed geloop: “Bery jouself solank voor, ons vriend het baie meer aggresie teenoor die meisie gehadl as enige van sy vorige slagoffers.”
Aanvanklik het Erika gedink dat Nick homself probeer snaaks hou, op ’n vreemde manier, maar die die geskende liggaam van die jong meisie het gemaak dat sy vinnig moes omdraai en wegloop. Haar maag het wilde, Kaapse draaie gemaak en dit was beslis nie die goeie tipe draaie nie.
Na vier ure, blootgestel aan die elemente, het Erika begin voel dat die vorige aand se mannewales besig was om haar in te haal. Sy het vol vertroue na Nick gestap: “Kan ek maar huis toe gaan? Ek het alles gesien wat ek moontlik kon sien en sal van meer waarde by die huis wees as hier.”
Nick het op sy hurke gesit en met opset na ’n voetspoor gestaar: “Jy kan gaan, maar al waarheen jy gaan is kantoor toe. Gaan hersien jou profiel en kyk of jy nie dalk ’n fout gemaak het met onder andere die ouderdom van die verdagte nie.”
“Ek het eintlik nie bedoel om jou toestemming te vra nie, eerder om vir jou te sê dat ek wel nou gaan. Ek kan net so goed op my rusbank na die profiel kyk as in die kantoor. Inelkgeval – wat is dit met jou en die ouderdom van die profiel? As jy so seker is dat ek verkeerd is, hoekom het julle nie lankal met jul eie idees vorendag gekom nie?” Erika het met haar hande in haar sye gestaan en afgekyk na Nick.
Nick het na Erika opgekyk en die son met sy hand uit sy oë gekeer: “Maak soos wat jy goeddink, ek is mos nie meer jou baas nie, maar as Divan Gertner nog ’n meisie verloor gaan ek al die blaam voor jou deur kom pak.’
Die kleur het Erika se gesig verlaat: “Van wanneer af ... dis onmoontlik – sy suster ...”
Nick het stadig opgestaan, sy ledemate het gekraak: “Duidelik het daar nou ’n seepbel gebars. Op die stadium kan ek jou ongelukkig nie meer vertel nie, maar ek kan jou wel sê dat daar nuwe inligting ugevind is en jou Meneer Moller is nie so heilig as wat ons aangeneem het nie.”
Erika het in ongeloof haar kop geskud: “Dis onmoontlik, hy kon nie hierdie moord gepleeg het nie – hy was die hele aand by my.”
Hierdie keer was dit Nick se gesig wat wit geword het: “Wat bedoel jy dat hy die hele aand by jou was? Hoe seker is jy van jou feite?”
Sy het vir Nick on ongeloof aangegluur: “Ek reken ek behoort te weet waarmee ek gisteraand doenig was. Divan het die middag vieruur by my opgedaag, hy is so nege-uur daar weg om sy woonstelmaat by die bus te gaan optel, ’n uur en ’n half later was hy terug en ek weet vir ’n feit dat hy vanoggend sewe-uur nog in die woonstel was.”
Nick was ’n man op ’n missie terwyl hy na sy kar geloop het en Erika moes plek-plek draf om by te bly: “Ons gaan almal nou polisiestasie toe en die oomblik wat jy by die kantoor in stap, bel jy vir Divan Gertner.”
Erika was nou meer deurmekaar as ooit van te vore in haar lewe: “Ek verstaan nie, wat’s fout?”
“Doen net wat ek sê,” Nick het sy kar se deur hard toegetrek en het weggetrek dat die klippe spat.
Alhoewel sy glad nie geweet het was aan die gang was, het sy in haar kar geklim en bekommerd polisiestasie toe gery. Haar senuwees was heel op hol toe sy by die kantoor instap en haar hard het êrens agter haar linkeroog geklop, maar sy het dadelik kalmeer toe sy die groot bos geel rose op haar tafel sien lê. Alles het goed gegaan totdat sy die nota gelees het en voordat sy werklik besef het wat aangaan, het die blomme uit haar hande gegly en op die vloer te lande gekom.
“Wat het gebeur?” Nick het haar vanaf die deur dopgehou.
Erika het woordeloos die gedikde brief na Nick uitgehou en hy het dit vir beide van hulle gelees: “They call me the wild rose, but my name was Elisa Dey, why they call me this i do not know, for my name was Elisa Dey. From the first day I saw her, I knew she was the one, on the second day, I brought her a flower, I kissed her goodbye – all beauty must die.”
Nick se hand het effens gebewe: “Bel vir Divan – nou!”
“Hoekom! Hoekom is jy so eng in jou beskuldigings. Dit is nie hy nie!” Erika wou op haar knieë neerval en pleit.
“Nick het uit frustrasie die tafel met sy vuis bygedam: “Erika – Divan het nie ’n woonstelmaat nie!”
Word vervolg - 14 November
Lees ander kortverhale deur GJ Visser
E-pos my as kommentaar gelewer word
Raporteer foute/ongewenste inligting rondom die kortverhaal
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie kortverhaal

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae
Meeste gelees in die laaste 24uur
Meeste kommentaar ontvang in die laaste 24uur

Woes-Nuus
Kortverhale
Artikels
Gedigte
Rubrieke

deur Bart
Bart is 'n geliefde karakter met 'n groot aanhang, en publikasie van die briewe was 'n noodwendige reaksieop die aandrang van die lesers.