Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Na daardie nag, sou niks weer vir enigeen van hulle vier dieselfde wees nie. Ook nie vir hul drie seuns nie. Ten goede of ten kwade. Vir Riana was dit egter die dageraad van volkome vrede. Sy kon die boek oor haar verlede finaal toeklap.


PETER McKILLIGAN staan in die betaaltou van die supermarkie van sy village in die Skotse Hooglande. Dis veronderstel om lente te wees, maar die ontydige sneeuval het hom onkant gevang. Sy ooie moet binne die volgende week begin lam. Hy en Riana en John, sy voorman, het gister inderhaas met kafbale klein kraaltjies vir die lammerooie in die groot skuur ingerig nadat nog meer sneeu voorspel is. Ook die koue sementvloer met skoon strooi bedek. Hy moes vanoggend gou inry dorp toe vir ‘n voorraad skaapmedisyne. Riana het sommer haar winkellysie saamgegee. Dis toe dat hy vir Andries voor in die tou by die kasregister raaksien. Eintlik het hy sy stem en sy onmiskenbare Afrikaanse aksent herken voor hy sy gesig herken het. Twintig jaar is ‘n lang tyd. Hulle het saam op Oxford in ginekologie studeer en het boesemvriende geword gedurende die paar jaar daar. Hy was was toe dertig en Andries was al veertig. Peter se vrou wou met hul twee jong seuntjies in Skotland by haar ouers agterbly. Later het hy uitgevind dat sy ‘n verhouding met sy vorige vennoot gehad het en hulle is geskei. Annemarie, Andries se kinderlose vrou, het Engeland se reënweer gehaat en is na ‘n jaar terug Suid-Afrika toe. Peter en Andries het vir hul laaste studiejaar ‘n studentewoonstel gedeel. Andries het sy vrou kwalik geneem omdat hy skielik self vir sy kos en klere verantwoordelikheid moes aanvaar, terwyl hy sonder sorge wou studeer. Peter weet Andries het gedurende daardie alleentyd gereeld by ‘n ander vrou gekuier, maar het nooit uitgevra nie. Annemarie het wel vir so ‘n maand voor gradedag weer haar opwagting in Engeland gemaak, maar Andries het haar grootliks geïgnoreer. Peter het jammer vir haar gevoel en meer tyd as wat hy moes aan haar spandeer. Na gradedag het hy en Andries nog so een of twee keer briewe gewissel, maar toe kontak verloor. Dit was in die dae voor e-pos.

Hulle is opreg bly om mekaar weer te sien. Andries wys na Peter se waterstewels en waterdigte oilskin-baadjie. “Is jy op ‘n staptog of iets?”
“Nee. Ek boer al vir die afgelope tien jaar voltyds op die familieplaas. Het my praktyk in Inverness na elf jaar verkoop. En wat bring jou hier op die afgeleë plekkie?”
“Ek was veronderstel om Alwyn, my seun, vandag hier te ontmoet. Hy en ‘n groep maats het in die berge gaan stap, maar sit vasgekeer in ‘n berghut na die onverwagse sneeu. Hulle het darem genoeg kos en vuurmaakhout vir ‘n week.” Peter kyk hom fronsend aan. Andries lag: “Ja, ek en Annemarie het toe sowaar die jaar na ek terug is Suid-Afrika toe ‘n seuntjie gehad! Hy studeer deesdae in Edinburgh. Ons het bietjie vir hom kom kuier. Weet jy van ‘n goeie gastehuis waar ons intussen kan tuisgaan?”

So gebeur dit toe dat Andries en Annemarie instem om ‘n week by hom en Riana op die plaas deur te bring. Peter het nie juis ‘n keuse gehad as om hulle te vra nie nie. Hy het vir Riana gebel om te hoor of dit in orde is. Hy het nie genoem dat hulle Afrikaners was nie; wou dit vir haar as verrassing hou. Eintlik wou hy nie weer vir Annemarie raakgeloop het nie. Sy het hom herinner aan sy onbesonne jeug. Maar sy het niks laat blyk nie en hy was dankbaar. Sy het aan Alwyn in die berghut ge-sms en hom ingelig oor hul planne. Hy moes haar bel sodra hulle weer terug in die beskawing is.

Dis ‘n goeie driekwartier se ry in die Landrover op die nou kronkelpaadjie oor die berg na die plaas wat diep in ‘n vallei geleë is. Andries het voor langs Peter gesit en Annemarie het haar op die agtersitplek onder Riana se kniekombers, wat permanent in die voertuig is, platgetrek en ingesluimer. Hy en Andries kon lekker sit en gesels. Andries het vraend opgemerk: “Riana is ‘n Afrikaanse naam?”
“ Ja. Weet nie hoekom ek alewig met julle deurmekaar raak nie!”
“Hoe het dit gekom?”
“Ter wille van haar, praat ek nie daaroor met ander mense nie – maar ek skat jy is ‘n uitsondering. Omtrent vyf maande nadat ek my praktyk destyds in Inverness geopen het, het sy by my spreekkamer ingestap. Hoogswanger. Meer as sewe maande ver. Absurd soos dit mag klink, het sy my voete onder my uitgeslaan. Haar statige houding. Haar integriteit. Haar opgevoedheid. Ag sommer alles. En veral miskien haar verskriklike weemoedigheid. Maar sy was tien jaar ouer as ekself. Sy was al een-en-veertig.”
Peter bly ‘n wyle stil. Hy oorweeg sy woorde. Gaan toe voort: “Sy was ongetroud. Het gevra of ek weet van ‘n mooi plekkie wat sy voorlopig kon huur. Sy was ‘n skryfster. Ek het haar die kothuis op die plaas aangebied – gratis. Sy was eers huiwerig, maar het dit op die ou end aanvaar.”
Andries vra: “Die pa van die kind?”
“Dit weet ek tot vandag toe nie. Ek het die idee gekry dat sy hom nooit ingelig het nie. Dit hinder my ook nie meer nie.”
“Wanneer is julle toe getroud?”
“Eers tien jaar later. Liefde is mos geduldig. Haar dogtertjie is een naweek onverwags daar op die plaas gebore. Dank die Here ek was toevallig daar. Soos jy self weet, is ‘n eerste geboorte vir ‘n vrou bo veertig nie altyd sonder komplikasies nie. Na my pa se dood, het ek vir John van die naburige plaas as voorman aangestel en werklik selde plaas toe gegaan. Maar na Riana in die kothuis ingetrek het, was ek ten minste elke tweede naweek daar! Ek in die reuse ou koue opstal en sy in die knus kothuisie. Die dogtertjie is na 2 weke aan ‘n aangebore hartdefek oorlede. Riana het gevra of sy haar maar op die plaas kon begrawe. Wit marmerbladjie opgerig. Ek het nog nooit iemand so sien treur oor ‘n baba nie. Sy het gevra of sy kon aanbly. Nege jaar later het ek my praktyk verkoop, plaas toe getrek en die res is geskiedenis. My twee seuns het begin om vakansies by my op die plaas te kom deurbring en Riana het vir hulle ‘n ouerhuis-weg-van-die-huis geskep. Nou ja, daar het jy dit in ‘n neutedop. Riana hoef nie te weet jy weet nie. Annemarie ook nie.”

Tot Peter se verbasing, was Riana nie so oorstelp van vreugde oor hul Afrikaanse besoekers soos hy verwag het sy sou wees nie. Om die waarheid te sê het sy aanvanklik half ontredderd voorgekom. Hy het haar gehelp om al die inkopies weg te pak. Gelukkig was almal gou tuis in die gesellige huis met die gloeiende koolstofies in feitlik elke vertrek. Buite het dit weer saggies begin sneeu.

Die aand in die kamer maak Peter twee inkopiesakke wat hy eenkant gehou het, oop. In een is die gebruiklike pakkie dadels en die blok donker sjokolade vir sy vrou. In die ander een is die foto van sy twee seuns wat sy vir hom laat raam het en wat hy moes gaan oplaai het. Dis eintlik vir sy verjaarsdag volgende week, maar hy skeur dit oop. Hy trek haar nader en gee vir haar ‘n drukkie en ‘n soentjie. Sy gee haar sonder veel teenstribbeling oor aan sy sterk arms en die sagte aanraking van sy eelthande. Later sit hy in die bed en bekyk die foto van sy twee mooi seuns in hul middel twintigs aandagtig; beide het rooikoppe en ‘n prominente gleufie in die ken. Hy sê vir Riana: “Ek het onlangs in die Mediese Joernaal ‘n interessante artikel oor gleufkennetjies gelees. Dis nogal ‘n baie dominante oorerflike geen. Maar soms is mens net die draer daarvan en kan dit weer ‘n geslag later te voorskyn kom. My oorlede vader het dit gehad. Die rooi hare ook.”

Die week gaan verbasend vinnig verby. Peter is meeste van die tyd in die skuur besig. Dit voel of al die ooie gelyktydig lam en daar is dosyne tweelinge. Sy voorman sit vasgesneeu op die naburige plaas. Andries, wat self op ‘n Karooplaas grootgeword het, is vir hom goud werd. Hulle los mekaar selfs soms deur die nag af. Riana werskaf heeldag voor die stoof. Sy sit lekker etes en koek en selfs beskuit voor. Annemarie het haarself voor die koolstofie in die sitkamer verloor in haar gashere se tuisbibliotekie. Daar is klassieke Engelse boeke en moderne Afrikaanse boeke te kus en te keur..

Maar snags lê elkeen met sy eie gedagtes.
Riana dink: “Hy herken my genadiglik nie. Twintig jaar gelede was ek veel jonger en nie so verskriklik maer nie en het kort, blinkbruin krulhare gehad. Deesdae is my hare grys en lank en in ‘n Franse vlegsel agter my kop vasgevat. En my naam klink nou anders.” Hy het haar nie destyds van sy vrou vertel nie. Die aand toe sy hom oor haar swangerskap wou inlig, het hy haar van Annemarie vertel en dat sy vrou hom gesmeek het om terug te kom Suid-Afrika toe. “Ek is so jammer, Klaradyn, maar dis soos dit is.” Dit was sy troetelnaam vir haar. Hy het graag walsmusiek op die draaitafel gesit en dan met haar al om die kombuistafel gedans. En soms uit pure verspotheid ‘Kom dans Klaradyn’ gesing. Riana het lê en wonder of mens werklik twee mans gelyk kan liefhê. Sy het Peter innig lief. Maar sy sal Andries nooit kan vergeet nie.

Snags droom Andries vreemde drome. Hy droom sy Adriana lê in Peter se arms. Hy droom hy verwurg vir Peter daar in die skuur uit pure jaloesie. Hy skrik ontstig wakker. Hoekom droom hy van Adriana? Hy dink al vir meer as vyftien jaar nie meer aan haar nie. Hy sluimer weer in en droom Adriana gee vir hom van haar tuisgebakte boerbeskuit met anys. Toe hy weer wakkerskrik, weet hy dis Riana se anysbeskuit wat hom weer in sy onderbewussyn aan Adriana herinner het. Hy wonder wat van sy Klaradyn geword het.

Dit was die laaste aand voor Peter vir Andries-hulle in die Landrover sou terugneem dorp toe dat alles op die lappe gekom het. Die lewe het nou maar een maal die manier om geheime op onvoorsiene maniere en ontydige tye openbaar te maak. Die sneeu het begin afsmelt en die pad was weer op ‘n manier begaanbaar. James, Peter se oudste seun, het geskakel om te sê dat hy en Edwin, sy jonger broer, op pad was vir ‘n vinnige kuier. Hulle hou daarvan as dit wit gesneeu is op die plaas en hulle verlang na Riana se pannekoek. Later het James weer gebel om te sê hy het toevallig toe hy petrol op die dorp ingegooi het, gehoor hoe iemand aan die eienaar van die petrolstasie vra of hy sy selfoon agter die toonbank kon inprop om gou sy ouers te laat weet dat hy gearriveer het. Hy het twee en twee bymekaar gesit en vir Alwyn opgelaai. Ja, hy sal versigtig ry. Nee hy sal nie vinnig ry nie. Ja hy weet die paaie is nog seepglad op plekke en ‘n modderige pappery op ander plekke. Hulle sal op die vroegste oor ‘n uur arriveer.

Peter, Riana, Andries en Annemarie het by die kombuistafel sit en Monopoly speel. Daar het ‘n opgewonde atmosfeer geheers omdat die kinders op pad was. Riana het Andries se blik op haar gevoel. Vir meer as twee dae al kom sy agter dat hy in onbewaakte oomblikke na haar staar. Sy is bly hulle vertrek die volgende dag. Sy het opgestaan om die pot sop wat op die stoof staan en prut het, te gaan omroer. Andries het ook opgestaan om bene te rek. Haar rekenaar het op die muurkas langs die tafel gestaan. Sy het kort vantevore gou na die weervoorspelling se webblad gekyk. Sy het uitgeteken, maar nie afgeskakel nie. Die skerm was donker. Maar toe roer Andries ingedagte aan die muis. Haar screensaver het skielik verskyn. Dit is ‘n foto van haar dogtertjie se wit graffie langs die rivierstroom onder die eikebome. Op die marmerbladjie staan geskryf: “Klein Klaradyn, nege maande lank het jy my gehelp om my stukkende hart heel te maak. Ek sou so graag jou stukkende hartjie ook wou kon heelmaak.”

Andries het aan die muurkas se rand vasgehou. “Here, Adriana!” het hy gedemp uitgeroep en sonder om na iemand te kyk die voordeur agter hom toegeklap toe hy die nag invlug. Riana het op haar stoel neergesak. Annemarie het histeries begin snik. Nie omdat sy gesnap het wat aangaan nie, maar uit vrees en skaamte vir een van Andries se buie. Peter wou verskrik weet wat aangaan. Hy het bewegingsloos gestaan en luister toe Riana hom die volle waarheid in Engels vertel. Riana was verbaas oor sy reaksie. Hy het baie saggies en met nadruk vir Annemarie gesê: “Bly stil, Annemarie! Jy ontstel my vrou. En jy is die laaste een wat kan sit en huil!”

Andries het na ‘n ruk teruggekom en langs die tafel gaan staan en driftig gesê: “Ek weet ek lyk nou na die vark in die verhaal, maar ek kan verduidelik.” Net toe het die agterdeur oopgevlieg en die drie opgewonde jong mans het bibberend tegelyk deur die opening ingebondel. En skielik in hul spore gestuit toe hulle hul ouers se gesigte sien. Dit was die eerste keer dat Andries en Annemarie vir James en Edwin sien. En dit was die eerste keer dat Riana en Peter vir Alwyn sien. Al drie het rooi hare en ‘n gleufie in die ken gehad. Andries se gesig het eers wit geword en toe grys. Annemarie het met oopgesperde oë vol vrees gesit. Andries het sy stem teruggekry en sarkasties vir Peter gesê: “Jy het dus toe al ‘n voorliefde vir ouer vroue gehad.”

Riana se blik was op Peter oorkant die tafel gerig. Sy het gewens sy kon hom hom hierdie oomblik spaar. Hy het haar vol in die oë gekyk en kalm gesê: “Moenie laat ons vingers na mekaar begin wys nie. Ons al vier is skuldig aan presies dieselfde daad. Laat ons dit nie vir ons onskuldige kinders moeilik maak nie.” Toe het hy om die tafel tot agter haar stoel gestap. Hy het sy arms van agter af ferm om haar geslaan en sy hande oor haar borste gekruis. En sy het hom liewer as ooit gekry. Liewer as wat sy ooit selfs in haar gedagtes vir Andries gehad het. Want haar groot, sterk Skotsman, het nie geswets en by die voordeur uitgehol omdat hy te ‘n lafaard was om sy vrou of die ma van sy kind in die oë te kyk nie. Hy het vir haar, Riana, met sy arms kom beskerm en met sy hande kom troos en woordeloos gesê: Jy behoort aan my en ek aan jou. Ongeag alles. En sy het geweet dat sy haar hande vir hom sou deurwerk en haar knieë vir hom sou deurkruip as dit ooit sou nodig wees. Sy sou hom liefhê en wou hom plesier tot in ewigheid.

Sy het uit die hoek van haar oog gesien hoe Edwin, wat sy pa se fyn aanvoeling vir ander se gemoedstemmings geërf het, sy arm beskermend om Alwyn slaan.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Nag...
Weereens 'n baie interessante meelewende verhaal uit jou pen...baie geniet, dankie, Elise.
7 jaar 8 maande 2 weke 3 dae 20 ure oud


Nag van openbaring
Dankie vir nog 'n heerlike, interessante verhaal! Soos gewoonlik het jy my geboei van begin tot einde.
7 jaar 8 maande 2 weke 4 dae 1 uur oud


Nee man, Raqia
Gaan lees weer mooi stadig en met aandag . Jy sit die pot half raak en half mis! Daar is so baie inligting in elke paragraaf, dat mens nie sommer net vinnig kan 'scan' nie. Jy moet 'skerp' lees! (Miskien sal 'n potloodjie en 'n stukkie papier in die hand help).

Terloops, ek hou baie van die twee Skotse idiome!

Ek probeer jou gou uit jou penarie help:
1. Peter en sy eerste vrou het die 2 seuntjies gehad, maar is geskei terwyl hy in Oxford studeer het (Paragraaf 2, reëls 10, 11 en 12.)Peter was toe dertig en Andries veertig.

Dis waar jou verwarring begin het. Ek dink jy sal nou die res beter verstaan.

Riana is 41 toe die dogtertjie met die defekte hartjie gebore is. Peter is toe ongeveer 32.

Peter en Riana trou toe Peter al 42 en Riana in haar vyftigs is. Hoe de duiwel kon Riana op daardie ouderdom nog 2 kinders gehad het? (paragraaf 5, reëls 19 en 20)

Hierdie gebeurtenis speel af toe Riana en Andries en Annemarie al so ongeveer 61 en Peter 51 was.

Verstaan?

Alwyn het geweet sy ouers is op die plaas (paragraaf 4,reëls 5 en 6). En sekerlik sou Peter vir sy twee seuns van hul kuiergaste en die rede vir hul besoek vertel het, toe hulle geskakel het om te sê hulle kom uit plaas toe. En die inklim is ook nie juis so waaghalsig nie - dis die Skotse Hooglande en nie SA nie.

Dankie dat jy altyd al my skryfsels so getrou lees en kommentaar lewer - ek waardeer dit!





7 jaar 8 maande 2 weke 5 dae 19 ure oud


vra maar net


Dis ‘n moerse ‘complicated setup’ hierdie. In Skotland sou hulle tereg sê: “a green Yule maks a fat kirkyard” (koue winter veroorsaak baie dood) of alternatief: “a scabbit sheep will smit a hail hirsel” (een ‘bad’ ou kan baie ander beïnvloed)

Verstaan ek die ‘who’s who?’ reg?

Andries (40) se vrou is Annemarie, maar Andries het ‘gefling’ met Riana (Adriana)(Klaradyn) en was die pa van ‘n dogtertjie (oorlede); (terwyl sy vrou afwesig was)

Peter (30) se vrou Riana se dogtertjie was Andries se kind, toe hy en Annemarie, tydlik, winterweer ondervind het, en tydens die gradeplegtigheid was sy onder Peter se sorg en toe word Alwyn as MA-graad vir ‘onversorgde Annemarie gegee, maar Andries dog dis sy seun.

Later is James en Edwin gebore, vir Peter en Riana, en al drie is dus Peter se kinders by twee verskillende vroue, maar al drie lyk soos Peter se Pa rooikop met dimpel?

So Annemarie se seun is Riana se seuns se broer;
So Riana se dogter het Annemarie se man as Pa;
So Peter het drie seuns by twee mammas;
Dus het Andries nou geen kinders maar het twee vrouens gehad, met Peter se kinders.

Dis wat jy kruisbestuiwing noem.

Wat my flous is: “ Hy het twee en twee bymekaar gesit en vir Alwyn opgelaai.”

Hoe sou hy ‘n vreemdeling oplaai plaas toe? Miskein het jy een sin uitgelaat hoekom die vreemdeling in ‘n voertuig sou inklim en na vreemde mense seplaas ry as hy weet sy ouers is hier om hom te ontmoet?
7 jaar 8 maande 2 weke 6 dae 2 ure oud


Nag
En so kom die waarheid altyd uit en dan is die ware karakters van mense, onverbloembaar pertinent. 'n Pragtige lekker-lees verhaal in gemaklike styl en mooi Afrikaans geskryf. Wel gedaan, Elise!!
7 jaar 8 maande 2 weke 6 dae 2 ure oud



RANGEERWERF

deur Johann P. Boshoff

Hierdie selfpublikasie, met die volledige titel RANGEERWERF: DIE WAARHEID GELIEG, bestaan uit nege (9) homofiliese kortverhale met sterk biografiese inslag opgeneem. Dit is 'n rangering deur die lewe.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar