Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Hier kom die ou toe aan. Sy motorfiets, wat soos ‘n Jeep lyk, beur Klein Dorpie se styl steeg op. ‘n Groot man sit op die fiets en hy haal stadig sy kop uit die helm uit.

Hy lig een groot been oor die motorfiets en hou ‘n lang arm na my toe uit en ons groet. Ek som die man op … ‘n pyn in die …

Dadelik wil hy sy blyplek sien en ek gaan wys hom. Dadelik is daar ‘n lang lys goete wat hy wil hê – hy kook sy eie kos en hy hou van kook, ‘n konneseur!

Binne ‘n uur het ek sy kombuis toegerus met, van ‘n kapokaartappelstamper tot ‘n rooiwynoopmaker. Intussen het hy sy bagasie afgelaai! Die ou Suzuki het aan die kante twee stukke lang hoekysters (dié wat boere op hul plase gebruik) wat ‘n tamaai glasveselkas in posisie hou. Hy maak die deksel oop en haal allerhande goed uit wat wissel van klere, smousgoed tot vleis en ys … en die daarmeegepaardgaande. Ons groet vir die aand … later ruik ek sy aandete op ‘n afstand! Dié man hou van eet.

Die volgende dag het hy sy smousgoed in daardie kas gelaai en verkas. Daardie aand pur sy toet-toet die styl steeg op en hy haal heelwat minder smousgoed uit. ”Had a nice day?” Sy bombasstem het darem so ‘n gemoedelikheidjie ingebou gehad. Besigheid was goed. Maar hy het nog goed nodig vir sy blyplek!

Na ‘n uur kon ek darem ook eenkant op my eie 'n ou biertjie gaan drink om mỳ dag se swaarkry en suksesse te vier. Die ou is nogal baie lastig! Maar daar is niks met sy tarief en wyse van betaal verkeerd nie – dit maak mens nogal verdraagsaam!

Soos die dae volg, raak ek en hy in ‘n gemoedelike roetine. Hy sal van sy stinkesel afklim en reguit na my toe kom met twee biere in die hand. So opdringerig wat hy was, so gemoedelik kan hy ook raak. Eintlik het ons al so soort van tjomme geraak. Dan sit ons en ons drink die bier saam en hy vertel my van sy ervaringe. Kom nounet van Namibië af! Besigheid was baie goed daar. Hy wys my die sekuriteitsartikels wat hy verkoop. Sulke peperspuite en alarmpies om boewe te fnuik. Ek sê hom nogal van my vriend Fanie wat sy winkel het in die onderdorp. Hy moet ‘n draai daar maak, glo Fanie sal baie belangstel.

Die volgende dag was hy daar en Fanie koop ‘n goeie lotjie! Die ou was skaars weg by Fanie, toe is daar ‘n tsotsi wat iets steel. Fanie besluit toe om dié peperaerosol te toets en gryp die klong, boender hom agter in sy bakkie se ‘canopy’ in en sluit die klap. Hy gee so ‘n paar lang spuite hier deur ‘n gat van die kant af en toe spartel en beur en grou en snak die outjie daar binne vir ‘n vale – klink omtrent soos ‘n politieke vergadering! Die Engelsman het nogal gesê jy gee net so een kort spuitjie, dan is die kalprit tydelik uit- en omgeskakel!

Dis weer tyd vir ons gesamentlike kasteel. Ek vertel hom van Fanie. Die ou lag breedbors en ek lag saam … die ou het nogal ‘n interessante laggie aan hom! Veral na die tweede bier. Hy vertel my ‘n ander storie. Na my Fanie-storie was dit mos nou sy beurt om te storie. Hy vertel my hoe hy en ‘n vriend ‘n bietjie wou gaan kamp. Saterdag net voor toemaaktyd koop hulle ‘n tent by ‘n kampeerwinkel en hulle sit af êrens heen wat ek nie kan onthou waar nie. Daar aangekom, sit hy en sy maatjie eers op ‘n klip en skep moed. Hulle drink ‘n paar biere en die bure koekeloer van nuuskierigheid. Die tyd toe hulle besluit dit word darem nou al te donker, haal hulle die tent uit om op te slaan.

Man! Jy weet mos hoe gaan dit as ‘n man vir die eerste keer ‘n nuwe tent opslaan! Die bure se nekke kry eintlik rekmerke!

Hulle sit die tent in sy lengte neer en probeer die pale uitsorteer. Die toue se lengtes wou ook nie uitwerk nie. Dis ‘n gekappery met die penne en ‘n getrekkery aan die toue en ‘n ge-uittrekkery van die toue en ‘n geskuifery van die penne, maar niks wil uitwerk nie. Kort-kort sit hulle maar weer op die klippe en praat dié ding … en raak geleidelik vieser vir die afgebakende laggies uit verskillende rigtings. Ek kon my net indink hoe die bure dié petalje kon geniet! Was dit ek, sou ek hulle ook nie gaan help het nie – net om by die fliek se klimaks uit te kom!!

So kom hy weer ‘n volgende dag van ‘n smoussessie af … en ons drink ‘n biertjie saam. Dit was nou al ‘n vaste roetine die elke dag se halfuurtjie na werk se samesyn. Dan luister ek na sy eskapades en interessante Lister-enjin laggies. Hy stap na sy monsterbaaik toe, maak die klap oop en haal drie sakke hout uit! Vanaand gaan daar weer groot kosse gemaak word! Hy nooi my vir ete, want môre moet hy weer padvat … vra hom nogal waarheen en hy sê hy weet nie. Ek kry so ‘n tik heimwee. Gewoonlik klim hy op sy motorfiets, sê hy, en wanneer hy vertrek, sê die motorfiets vir hom waar hy wil heengaan.

Hy is toe weg … en ek mis die halfuurtjies. Ek mis die laggies … en kry ‘n knop in my keel as ek sien sy Suzuki staan nie meer daar nie …

O ja, die tent! Dit was toe al die tyd ‘n toilettent!!






Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Gas
Weet jy, ek sal vandag nogal so eiewys monsterbaaik kan gebruik. Ek sal klim en hy sal my rigting bepaal. Dit klink mos voelvry, of hoe. 'n Heerlike stoep-storie!
8 jaar 5 maande 5 dae oud


tent opslaan
Eina - het hulle toe darem in die troon se paleis gestaan en slaap? Sien dis wat gebeur as jy 'n tent deur 'n kasteel bekyk!
Gewoonlik as daar tente op te slaan is - word dit my werk. Ek doen dit sommer tjip-tjop. Gaan kamp saam vriende - Pappa kerm hy voel nie goed nie - Voor jy kan se mes het ek die tent staangemaak - die bure sukkel nog om hulle sin op te kry met vier pare hande dan het ek dit vrou alleen gedoen. Pappa se verskoning is altyd hy het al genoeg army tente in sy lewe opgeslaan - ek dink daar is 'n ander rede... As jy 'n army tent kan opslaan kan jy enige tent opslaan en vir 'n army tent het jy net drie hoerskool meisiekinders nodig en 'n paar minute.
8 jaar 5 maande 6 dae 5 ure oud



beloftes

deur daniel v kaylan

'n Briewe roman oor die verlore, verbode liefde van 'n jong meisie...



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar