Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die wekker gaan skril af en ‘n bruin gebrande arm strek uit om die geluid te demp. Vingers voel-soek na die knoppie, vind dit en druk dit sugtend. Met ‘n traagheid wat diep uit die siel uit kom word heuning bruin oë oopgemaak. Nog ‘n dag het begin. Nog ‘n gejaag na iets buite haar bereik.

In die groot spieël wat oorkant haar bed staan betrag Normie haarself vir ‘n stonde. Haar ligte hare vinknes om haar kop, die slaap pigment nog pienk op haar wange. Sy durf waag dit nie om ondertoe te kyk nie. Sy ken die kontoere van haar onperfekte lyf, sy weet van elke letsel wat ingetatoeër is. Die padkaarte van haar struwweling. Met moeite swaai sy haar bene van die bed af en stap met slepende kaalvoete na die badkamer. Daar knipoog haar spieëlbeeld vir haar, maar sy steek tong uit en draai die krane van die stort met mening oop. Terwyl sy wag vir die water om warm te word stap sy na haar kas, gryp automaties die swart hemp en denim, uit haar laaikas kry sy onderklere. Haar skoene sal sy aantrek net voordat sy ry. Die gewoonte van haar lewe kom sit soos ‘n slegte nasmaak op die pit van haar maag. Sy wens vir verandering. Iets wat haar lewe sal verkwik. Sonder om weer ‘n blik na die spieël te gee, trek sy haar nagrok oor haar kop en tree in die stort in. Die water slaan soos naalde op haar vel en sy gee ‘n sug van verligting. Die lewe slaan terug in haar lewelose liggaam in. Soms dink sy dis al gevoel wat sy ken, seer. Al die mooi in die lewe is verdof in grys strepe op haar palet. Haar bewegings is automaties. Dis oomblikke soos die wat sy haarself toelaat om te kla, te twyfel of haar paadjie die regte een is. Sy wonder soms of dit die moeite werd is om aan te gaan met iets wat betekenloos voel, maar sy karring voort opsoek na ‘n teken dat daar wel versoening vir haar hart is. Iets wat konkreet is, iets wat voelbaar is, soos die warm waternaalde wat oor haar gesig en lyf prik.

Nog nooit het sy haarself die weelde gegun om te treur oor die verlede nie. Sy is grootgemaak om die gevolge te dra van haar besluite al is dit hoe moeilik. Dit het die gevolg dat alle dinge wat vir normale mense lekker is vir haar ‘n straf word. Sy gun haarself niks, nie eers tyd om aan haarself te spandeer nie, want dit bring te veel ontnugtering. Sy verdien niks van die goeie nie, haar lot is in haar eie hande. Normie klim uit die stort, droog haarself hard af, so asof sy die sondelas wat om haar kleef so kan afvee, maar die waarheidsmerke is reeds geklad op haar, in elke porie van haar wese.

Sy is grootgemaak met sterk beginsels wat ingekap is met geweld. Daar was nie tyd om jouslf jammer te kry nie. Dinge is wit en swart. Daar was nie plek vir ‘n grys area nie. Om oor jou probleme te praat was ‘n bewys dat jy ‘n lafaard is. Dat jy nie jou eie probleme kan hanteer nie en dat jy dus ‘n swak geloof het. Om aandag aan jou uiterlike te gee was ‘n teken van losse sedes en sy moes daarmee verlief neem dat sy gemaak is soos sy moet wees. Gewildheid was ‘n euwel en sy moes hard veg teen die begeerte om soos ander van haar ouderdom die aanslae van die lewe te hanteer.

Met ‘n wilskrag wat sy soms onderskat ruk sy haar gedagtes na die hier en nou. Oor ‘n paar uur begin haar skof en dan kan sy nie met ‘n neerslagtige gesig sit nie. Sy moet haar masker aansit. Sy trek haar swart hemp oor haar kop en krimp ineen. Haar borste vertoon aanloklik as uitnodiging. Haar denim omhels die kurwe van haar heupe, span oor haar boude en klok uit na haar voete. Die breë belt rond haar uitrusting perfek af. Met ‘n onvaste hand begin sy haar gesig inkleur. Eers onderlaag om die vlekke te verbloem, dan oogskadu, donker en misterius soos haar glimlag. Die oogpotlood word hard gedruk om donkerlyne te trek en die prentjie word afgerond met maskara wat haar lang wimpers ‘n sexy kurwe gee. Sy kyk vir die vreemdeling in die spieël, haar donker dubbelganger is reg om mense se lewe draagliker te maak.
Met die nou bekende benoude gevoel stap sy af ondertoe om haar swart leer stewels aan te trek. Wie sou dink dat sy, een van die geleerde populêre meisies van haar skool sou opeindig as kroegdame? Sy wat soveel potensiaal getoon het in matriek het slaafs haar liefde vir ‘n man gevolg, minwetend dat hy net soos elke ander man was. Hy het meisies soos sy vir ontbyt geeët. Maar dit het sy hopeloos te laat agtergekom. Sy hand was koud daardie dag toe sy by die kliniek gesit het, ‘n bondel senuwees. Sy het ‘n uitweg in sy oë gesoek maar slegs woede gesien. Hy het haar alleen gelos terwyl hulle haar aan skerwe gepluk het. Toe alles verby was, was sy stoel leeg, maar nie so leeg soos haar hart nie. Hy het verdwyn, sy nommer verander en die skande vlek het alleen op haar gesit. ‘n Pikswart kol wat die leemtes van haar afgryslike lewe gevul het.

Sy gryp die pille van die kombuiskas se rak af. Dit was weke laas wat sy dit nodig gehad het. Sy noem dit haar happy pills. Dit help haar om deur die dag te kom, of moet sy eerder sê nag? Van daardie afstootlike dag het sy nog nie weer haarself die tyd gegun om normaal te funksioneer nie. Wanneer die samelewing werk, gaan lê sy in die son en wag vir die aand. Snags wanneer almal huiswaarts keer begin sy werk. Min mense ken haar, die mans sien haar net as ‘n mooi gesiggie wat hul toelaat om hul drange te bevredig alhoewel sy haar lyf vir niemand gee nie. Tog weet sy dat die hande wat soms na die drankies gryp en haar lyf “perongeluk” aanraak met beplande presisie is. Mans hou van borste, dit het haar vroue baas onderstreep toe sy aansoek gedoen het vir die pos, en jy liefie het ‘n stel belowende borste aan jou. Jy is welkom om vir my te werk.

Die geld was nie so goed soos die aangeplakte kompliment nie, maar dit dra haar deur die maand. Haar behoeftes is min. Die enigste weelde wat sy haarself toelaat is haar Mini Cooper S wat in haar motorhuis staan. Soms deur die dag slaan sy die dakklap af en laat die wind in haar hare huppel. Dis dan wat sy die swartgalligheid verjaag en spontaan lag uit haar maag uit. Dis wanneer sy toelaat dat die goeie van die lewe deur haar spoel. Die sielkundiges raai haar aan om dit meer gereeld te doen, maar sy kan nie, want petrol is duur en bederftyd is ‘n luukse. In plaas van inkopies doen gaan sy na ‘n stil rivier toe. Dit was vroeër jare ‘n piekniek plek maar jy sal deesdae min mense daar sien. Die gejaag na sukses en roem het belangriker geraak as familie tyd. Daar is ‘n uitgeholde stam waar sy gaan sit terwyl sy na die rivier kyk. Dit stem haar rustig. Haar lewe is net so troebel soos die water en die pas van die stroom weerspieël die pas van haar lewe. Sy wens sy kon anders daaroor dink maar sy kan nie. Die sug wat haar oor lippe blaas kom rukkend na buite.
“Normie, jy het nie tyd vir terug dink nie. Jy moet vorentoe gaan. Jy kan nie vorentoe hardloop en bly terugkyk nie. Fokus, jy moet altyd onthou om te fokus.”
Haar dag het sopas begin.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Uiters boeiend en uiters goed geskryf:)
10 jaar 4 maande 2 weke 5 dae 5 ure oud


Sjoe! Baie boeiend! En goed geskryf!!

Miskien is dit my romantiese siel wat êrens 'n stukkie geluk vir jou karakter soek; maar ek stem saam met André - mens soek meer....!!

10 jaar 4 maande 3 weke 4 dae 6 ure oud



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar