Kortverhale

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die aand windjie waai koel op hul gesigte waar hul om die gebou stap oppad na die buite parkade waar Normie gestop het. Die area is leeg buiten vir haar kar en ‘n motorfiets wat vergete laer af in die pad staan. Normie trek haar baadjie stywer om haar lyf. Dis nou herfs en alhoewel die dae sonnig is, is die aande steeds koel.

“Vertel my hoe jy jou naam gekry het?” Die woorde is uit voor Normie kon keer. Sy trek haar skouers op in ‘n automatiese gebaar. Hy was reeds voortvarend, hoekom kan sy nie ook vrae stel nie.
‘n Borrel laggie ontsnap sy lippe.
“Ek is bly ek het darem ook jou nuuskierigheid geprikkel, tensy dit jou manier is om die gemoedelike stilte te verbreek?”
“Beantwoord jy altyd ‘n vraag met ‘n teenvraag, Lucky? Of is jy net nie so bereidwillig om inligting te deel soos wat jy is om inligting in te win nie?”
Weer lag hy.
“Is jy altyd so aanvallend? Ek het dit seker verdien. Daar is niks om weg te steek nie. Almal noem my Lucky omdat ek een van die min mense is wat nog altyd gelukkig was. Alles wat ek aanpak is suksesvol en alles wat ek wil hê kry ek.” Hy kyk haar aan en ‘n krieweling hardloop my haar rugraat af. Sy weet nie of dit wat sy in sy oë gelees het net ‘n versinnebeelding van haar ooraktiewe verbeelding is, en of dit die pille is wat haar dinge laat sien wat nie daar is nie.
“Met ander woorde jy is selfversekerd, arrogant en ambisious?”
“As dit is hoe jy dit sien gaan ek nie met jou stry nie. Elke persoon het ‘n ander benadering oor dit wat hulle sien. Ek dink net dat ek gelukkig is. As mens glo in dit wat jy is dan kom die res mos vanself.”
Normie lag bitter. Hy laat dit so maklik klink.
“Nou is dit my beurt vir ‘n vraag. Wou jy altyd ‘n kroegdame wees?”
“Ja, dit was my droom vanaf ek ‘n klein dogtertjie was. Dit was natuurlik ‘n keuse tussen straatveër en kroegdame. Ek het maar net gereken dat kroegdame beter betaal.”
Die seer in haar woorde ontgaan Lucky nie. Hy het geweet dis ‘n dom vraag, maar hy wou kyk wat haar reaksie sal wees. Hy het nie gereken op bitterheid nie.
“Nou hoekom doen jy dit?”
“Dis meer as een vraag Lucky.”
“So jy wil nie daaroor praat nie?”
Normie voel die spanning in haar nek inkruip. Sy het nie krag vir al die vrae nie. Hoekom wil hy dit in elk geval weet. Sy is nie ‘n verlore katjie opsoek na ‘n huis nie. Sy gaan nie nou skielik teen sy been skuur en hoop dat hy van katte hou nie.
“Jy’s reg, ek wil nie daaroor praat nie. Hoekom wil jy dit weet? Dis ‘n eerbare werk, ek geniet dit want dit gee my vryheid om deur die dag te doen wat ek wil. Geen stres nie, geen verwagtings nie.”
“Ek dink jy’s verkeerd. Jy het stress en jy verwag te veel van jouself. Maar dit daar gelaat. Ek wil nie jou aand opfoeter nie.”
Normie sug en probeer iets anders kry om oor te praat.
“Jy’t gesê jy is nie van hier rond nie. Is jy hier vir besigheid of plesier?”
“Albei.”
Net dit. ‘n Niksseggende antwoord wat hom steeds in die middel van ‘n onopgelosde legkaart hou. Hulle stop by haar kar en sy sluit die deur oop.
“Wel, dis dan dit. Ek moet nou gaan, more is ‘n lang dag vir jou. Dankie vir die geselskap.”
Normie kyk om haar rond.
“Waar is jou kar?”
“As ek sê ek is sonder ‘n kar sal jy my na jou huis toe vat en nooi vir koffie?”
Lucky sien die verandering in haar oë.
“Ek het net gegrap Norma-Anne. Jy kan ontspan. Ek is nie hier om jou leed aan te doen nie. Die motorfiets wat daar staan is myne.”
“Ek is jammer, ek weet nie wat vanaand met my aangaan nie, ek is nie gewoonlik so wantrouig nie.” ‘n Skaam glimlag speel om haar lippe. Op ‘n manier twyfel Lucky oor haar stelling. Hy dink dat sy altyd wantrouig is. Sy laat nie mense toe om naby haar te kom nie. Hy het oom Geoff probeer pols oor haar, maar hy weet net so min van haar as wat die ander doen. Sy is ‘n toeboek wat weier om oopgemaak te word.
“Moenie vir my jok nie, Normie, jy weet dat jy nie mense vertrou nie, en ek neem jou glad nie kwalik nie. Klim in jou voertuig, sluit die deure. Ek gaan agter jou aanry tot jy by jou huis is, dan sal ek huiswaarts keer. Ek gaan nie by jou koffie drink nie, en ek sal nie tot by jou deur stap nie, ek wil net sien dat jy veilig tuiskom.”
Normie wil nog protesteer maar sy sien dat sy nie daardie argument sal wen nie dus prewel sy net ‘n dankie, klim in haar kar en sluit die deur. Sy wag tot sy sien hy sy helmet posit en die motorfiets aansit, toe trek sy weg en hou haar truspieëltjie dop. Hy doen soos hy gesê het. Toe sy by haar kompleks indraai, hoet hy net vir haar en kry koers in ‘n teenoorgestelde rigting.

Normie sluit haar kar en stap na die agterdeur toe. Nadat sy die deur oopgesluit het, gooi sy haar handsak en baadjie op die sitkamer bank en stap kombuis toe om die ketel aan te sit. Sy het koffie nodig. Sy sit die ketel aan, haal ‘n koppie uit die kas uit en gooi kitskoffie en suiker in die koppie. Terwyl sy vir die ketel wag stap sy na haar radio en sit ‘n klassieke CD op. Die ruwwe klanke spoel deur haar en sy voel hoe die stress uit haar skouers uit vloei. Met haar koppie koffie in haar hand stap sy na die rusbank toe, trek haar skoene uit en gee haar oor aan die musiek. Dit was ‘n lang, uitmergelende dag. Sy moet seker weer ‘n afspraak maak met haar sielkundige om alles wat gebeur het te bespreek. Op ‘n manier wil sy nie, die pille gaan net sterker word en haar lewe gaan net verder uit haar hande uit val. Sy is tot die dood toe moeg vir die stryery teen haar eie logika. Sy is moeg daarvan om haarself in te hok en te hoop dat beterskap net sal intree. Dit was soveel jare terug. Sy het haar les geleer en probeer aanbeweeg. ‘n Paar groen oë kom spook by haar. Dit kan nie. Sy staan op en gaan grou in haar laaie. Iewers het sy nog ‘n halwe pakkie sigarette oor. Met bewende hande steek sy die sigaret aan en blaas hoesend die rook uit. Dit kan nie. Sy kan nie betrokke raak nie, nooit weer nie. Haar lewe is kompleks genoeg sonder om ‘n man toe te laat om weg kruipertjie met haar gevoelens te speel. Haar lewe begin nou weer terugkeer na ‘n balans, om ‘n man in te laat sal al die ou wonde oopkrap. Sy sal weer moet bieg oor wat sy gedoen het, sy gaan weer die verwerping daar lees. Normie, wees rasioneel. Die man het net met jou gepraat. Dit het niks beteken nie, hou op om dinge vooruit te loop. Sy druk die sigaret met geweld dood. Sy tel haar koffie op en sluk die warm vloeistof met een sluk af. Die pyn in haar keel is ‘n werklikheid. Sy ken pyn, sy kan daarmee saamleef, want dis ou pyn, sy ken dit. Sy trek haar klere uit en gaan lê kaal in haar bed. Die koue klim van haar voete af op na die res van haar lyf. Dis haar straf. Koue en pyn sal haar drome verorber vanaand. Hoe kom sy toelaat dat die vreemdeling nader kom, hoekom het sy nie na haarself geluister nie? ‘n Nag vol nagmerries tuister haar die hele nag, sy voel die koue vrees uit die gebou wat in haar hart in klim, sy ruik die kliniese skoonmaakmiddels en sy sien twee grasgroen oë vol verwyt voor hy haar gaan offer op ‘n brandstapel vol verwyt.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Boeiend, ek kan nie wag vir die opvolg nie.
10 jaar 4 maande 1 week 4 dae 7 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    n Vergane Era

    deur neels claasen

    n boek met verhale en staaltjies uit die skrywer se eie eie spoorwegloopbaan



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar