Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Koebaai Marie.

Okay. Ek is sprakeloos. Jy het jou tas gepak en hemel toe gegaan sonder om te groet. So okay. Dis dit. En nou sukkel ek om woorde te vind om al die emosies wat in my opkom vir jou te sê. Was jy bang? Was jy bly? Het jy self besluit om te gaan? Hoe lank vooruit het jy die kaartjie gekoop? Het jy darm 'n afslag gekry? En wat pak 'n mens in elk geval as jy hemel toe gaan? Tot nou toe het ek net gesien wat jy agterlaat... en dit is wragtig meer as 'n suitcase vol van slegte memories en 'n kattebak vol skuld.

Ek is kwaad vir jou!

Wie het vir jou gesê dat jy mag gaan? Wie het vir jou toegelaat om jou lewe te verkwansel? En myne ook, mind you. Wie het jou toegelaat om te besluit wanneer ons stryd verby is? Tjoepstil. Sonder om vir my die kans te gee om 'n wapenstilstand in te roep. Sonder om my die kans te gee om te groet.

Welgedaan!

En ek mis jou, dammit! Ek mis jou yskoue hande op my voorkop as ek siek is. Ek mis dit dat jy nooit my ma was nie. Dat jy altyd my ma was. Dat jy nooit daar was nie. Dat jy altyd in my kop plek weg gevat het. Dat jy in my hart parkeer het. Dat jy my siel mooi laat besef het dat jy die baas van die plaas is. Ek mis die gesprekke wat ons nooit kon voer nie en die antwoorde wat jy nooit wou gee nie. Ek mis jou lag en ek mis wat jy kon gewees het - en ek ook, mind you.

Bon voyage!

Wat anders kan ek sê? Ek kan jou nie keer nie en ek weet nie of ek sou wou nie. Ek beny die vrede en rus wat jy nou gaan beleef. Het julle computers in die hemel? Dan kan jy miskien 'n kommentaar los. Miskien is jy gelukkig genoeg dat al jou gedagtes nou uitgevee is. Miskien is jy gelukkig genoeg dat genade en vergifnis nou deel is van wie jy is. Miskien is die nuwe liggaaam nie net 'n sprokiesverhaal nie en jy mag beleef hoe dit is om te huppel en te spring.

Een-en-sestig.

Dis net eenvoudig te vroeg. 'n Mens kan 120 jaar oud word. Het jy dit vergeet? Jou pa was net so vroeg hemel toe en jou ma ook. Het julle darm iets om vir mekaar te sê of is jy net so speechless om hulle weer te sien? En James? En Karen? En Granny? En daar beny ek jou al weer omdat jy hulle nou al mag sien.

So long, Ma. Ek los die brief maar nou soos hy is. Trane is in elk geval 'n harder en mooier en meer spesifieke taal as woorde. Welkom tuis.





Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ticket
Shoe....So seer om ń ouer te verloor...

Baie goed geskryf.
4 jaar 3 maande 1 week 1 dag 9 ure oud


one way ticket
sjoe hierdie is absoluut briljant vasgevang.... *Drukkie* vir jou vir die verlies
4 jaar 3 maande 1 week 1 dag 14 ure oud


Ano
Ticket
Dit is jammer Pottebakker.
4 jaar 3 maande 1 week 1 dag 20 ure oud



DIGSELS: 'N LEWE IN VERSVORM

deur Johann P. Boshoff

Hierdie bundeling van die digter se "oorgeblewe" Afrikaanse nie-opdragwerke sedert die 1970's is bedoel om biografies gelees te word. Wat 'n reis!



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar