Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Milah en Louw wil nie opstaan nie, want hulle wil die laaste rukkie wat hulle nog hier by die lodge kan spandeer so lank as moontlik uit rek. Tot op die nippertjie. Tyd het vinniger verby gegaan as wat hulle sou wou hê en dit is amper tyd om te vertrek. As hulle opstaan kan hulle nie meer snoesig opgekruip langs mekaar lê nie en dan moet hulle klaarmaak en pak om weer huis toe te gaan.
“Ek gaan hierdie plek mis. Ons moet dit meer doen,” Milah gaap. Sy klink deur die slaap en sal so graag nog ’n rukkie nutteloos in die bed wil verkeer.
“Ek sal graag wil hê ons moet, maar jy moet ook besef dat ons nie altyd sal kan nie,” Louw sug, “Dit gaan nie altyd só goed meet ons gaan nie.”
“Wat bedoel jy?” vra Milah dadelik. Die vraag het haar onkant gevang. Haar wysvinger wat lyne heen en weer oor Louw se bolyf getrek het, vries. Haar oë kyk op na Louw vir ‘n antwoord.
“Dit sal nie altyd maanskyn en rose wees nie. As dit gebeur dat ons ’n uitval het, of iets soortgelyks, sal ons nie saam wil kom na ’n plek soos hierdie nie. Ons gaan nie eers daaraan wil dink nie,” Louw sug weer en Milah voel hoe Louw se borskas op en a onder haar hand beweeg.
“Ja, maar Louw,” Milah weet nie waarheen Louw op pad met die gesprek is nie en Louw gee haar nie kans om klaar te praat nie. Dit voel vir haar dat hy die bobbejaan agter die berg wil gaan uithaal. Dit is nie te sê dat hulle elke moontlike kans ’n wegbreek moet vat nie, met die dogtertjies gaan dit in elk geval nie altyd moontlik wees nie. Finansieel gaan hulle ook meer gefokus op die kinders moet wees. Milah het net bedoel dat hulle vir mekaar moet tyd maak. Tyd saam deurbring om dinge saam te doen.
“Ek wil net hê dat as die slegte tye kom en dit gáán kom, dat ons nie moet vergeet van die goeies nie. Wat belangrik gaan wees, is hoe ons die slegte tye saam hanteer en daardeur druk om weer goeies te kan hê.”
Dit is nou net waaraan sy gedink het, dink Milah. Sy besef dat Louw bang is. Hy is bang dat hulle weer foute gaan maak, maar dit is menslik. Almal maak foute. Niemand is perfek nie. Hy is seker bang dat hy haar weer gaan verloor, maar ook bang om weer seer te kry. Dit is ’n baie gerusstellend, maar aan die ander kant ook teleurstellend, want hy moet haar kan vertrou. Sy moet dit vir hom sê.
“Ek het net bedoel dat ons vir mekaar moet tyd maak om te onthou dat ons ’n familie is, my skat. Ek wil nie hê ons moet mekaar vanselfsprekend aanvaar nie. Ek wil hê jy moet my vertrou met jou hart, ons kinders en ons lewe wat voorlê,” Milah voel dat dit woorde is wat Louw moet hoor. Die foute van die verlede het vir hulle ‘n dure les geleer, vir haar en vir hom. Milah is amper doodseker dat hulle nie weer daardie foute sal herhaal nie. Dit het hulle albei meer seergemaak as enige iets anders.
Louw grynslag vredevol in Milah rigting. Dit lyk asof hy nadink oor haar woorde. Milah voel tevrede en gaan voort om met haar wysvinger heen en weer lyne te trek.

“Hoekom hy?” breek Louw die stilte.
Dit is wat Louw eintlik wou weet, dink Milah. Hy wil weet waarom sy hom verneuk het, wáárom sy egbreuk gepleeg het mét Ian. Milah het geweet Louw sal met haar daaroor praat wanneer hy reg is. Dit is onvermydelik. Milah verstaan nie waarom Louw haar nie reguit daaroor kon uitvra nie, maar sy gaan nie tob daaroor nie. Sy gaan eerder fokus om hom so eerlik as wat sy kan te antwoord soda thy kan duidelikheid kry. Sy het verwag dat sy nie gereed sou wees vir hierdie vraag wanneer dit gaan kom nie. Hoe verduidelik ‘n mens iets waaroor jy spyt is en wat jy wens het nooit gebeur nie?
“Ek dink ek was te blind teen wat ek regtig aanvang, dat ek nie meer bewus was waarmee ek besig was nie. Ek wou net so graag weer liefde gevoel het. Belangrik en spesiaal gevoel het, dat ek net nie gedink het nie en net gedoen het,” Milah is nie seker of haar antwoord vertroosting sal bring nie, maar sy hoop daarvoor. Sy voel senuagtig.
“Het jy hom lief gehad?”
Dit is ‘n vraag wat sy sonder twyfel dadelik kan antwoord.
“Nee. Ek het gedink ek het, maar dit was net ‘n mis persepsie omdat ek bang en deurmekaar was.”
“Is jy spyt?”
“Ja,” ‘n traan sypel stadig uit die hoek van Milah se oog en drup op Louw se bors, “Meer as wat jy ooit sal weet,” sê Milah snikkend.
“Hey,” Louw druk Milah se kop op sodat hy vir haar kan kyk, “Ek sal dit nie teen jou hou nie.”
Hy soen haar op elkeen van haar oë en vee die trane af.
Daardie woorde laat Milah nog harder huil. Sy het geweet dat Louw haar vergewe het. Hy het dit al menigte kere aan haar gesê en ook bewys deur die manier hoe hy teenoor haar optree. Ongelukkig sal sy daarmee moet saamleef vir die res van haar lewe. Soos wat almal hulle eie dinge het waarmee hulle worstel is hierdie hare. Dit is eintlik kommerwekkend hoe baie leed die mens vir homself veroorsaak. Leed wat vermy kon word. Milah het nie al die antwoorde nie, sy weet net dat sy dankbaar is vir Louw se woorde. Sy het net nodig gehad om te hoor dat sy nie verewig daarvoor gaan boet nie.
“Ek moes dit net vra,” troos hy haar verder.

“Ek weet en ek wil hê jy moet weet dat ek rêrig baie jammer is oor dit wat ek gedoen het. Ek sal dit nooit weer doen nie, want ek is lief vir jou en ek weet nou dat jy regtig lief is vir my,” Milah besef dat sy nooit die geleentheid gehad het om vir Louw jammer te sê vir dit wat sy gedoen het nie, “Maar jy vergewe my baie makliker as wat jy jou toelaat om jouself te vergewe. En jy mag maar, want ek het ook. Ek glo alles wat jy my vertel het ten volle, daarom glo ek ook dat jy háár ook nie lief gehad het nie. Dit is in elk geval nie jou skuld dat jou pa jou gedwing het om met háár ‘n verhouding aan te knoop nie,” Milah wil nie eers Sonja se naam noem nie, omdat dit haar herinner aan een van die redes waarom hulle huwelik amper op die rotse was. Wat alles nog seerder maak is, dat dit haar beste vriendin was. Sy kon enige oomblik gekies het om vir Milah te vertel, maar dit het aangegaan vir ’n jaar. ’n Hele jaar! Sy het in daardie tydperk voorgegee om, om te gee vir haar en Milah kan dit nie verstaan nie. Sy dink dit is wat dit nog seerder maak, Sonja was nooit opreg haar vriendin nie.
“Ek weet,” stem Louw huiwerig in.

Milah maak gebruik van die geleentheid om vir Louw te vertel dat Ian by haar ingetrek het en dat sy vermoed dat Louw se pa haar gehelp het om ontslae te raak van hom. As sy nie nou vir Louw gaan vertel nie, gaan sy dalk nooit die geleentheid kry nie. Dit sal beter wees dat Louw dit self van haar af hoor, voor hy dit by iemand anders hoor.
Sy vertel ook vir Louw dat sy dink Hannes nie te sleg is nie, al het hý, haar nog nooit goedgekeur nie, hy weet net nie meer hoe om vir sy seun te wys dat hy hom lief het nie. Dit is vir Milah ’n groot verligting dat alles nou op die lappe is.
“Ek gee baie vir hom om, maar ek dink nie ons kan wat was meer red nie. Daar is net een persoon wie ek lief het en dis jy, skattebol…” Milah kry ‘n soen op die voorkop, “Nee, wag… Ek dink ek moet my woorde terug trek.”
Milah se oë rek.
“Ek het jou nou die meeste lief, maar ek is bevrees dit is net tydelik. As ons twee dogtertjies hulle verskyning maak, gaan mamma maar opsy moet staan.”
Milah lag verlig, ten minste kon hulle die groot gesprek afhandel voor hulle terug vertrek huis toe.

By die huis verkeer hulle rustig terwyl hulle vir die gaste wag om op te daag vir ete. Louw en Milah het besluit dat ’n aansitete, aan tafel, baie meer persoonlik sal wees as ‘n braai. Hulle het dit lanklaas gedoen en dan kan hulle almal saam elkeen se geselskap geniet. Hulle het die gaste elkeen gebel om hulle so in kennis te stel. Nou sit Louw en Milah voor die televisie en ontspan. Louw was handig om Milah in die kombuis te help terwyl sy die lamsbredie gemaak het. ’n Droë mielie broodjie bak nog in die oond. Dit gaan heerlik saam met die sous van die lamsbredie wees.
Milah sal wag tot al die gaste opgedaag het, om die laaste paar goedjies vir die slaai klaar te maak. Nou vat sy eers saam met Louw ’n blaaskans. Hulle het juis ook nie veel kans gehad om te rus na die opwindende wegbreek nie. Hulle kon nie eers ‘n uiltjie knip nie.
Daar speel ’n heruitsending van ’n sepie op die televisie. Die vrou vra ook toevallig vir die man vergifnis, omdat sy hom verneuk het. Milah is dankbaar toe Louw dit bedagsaam oorskakel na ’n ander kanaal. Dit wat sy gedoen het, sal haar nog lank pla. Dit help ook nie juis om dit in allerhande alledaagse goed raak te sien nie. Sy wil nie aanhoudend daaraan herinner word nie.
Tiaan stap in sonder om te klop. Dit is ’n baie ou gewoonte van hom, nie dat dit juis vir Louw of Milah pla nie. Hy is al baie lank ’n vriend van hulle en amper ’n meubelstuk in die huis. As hy dit nie doen nie, sal hulle bekommerd raak. Hy gaan maak homself tuis op een van die enkel banke in ’n gemaklike neerval manier en so bly hy ook sit.
“Ek is baie kwaad. Vir Shakespeare. Hy het gelieg,” Tiaan sit soos ’n seuntjie wat suiker gesteel het op die bank. Al wat ’n mens sien is tande. Louw en Milah wag aandagtig vir die “punchline”.
“Romeo en Juliet het toe gelukkig op geëindig.”
Milah kan nie anders as om te lag vir Tiaan se stelling en die komiese beeld nie. Louw word aangesteek deur Milah se lag.
“Ek weet nie wat so snaaks is nie, maar net julle sal seker weet. Julle kom ook nie agter dat ek slaai by die kombuis ingedra het nie. Ook maar onoplettend. Of slap julle? In elk geval, welkom terug my vriend. Op jou!”
Daar is soveel inligting deurgegee in een sin dat Louw en Milah mooi moet luister anders sal hulle nie kop of stert kan onderskei nie. Hy val homself nog in die rede ook, net soos wat hulle vir Tiaan ken. Milah besef dat hy hulle vreeslik baie moes mis. Milah weet nie of Tiaan weet hoe dankbaar sy vir die slaai is nie en dat hy nie vir Sonja saamgebring het nie.
Tiaan gooi sy hand in die lug om vir Louw ‘n denkbeeldige “high-five” te gee. Met ‘n groot glimlag op sy gesig, hou Louw sy hand ook in die lug.

Die tweede groep gaste wat opdaag is Kobus en sy meisie, Naomi en toe Louw haar so aan Milah wou voorstel was Kobus vinnig om hom te korrigeer dat dit sy verloofde is. Albei Louw en Milah is ewe verbaas vir hierdie ongewone aankondiging, want volgens hulle kennis is Kobus en Naomi slegs ’n kort rukkie saam. Louw sal haar beter as Milah ken, wat haar slegs ’n handjie vol kere vlugtig gesien het. Sy het nie regtig tyd gehad om haar te leer ken nie, maar is in die wolke vir Kobus. Hy het baie lank gevat voor hy sy vrou gekies het en dan is sy nog ’n pragtige jong dame ook. Milah los die twee broers wat redeneer oor die fynere besonderhede oor die hoe, waar en wanneer, toe die klokkie lui. Sy verwelkom vir Hannes, wat sonder ’n metgesel gekom het, asook vir Liana en haar man by die deur.
Dit is nog net Ferdie en Tumi wat moet opdaag, so vêr Milah se kennis strek. Hulle verskuif die geselligheid na buite, omdat dit ’n baie bedompige dag is. Dit lyk vir Milah of dit nog nie klaar kon reën nie. Die bedompigheid veroorsaak dat dit nogal warm is, maar indien dit reën kan hulle na binne skuif.

Liana en Naomi hou vir Milah in die kombuis geselskap terwyl sy besig is om die kos uit te skep in opdien bakke. Terwyl sy die wortelslaai uitskep mors sy ’n bietjie op die tafel en toe Liana en Naomi nie vir haar kyk nie vee sy dit met haar vinger op tot binne-in haar mond. Dit is heerlik. Sy kan nie help om te wonder of Sonja dit gemaak het nie. Milah kan nie onthou of sy al ooit wortelslaai by Sonja se huis geëet het nie, maar besef dat dit sekerlik nie só seer, saak maak nie. Dit is kos, sy kan dit nie mors nie.
“Ek dink ook nogal dit sal lekker wees om buite te eet vanaand. Wat dink jy Naomi?” antwoord Liana toe Milah vir haar en Naomi uitvra oor die onderwerp.
“Dit is nie ’n slegte plan nie,” Naomi glimlag en voeg dan by, “As dit nie gaan reën nie.”
Milah kan nie onthou hoe sy en Kobus ontmoet het nie, maar sy hou sommer baie van Naomi. Miskien kan hulle goeie vriende word.
“Nou maar goed,” Milah is bly dat hulle van haar idee hou en handig aan Naomi ’n tafeldoek, “Dan wag ons net vir die res van die gaste, maar ek dink ons kan solank gaan dek.”
Liana weet al waar al die kombuis goed gebêre word en haal die messegoed uit. Milah is gereed om die slaai uit te dra.

“Hi... uhm... Moenie die uhm... Aartappelgereg vergeet nie...”
Milah vries vir die hakkelrige stem. Sy herken dit dadelik. Al is dit nie Liana of Naomi nie, hoop sy dat sy verkeerd is. Milah draai verward om. Haar ore het haar nie verraai nie. Die platinum blondine glimlag gemaak in Milah, Liana en Naomi se rigting. Liana kyk benoud na Milah wat ongemaklik met die bak wortelslaai in haar hand staan.
“Hallo,” probeer Naomi vriendelik wees, onbewus van die situasie.
Milah het nie verwag om so gou weer vir Sonja te sien nie. Inteendeel sy het gehoop dat sy haar nooit weer hoef te sien nie en het haar uiterste beste gedoen om haar te vermy. Nou staan sý in die kombuis van hulle huis asof sy genooi is. Hoe durf sy? Daar gaan ’n koue rilling teen Milah rug af.
“Ek weet ek is nie welkom hier nie, maar Tiaan het vergeet om dit saam te bring,” sy plaas ’n bak op die tafel neer, “Hy weet nie eers dat ek hier is nie en dit was nie my...”
“Nou wat maak jy dan hier?” val Liana haar in die rede en kom tot Milah se redding wat so boos voel dat sy nie ’n woord kan uitkry nie. Naomi se kop ruk lings en regs soos wat sy verward staar na almal betrokke in die bek geveg. Milah draai haar rug dat hulle nie moet sien dat sy wil begin huil nie. As sy kwaad is, huil sy altyd. Miskien is dit goed dat Tiaan nie weet sy is hier nie. Dan kan Milah die lewe uit haar uit wurg en saam met haar slaai op die ashoop gaan gooi.

“Ek het net die aartappel gebak gebring. Ek is jammer, Milah...”
“Met ’n boodskap daarby,” val Liana haar weer in die rede.
“Wag, asseblief. Verstaan my situasie Milah. Ek was nooit my intensies gewees om jou seer te maak nie.”
Milah vee haar trane met een van die servette af en haal diep asem voordat sy omdraai.
“Dit was nooit jou intensies gewees nie, maar jy het in elk geval in my slaai gekrap,” ironies dink Milah en stoot die wortelslaai eenkant toe. Sy gaan beslis dit nie vir haar gaste vanaand bedien nie.
“Toe jy uitgevind het dat hy getroud is, dat ek sy vrou is, Louw se vrou is, het jy nooit van die kans gebruik gemaak om my te sê nie. Hulle het jou gebruik en jy het my gebruik en dit is wat dit is. En jy is reg, jy is nie welkom hier nie. Ek wil jou nooit weer sien nie.”
“Ag, Milah… Moet nie maak asof jy die een is wat die ‘damn moral high ground’ behou nie. Jy is die een wat egbreek gepleeg het. Ek het inteendeel gedink Louw is lief vir my, nog voordat ek geweet het hy is getroud. Jy moet na hom kyk met ’n vergrootglas, want ek kon net soveel doen as wat hy my wou toelaat.”
“Sonja!” Liana lyk nie asof sy regtig weet wat om te sê nie, maar Sonja skrik vir haar stem wat hard en skril is. Arme Naomi staan grootoog geskok.
“Gee pad uit my huis uit!” Milah druk haar woorde uit asof sy iets aan ’n kind verduidelik. Sy voel vernederd en staat boos na Sonja tot sy omdraai en wegstap.

Milah ontspan haar stywe postuur en asem uit voor sy neersak op ’n kombuisstoel. Sy is baie na aan trane, maar sy wil nie huil nie. Sy sluk die trane weg, want nou is nie die tyd nie. Liana plaas haar arms om Milah se bewende skouers. Al wil sy nie verder die ete hou nie, is dit nie vir haar nie. Sy wil nie selfsugtig wees om dit te kanselleer nie, maar ook nie met rooi behuilde oë die res van die aand aandurf nie. Naomi staan ook nader, maar dit lyk asof sy nie regtig weet wat om te doen of te sê nie. Asof sy in die verkeerde toneel van ’n rolprent is. Soos rooikop Rose van Titanic wat skielik ’n verskyning in Dirty Dancing maak. Sy is spierwit en stokstyf en Milah kan nie help om daarvoor te lag nie. Liana frons.
“Moenie bekommerd wees nie, jy trou in ’n goeie familie in.”
Liana begin skater en Naomi vertoon ’n klein glimlaggie van benoudheid blyk dit vir Milah.
“Ek sal okay wees,” stel sy vir Liana gerus wat moederlik nog om haar wyf.
Die manne is almal luidrugtig buite terwyl musiek in die agtergrond speel. Hulle geniet hulle gate uit. Liana gee vir Milah ’n onverwagse drukkie. Dit is die eerste keer dat hulle in die posisie is om mekaar te ondersteun en dit laat Milah baie nader aan haar voel. Milah druk haar kop teen Liana se skouer.
“Dankie,” haar woorde is ’n fluistering. Wie kon nou dink dat sy en Liana vriendinne sou word en Sonja haar aartsvyand?
Die vrouens besluit dat hulle liewer buite wil wees waar dit vroliker klink. Voor hulle aansluit by die manne help Liana vir Milah om vinnig die tafel op die patio te dek. Naomi gaan hak by Kobus en Hannes in. Naby aan die patio, onder ’n boom se koelte sit almal. Party op die gras. Ander het stoele nader getrek. Milah kies die kombersie om op te sit. Dit is verfrissend buite. Mens kan nog steeds die hitte voel, maar die skaduwee van die boom weer die ergste af. Die kuier is gesellig met almal wat ‘n koeldrank in die hand het. HKL kunstenaars se musiek blêr deur die luidsprekers van Kobus se bakkie wat hy nader getrek het. Tumi geniet om op die ritme te dans. Niemand het alkohol nodig om hulself te geniet nie, dink Milah met ‘n groot glimlag.

Hannes kan nie uitgepraat raak aan Kobus se aankondiging nie met Naomi wat langs hom staan nie. Milah voel geïrriteerd oor hoe Hannes vir Kobus prys oor sy wonderlike keuse vir ’n vrou. Behalwe vir Naomi se beeldskone gelaat is daar nie regtig verder iets spoggerig oor haar nie, dink Milah. Hannes is dalk net ’n man wat meer van die uiterlike hou. Dit is dalk wat in Sonja se guns getel het. Milah loer onderlangs na Louw toe Hannes noem dat hy nie kan wag vir wanneer Kobus vir “oupa ’n laaitie” gee nie. Dit maak haar woedend, maar sy sal niks sê nie, want dit is Louw se dag en behalwe Louw se uitlatings is die kuier gemaklik. Almal geniet hulle gate uit en daar is nie eers alkohol betrokke nie. Milah is bie dankbaar dat almal haar wense respekteer het. Selfs Hannes wat vir die rukkie wat sy buite is nog nie ’n goeie woord oor Louw te sê gehad het nie. Milah weet nie eintlik wat Hannes hier doen by húlle huis en op Louw se dag as hy so wil optree nie.

“Hey.”
Milah kyk om vir Liana wat heen en weer op ’n rustige liedjie wieg wat ’n country ondertoon het. Liana wys dat sy saam moet kom dans, maar Milah voel nie regtig in die bui daarvoor nie. Liana kom langs haar op die kombersie.
“Wat pla?”
Milah knik net met haar kop in die rigting van Hannes wat in gehak is by Naomi en Kobus aan haar ander sy.
“Moet jou nie daaraan steur nie,” Liana vryf teen Milah se skouer, “Jy hoef net te fokus op een persoon en dit is jou man. Hy is baie sterker as wat jy dink en sal hierdie goed van sy pa kan hanteer. Al wat hy van jou nodig het, is ondersteuning.”
Milah glimlag breed vir Liana voor sy haar arms om Louw se middellyf plaas toe sy nader aan hom staan. Hannes hoef nie van haar te hou nie. Hy hoef nie sy seun om elke hoek en draai te prys nie. Hy hoef ook nie bly te wees oor hulle tweeling dogtertjies nie. Liana was reg, want Louw het net vir haar nodig en sy sál by hom staan maak nie saak wat nie.
Louw plak ’n soen op Milah se voorkop en Milah moet op haar tone staan om hom ’n soen terug op die wang te gee.
“Ek is trots op jou,” sê Milah fluisterend dat net Louw kan hoor.
“And who would have thought that you two would ever be in this close radius of each other?”
Almal lag vir Tumi se grappie. Dankie, vir hom, hy maak die oomblik ligter. Dit is lekker vir Milah om almal in geselligheid te verkeer.

“En hoe het jy haar gevra?” vra Liana se man. Hy is baie stil en Milah kon sweer dat dit die eerste keer is wat sy hoor hy praat.
“Pa het dit vasgevang op video,” Kobus krap rond op sy selfoon en dan gee hy dit aan vir Liana se man. Almal staan nader in ’n bondeltjie om te kyk.

Die video begin speel en almal kyk hoe Naomi met ’n glas rooiwyn in die hand staan. Kobus vat haar hand en begin om te kniel. Naomi bars dadelik uit in trane en dan begin Kobus die ja-woord speech.
“Ek is niemand sonder jou nie,” begin Kobus.
“Daar sy Kobus,” por sy pa hom aan van die kant af.
“Ek sal verewig leeg wees sonder jou. As Louw en Milah dit kan doen, kan ons ook,” hy maak die boksie oop en Naomi laat val die glas wyn laat dit in skerwe op die vloer spat. Hannes rol sy oë vir die laaste woorde en Milah kry eintlik lekker daaroor en dan kyk sy verder.
“Dit sal vir my ’n groot eer wees om jou my vrou te maak. Sal jy met my trou?”
Hy steek die ring aan haar vinger en sy kan glad nie ’n woord uitkry nie omdat sy vreeslik huil. Sy knik net haar kop aanmekaar en buk neer waar sy vir Kobus omhels. Hulle soen mekaar hartstogtelik en dan eindig die video.

“Baie geluk,” Louw lyk asof hy baie trots op sy broer is. Hy lyk in sy skik en Milah verneem dat dit is omdat Kobus ‘n verwysing na hulle verhouding gemaak het. Hannes lyk geïrriteerd.
“Wag ’n bietjie... Het jy ooit ja gesê?” Liana knipoog in Naomi se rigting.
Naomi sê dat sy dink sy het en gelyktydig se Kobus nee.
“Wel, sy is nog hier,” voeg Kobus by.
“As jy dit nog nie weet nie, weet jy dit nou. My antwoord is ja!”

Aantal Woorde: 4157
Totale Woorde: 31149

© Kopiereg Voorbehou – L Badenhorst



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ons rede
Hou nie van stories lees nie, maar toe ek eers begin, kon ek nie ophou nie. Baie goed geskryf.
3 jaar 8 maande 4 weke oud


Ons rede 11
Pragtige werk Zellie. Ek het lekker gelees.!!
3 jaar 9 maande 17 ure oud


rede
goed gedoen Zellie
3 jaar 9 maande 4 dae 11 ure oud


ons rede 11
Heerlik gelees!
3 jaar 9 maande 4 dae 12 ure oud



VuurWerke

deur die Posman

n versameling liefdes gedigte wat die stormagtige verhouding tussen man en vrou uit beeld, en ander gedigte.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar