Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende





Neem jy Dirk Reynecke vir Elize Botes as jou wettige vrou ...

__________________

Dirk-man het gevra en sy Prinses het gesê ja!

__________________

So het dit begin

Erna (Dirk se oorlede vrou) het vir Michelle en Bianca skoolgehou. Sommer gou het Dirk en Erna die plekkie van ‘n tweede pa en ma in my Michelle se lewe ingeneem. Michelle het gereeld vir Lizandré en Elandi gaan oppas as hul pappa en mamma afsprake gehad het of sommer net by Erna gaan kuier. Baie hartseer het gevolg toe Erna afskeid geneem het van almal. Die Botes’e en Reynecke’s het herinneringe gedeel en saam gehuil. Alhoewel Elize nie oor en weer by Dirk en Erna gekuier het nie, het sy wel in kontak gebly deur die kinders wat so oor en weer gekuier het en kon sy dus die Reynecke's se hartseer verstaan en deel. As die stilte te veel geword het vir Dirk, het hy maar by Elize gestop vir ‘n koppie koffie en gesels.


Die gemis aan Erna se nabyheid het aan Dirk begin knaag en hy het besluit om, nieteenstaande die gemeenskap en sy familie se teenstand en voorbehoude, met Erna se jarelange ongetroude, geskeide en weduwee vriendinne afsprake te maak. Michelle was reeds uit die huis en, siende dat sy dogters vertroud was met Elize, het sy Michelle se “babysitting” van die afgelope jare oorgeneem en hulle opgepas as Pappa uitgaan. Dirk het haar ook sommer spontaan betrek by die taak van ‘n “sussie” om betyds voor ‘n “date” by sy huis te wees om vir hom die regte klere en naskeermiddel uit te soek waarmee hy sy “date” se voete onder haar sou uitslaan! Groot pret het gevolg met elke “babysit” en Elize en die drie dogters het weddenskappe aangegaan oor hoe laat Pappa tuis gaan wees ná sy afsprake! Net so groot die teleurstelling as Pappa vroeg tuiskom en die afspraak nie was soos almal gehoop het nie! Oor ‘n stomende beker Hot Chocolate moes Dirk al die details van die aand se “date” gee en daarna het Bianca, Lizandré en Elandi kamer toe gegaan om te gis en te wonder oor Pappa se “date” en die toekoms. Nog ‘n beker Hot Chocoloate om die bibberende wintersaand se koue te verdryf en Elize luister met ‘n simpatieke oor na die fynere details wat nie vir die dogters se oortjies bedoel was nie.


Vele aande van Hot Chocolate en baie gesels het gevolg. Na elke “date” was dit ‘n volledige terugvoering en na elke koppie koffie en bosse blomme wat deur die loop van ‘n dag vir ‘n vriendin ingepas was, het Dirk vir Elize gebel om “verslag” te doen of haar sommer net as ‘n klankbord te gebruik. Elize het Dr Phil en Oprah se webtuistes begin “surf” om raad vir Dirk se liefdeslewe te kry en sy e-pos se Inbox op ‘n gereelde grondslag gevul met “tips” oor hoe om ‘n meisie se voete onder haar uit te slaan. Selfs die selfoon is ingespan om sms’e te stuur om Dirk te herinner watter dag om blomme te stuur vir die meisies en wanneer om net by koffie-afsprake te hou. Dirk se motor het kilometers opgesit, sy Hot Chocolate voorraad is elke week aangevul, sy selfoonrekening het radikaal gestyg en sy vriendin by die blommewinkel het nie meer vrae gevra nie. Lizandre en Elandi het teen hierdie tyd geweet daar is ‘n keuse tussen 2 tannies vir Pappa en het die voor- en nadele met Tannie Elize bespreek. Pappa raak redelik meegevoer deur een van die tannies en ‘n baie spesiale afspraak word gemaak. Dirk en Elize het hulle voete deurgeloop die paar dae vantevore om vir hom ‘n spesifieke leerbaadjie te koop om sy vriendin te beindruk. Charlene, Dirk se persoonlike assistant, moes ook einde laaste saamry om ‘n baadjie te soek en moes ure lank luister na sy opgewondenheid oor sy afspraak.


Die oggend voor die afspraak het ‘n opgewonde Dirk sy baadjie uiteindelik opgespoor en het dit met baie trots en hoop aangetrek die aand. Elize het hom gehelp om klere uit te soek en die regte naskeermiddel uit te haal en vir oulaas “tips” gegee oor die moet’s en moenie’s vir hierdie spesiale afspraak. Weereens volg ‘n mislukte aand en Pappa is vroeg terug. Hierdie keer was die teleurstelling selfs nog groter want Pappa het baie uitgesien na die aand maar die tannie het nie eers sy nuwe baadjie opgemerk nie! Die normale terugvoer aan die kinders word gegee en dan is Dirk en Elize alleen om weer die fynere details te bespreek. Weer die troostende Hot Chocolate op ‘n koue wintersaand, steeds ‘n simpatieke oor van Elize en Dr Phil en Oprah se wyse raad. ‘n Rukkie later word hulle verras met ‘n skinkbord vol koekies en mega bekers Hot Chocolate ... en ‘n briefie van elke kind af! Elke dogter het ‘n briefie geskryf waarin hulle Dirk en Elize se positiewe punte uiteensit en ook redes hoekom ‘n verhouding tussen hulle sal werk. Soveel opregtheid en wow, soveel oortuigende redes! Bloos en lag. Wat ‘n amusante gedagte en situasie want hul het nog nooit eens ‘n gedagte gegee aan iets meer as vriendskap nie. Na baie gesels is hul lag-lag uitmekaar in die vroeë oggendure.


Oppad huistoe het Elize en Bianca steeds gegiggel terwyl hulle die briefies bespreek. Maar .. iewers is ‘n saadjie geplant ... en iewers het die briefies se woorde stof tot nadenke gelos! ‘n Selfbewustheid het ingetree ... vlinders het skielik kom nesmaak in Dirk en Elize se pensies ... en dit was asof hulle mekaar deur ander oë raaksien ...

Beplanning vir die groot dag ...

_________________

Die uitnodigings

Die kaartjies word met die hand gemaak. Wit met wit-blink ‘angel hair’ en ‘n silwer koets bo-op met ‘n vlinder. Ek het ons heel eerste gedigte gebruik wat ons vir mekaar geskryf het. Die kaartjie is in drie gevou ...

Ons sprokie

Hoofstuk 1
Hulle het mekaar baie jare lank geken en haar dogters het hom en sy vrou as hul tweede ouers beskou. Ná Erna se afsterwe het Elize vir Dirk se dogters 'babysitting' gedoen, hom gehelp met sy 'dates’ en altyd ‘n koppie koffie en ‘n skouer gehad wanneer die eensaamheid te veel geword het vir hom. Maar skielik was daar vlinders op haar maag toe hy een Sondagaand vra wat sy vir hom voel ...

_____________

Hoofstuk 2

My dierbare Dirk-man
Weet nie hoe’t dit gebeur dat ons mekaar in liefde kon vind …
jy was net ‘n vríénd waarmee ek glad nie sou bind.
Ons het altyd gelag en koffie gedrink - jou stem en gesels het vrolik geklink.
Toe kom die hartseer en baie rooi rose - Erna was weg, deur God Self verkose.
Vinnig moes my hart ‘n wag of twee kry - vir jou was ek bang, jy was enkel en vry!
Ek wou jou nie raaksien vir meer as ‘n vriend,
was gerus in die wete jy’s met ‘n skouer gediend.
Dae en nagte het ons gesels en geterg -
oor elk’denkbare onderwerp, maar gevoelens verberg.
Ek het die internet ge’surf’ om vir jou raad te kon kry
oor hoe om jou ‘date’ van haar troontjie te laat gly,
vir jou tips gegee oor woorde en blomme -
gesien hoe jou ogies lyk nes Oubaas-se-honne,
selfs ook gegaan om ‘n hemp uit te soek - lekkerruik-goed en raad uit ‘n boek!
Die ‘date’ wou nie werk en ek wou jou troos -
oortuig jy is stukkend, vir haar was ek boos!
Die kinders skryf briefies en allerlei liefies,
ons lag en ons bloos, maar ons harte bly suutjies.
Eensklaps verander álles om ons - die kyk in ons oë en ons harte wat bons …
Jy vra wat ek voel, my keel trek skoon toe – ék kon nie antwoord, weet nie wát jy bedoel!
Die kokon vol vlinders was skielik nou los - my magie die draai, my hartjie die bons!
Na al hierdie jare was my hart aan die brand -
Jy word toe mý Dirk-man, die prins in mý land ..

My Liefste Prinses
Ons kry weer die kans om voor te begin - om weer te lewe en te bemin ...
Die lewe lyk swaar, die toekoms so koud –
tog verseker U ons, wees nie benoud.
"Jou voete voel soms gemaak so van klei - vasstaan my kind, Ek sal vir jou lei!
Dié versekering gee Ek jou nou, Ek is jou God - hou vas aan My liefdesgebod!
Ek belóóf jou jy sál liefde weer vind - moenie nou afdwaal, bly vas glo my kind -
Haar naam is Elize, Ek stuur haar vir jou,
sý sal jou liefhê, opreg en getrou .."
Dankie Jesus, dankie vir haar - sy is die perfekte liefdesgebaar!
Sy is so prágtig, mooi en só sag - straal net van liefde, sonskyn en lag!
Sy het ons lewens weer 'n reënboog gegee,
dankie vir die bande wat ons nou saam kan smee.
Elize my Prinses, jy was en is stééds vir ons daar –
met my hele lewe sal ek jou bewaar.
Jý is vir óns gestuur as geskenk –
die liefde saam, dit sal ons herdenk.
My liefde vir jou, altyd en ewig –
mekaar nou gevind en met God staan ons stewig!

______________________

Hoofstuk 3 van ons sprokie sal afspeel op ‘n pragtige herfsdag
Saterdag, 19 April 2008 om 16:15 te Onderstepoort Lapa, Pretoria


(vervolg)



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar


picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar