Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Vanoggend luister ek hoe die geelperskereën in die lemoenboorde val, so al asof jy dit gestuur het. Die soet geur van lemoenbloeisels is met die aroma van vars lentereën vervang. Die reëndruppels hang in perfek gespasieërde rye soos kristalstringetjies oor die rand van my stoep se sinkdak en plons dan ritmies teen die grond vas, waar ek staar na die klein plassies water wat net-net begin raak aan mekaar om poele te vorm.

Dit laat my terugdink en herinner my weer aan daardie dag, ń jaar of wat gelede, toe jy my die ou kliphuis langs die dam gaan wys het.

Dit was ook ń geelperskereëndag soos dié...

Daar waar die Witwatersberg en Magalies se vingerpunte nét aan mekaar wil raak, reg teen Harties se oewer.
Soos ń statige ou kasteel deur tyd verweer het sy deur dissels en boskaas vir ons geloer. Oud en vol karakter staan sy net daar terwyl ek die nostalgiese ou plek met bewondering aanskou, en wonder hoeveel spoelklip daar gebruik is om die reus van ń huis te bou en hoeveel handearbeid en maande se swoeg en sweet daarin gegaan het.

Jy het vooraf met die eienaar gereël en ń ou skepsel wat ouer as die ossewawrak in die voortuin was, het vir ons die sleutels gegee sodat ons die plek kon verken.

Eers het ons die tamaai klipskuur langsaan betree. "Pandora se doos"! Die skuur se houtdeur kraak moeg toe ons dit oopstoot. Daaragter staan die antiekware en ougoed soos vergete skatte, tóé onder stof en spinnerakke. Plek-plek tot teen die dak opgestapel. Ons snak omtrent gelyk na ons asems soos ons in verwondering die ougoed voor ons aanskou. Ou koffers uit my ouma se ouma se tyd, spieëls met die mooiste rame, skilderye wat my aan Pierneef se vroë werk herinner, kaste, banke, tafels. ń Stokou "pram" met die groot wit speekwiele en wit leer oortreksels wat nog sulke surkustent hangseltjies alom die rant van die sondakkie het. Kapstokke, katels trommels orals.. Die verwaarlose ou gaas en ogiesdraad koelkas was een van ons gustelinge. Ek het hom al sien staan in die kombuis, net so duskant die gietysterstoof wat ons nog op ouma se plaas moes loop haal.

Dat soveel ougoed net so moes agterbly en tot niet gaan het my verstand heeltemal te bowe gegaan.

In die voortuin oppad na die kliphuis was die ossewawrak... sommer so onder ń vervalle afdak geparkeer. Alhoewel al sy ledemate en wiele nog in plek was, kon ń mens sien dat hy ook al sy dae gehad het.

ń Perfekte fokuspunt vir die voortuin het ek gedink. So paar mandjies met Gesiggies en Petunias aan die sypflappe gehang, ń geroesde melkkan of twee en ń driepoot gietysterpot ook vol blomme so hier en daar, en voila!

Later abba jy my oor die voordeur se drumpel waar ek amper nog ń floute kry. Van verbasing val my bek oop en al wat ek kan uitkry is; wow en wow en nog ń wow! Dis asof my woordeskat my heeltemal in die steek gelaat het en net ń mond vol wows oorgebly het.

Bo ons span die grasdak styf oor die hoë balke wat dit al vir soveel jare getrou steun.
Bo en onder elke houtraamvenster, ń sleeperwood insetsel in die mure vir dekorasie en die klipkaggel....
Ek het ons al voor daai kaggel gesien... Net soos die anderdag toe ons sommer die enkelbedmatras op die kombuisvloer voor die kaggel gegooi het en net daar geslaap het nadat ons ń bottel Perske shampanje en ń vet vrysessie deurgewerk het....net so ja!

Die oopplan soldertjie wat afkyk na die sitkamer sou ń ideale kuns en skryfstudio maak. Ek kon al sien hoe ek my kleursepter oor die verfdoek swaai en my eie magic maak of saans daar in vrede skryf terwyl jou sagte poef-poef snorkies my ore besing.

By ń groot dubbel houraamdeur loop ons uit op ń hengse patio. Reg teen die oewer met die mooiste uitsug oor die dam. Hier dink ons... kan ons naweke skaapstertjies en boerewors braai en saam met ons gunsteling braaibroodjies geniet terwyl die kleinkinders en honde jolig in die tuin baljaar. Saans kan ons hier saam na die sterre kyk terwyl die maan die dam verglans. Om nie eers te praat van die beeldskone sonsondergang wat van hier af bewonder kan word die. Dié het ons mos reeds vanaf ons picnic kombersie op Oxwagon Logde se koel groen gras te siene gehad en beter as dít sal mens nie sommer kry nie.

Regs lei ń stel trappe ons af na ń boskaas wat met groen vingers en baie liefde weer in ń pragtuin en welige grasperk omskep kan word.

Ons wou die plek met alle geweld koop en het sommer daar en dan besluit om die eienaar te kontak en prys te praat. Terug by die huis het ons ń lysie van koopgoed uit die skuur vir haar ge-epos asook navraag oor die prys van die eiendom....

Onthou jy hoe ons planne gemaak het, so tussen die lugkastele en wag op haar terugvoer deur? Ek wou de laaste besitting smous en in daai klippondok van ons instop om ń nuwe lewe saam met jou te begin.

Intussen moes ek weg vir ń rukkie, 8 weke se intense netwerk opleiding het soos ń berg voor my gelê. ń Berg wat ek maar liewer moes vermy... Daarna sou ons saam vakansie gaan hou.

Jy kon nie genoeg vir my sê hoe lief jy my het en hoe die verlange jou opvreet nie. Ek moes soms net keer of jy spring saans in jou kar en ry amper 3oo kilometer heen en weer om te kom kuier. Terwyl ons saans tot laat oor die foon gekuier en gevry het, was ek salig onbewus van die sluwe komplot.

Tussen my opleiding en die storm wat begin broei het tussen ons, het ek nog Woensdae en naweke huistoe gegaan want die verlange het my ook opgevreet. Minwetend dat jy in my afwesigheid sommer aanbeweeg het en reeds besig was met ń sameswering om van my ontslae te raak.

Nadat jy alles aan my verbeelding en die molshope wat ek in berge verander het, toegeskryf het, het ek tóg besluit om weg te gaan vir ń rukkie. Ons het albei baie gehad om oor na te dink en ek het dit goed gedink om afstand en nuwe perspektief te kry.

Weereens het jy jou oë uitgetjank en kon jy kammig nie sonder my nie. Jy het jouself dood verlang en gehuil oor hoe leeg en eensaam jy en die huis sonder my was. Selfs die visse het gevrek het jy gesê. Die arme hond het heelnag voor ons kamervenster lê en tjank, en ek het alles geglo.

En toe verdwyn jy... weer.

Ek sal daardie dag nooit vergeet nie. Die oggend het jy my nog kort-kort gebel en wou elke vyf minute in jou kar spring om my te kom haal.

Ek het my besigheidsake gaan afhandel en het daardie middag baie goeie nuus gekry wat ons hele situasie sou verander. Ek kon nie wag om dit met jou te deel nie maar kon jou net eenvoudig nie in de hande kry nie. Ons finansieële laste het saam met jou in die niet verdwyn. Ek was oorstelp van vreugde en jy, op vrye voet... Stil soos die graf... nie ń woord of eers ń boodskap verder om my te laat weet dat jy nog lewe nie. Ek sal nooit daardie klem om die bors gevoel vergeet waarmee ek vir die volgende drie dae moes rondloop nie. Dit was die langste en mees traumatiese paar dae en naweek wat ek ooit beleef het, want ek het geweet...

Later sou ek uitvind dat jy ons klippondok en ossewawrak verruil het vir die pleisterbousel saam met jou "business partner", (soos jy dit gestel het), en dat die hele ding net n besigheidstransaksie is, n laaste finale poging om jou van bankrotskap te red. Sommer netso oornag! Sonder ń totsiens, ń verduideliking of eers ń jammer. Nie eers ń "thanks, but no thanks nie"!

En nou...
nou staar jy deur jou glashuis se verdofde vensters met ń uitsig na nêrens, en sê jys nie gelukkig nie en...

en ek...
ek sien hoe die waterplassies poele maak, terwyl ek "Geelperskereën" van Anton Goosen saggies neurie en wonder,
of jy die ou kliphuis by die dam nog kan onthou..


***
Nie alle feeverhale het ń gelukkige einde nie maar meestal is ń einde van een ding, die begin van iets nuuts en sóveel beter. Nie almal kan teruggaan en n nuwe begin maak nie, maar enige iemand kan vandag begin om n nuwe einde te maak...



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

kliphuis
Daar's soveel potensiaal in hierdie storie. Ek stem saam met Corina: show, don't tell. Wys hoe gelukkig hulle daar was (deur dialoog in te bring waar hulle self kan sê hoe gelukkig/ verlief/ wat ook al hulle is). Wys jou heldin se reis (vanaf daar tot terug na die werklikheid en hoe sy uitvind dat alles nie altyd Disney mooi is nie). Jou leser wil saam met jou heldin dinge ervaar. Maak die beskrywing van die plek deel van die heldin se storie (alles is mooi wanneer sy gelukkig is; alles val uitmekaar, daar's spinnerakke wanneer sy ongelukkig is).
Stories vat vorm, karakters stap hul eie draaie en nuwe idees neem oor tydens die herskrywing. Lekker skryf.
3 jaar 11 maande 3 weke 2 dae 20 ure oud


Kliphuis
Ek het nou lekker saam met jou deur die kliphuis gestap.jammer jou drome het toe nie waar geword nie.
4 jaar 1 maand 2 dae 15 ure oud


Kliphuis.
Mmmmm. Ek ruik daardie perskebloeisels en die heerlike reen wat val.Lieflike beskrywing. Dalk so hier en daar teveel detail, maar ek het baie lekker gelees.
4 jaar 1 maand 2 dae 16 ure oud


klip
Ek dink Corina is reg. Dis 'n baie mooi en goeie manier om die storie te begin. Dit is dalk glad nie nodig om al die detail oor die huis se geskiedenis te gee nie. Die beskrywing van die huis en omgewing moet wel bly. Dis maar net my onkundige opinie, hoor. Die storielyn is goed.
4 jaar 1 maand 3 dae 4 ure oud


Kliphuis
Hierdie is 'n perfekte begin vir jou storie . . .

"Vanoggend luister ek hoe die geelperskereën in die lemoenboorde val, so al asof jy dit gestuur het. Die soet geur van lemoenbloeisels is met die aroma van vars lentereën vervang. Die reëndruppels hang in perfek gespasieërde rye soos kristalstringetjies oor die rand van my stoep se sinkdak en plons dan ritmies teen die grond vas, waar ek staar na die klein plassies water wat net-net begin raak aan mekaar om poele te vorm."

En dan los jy al die vertel – en wys (net soos jy in hierdie pragtige paragraaf hierbo gedoen het) – die storie klaar.
4 jaar 1 maand 3 dae 7 ure oud


Onthou jy nog die kliphuis langs die dam...
Baie, baie goed geskryf.
Het dit baie geniet, hou aan met skryf.

Groete
4 jaar 1 maand 5 dae 10 ure oud


Onthou jy nog die kliphuis
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die BOUVAL EN WRAK projek.
4 jaar 1 maand 5 dae 22 ure oud



Grafte op die Berg

deur Johannes de Swart

Prosigma, dagboek van 'n paranoiese skisofreen



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar