Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Dit is om my kop weg te vat van die lelike dinge wat my lewe oorheers.
Die onderwêreld.
Wyl ek die duiwe van die stad hier op my vensterbank voer en afkyk na die woelende, altyd op hol menigte daar onder en die alewige ry-stop-ry-stop onophoudelike toeterende motors, is dit my werk om tussen daardie menigtes in te kyk.
Tussen al daardie eerlike, hardwerkend-om-n-lewe-te-probeer-uit swoeg, is die euwels, die aasvoëls, die kroeks van die lewe.
Dit is my werk; om as speurder hulle uit te snuffel, uit-oorlê en hok te slaan en dit is nie ’n mooi skilderagtige lewe nie. Daarom skryf ek in die nagte hier vanuit my kantoor en ander kere in my –soms eensame- woonstel en vertel stories oor rose en blomme en mooi en liefde en blydskap en vat die stiffie dan vir Rina, die kantoor dame wat ons span speurders se liassering doen en sorg dat hier altyd ’n bottel in my lessenaar se linker boonste laai lê en tussen haar werk deur dan ook my stories redigeer en poleer.
Sy doen ook privaat werk vir my – loop doen sekere navrae en uitvind van dinge wat ek wil weet; verder weet ek nie veel van haar lewe nie en weet ek niks van ander vroumense se lewens nie, omdat my werklewe en skryf lewe gekompliseerd genoeg is.

Ek trek die venster af en sit dit op knip. Die kantore is leeg want al die manne is met hulle leërs onder die arm uit op straat agter die kroeks aan . By Rina se lessenaar doen ek die normale; haal die blom uit die kraffie op haar lessenaar en gooi dit in die kantoor se algemene vullisblik.
Rina kry elke oggend ‘n vars blom ruikertjie wat oom Josh, die blommeverkoper by sy stalletjie, spesiaal vir my reghou. Net een mooi blom versier met een of ander groen blaar of iets . Oom Josh weet hoe ek daarvan hou.

Ten spyte van ’n stapel leërs met ondersoekwerk, besluit ek om vanaand reguit huis toe te ry. Ek gaan vanaand skryf aan my liefdesverhaal – my eie afgeskeepte wêreld van illusie omskep in woorde.
Oom Josh is ook besig om op te pak toe ek net verby sy winkel stop by die wegneemete plek. Die hele massiewe gebou van tien verdiepings behoort aan oom Josh. As enigste kind van ou oom Sam Levin het hy die hele blok ge-erf. Oom Sam was een van die stigters van die Stad. Oom Josh het drie kwart van die blok verkoop en met die geld hierdie, destyds die hoogste gebou in die stad opgesit. Hy het ook nooit getrou nie en ’n woonstel vir homself heel bo ingerig en verhuur die res van die gebou as kantore en die grondvloer het ’n paar winkels met sy blomwinkel wat hy met groot oopskuif deure amper deel van die sypaadjie maak. Langsaan is die wegneemete plek .
Ek sien jong Dave is besig om oom Josh te help met die oppak. Dave is ’n weggooi seun wat oom Josh nie- amptelik aangeneem het. Van jongs af het die seuntjie se belangstelling in blomme en plante hom laat kom kuier en also het ’n verhouding tussen hom en oom Josh ontstaan en oom Josh het vir Dave van die slegte familie waar hy gewoon het weggeneem, hom skool toe gestuur en hy is vanjaar in matriek en die twee manne kyk na mekaar.
Dave noem hom ook as pa Josh en die eer en respek blink in die jong Dave se oë as hy en sy ‘Pa’ Josh vrolik tussen die werk deur gesels.

“Naand Willem.” Groet Josh eerste toe ek voor die ete plek se deur stop en vir die twee manne kyk.
“Naand Josh, ja man, ek gaan ook vroeg huis toe vanaand – môre is Vrydag en die na-week sal soos gewoonlik die skelms uit die skuilings jaag om ons polisiemanne se toorn te ontsteek”
“Nou toe, gaan en geniet jou skrywery ekself moet ligdag al weer oopmaak want ’n blomboer van Brits se wêreld kom lewer Angeliere af. Ek sal vir daai langbeen kantoordame van jou ’n mooi ruikertjie maak.”
“Dankie Josh, sien jou dan in die oggend.” Ek gaan die winkel binne om iets vir ete te kry en dink aan die ou man. Ek is ’n lat van veertig jaar en oom Josh is al oor die tagtig jaar oud maar hy wil niks weet van ’n ge-oom storie nie; hy is Josh en net Josh vir almal.

My roetine is om eers te stort en my gemaklik te maak, dan met my drankie voor die rekenaar te gaan sit en my gedagtegang weer op te tel wyl ek rustig aan my drankie sip – op ’n leeg maag mag ’n man tog nie eet nie - en dan eet-eet te skryf aan my storie. Ek tas deur my sakke na die stiffie wat ek gebruik en besef; Ek sal moet terug kantoor toe, Rina sit dit gewoonlik op my lessenaar neer en my geheue is deesdae op ander plekke as daarby wat van belang is.

Ek stop sommer in die straat om gou die hysbak te vat en moes spring om uit die pad uit te kom van die jong klomp op hulle wieletjie planke wat snags die stil paaie en sypaadjies oorvat en resies jaag en wild en wakker tussen die geboue deurvleg.
Hierdie is ook glad nie so onskuldig as wat dit voorkom nie, want die is handsak rowers en snuif ruikers en winkel rower jeug bendes wat ’n massiewe probleem word. Hulle gevegte onder mekaar vir area afbakening ruk ook hande uit en die graad van besering word al hoe erger.

“Naand oom Willem – askuus oom Willem !” en hy spoed verby en ek is verstom om te sien dat jong Dave van oom Josh tussen hulle is. Dit is verkeerd en ek sal dit môreoggend met Josh bespreek!
Al die pad terug ry ek in geskokte toestand. Wat ek nou gesien het, is te naby aan myself. Ek en Josh ken mekaar al vir langer as twintig jaar en ons is vriende en Dave mag net nie met hierdie skuim bendes meng nie. Dit ontstig my só dat ek nie verder kan skryf nie maar op die balkon gaan sit en drink en redeneer en luister na die stad se nag geluide wat oorheers word deur ambulans- en polisievoertuig se sirenes.

Ek stop vroeër as gewoonlik na ’n onrustige nag by Josh. Ek wag dat hy die boer wat die bakke vol Angeliere gebring het betaal en loop vir Josh tromp-op. Sy verbasing skok my meer. Hy glo niks wat ek sê nie en ek weet onmiddellik: Dit is die jeug se onverantwoordelikheid. Josh is oud en slaap soos ’n vark. Dave slip uit die woonstel en dan gaan jol hy die strate en besef nog nie die gevaar nie. Die bendes is slu en werk stadig tot hulle die nuweling binne hulle web vang.
“Josh, luister. Moenie met Dave praat nie. Ek is na skool hier by jou en sal die saak hanteer. Dave sal dink jy wil hom net aan bande lê.”

Ek het geweet wat ek te wagte gaan wees van Dave. Ek het Rina gestuur om hom te gaan haal en het hom hier in my kantoor vir ons man-teenoor-man praatjie:
“Oom Willem, ek weet van sulke dinge maar hierdie is nie skelm ouens nie, ek ry al vir twee maande snags saam met hulle en ons speel net lekker.”
“Dave, antwoord my net een vraag: Is julle elke nag dieselfde groep of wissel die groep?”
“Oom hulle wissel want dis te verstane dat almal nie elke nag beskikbaar kan wees nie .”
“Dit is jou fout seun – die wat nie daar is nie, het gaan kwaad doen. Glo vir my. Dit is weer na-week en hulle gaan weer handuit ruk, bly asseblief weg.”

My Saterdagaand het verbygevlieg. Ek moes van kroeg-tot-kroeg beweeg op soek na ’n spesifieke persoon en uitgeput klim ek teen drieuur die oggend eers in my bed.
Dit was ligdag toe my foon my wakker lui en ek sien dis een van my kollegas: “ Willem, kom hospitaal toe, hier is iemand wat jy ken en roer jou.”
Sulke oproepe kom gewoonlik van ongevalle af en ek jaag met my motor se serene aan deur die stil vreedsame Sondagoggend stad strate. Ek sien Oom Josh eerste in die allervreeslikste toestand steeds in sy pajamas:” Willem, ek het die woonstel toegesluit maar hy het die sleutel gekry. “
Dave lê en ek herken hom nie terwyl hulle hom wegstoot na die operasiesaal. Hennie, my kollega wat geskakel het, vertel dat Dave net gesê het hulle het hom na die verlate parkeer area gevat en daar gaan stukkend slaan omdat hy gesê het jy sê hulle is skelms.

Dave het nie die paal gehaal nie en oom Josh is ’n wrak. Ek het effens ’n skuld gevoel en moes besef het dat deur vir Dave in te lig, het ek hom by die bendes dadelik ’n informant maak. Hulle het nie gedink dat hy nog ’n paar uur sou leef nie.

Oom Josh het eers teen Woensdag die winkel oopgemaak. Dood en verlepte blomme weggesmyt en verbasend koel en kalm die begrafnis reëlings getref volgens Joodse geloof:
“Willem, al was hy in bloed nie myne nie, was hy in siel en wese soos ek vir die tyd wat hy aan my geleen was.”

Ek het my beste gedoen maar telkens in ’n doodloopstraat beland. Die bendes werk in sirkels en die een sirkel weet nie van die ander nie en uit die klomp met wie Dave gemeng het, kon ek niks kry nie.

Drie maande het verloop. Oom Josh het sy lewe voortgesit en dis net sy oë wat vir my, wat die ou oë geken het, verander het. As speurder is oë belangrik. Die oog praat en vertel meer as woorde. Oom Josh se oë het van blou-blou na blougrys verander en hy het stiller geword en ek weet: Hy mis sy Dave seun.

Dit het ritmies op mekaar gevolg. Jong man met kopskoot se lyk word op die sypaadjie gekry. Een per week, soms twee per week en daar is in vyf weke al twaalf deur die polisie lykshuis.
Dieselfde kaliber patroon, soms van die kant af, soms van vooraf soms van agter af – presies en akkuraat. En die strate het stiller geword snags.

Ek het aanvanklik vir oom Josh verdink. Maar die moontlikheid uitgeskakel. My wagte het getuig dat oom Josh nooit die gebou snags verlaat nie en dat geen skote van hierdie omgewing kom nie alhoewel al die lyke binne ses blokke vierkant van hier gevind word.
Ons soek dus ’n reisende reeksmoordenaar wat sy mes in het vir die jeug bendes.

Paniek begin die middestad se inwoners tref. Die polisie is diskreet en die Pers weet van ses lyke maar die werklike syfer trek al by agtien en toe ek vanoggend na ’n uitputtende na-week op kantoor kom, is Rina terug van haar week se verlof en ek het vergeet om haar blom te koop en sy sê:
“Jy is laat en die baas wag vir julle!”
Ons verdaag eers laat na baie beplanning en uittrap en plan van optrede en bespreking en ek is honger en ek besluit om eers te ry vir iets te ete en sommer Rina se blom te koop. Ek kry my ete en sien nie vir Josh buite nie en loop na binne en roep. ’n Deur na regs gaan oop en drie manne met donker bril, snyers pakke klere en Joodse mussie op die agterkop kom uit en vleg vinnig by my verby en Josh volg ’n paar sekondes later en trek die deur agter hom toe.
Ek sien onmiddellik dat ek uit plek en tyd is en Josh is vir die eerste keer dat ek hom ken effe senuagtig met die uitsoek en hanteer van die ruikertjie en ek wys niks maar weet dat ek binne-in die bol mis getrap het.
Moenie met die Jode mors nie.

Ek gee vir Rina haar blom en versoek om nie gesteur te word nie en terwyl ek peusel bekyk ek die groot kaart met die kruisies op en ek bekyk oom Josh se gebou en ek trek van die vierkant van sy gebou, wat troon oor al die omliggende geboue, pylreguit strepe na al die kruisies en vind dat sommige strepe meer as agthonderd meter lank is wat dinge effe ongelooflik maak maar die streep is reg en op een of ander bo-natuurlike manier kan dit tog waar wees.

Ek wag tot Vrydag en met my blom koop, lieg ek vir Josh en vra ’n spesiale ruiker want dis Rina se verjaarsdag. Vir Rina vra ek om te wag tot agtuur die aand wanneer Josh die gebou se buitedeure sluit, hom dan te bel en vra of jy vir hom ’n stukkie koek kan opbring na sy woonstel. Ek hoop en bid net dat hy nie self afkom nie.
My planne werk en ek slip saam met Rina in en wag binne ‘n toilet dat sy die gebou verlaat en versuim nog ‘n drie ure tot middernag en stap die stel trappe , die hele tien verdiepings op na bo.

Ek huiwer reg voor sy deur en oordink. Indien ek verkeerd is, het ek groot moeilikheid. Indien ek reg in my vermoede is, is die saak opgelos en ek tree terug, skop vas teen die muur en loop Josh se deur storm soos die beste voorry stut maar kan droom en skouer die deur en pers my lippe op mekaar vir die pyn maar val met die deur en al Josh se woonstel binne en strompel vinnig deur om in die kombuis ’n sydeur te sien oopgaan en Josh kom in, nog volledig aangetrek en baie kalm:
“Naand Willem, dit was nou nie ’n mooi manier van inkom nie.”
Uit onseker, uit respek, uit weet nie of ek reg is nie hakkel ek effe:
“Oom Josh, ek dink ons twee moet praat.”
“Ek het nie ’n probleem nie Willem, ek het vrede want ek het die stad gereinig. Julle moet hom nou net so hou en dissipline handhaaf. Sit, ek gaan haal net my beker koffie.”

Ek is vir ‘n oomblik van koers af, gaan sit en sien oom Josh weer by dieselfde deur uitgaan en ek kan nie wag om sy storie aan te hoor nie en wag nog ’n minuut of wat en dit flits deur my brein:
“Ons is op die tiende en laaste verdieping!” En ek hol by die deur in, die stel trappies op na die dak.
Die toneel is feetjie land. Die pragtigste tuine met liggies en fonteine wat spreek uit jare se opbou en uitbou en ek loop tussendeur die sement geboude blombeddings en op die een rant staan dit en my liefde vir wapens en kennis spring in rat en ek bereken:
Dit is 2010. Josh was 25 gedurende die tweede wêreldoorlog. Hierdie langloop .22 geweer op sy staander met manjifieke teleskoop is ‘n Joodse skerpskutter geweer en is dodelik akkuraat tot op twee kilometer !

Ek kan weens die vensterbanke nie oor die rant tot op die sypaadjie sien nie en ek skakel die klagtekantoor om die lyk te kom uitken.
Binne , op die sitkamertjie se koffietafeltjie, lê foto’s in volgorde uitgesprei, van al die slagoffers en ek weet: Josh se agente het hulle werk gedoen.
Op die koffietafeltjie sien ek die netjiese koevert aan my gerig en ek maak dit huiwerig oop. Brief bomme is nie vreemd nie.
Die eerste briefie lê bo-op met my naam op ek maak huiwerig oop en lees:
“Willem, sit ’n vier-en-twintig uur bedanking in – jy mag dit doen – en vra vir Rina om haar hand. Indien julle twee wettig getroud is en dit kan bewys, vat die tweede brief – wat ‘n afskrif is – na die Prokureur daarop gemeld. Ek weet julle twee hoort bymekaar.”

Ek maak die tweede brief oop. Dit is ’n afskrif van Josh se testament. Ek en Rina is die benoemdes.

Willie F van Tonder
2010/03/12





Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

***
Boeiend en interessant -- goed geskryf!
6 jaar 6 maande 1 week 2 dae 17 ure oud


Josh
Dis so lekker dat daar altyd so stukkie romance aan die einde van jou stories uitglip. Jy was te haastig om die aap uit die mou te laat. Dit moes 'n vervolg gewees het. Great verhaal!
6 jaar 6 maande 1 week 3 dae 23 ure oud


Net sowel
Dis so 'n lekker storie - dit kon net sowel 'n waar verhaal gewees het.
6 jaar 6 maande 1 week 4 dae 1 uur oud


Boeiend
Sjoe! Kon nie ophou lees nie!
6 jaar 6 maande 1 week 4 dae 1 uur oud


kommentaar
Hou van n lekker speurverhaal. Kort net springmielies. Hierdie een kan vervolg. Baie goed.
6 jaar 6 maande 1 week 4 dae 6 ure oud


Benoemdes
'n Goeie kort speurverhaal. Lekker gelees, dankie Willie
6 jaar 6 maande 1 week 4 dae 11 ure oud


Oom Josh Levin
Mooi geskryf, Willie :) Boeiend en met 'n kinkel in die kabel ...
6 jaar 6 maande 1 week 4 dae 19 ure oud



Maanvrug

deur Maangodin

Die, nou al berugte, eerste erotiese Afrikaanse roman.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar