Kortverhale

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Dit is Junie-maand in die Oos-Kaap, die velde is bedek met ryp, dis koud, sommige mense is besig om hul vir die winter voor te berei, terwyl die mense in Somerset-Oos  besig is om voorbereidings te tref vir die biltongfees.  Daar gaan dit woes, dis beplanning, dis stalletjies en dan die verhoog vir die beroemdes.

Elders in die stad blaai Alice deur die oggendkoerant, op bladsy drie sien sy die advertensie van die biltongfees.  Opgewonde plak sy die koerant neer op die swarthout tafel, op die ingewing van die oomblik gryp sy haar selfoon en bel vir Estelle om die nuus mee te deel.  Na ‘n lang gesprek oor koeitjies en kalfies eindig dit af op ‘n afspraak, dit is beslis iets wat hulle vir niks gaan mis nie, dit is die hoogtepunt van die jaar.

Die Vrydag is die twee sak en pak na Njoli plein.  Die plein is besig, motors en pendel bussies arriveer en sommige vertrek.  Die smouse sit by hul stalletjies, wagtend op klante. Plek-plek sien jy jongmense sit en dobbel op die sypaadjies.  Dan iemand wat agterdogtig hulle beloer, maar op die oomblik het nie saak gemaak nie, hulle het hul eie agenda, hulle is op pad na die fees van die jaar.  Die vars groente en vrugte skep ‘n kleurvolle prentjie van lewe.  Iewers op die plein weergalm ‘n geweerskoot.  Vir ‘n rukkie raak hul opgewondenheid omskep in versigtigheid.  Hulle stap al vinniger totdat hulle die naaste pendel bussie bereik, gesels met die bestuurder, met sy gespierde arm verwys hy hulle na die motors aan die anderkant.  Estelle knik, sê dankie, en beweeg al vinniger na die motors.  Verlig glimlag die twee vriendinne vir mekaar.  Hulle gaan in een van die motors ry, so hulle gaan nie lank hier vertoef om die sitplekke vol te kry nie.  Hulle klim in ‘n goudgeel Valliant met hul rugsakke op hul skote, Alice kies die voorste sitplek.  Estelle kyk haar verbaas aan en skyf terug na die deur waar sy vir Alice ‘n sitplekkie gemaak het.   Die bestuurder stel homself voor as Boet Zondi en vra hulle om net ‘n bietjie geduldig te wees, hy sal vertrek sodra die motor vol is.  Hulle glimlag en maak hulself tuis. 

Die leer sitplekke voel koud, maar vir die twee maak dit nie saak nie, alles opoffering vir die fees van die jaar. Minute later sluit ‘n groot geboude vrou met haar baba by hulle aan. Geklee in ‘n los rokkie wat die wind mee speel  en dit opblaas soos ‘n ballon. Die twee vriendinne loer na mekaar en onderdruk hul stoute laggies agter hul rugsakke. Sy klim in sonder om te groet.  Haar swaar gewig laat die motor vir ‘n oomblik onreëlmatig dobber soos ‘n bootjie op die water.   Sy gaan sit met haar baba op haar skoot en eien die atmosfeer daarbinne net vir haarself.  Verleë en tjoepstil asem die twee vriendinne die atmosfeer in en uit.  Boet Zondi beloer die situasie en sug.  Hy kyk na sy horlosie, die tyd vlieg en tyd is geld, moedeloos en sonder enige entoesiasme stuur hy sy  motor na die nabygeleë woonbuurt, stop by ‘n huis en druk op sy toeter.  Ongeduldig vryf Boet Zondi op die stuurwiel.  Die deur gaan oop en vir ‘n paar minute wag almal in die motor vir die mense om hul opwagting te maak.   Haastig kom ‘n jong meisie en ‘n ou oom aangestap. Die ou oom dra swaar aan die bagasie, laai dit in die kattebak en beweeg terug in sy huis.  Die meisie kom rustig aangeslenter, stylvol geklee, swaai haar lyfie in ‘n ietwat uitwaaierige houding.  Sy klim in, uiter iets sarkasties in Xhosa met haar neusie in die lug.

Estelle se geesdrif vir die dag is bederf deur die onvriendelike mense.  Hulle sit maar in stilswye met al hul aandag op die pad.  Noodgedwonge vestig Alice al haar aandag op die pad terwyl sy plek-plek na die motor deksel kyk.  Na ‘n uur van stilswye vra Alice of die motor in ‘n goeie toestand is.  “Ja, ek weet net nie hoe lank die enjin my nog gaan dra nie”, sê Boet Zondi met onsekerheid in sy stem.  Alice bloos en sy voel skielik angsbevange.  Hoe kan jy ‘n paar honderd kilometer rit so aanpak, wonder sy en kyk maar deur die venster met die doel dat iets daar in die bosse haar aandag sal trek.  Hier en daar sien jy ‘n apie in die bome swaai.  Soos die motor aanbeweeg raak dit in die motor net warmer, sy draai die ruit af, maar die windjie wat inwaai maak geen verskil.  “Is die motor nie te warm nie”, vra Alice en hou haar oë op gerig op die pad.  “Die motor makeer niks”, se Boet Zondi sarkasties en ploeter net voort.  Alice kyk af na haar voete toe die hitte daar onder te onuithoudbaar word.  Sy sien rook wolkies by haar voete. “Ek dink die kar brand”, sê Alice terwyl sy die rook dampe voor haar dophou, sy sit penorent met haar aandag op die motor deksel.  Sy lig haar voete en laat dit rus op die sitplek. “Jy verbeel jou”, sê Boet Zondi half verergelik.  “Stop net die motor en gaan kyk wat daar aangaan, die motor is aan die brand”, beveel Alice hom paniekerig.  “Haal liewers jou voete van die sitplek af, hierdie motor van my is ‘n antiek wat jy nie meer hier rond kry nie.”  Sy oog op haar gerig, dan kyk hy af na die vloer, sien die rook wolkies en lig sy wenkbroue dat sy oë byna uitpeul van skok.

Hy stop die motor, gooi verergelik die deur agter hom toe, stap half aggressief na die motor deksel, maar draai in sy spoor om, en hardloop toe  die een-meter hoë vlamme hom tegemoet kom.  Noodgedwonge spring almal uit en hardloop ‘n ver ent totdat hulle nie meer verder kon nie, gaan staan en skokkend  hou hulle die brandende motor dop.  Soos hulle hardloop na veiligheid, hoor jy net voete wat veg met die klippies in die pad vir vastrap, vlamme wat wreed blaasgeluide maak.  Die stilte van die pad word oorweldig deur angskrete vir die ontploffing van Boet Zondi se goudgeel Valliant.  Die vlamme bedek die motor, swart rook besoedel die lug, die reuk van olie, petrol en braaivleis vul die lug.  Die jong meisie is meer begaan oor wat nou met haar bagasie gaan gebeur, en begin almal te stres.  Estelle hou maar haar afstand en besluit om glad nie betrokke te raak in haar tantrums nie, sy was die hele pad maar bra onvriendelik.  Na ‘n lang geskarrel tussen die vlamme haal Boet Zondi haar vlambare bagasie uit, glo my, sowaar een groot geslagte vark in stukke gesny, in ‘n vullis sak.  Die reuk van vleis en plastiek laat Estelle besef die vark het al begin braai.  Paniekerig gooi Boet Zondi die brandende sak op die grond neer.  Hy staan en gril vir die hitte-golwe wat nou sy arms getref het, raak ontslae van sy brandende hemp, en gooi dit op die grond neer.  Die hemp brand uit totdat net die silver knopies tussen die as lê.  Verleë vou hy sy arms oor sy borskas om sy grys borshare wat soos peperkorrels lyk te verberg, sy boep magie bewe onophoudelik van skok.  Die jong meisie nael na die brandende sak en begin die vlamme doodslaan asof haar lewe daarvan afhang, maar ongelukkig vir haar is dit te laat om die situasie te red.  Skelmpies lag Estelle vir die banale toneel.  Of Boet Zondi nou gebrand het of nie, het haar glad nie bekommer nie.

Hier staan hulle nou op moedverloor se vlakte, terwyl hulle die blaaiende vark  en die einde van Boet Zondi se goudgeel Valliant dophou.  Vlamme oorval die motor, dit brand tot daar aan die einde net ‘n pikswart geraamte yster oorbly. Af en toe  hoor jy geluide soos skote, wat Estelle laat ruk van skok.  Die koel windjie laat haar koue rillings kry.  Die pad is doodstil, daar is geen verkeer wat op die pad beweeg nie.  Alice neem Estelle se hand in hare, druk dit styf vas en dit stuur negatiewe seine deur haar liggaam.  Boet Zondi staan en huil  oor sy motor wat besig is om uit te brand, dit was sy brood-en-botter, sy antiek, sy alles.  Hy gaan sit op sy knieë in ‘n biddende posisie en dit is meer as net duidelik dat Boet Zondi geheel en al verslaan is.  Die groot geboude vrou se baba huil sonder ophou terwyl sy op en af langs die pad beweeg en kla oor die huidige omstandighede.  Sy bloos in ongeduld en haal  noodgedwonge  haar bors uit en voed die baba, stilte kom terwyl hy hongerig suig met blink ogies gerig op sy ma wat sus-sus op die pad patrolleer.


GEDIG VIR DIE HONGER

Is ons opsetlik blind
Om iemand se magie te bind?
Die swart vullis sak in die straat
Op pad na die rubbish dump
Vir ander wagtend ‘n maal
Hoe kan ons as mens dan faal?


Estelle gaan sit op ‘n groot klip langs die pad, haar bene bewe.  Sy besef Boet Zondi het sy kosbaarste besitting verloor, hy het ‘n diamant verloor terwyl hy te besig was om klippies bymekaar te maak.  In die lug vlieg ‘n klomp aasvoëls, hul vorm ‘n bewegende sirkel, iewers in die kranse is daar ‘n prooi, of wag die aasvoëls vir hulle om die prooi te word?  Die gevoel maak haar benoud, miskien moet sy liewers haar oë toemaak.  Skielik voel sy honger en dors, wat nou?  Na ure se sit langs die pad sien hulle ‘n trok aankom.  Boet Zondi gaan staan in die pad en wink nederig vir die trok om te stop.  Die trok gaan stop.  Voor sit twee wit mans, albei bietjie geset.  “Kan ons met enige iets help?”, vra die bestuurder.  Boet Zondi wys na sy motor en vra hulle om die vier volwassenes en die baba ‘n rygeleentheid te gee tot in Cookhouse.
Boet Zondi krap senuagtig in sy sak, en gee elkeen se geld terug.  Hy beweeg terug na die toneel asof hy probeer om die hele episode te herroep.  Die bestuurder wink hul nader, en beveel hulle om agter in die trok te klim.  “Laat die miesies maar kom voor sit, julle swartes kan almal maar agter inklim.  Verergelik klim die twee dames agter in die trok.  In haar  hart dink Estelle, Alice vandag lag ek nou nie vir jou velkleur nie.  Sy volg maar die ander na agter, want op hierdie pad wil sy nie oornag nie. Met die groot ysterdeur wat oopgewaai word aanskou hulle ‘n yskas binne, die reuk van bloed hang in die lug, dit is duidelik dat hulle karkasse in hul vorige rit vervoer het.   Die jong meisie word gevra om haar gaar vark net daar op die pad te los.   Met ‘n lang mond en gehuil los sy die gaar vark langs die pad.  “Daardie vleis sou ‘n hele paar families gevoed het.  Ons omstandighede en die werkloosheid wat seëvier op ons dorp laat veel te wense oor.  Vir ons sou daardie vark ‘n feesmaal wees”, prewel sy met haar gesig op haar knie, haar arms hou haar bene bewerig vas.  Die baba raak stil, dit is verskriklik koud in die trok, dit voel of Estelle se hande en voete gevries is, dis bitter.  Soos die trok deur die Olifants pas ry waai die passasiers agter van die een hoek van die trok na die ander.  Estelle voel bly dat Alice kon voor sit, die koue is ondraaglik en sy is baie tengerig.  Na ‘n lang ruk van stilte begin die vrou met die baba aanhoudend aan die venster kap vir aandag.  Sy wil voor sit, want die vrou wat voor sit kan mos agter kom sit, al is sy wit.  Die bestuurder gaan stop, besluit om hulle almal af te laai aangesien hy hulle ‘n guns doen.

Om die hele komedie kort te knip besluit  Alice om voor uit te klim, beweeg in ‘n spoed na agter en besluit om die vrou die geleentheid te gun om voor te sit, alles ten gunste van daardie kleine baba en sodat hulle net hul bestemming kan bereik, so gou as moontlik.  Verergelik klim die mede-passasier voor uit sodat die vrou en die baba kan inklim, sy swaai haar gesette lyf verby hom en klim in.  Na ‘n lang gesukkel om die deur toe te kry vertrek die trok in ‘n onbeheersde spoed.   Alice gryp paniekerig na die belt aan die reling in die dak van die trok, swaai rond vir ‘n paar oomblikke totdat sy versigtig los en gaan sit in ‘n hoekie, hoopvol dat dit beter sal wees.   Nadat sy haar tuis gemaak het op die yskoue staal bars sy uit van die lag en uiter:”Teen die tyd dat ons, ons bestemming bereik het, sal ons almal verkluim het.  Verbeel jou die foto’s in die ponie koerante “Verkluimde lyke uitgestal langs mekaar, die van die reënboognasie op die N2.”  Estelle lag om die stilte te verbreek, verergelik gluur die meisie van ‘die gebraaide vark’ haar aan terwyl haar kraletjies aan haar vlegsels teen mekaar kap vir elke slaggat wat die wiele van die trok tref.  “ Kan julle asseblief ophou om so ligsinnig te wees!  Nou is glad nie die oomblik nie”, sê die meisie van die ‘gebraaide vark’.  Alice:” Jy is op dun ys Estelle!”  “Ek weet, dit kleef aan my vel, ek voel dit aan my tone, ek proe dit, alles het klaar in my brains stagneer, jy hoef mos nou nie dit nog verder in te vryf nie.!  Hier sit ons nou in ‘n donker yskoue yskas wat ons rondslinger soos tennis balle heen-en-weer oor die net, ons kan seker die beste daarvan maak.”  Maar nou ja. Dit is die beloop van die lewe, hoogtes en laagtes, saam gaan ons oor die Andes gebergte kom.”

Na ‘n baie lang rit gaan stop die trok.  Die bestuurder klim uit, maak die trok se deur oop en vra hulle om uit te klim.  “Ons is nou op Cookhouse, dit is ons bestemming.  Julle kan hiervandaan ‘n bus neem om  jul bestemmings te bereik.”   Haastig klim Estelle uit, was dit oor sy haar distansie bereik het, of omdat sy weghardloop vir die koue, weet sy nie.  Alice bedank die twee jong mans.  “Plesier dame”, sê hulle en trek weg in ‘n spoed.  Dit is duidelik dat die penarie baie van hul tyd in beslag geneem het.

Verlore, verlig en honger gaan staan die twee vriende en wag vir die bus.  Heilsaam geniet hulle die warm sonstrale op hul koue liggame.  Dis ‘n prentjie van ebbehout en ivoor onder die Suid-Afrikaanse sonskyn, tog het hulle dieselfde doel.


Die bus daag op na ‘n uur se wag.  Hulle klim in, moeg en verbysterd na die dag se gebeure.  Onbewus van die olie en petrol reuk wat aan hulle kleef.  Verbaas staar al die insittendes na hulle.  In die agterste sitplek grom ‘n middeljarige man baie grappig:” Werk julle poppies vir “Engen” of “Shell”, of braai julle vleis vir die petrol joggies?”    Luidkeels lag almal in die bus asof hul lang vervelige rit omskep is in ‘n komediese rolprent.  Alice kyk na die man, hy is geklee in ‘n oorlog jas van jaar toet, ‘n onnet baard aan sy gesig en besluit “stilbly” is ook ‘n antwoord.   Verleë neem die twee meisies hul sitplekke in asof hulle die verhoog  van drama verlaat het.  Vir die eerste keer raak hulle bewus van die swart spikkels van die roet op hul arms en bene, en besef hulle is polka dot nooiens in polka dot rokkies. Bewustelik voel Estelle aan haar hare, dit is taai van die rook van die motorolie en die vark braai.  Sy besef hierdie rit het haar meer gekos as wat sy aanvanklik beplan het, haar hare het letterlik gekrimp, en daarvoor het sy baie geld betaal om dit te laat ontspan.  Alice lag skelmpies en uiter iets soos: “Back to my roots!”  Estelle lag verleë, “Ek weet, ek is ‘n Khoi met trots.  Hulle kyk na mekaar en lag sonder ophou.


Vandag se fiasko sal hulle nog lank oor lag, dis ‘n storie wat hulle eendag aan hul kleinkinders sal vertel.


GEDIG VAN ALICE

OP PAD NA DIE BILTONG FEES.

In Polka dot rokkies,
Die prentjie te fraai….
Beloer deur die bokkies,
Aanskou ‘n vark wat braai,
‘n oomblik so benoud
‘n yskas so koud
Op pad na ‘n fees
Dit is waar hulle wil wees.

Oortrek van roet,
Met harte so soet,
Hare gekrimp,
Vingers vol blink…
Bietjie gekwes
Op pad na die bes         


Habitat van die bloukraanvoël
Maak gereed vir ‘n jool
In die hartjie van die winter
Met ‘n lagie mis oor  Bosberg
Wat verdwyn as sonnetjie terg-terg
agter die wolkies deur skyn …


Besoekers regoor die land
Maak Somerset-Oos anni brand
Ongeag die waarde van die Rand
Kom  kuier met Steve Hofmeyer
Black-Mombasa vir ‘n spaza
Geniet jou terdeë
Vermaak deur Karen Korkee
En nog baie meer
Maar onthou…
Elvis Blue
Is nou Due

       



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    beloftes

    deur daniel v kaylan

    'n Briewe roman oor die verlore, verbode liefde van 'n jong meisie...



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar