Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Freek sit op sy hurke langs die blaarslaai-akker. Hy wonder of hy nie vir Ella moet los nie. Summier skei nie. Die verdomde groentetuin en sogenaamde organiese groente-beheptheid van haar, vreet sy kniee op. Nie dat hy oud is nie, net die rugbybeserings en skelm avontuurtjies waarvoor hy deur ‘n venster of twee in sy jongdae moes klim, begin nou byt-byt. Nie dat hy spyt is oor die avontuurjies nie, inteendeel, maar die voortvarentheid van sy jeug, laat hom deesdae stadiger opstaan uit ‘n gehurkte posisie. Hy skiet sy sigaretstompie tussen die blaarslaai in. Uit frustrasie spoeg hy sommer een van die blaarslaaiplantjies skoon skeef in die akker. Hy hoop die tabakbesmetting trek in die jong blaarslaai in en ou Ella kry dit as finale sogenaamde organiese produk op haar bord. Die vrou irriteer die hel uit hom met haar koue afsydige baasspelerige houding.

Hy ruk soos hy skrik toe hy ‘n stem agter hom hoor. “More buurman, maar jy is flink uit die vere?” ‘n Rilling gaan deur Freek. Hierdie stem… dit kan net die mooie sensuele buurvroutjie wees. Hy spring vining regop, die pyn wat deur sy knieë gaan is niks in vergelyking met die vier seisoene wat hy in volle glorie voor hom sien nie. So anders as Ella se suurkool afkeurende blikke. Voor hom sien hy ‘n bloesende rooskleurige lente-vel. Vroulike volrondheid, soos ryp somer-spanspekkies. Lang bruin bene – ‘n herfsprentjie met die beloftes van ‘n warm kaggel. Haar winterwit tande voltooi die ryprooi mond in ‘n vier-seisoen-prentjie. Freek stotter soos ‘n jong onervare skoolseun: “More … eh.. more buurvrou…. Ek is jou buurman…ek bedoel Freek Grove.. jou buurman. Sy lag klokhelder. Die sonlig speel ‘n goue rakertjies-rakerkies speelpatroon deur haar blinkskoon hare. Freek ril weer, sy tone stokstyf in sy skoene. “Ek is Niela en soos jy weet het ek maar onlangs hier ingetrek en moes ek net jou mooi tuin kom bewonder. My oorlede man was net so ‘n vlytige tuinier maar ek kon ongelukkig nie verder op die plaas aanbly na sy dood nie. Net te moeilik vir ‘n vrou om alleen te boer.” Freek skud sy kop erkennend. “Ja en nog onveilig ook met al hierdie masbiekers wat deesdae alles en almal doodslaan om plase te bekom. Maar kom ons los die politiek. Kom drink ‘n koffietjie saam met my. My vrou Ella is juis besig in die kombuis en dan kan jy haar ook ontmoet.”
“Dit sal baie lekker wees dankie”. Freek staan galant eenkant toe en toe sy by hom verbystap, kan hy nie sy oë van haar kattebak af hou nie. Net daar kry hy lus vir uitkamp. Ella haat uitkamp en ongerief. Sy gedagtes jaag somers-donderwolke deur sy kop. Vat vlam soos ‘n bergvuur wat buite beheer is … Nouja… Kaggelvuur, rooiwyn….. Hy val byna oor sy voete toe Ella by die agterdeur uitkom. “Ella, dit is ons nuwe buurvrou, Niela. Ek het haar vir ‘’n rooiwyntjie… “ Hy lag verskonend “jammer tog…. ‘n koffietjie genooi” Ella groet en toe hy haar oë vang, sien hy weer ‘daardie kyk’, ‘n kyk van misnoë. Koud, soos doodgerypte wintertamaties, groen-wit in hulle sterwensuur. Hierdie buurvroutjie is net te prettig en mooi na haar sin.

Sesuur die volgende oggend kan Freek nie meer sy lê in die bed kry nie. Die groentetuin… hy kan nie wag dat die son moet opkom nie. Sy gedagtes maal nou om die groentetuin. Hy grinnik. Organiese groente begin nou vir hom sin maak. Hy sal vir Ella sommer vandag nog so ‘n akkertjie of twee ekstra moet omspit. Hy bekyk homself in die spieel. Hmmmmm nie sleg nie. Trek sy maag in, en grinnik vir sy spieelbeeld. Skeerroom word mildelik aangesmeer, sy gedagtes reis ver paaie. Wilde lente jonkwees paaie. So hier en daar ‘n knypie in die donker. Die skeermes se vyf lemme vlieg oor sy gesig met bloedstreep gevolge. Dit ruk hom terug tot werklikheid. Hy moet homself nou wragtig nie staan en keel afsny nie en dit oor ‘n groentetuin…. of is dit oor die groentetuin? Ella se luide gesnork klink vir hom soos die suidooswind wat kartonne en papiere in ‘n windoorlog deurmekaar jaag. Hy klap sommer ekstra naskeermiddel aan en blaas vervaard om die brandpyn op die sny op sy bolip te prober afkoel. Spuit ekstra onderarm-sproei aan en wonder hoe hy die hare uit sy ore gaan kry. Ella sê dit is ydel om neushare en oorhare uit te pluk. Hy hoop die bye kom nie agter die geure aan en pak hom in die groentetuin nie. Hy kyk af na sy bene. Darem nog genoeg spiermassa. Die skrumposisie was toe die pyn en lyding van jare gelede werd. Hy gaan krap in sy hangkas en spoor sy ou rugbybroek op. Dit pas net-net. Hy sal ook seker moet gaan maak dat daar nie klippe op die gras is as hy later sy grassnyer gaan uitsleep nie. Sy maermerries kan dit dalk ontgeld, maar wie weet watter mooi oë hou hom dalk nie dop as hy sy kragvertoning lewer nie?

Ella se stem sny deur sy menswees. “Freek?... en as jy nou só lyk? Mens ruik jou kilometers vêr! “ Sy nies luidrugtig. ”Vandat jy ouer word, begin jy alles oordoen. Is jy oppad dorp toe met hierdie belaglike broekie aan?, die ding trek in jou lieste op.” “Nee Ella, ek gaan twee ekstra beddings oopspit” Ella nies weer, en snork. Waat? Van wanneer af stel jy belang in tuinmaak. Ons het voortdurend hewige rusies gehad om jou sover te kry om in die groentetuin te help.” Ella skink vir haar ‘n koppie koffie, pak ‘n bord vol beskuit en gaan sit by die ontbyttoonbank. Freek sien hier kom weer ‘n ding vandag. As Ella so lyk, is sy lus vir baklei. Hy kan die bakleiery, verwyte en amper ‘n leeftyd se koudheid in die bed nie meer hanteer nie. ‘n Man is nie ‘n klip nie. Vir Ella is hy ‘n ‘’meal ticket” soos sy oom Petrus dit stel. Met die kind wat reeds sy eie potjies krap, het sy te veel tyd op hande en behandel hom soos ‘n skoolkind. Altyd beterweterig en sy familie word voordurend ingesleep by die rusies. Ella doop die beskuit in die koffie, hap groot happe en kou oopmond. So tussen die kouery praat sy dat fyn stukkies beskuit uit haar mond spat. Freek kyk met afgryse na haar. Hy sien nou eers die kort “wash and wear’ mannetjiesagtige haarstyl raak. Kort naels, geen grimering en alewig ‘n kniebroek en gampas skoene aan. Hy wonder watter jare gelede het hy haar laas in ‘n rok gesien. Vroulik en aanloklik met kersierooi-kom-soen-my lippe…. Ai tog waar hardloop sy hormone tog nou weer heen. Dit is seker die groentetuin se skuld. Hy voel naar. Wonder of dit nie die oormaat naskeermiddel is wat op sy longe gaan lê het nie. Wat het dan met sy smaak in vrouens gebeur? Jare gelede was sy vir hom ongekunsteld en nou lyk sy vir hom soos ‘n uitgebleikte varktjop wat dae in kookwater geweek was. Die jarelange uitstappies, kuiertjies en koek en tee partytjies met haar vriendinne, en spesifiek met Martie, steek hom deesdae ook dwars in die krop. Hoeveel jare moet ‘n vrou dan sogenaamd ruimte kry om haarself te vind? Sy en haar vriendin na spa’s toe of een of ander naweek saam iewers die bosse in en hy moet maar karretjie tuisbly ry.
“Freek…. Uhmmm…. Daar is iets waaroor ons moet praat. Die groentetuin. Jy kan dit maar oorneem. Ek gaan in alle geval nie meer hier wees om dit te versorg nie. As jy nie kans sien nie, sal die natuur se vier seisoene mettertyd oorneem en jy kan dan maar later ‘n boom of twee plant. Freek kyk haar vraend aan. “Hoe meen jy nou jy gaan nie meer hier wees nie. Is jy siek of gaan jy iewers heen?” Ella sluk haar laaste slukkie koffie, kyk hom koud aan en sê. ‘’Ek trek hierdie naweek by Martie in. Ons kan nie meer sonder mekaar lewe nie en hierdie skynhuwelik van my jou ontneem ons beide van liefde en geluk.”
Freek verstik omtrent van verbystering. “Martie?..... hoe meen jy nou Ella? Ella glimlag. “Ai Freek, jou naïwiteit. Ons is in die verligte eeu. Vrouens en vrouens. Mans en mans…. Maak dit nou vir jou sin? Ek en Marie het mekaar al jarelank lief. Ons trou sodra die egskeiding afgehandel is. En terloops…… die buurvrou, ek het gesien hoe staar jy na haar. Kunstenaars tipe. Ek hoor haar man is dood aan ‘n kopskoot. Selfmoord. Jy sal maar versigtig moet wees. Sy lag skril. As ek jou nie al die jare in beheer gehou het nie, was ons vandag sonder ‘n sent in die bank. Alles uitgejag agter vroumense aan. My prokureur sal volgende week vir jou die dokumentasie aflewer. Onthou, die helfte van die boedel behoort aan my. Moet nie planne sien om enige-iets te vervreem nie. Dit sal jou duur te staan kom.”

Vier seisoene het Ella gesê. Vier seisoene. Freek glimlag. Die groentetuin staan lowergroen, danksy die vrolike buurvroutjie se hulp. Die sonsondergang gooi sy laaste oranje-rooi gloed in die weste. Vier seisoene, lente, somer, herfs en winter het soos ‘n oogwink verbygegaan. Die organiese groente met die hulp van vrolike geselskap, smaak vorentoe. Hy ruik die heerlike kosreuk uit die kombuis. Ys rinkel in die twee glasies rooiwyn. Die kaggelvuur maak vreemd-mooi sensuele danspatrone teen die muur. Uitlokkend. Sy buk oor sy skouer en soen hom met haar volrooi roosmondjie sag op sy bles, teen sy wang. Sag op sy mond. Toe verloor Freek beheer. ‘n man is ‘n man want stroop is stroop, het sy boeta gesê. Vier seisoene en ‘n organiese groentetuin, wat wil ‘n man dan meer van die lewe hê.











Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ano
Seisoene
Hehehehe, ek het so wraggies nie daai een sien kom nie! Oulik gedoen :-)))
5 jaar 10 maande 3 weke 4 dae 21 ure oud


Organiese seisoene
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die Seisoene projek
5 jaar 10 maande 3 weke 6 dae oud


seisoene
Ag dit was nou uit die boeke uit, vars en anders.

Lekker geniet!
5 jaar 10 maande 3 weke 6 dae 2 ure oud


Seisoene
Dankie vir hierdie lekker lees.
5 jaar 10 maande 3 weke 6 dae 2 ure oud


seisoene
Sommer 'n lekkerlees storie hierdie, met 'n paar happy endings :-)Dit baie geniet, dankie
5 jaar 10 maande 3 weke 6 dae 16 ure oud



Katarsis

deur http://www.woes.co.za/

Katarsis, ’n versameling gedigte deur 3 skrywers, tribalmoon, Berg en Chenél Pieterse-Boyle in Afrikaans, bevat ’n uiteenlopende versameling gedigte wat ’n ryk diversiteit van temas en denke byeenbring.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar