Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ou Jurie koop ’n bakkie.

Deur: Dries van der Walt.

Ouboet is op Lohathla gebore in ’n spoorwegsinkhuis, net na die tweede wêreldoorlog. Lohathla was daardie tyd ’n myndorpie, deesdae word die weermagopleidingskool só genoem. Sy tant Vya was die vroedvrou wat baie goeie werk gedoen het, veral as jy vat dat Ouboet kort by die twaalf pond geweeg het by geboorte. Hy het egter opgemaak daarvoor dat sy ma so swaar gekry het met die geboorte van so ’n groot kind… hy was baie soet. Sy ma vertel dat sy hom moes wakker maak om hom te voed en daarna het jy nie weer van hom geweet tot hy weer gevoed moes word nie. Hy het egter een streep gehad wat sy ma tot raserny gedryf het toe hy kon loop; hy het weggeloop na die garage toe waar sy pa gewerk het.
Dis nou nie ’n garage soos ’n motorhawe wat karre regmaak of diens nie, nee, dit was die spoorweggarage waar die rooi busse weeksaande geslaap het en Saterdae gediens en gewas is. Ouboet was absoluut gefassineer deur die groot rooi masjinerie. Dit maak nie saak hoeveel pakke slae hy gekry het nie, as hy kon wegkom sonder om gesien te word, dan is hy oor die treinspore, onderdeur die trokke, garage toe. Min het hy geweet dat hy so tien jaar later as dertienjarige skoolseun vakansies op die rooi busse sou werk. Sy hele hoërskoolloopbaan het sy pa gesorg dat hy sy skoolgeld, koshuislosies, klere en dies meer sou verdien op dieselfde busse waarvoor hy so lief was.
Hy het van kleins af aan sy pa se lippe gehang as dié vertel waar hy daardie dag heen was, die plekke en die mense. Plekke soos Sonstraal, Pearsons Hunt, Moeswal, Mamathwane, Vroeggedeel en nog baie ander, het vir hom as klein seuntjie groot betowering ingehou. Hy het hulle in sy gedagtes voorgestel as pragtige plekke met lekker kos, gemmerbier, biltong en baie ander lekker goeters, want die boeremense anderkant Olifantshoek was vriendelike, gasvrye mense wat uitgesien het na die bus se koms elke week of elke tweede week, afhangende van die roete. Sy pa het vertel van koffie en koek wat by elke stop voorgesit word en teen middagete moes hy natuurlik saam eet, nee is nie daar aanvaar nie. Ietsie is ook gereeld saamgegee, of dit nou ’n stukkie biltong of vrugte of ’n stukkie vleis was, dit maak nie saak nie.
Daar was net een plaas waar sy pa nooit enige iets geëet of gedrink het nie. Dié plaas het aan die Steyns behoort en was so vyftig myl - of tagtig kilometer soos julle nou sê - anderkant Olifantshoek op die Vanzylsruspad, net oor die Korannaberg se nek.
Die meeste van die Steyns van die Kalahari was doppers en Ouboet was verbaas toe hy hoor sy pa sê hy is die Here dankbaar dat ou Jurie en sy gespuis gatjieponders is en nie doppers nie. Die doppergemeente op Olifantshoek was maar klein en Ouboet het geweet dat elke dopper soos ’n kleinood opgepas is, hoekom sy pa nou bly was dat ou Jurie en sy gespuis nie doppers was nie, het hy baie vreemd gevind. Hy het dit ook net vreemd gevind tot hy aan die einde van sy standerd ses jaar op die busse begin werk het en kennis gemaak het met dié ou Jurie Steyn en sy gespuis. Man! - was hulle vuil!
Daar in die diep Kalahari het mens nou nie eintlik rêrig water gehad vir tuin maak nie, want water was skaars en in daai geweste so-by-so so brak dat niks daarvan wou groei nie. Maar die plase se jaarts was darem altyd skoon en in die voortuin altyd ʼn rotstuin en óf ʼn peperboom, óf ’n kameeldoringboom, as jy die tampanne kon uitroei. Die res was skoon en netjies en die sand gehark. Maar nie die Steyns se jaart nie, dié was vol papiere, blikke en klippe. Gelukkig was plastiek daai jare nog nie ’n probleem nie, anders sou dit seker éérs sleg gelyk het rondom die Steyns se huis. By die voorstoep het ’n stukkende donkiekar sonder wiele gelê, daar was koeimis en donkiedrolle al om die huis. Vir die laaste twintig treë van die pad af na die voorstoep toe moes jy mooi trap om nie die hoendermis en honde se bolle saam met jou te vat nie. Tot die ou varksog en haar kleintjies is toegelaat om die koelte van die stoep op te soek.
Ouboet se drywer, Oom Jack, het hom die dood voor die oë gesweer as hy die huis sou binnegaan.
“Gee hulle possak en laai af wat jy moet aflaai, maar jy gaan nie daai huis in nie, jy eet of drink niks wat hulle jou aanbied nie, nie eers water nie. Maak klaar en kom klim laat ons ry.”
Toe het Oom Jack vir Ouboet die storie van die Steyns vertel.
Blykbaar het hulle in die dertiger jare daar op die plaas aangekom. Dit was ’n rou plaas…wat beteken daar was niks op hom nie, nie ’n huis of kampdrade of water of enige iets nie. Die goewerment het glo gehelp om te laat boor en ’n Climax windpomp op te sit. Ou Jurie het ’n hartbeeshuisie gebou en toe, soos die kinders aangekom het, by die eenvertrekhuisie aangelap. Toe Ouboet met hulle kennis gemaak het, was die naaste buitemuur aan die oorspronklike vertrekkie so tien meter ver. Dié vertrekkie was natuurlik stiknag donker, want dit het geen venster of deur na buite gehad nie. As jy iets daar binne wou hê, moes jy dag of nag daar ingaan met ’n kers of ’n lamp.
Dertig jaar na ou Jurie op die plaas aangekom het, was daar nog net grensdrade, ook maar net oor die goewerment hom gedreig met die tronk as hy nie sy grense toespan nie. Sy bure sê dat hulle so-by-so vir als betaal het, ou Jurie het net so nou en dan van sy klomp sleg kinders gestuur om kammekastig te help, maar meeste van die tyd is hulle maar vroeg laat loop, want hulle het meer drooggemaak as wat hulle gehelp het.
Van kampdrade was daar egter geen sprake nie. In die vroeë môre het ou Jurie en sy spul kinders die koeie na die een kant en die kalwers na die anderkant van die plaas toe gejaag. Gewoonlik het dit gewerk, want selfs beeste loop nie graag ver afstande in die diep Kalahari se hitte nie. Maar so nou en dan wanneer ou Jurie na sy middagslapie op die windpomp klim om te kyk waar sy beeste is en die kalwers het by die koeie uitgekom dan skreeu die ou vir sy kinders:
“Helsems, keer! Die kalwers suip uit!”
In sy ontsteltenis begin hy dan self ook hardloop, vergetend dat hy op die Climax se platvorm staan.
Die feit dat die diep Kalahari sanderig is en nie veel klippe het nie, het verhoed dat ou Jurie ooit ernstig beseer is. Hy het darem eenkeer ’n arm en twee keer ’n been gebreek. Dat hy nooit sy les geleer het nie was ’n geheimenis wat die mense van daai wêreld nooit kon verstaan nie, een of twee het natuurlik gesê ou Jurie is dommer as ’n donkie, want nie eers ’n donkie stamp sy voet tweemaal teen dieselfde klip nie. Ander het weer gespot dat hy dit met opset doen om in Olifantshoek se hospitaal te beland, sodat die nursies hom sy jaarlikse bad kon gee.
Ou Jurie en sy gespuis het ook tot in die vroeë sestiger jare nie ’n kar of bakkie gehad nie. Hulle het met ’n muilewa oor die weggekom. Dit het natuurlik tot gevolg gehad dat die Steyns gewoonlik laat was vir als. Of dit nou Sondae vir kerk was of Maandae by die skool, die Steyns was laat. Stel jou voor hulle daag by die kerk op, ou Jurie, tant Malie en hulle elf kinders. In die eerste plek beheer jy nie elf kinders in stilte nie, nee… daar word vermaan of geraas afhangend van hoe stout die kinders was… en gewoonlik was die helsempies maar blêrrie stout. Nou moet daar sitplek vir dertien mense gesoek word en jy weet mos, mense wat eerste kerk toe kom, gaan sit nooit in die middel nie, nee, hulle gaan sit op die paadjie om weer eerste uit te wees. Almal wat ná hulle kom moet oor hulle klouter om plek te kry. Die Steyns moes nou eers ’n bank kry wat lank genoeg was om al dertien van hulle te vat en dan moes hulle almal oor die bene van die vier of vyf mense wat reeds sit klim, dit terwyl die kinders baklei oor wie laaste ingaan, want nie een van hulle wou langs ou Jurie sit nie. As hy kon wakker bly knyp hy gedurig die kinders naaste aan hom.
Dit het natuurlik tot groot ontstigting gelei, want teen die tyd dat ou Jurie en sy gespuis die kerk binnekom, was die dominee reeds besig met die Wet of om te bid. Die dominee is as ’n eenman kommissie afgevaardig om te gaan praat, want die kerkraadslede het almal geweier om daar besoek af te lê. Die eenman kommissie het toe gaan praat, maar die steeks muile het egter altyd die skuld gekry. Die eenman kommissie het ook nie té gereeld gaan vermaan nie, want hoewel die N.G. predikante daai jare nog huisbesoek gedoen het, was die predikant op Olifantshoek ook maar skugter om by die Steyns te kom.
Toe een van die ryk boere in die distrik egter ’n beswaarskrif indien en dreig om sy bydrae terug te hou indien iets nie aan dié saak gedoen word nie, het die kerkraad besluit om ’n behoorlike kommissie af te vaardig om die Steyns tot orde te roep. Op dié kommissie was oom Piet Olivier wat Olivier se Garage gehad het. Hierdie was nou nie ’n garage soos die spoorweggarage nie, hierdie was ’n propperse garage wat karre en bakkies verkoop en gediens het.
Toe ou Jurie weer die steeks muile die skuld gee was oom Piet reg vir hom.
“Jurie” sê hy toe, “kom koop ’n bakkie by my. Ek sal jou ’n baie goeie
prys gee.”
“Maar ek kan nie ’n kar dryf nie.” verweer ou Jurie homself.
“Dan gooi ek ’n paar dryflesse in by die transaksie.” het oom Piet die beswaar omseil.
So het dit dan gekom dat ou Jurie toe ’n Ford F100 bakkie gekoop het en leer bestuur het deur al om die rotstuin, wat Oom Piet voor sy motorhawe gemaak het, te ry. Hoeveel klippe van die rotstuin raak gery is word nie vertel nie, maar uiteindelik moes oom Piet nog ’n band, wat ou Jurie afgeskryf het, ook bygooi.
Toe ou Jurie die volgende Sondag by die kerk opdaag, betyds nogal, sien oom Piet dat die windskerm uit is.
“ Wat gaan nou aan ou Jurie, waar is die glas heen?” vra hy.
Dit was met verslaentheid dat hy ou Jurie se storie aangehoor het.
Hy was glo op pad huis toe na die aankoop van die bakkie en het tog te lekker gery, maar toe hy van sy pruim beginne spoeg, het die voorruit naderhand so van die drade gehang dat hy nie meer kon sien nie en moes stilhou om skoon te maak. So moes hy ’n hele paar keer stop voor hy by die huis was. Op die plaas het hy besluit om hom die moeite te spaar en het die voorruit uitgehaal.
Vir baie jare daarna, as daar ’n Ford F100 bakkie verbykom, het Ouboet gekyk of dit ’n windskerm in het en indien wel, of daar nie pruimdrade aan hang nie.





Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Kommentaar gelewer oor ' 'n oomblik'
Baie dankie vir die afbrekende kommentaar, volgende keer stel dit asb net bietjie opbouend. Ek besef dat my skruifstyl nie in jou smaak keuse val nie, maar net oor die wonderlike kommentaa wat al oor my werk gelewer is sal ek aanhou skruif in teen stelling met jou wense en hope. Hiermee vrae ek vriendelik dat jy maar eerder van my kort verhale af weg bly teensy jy jou wonderlike woorde meer opbouend kan stel. Ek sal natuurlik dieslefde guns aan jou bewys.


Oranjedruiwe
13 jaar 1 maand 1 week 3 ure oud



VOLLEDIG CHRISTEN, VOLLEDIG MéNS

deur Johann P. Boshoff

"We need to rediscover ourselves as full human beings and discover that it is precisely as full human beings that God wants us to come to him. His salvation, his love, his mercy are designed for full human beings, not for theological or religious creatures who have stifled their humanity or repressed their deepest emotions. We ought to be fully human and unashamed of our humanity ... as we approach the God who made us that way and is waiting for us to come to him in that way. Jesus himself approached God in that way and communicated with his whole heart in prayer to the Father. (Hebrews 4:15-16 and 5:7) The Spirit is imparting to our heart the faith and desire to approach God." ■ Ralph Martin in Hungry for God (1974)



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar