Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Balder was rein van hart en het goedheid in elke vorm versinnebeeld. Sy lewe in Asgard was een van welwillendheid en vrygewigheid, en terwyl hy geleef het, sou die kragte van sy regverdigheid elkeen in Asgard toelaat om vrede sonder euwels te geniet. Maar euwels verskyn in baie vorms en selfs nie eers die gode kon vir ewig daarvan gevrywaar word of die onheilspellende invloede daarvan omseil nie. In Asgard was Loki die euwel wat die borrel van hul geluk sou laat bars, en dit was Loki wat ʼn einde sou maak aan die ewige konflik tussen eerbaarheid en verdorwenheid. Dit was ʼn ondergang wat sedert die aarde se skepping voorspel is, en die werklikheid daarvan was so skrikaanjaend soos elke voorspelling dit voorgestel het. Ragnarok sou die wêreld van alle euwels bevry, en sou ʼn spoor van verbranding laat wat die son en alles wat eens in hul vergulde wêrelde gegloei het, uitwis. Maar dit is uit dié as dat daar ʼn nuwe lewe sou voortkom, en die wêreld van die gode was geen uitsondering nie.
Balder se droom
Balder was die mooi, stralende god van Lig en Onskuld. Elke lewe wat hy aangeraak het, het met goedheid gegloei en hy was geliefd by almal wat hom geken het. Sy tweelingbroer was Hodur, wat blind was en Balder het na hom omgesien met baie geneentheid en bedagsaamheid. Hodur het Balder aanbid en sou niks doen om hom te benadeel nie.
In die tyd wat Balder besig was om sy hoogste heerlikheid te bereik, het hy eenkeer ʼn angswekkende droom gehad. Toe Balder teen dagbreek wakkerskrik, was sy gesig gespanne van vrees ná die vreesaanjaende voorbode. Hy het gedroom van sy eie dood en het versteen bly lê, bewus, op grond van die droom se voorspelling, dat onheilsgebeure aan die kom was. Daarom het Balder vertrek om Odin te gaan raadpleeg.
Dié het aandagtig geluister en geweet dat sy seun se vrese gegrond was, omdat daar in sy glinsterende oë nie langer reine onskuld geblink het nie – daar was nou kennis. Odin het dadelik na sy troon op die kruin van Yggdrasil gegaan, waar hy gemymer het oor hoe hy die nodige insig sou kry. Meteens het die kop van Vala, die sienster aan hom verskyn en hy het toe geweet dat hy na Hel se koningryk moes reis om Vala se graf te besoek.
Dit het baie lange dae geduur alvorens Odin die mees geheime grafte op Hel se landgoed bereik het. Hy het vinnig beweeg sodat Hel nie van sy aankoms bewus sou word nie. Gelukkig het die meeste werkers in haar land hom verontagsaam, daar hul aandag gerig was op die een of ander feesviering terwyl hulle besig was om die saal vir die aankoms van ʼn hooggeagte gas voor te berei. Ten laaste het die bolwerk van Vala se graf verskyn. Hy het daarop gaan sit en sy kop geboë gehou, sodat die profetes sy gesig net skrams kon raaksien en hom nie sou eien nie. Vala was ʼn sienster van alle waarhede. Sy het geweet van sowel die toekoms as die verlede. Daar was niks wat haar helder oë ooit ontglip het nie, maar sy kon net deur die magiese kragte van die runes aangeroep word om te vertel van haar kennis.
Die graf was bekrans in skadu’s en ʼn mistigheid het oor die grafsteen gehang. Daar was doodse stilte toe Odin vir Vala gefluister het om na vore te kom. Onverwags is toegegee aan die versoek en dampe, wat so ʼn verskriklike reuk uitgestort het dat selfs die almagtige Odin gevomeer en gespoeg het, is vrygestel.
“Wie wek my uit my slaap”, het Vala met venyn gevra. Odin het deeglik nagedink voor hy geantwoord het. Hy wou nie hê sy moet weet dat hy Odin, koning van gode en mense is nie, omdat haar wens dalk sou wees om nie die toekoms wat sy eie raak, openbaar te maak nie. Gevolglik het hy geantwoord:
“Ek is Vegtam, seun van Valtam, en ek begeer om te leer oor die lot van Balder.”
“Hodur, wat blind is soos die winterson, sal hom hierheen bring. Hy sal Balder se bloed vergiet. Hy sal die lewe in Odin se seun dood”, het Vala gesê en daarmee het sy teruggetrek in haar graf.
Odin het opgespring en gesmeek, “Swyg nog nie! In die krag van die runes moet jy my meer vertel! Vertel my, vir watter geëerde gas berei Hel voor?”
“Balder”, het sy uit die dieptes van haar graf geprewel. “Gaan nou weg van my – ek wil verder swyg.”
Odin het sy kop besorg geskud. Hy kon nie insien hoe dit moontlik was dat Balder se eie broer sy lewe sou kon neem nie. Balder en Hodur was die mees gehegte broers wat daar was, en hulle het dieselfde gedagtes gedeel – inderdaad ook gewoonlik spraak. Hy het na Asgard teruggekeer met sy besorgdhede steeds onopgelos. Daar het hy die saak bespreek met Frigg wat aandagtig geluister het.
“Ek het ʼn plan”, het sy aangekondig, “en ek is seker jy sal met my saamstem dat dit die beste optrede vir ons almal sal wees. Ek beplan om deur al nege lande te reis en sal probeer om by elke lewende skepsel, elke plant, elke metaal en klip die belofte te kry om Balder nie te benadeel nie.”
Frigg het woord gehou en die oggend vertrek om wyd en syd te reis. Orals waar sy gekom het, het sy met gemak die belofte uit elke lewende skepsel én lewelose voorwerp verkry om Balder te bemin en toe te sien dat hy geensins beseer word nie.
So het dit dan gebeur dat Balder bestand geraak het teen alle soort beserings. Dit het ʼn speletjie onder die kinders van Asgard geword om met hul spere en pyle na hom te mik, en te lag as dit onskadelik terugspring van hom af. Balder was dwarsdeur die wêrelde bemind, en daar was nie een wat nie geglimlag het as hy hom gesien het nie.
Niemand buiten Loki nie, wie se jaloesie teenoor Balder ʼn onhoudbare hoogtepunt bereik het. Elke nag het hy getob oor metodes waarop hy Balder kon vermoor, maar hy kon aan niks dink nie. Frigg het voorsorg getref en sy het alle moontlike bedreigings teen Balder se lewe bygesleep in haar belofte. Maar die konkelaar, Loki, was nie onnosel nie en hy het gou ʼn plan beraam. Hy verander homself toe in ʼn bedelvrou en gaan klop aan Frigg se deur om kos te vra. Frigg was gretig om haar gasvryheid aan te bied, en sy het gaan sit en die ‘bedelares’ geselskap gehou terwyl sy geëet het.
Loki, in sy vermomming, het oor die bevallige Balder wat hy in die saal gesien het, gebabbel en melding gemaak van sy vrese dat Balder gedood mog word deur een van die spere of pyle wat hy gesien het so na hom geslinger word. Frigg het gelag en gesê dat Balder onaantasbaar was.
“Het alles en almal dan ʼn eed aan u gesweer?” het Loki skelm gevra.
“O ja”, het Frigg gesê, maar toe geaarsel. “Alles en almal, behalwe ʼn snaakse klein plantjie, wat aan die voet van die eikeboom by Valhalla groei. Waarom het ek dit nog nie vantevore raak gesien nie? So ʼn klein uitloopsel van groenigheid wat destyds ver te onvolwasse was om ʼn eed so belangrik soos myne af te lê.”
“Wat word dit genoem?” het Loki weer gevra.
“Hmmm”, het Frigg gesê, steeds onbewus van die gevare wat haar inligting mag inhou, “misteltak; ja, maretak.”
Loki het Frigg toe in alleryl bedank vir die maal en haar paleis verlaat. Hy het onverwyld terugverander na sy eie ongoddelike self en so vinnig soos sy voete hom kon dra na Valhalla gereis. Hy het versigtig die stingel van die maretak gepluk en teruggekeer na Odin se saal, waar Balder gespeel het met jong gode en godinne wat hom onsuksesvol probeer skiet het met wapens van enige vorm en grootte.
Hodur het fronsend alleen in die hoek gestaan en Loki het vir hom gefluister om ook nader te staan.
“Wat makeer, Hodur?” het hy gevra.
“Regtig niks nie, behalwe dat ek nie kan deel in hul speletjies nie,” het Hodur bedaard geantwoord.
“Kom dan saam met my”, het Loki gesê, “ek kan jou help.” Hy het Hodur tot naby Balder gelei en ʼn boog en pyl in sy hande geplaas. Dit was gemaak van die vlietendste van weefsels. Aan die punt van die pyl het hy die klein blaar van die maretak gebind, en die vlymskerp punt met ʼn dik, wit bessie toegemaak. “Skiet”, het hy geskree vir Hodur, wat die boog gespan het en die pyl afgestuur het na sy teiken.
Daar was ʼn skerp snak na asem en toe doodse stilte. Hodur het sy kop in verbasing geskud. Waar was die plesierige uitroepe? Waar die geskater wat hom sou vertel dat sy pyl die teiken getref, maar gefaal het om die slagoffer te beseer? Die stilte het boekdele tot Hodur gespreek. Balder het dood gelê midde in ʼn kring bewonderaars, wat so bleek en verskrik was asof hulle Hel self gesien het.
Die angs het soos ʼn groot golf oor Asgard gevloei. Toe hulle uitvind wie die noodlottige skoot geskiet het, is Hodur ver van sy familie af weggestuur en alleen in die wildernis agtergelaat. Hy het nooit eens ʼn kans gehad om die naam te uiter van die een wat hom aangemoedig het om die ernstige gruweldaad te pleeg nie, en sy ellendes het hom maar laat stilbly.
Frigg was troosteloos van droefheid. Sy het Hermod, die vlugvoetigste van haar seuns, gesmeek om sonder verwyl na Niflheim te vertrek ten einde Hel te smeek vir Balder se vrylating om hulle almal se onthalwe. Hy het Odin se eie kranige perd, Sleipnir, bestyg en na die nege wêrelde van Hel vertrek – ʼn taak so angswekkend dat hy onbeheersd gebewe het.
In Asgard het Frigg en Odin hul seun se liggaam na die see gedra waar die begrafnisskip se brandstapel gepak en aangesteek was. Nanna, Balder se vrou, kon dit nie langer verduur nie en voordat die dodeskip die stormagtige see in vertrek het, het sy haarself in die vlamme gewerp en saam met haar enigste geliefde omgekom. As bewys van hul groot toegeneentheid en agting vir Balder en Nanna het die gode een vir een hul kosbaaste besittings opgeoffer terwyl die skip die wilde seë begin invaar het. Odin het sy magiese ring, Draupnir, op die brandstapel van Balder gewerp.
Die grote gode van Asgard het algar vergader om die heengaan van Balder te aanskou en terwyl almal toegekyk het, het die brandende dodeskip die strand met vol seile verlaat. Eindelik het die donker dit ingesluk en Balder was weg.
Ten tye van hierdie gebeure het Hermod teen ʼn ontsaglike spoed in die rigting van Hel gery. Hy het vir nege dae en nege nagte gery, sonder eens ʼn wyle se rus. Hy het net aan en aan galop, en die wagters by elke poort omgekoop om hom deur te laat. Hy het Balder se naam aangeroep as die rede vir sy haas.
Ten laaste het hy die saal van Hel bereik. Hy het Balder gevind waar hy en Nanna in groot gemak en voldaanheid sit en speel. Hel het aan Balder se sy gestaan om naby wag te hou oor haar nuutste aankomeling. Sy het veragtend na Hermod opgekyk, omdat almal tog geweet het dat wanneer ʼn gees eers by Hel was, dit so nimmer as nooit weer bevry kon word nie. Maar Hermod het ʼn voetval gedoen en die kille minnares van die dood gesmeek om haar houvas oor Balder te heroorweeg.
“Asseblief, Koningin Hel, sonder Balder sal ons nie oorleef nie. Daar sal geen toekoms vir Asgard wees sonder sy teenwoordigheid nie”, het hy geween.
Maar Hel het nie ʼn vinger verroer nie. Sy het vir drie dae en drie nagte uitgehou terwyl Hermon aan haar sy gebly het. Smekend en pleitend het hy enige denkbare rede aangevoer waarom Balder bevry moes word, en oplaas het die Koningin van Duisternis toegegee.
“Keer dadelik terug na Asgard,” het sy bitsig gesê, “en as wat jy sê waar is, as alles – lewend en leweloos – lief is vir Balder en nie sonder hom kan leef nie, sal hy vrygelaat word. Maar as daar selfs net één andersgesinde is, of as daar selfs net één klip in jou land is wat nie treur oor die heengaan van Balder nie, sal hy hier by my bly.”
Hermod was verheug oor hierdie nuus, want hy het geweet dat elkeen – insluitend Hodur wat die dodelike pyl vlieënd deur die lug gestuur het – Balder lief gehad het. Hy het terstond tot dié terme ingestem en na Asgard vertrek, nadat hy hom aan Hel se teenwoordigheid onttrek het. Met sy nuus het hy gereis teen ʼn spoed wat almal wat hom sien aankom het, stomverbaas het.
Odin het onmiddellik boodskappers uitgestuur na al die uithoeke van die Heelal en gevra dat daar trane gestort moes word oor Balder. Soos hulle gereis het, het alles en almal begin ween, totdat ʼn stroom van water oor die Boom van die Lewe begin vloei het. Nadat almal genader is en elkeen ʼn traan gestort het, het die boodskappers vreugdevol na Odin se saal teruggekeer. Balder sou vrygelaat word – daaraan was geen twyfel nie!
Maar so sou dit nie wees nie. Net toe die laaste boodskapper na die saal terugkeer, gewaar hy die beeld van ʼn ou bedelvrou wat in die donkerte van ʼn holte verskuil was. Hy het haar genader en versoek om te ween oor Balder, maar sy het nie. Haar oë het droog gebly. Die spektakel is na die saal gesleep en Odin het gekom om die ‘droë oë’, te aanskou. Wie se onvermoë om trane te stort sou hom die lewe van sy seun kos? Hy het diep in daardie oë gestaar en gesien wat die boodskapper misgekyk het en wat Frigg ook misgekyk het – wie werklik die dood van Balder veroorsaak het. Want daardie droë oë het aan niemand anders nie as Loki behoort! Dit was hý wat Balder vermoor het, so waar as sou die pyl sy eie hande verlaat het!
Die heilige kode van Asgard was verbreek. Bloed is deur een van hul eie, in hul eie land, gestort. Die ondergang van die wêreld was naby – maar eers moes Loki vir eens en altyd gestraf word.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar