Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Louisa Maria Francina Geldenhuys was die eienaar van OK Bazaars in Potchefstroom toe ek 'n klein dogtertjie was. Sy was ook my Ouma Loui en ‘n formidabele storieverteller, kleremaakster van krismisrokke en trourokke asook ‘n bobaas soetkoekiebakster. Die tipe koekies waar jy nog die deeg met ‘n meuletjie uitdraai en daar ‘n plaatjie inkom wat die deeg in sterrietjies en hartjies verander. Sulke koekies. En krismisrokke wat sis-sis maak as jy loop en krapperig raak as jy dit dra sonder ‘n frokkie.

Stories kon sy vertel. Sulke langes wat aanhou vir ‘n halfuur en wat opgemaak is met smaak, soos ‘n liefdevol voorbereide maaltyd. Bietjie van dit en knypie van dit, skeutjie van daardie en ‘n handvol van daai.

Ouma het my ook altyd belowe dat sy nooit sal doodgaan nie.

Goed, Ouma Loui het gejok oor die OK Bazaars storie. Maar dit was nie opsetlik nie. Sy het maar net ‘n geleentheid gesien vir ‘n lekker storie. Ek was ook nogal gewild by die skool toe die kinders hoor my Ouma het so ‘n vername besigheid.

Ouma het drie hangkaste in haar kamer gehad – een vir Oupa se klere, een vir haar klere, en een vir haar OK Bazaars voorraad. Nou kyk, die OK in daardie tyd was ‘n gerespekteerde plek waar jy alles onder een dak kon kry, maar die materiaalafdeling was by verre die grootste. Dit was die dae voor Shoprite en Pick en Pay en al die ander fénsie winkels van vandag. Almal het daar inkopies gedoen, maar vir my was OK Bazaars net ‘n plek met materiaal en dit was my ouma se plek want sy het al die materiaal van die winkel in haar hangkas gehad. Die mooiste lappe; sagte satyn, krakerige sis, blokkies katoenlappe, fynste kant en harde krimpilene. In die laaie was rye en rye garetolletjies en ritssluiters, ‘n hele laai vol van die mooiste knope en heel onder in die kas, ‘n boksie met die mooiste krale en skulpe vir ouma se doilies wat sy vir ieder en elk gehekel het. Heel bo-op die kas het Ouma haar dik patroonboeke opmekaar gestapel.

Ek het elke vakansie by Ouma en Oupa gaan kuier in Kruisstraat en Ouma het my toegelaat om met haar laai vol knope te speel en die krale te sorteer in kleure en grootte. Ouma Loui was bitter heilig op haar knope en krale, dus was ek die uitverkorene vir hierdie groot taak. Ek het dit ook baie ernstig opgeneem en nooit het een kraletjie of knopie wat aan my toevertrou is weggeraak nie.
Die patroonboeke het vir my as ‘n jong boekwurm en aspirant aktrise/sangeres, ‘n besondere bekoring ingehou. Die dik, dik boeke met die nuutste modes, met die beskrywing neffens die prentjie en patroonnommers, het my ure besig gehou. Ouma het ook notas gemaak langs party van die prentjies, soos “Magriet se rok vir doop” en “Bettie se strooimeisierok. Onthou die valletjie om die moue”.

Maar my lekkerste lekker was om net die kas oop te maak en die materiaal te bekyk, te bevoel, te besnuif en te droom van kaste en kaste vol van die mooiste uitrustings van pienk en blou satyn. Ek kon ure voor die kas sit en speel met al die skatte voor my.

Dis ook daar waar Ouma by my kom sit het en haar storie vertel het van die OK Bazaars. Sy het haar botteltjie 4711 uitgehaal en op haar polse getik en vir my ook gegee vir agter my ore en in my nek. Dan het sy die botteltjie eerbiedig toegemaak in ‘n boksie en in haar bedkassie gebêre.

Die storie het min of meer as volg gegaan:
Die man wat OK Bazaars gebou het, het gehoor dat Ouma so baie lappe, knope en ritssluiters het dat hy besluit het Ouma is die beste persoon om die OK winkel te kry en te bestuur. Niemand ken lappe so goed nie en niemand weet waar om die mooiste materiaal te kry behalwe Ouma nie. En niemand, maar niemand in die dorp kan sulke mooi rokke maak soos Ouma nie. So het Ouma die besigheid begin en materiaal in ver plekke gaan koop, soos in Amerika, Kaapstad, en Engeland by die koningin se paleis. Hierdie reise was gevaarlik met seerowers, cowboys en wilde diere, bose geeste en dies meer. Maar daar was altyd ‘n held in die prentjie wat soos oupa Bok gelyk het wat haar beskerm het en gered het van al die gevare. Die laaste gedeelte het sy gou bygevoeg toe Oupa die kamer ingestap het.

As sy nuwe materiaal teruggebring het van haar reise, het die mense tou gestaan van die voorhekkie tot om die hoek by oom Henning-hulle langsaan se garage. Ouma het vir elke tannie ‘n stuk lap gegee met al die knope en gare wat daarmee saamgaan. Sy het hulle ook vertel hoe om die rok te ryg en te stik sodat die materiaal nie op ‘n knop trek nie. My Ouma moes vreeslik baie geld gemaak het en baie rondgereis het, want sy het altyd nuwe materiaal in haar OK Bazaars gehad.

Baie jare later het Ouma, wat altyd maar ‘n brose gestel gehad het, baie siek geword. Oupa Bok is toe ook ‘n paar maande tevore oorlede en ouma het by Ma en Pa kom bly. Ek het gaan help met die inpak van haar paar besittings wat sy wou saamneem. Meeste van die meubels en goedjies in die huis was klaar verdeel tussen die kinders en kleinkinders en ek het in die leë slaapkamer voor die OK Bazaars hangkas gaan staan en met groot verwagting die deure oopgemaak. Sekerlik sou al die materiale, knope en goeters nog daar wees sodat Ouma ten minste haar “besigheid” saam met haar kon neem?

Die kas was leeg. My tannies en niggies was nou die eienaars van Ouma se OK Bazaars. Ek het op die grond gaan sit en huil vir ‘n Ouma wat nooit weer met ‘n naaimasjien sal werk nie, vir krapperige krismisrokke, soet-sterretjiekoekies en ‘n klein dromerige dogtertjie wat geleer tel het met ‘n blik vol knope en krale.

Heel onder in die kas was ouma se dik patroonboeke en ek het een opgetel en deurgeblaai. Die blaaie het varkore gehad, sommiges was deurgeskif en geskeur van ure se blaai en hier en daar was teevlekke en aantekeninge in Ouma se outydse krom handskrif. Ek het ‘n lang ruk so gesit en heelwat later opgestaan, die boeke opgetel en in my motor op die agtersitplek gaan sit.

My ouma se 4711 reuk was in my kar en sy en haar OK Bazaars was vir ewig in my hart.

O, en my Ouma het ook gejok oor die doodgaan...



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

ouma
Dis 'n treffende bydrae wat mens weer terugvat na tye lank gelede. Goeie woordgebruik en verassende einde.
4 jaar 3 dae 4 ure oud



DIE WIEL DRAAI

deur neels claasen

Die skrywer se vierde spoorwegroman uit die stoomera uit waarin hierdie dae weer herleef word



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar