Weergawe: 1
Aantal woorde: 617
Kere gelees: 0
Datum gepubliseer: 22 Nov 2015
Patrys se pappie het nie weer vrou gevat nie en Patrys moes grootword sonder ’n moederfiguur of enige sibbe. Sy was ’n alleenkind en sieklik, want die vloedramp het haar longe laat klam trek. Patrys was gereeld snotterig en vol koors. Die kinders by die skool het haar Pieperige Patrys genoem en niemand wou met haar maats maak nie - te bang iemand steek iets aan by haar. Sonder ’n mammie,boetie of sussie en geen maaitjies, het Pieperige Patrys grootgeword . Omdat sy so baie siek was, het Patrys die een skooljaar na die ander gedop en was sy reeds twintig jaar oud toe sy uiteindelik by standerd ag uitkom.
Patrys se pappie het ’n hok vol hoenders gehad in hulle agterplaas. Dit was Patrys se verantwoordelikheid om twee keer ’n dag die hoenders te gaan kos gee. Dan het sy af met die paadjie geloop tot by die hoenderhok, met haar arms wyd uitgestrek. Dit het gelyk of sy wou vlieg. Langs die paadjie het twee rye olyfbome gegroei en die die spinnekoppe het behoorlik daarin nes gemaak. Patrys het so met haar arms uitgestrek geloop om die spinnerakke op te vang. Dit het gelyk soos spookasem op ’n stokkie as Patrys aan die ander kant uitkom. Dit was haar gunsteling ding in die lewe - dié spinnerakkies wat so aan haar vasklou.
Op een lente oggend, is Patrys weer vroeg met die eerste sonstrale reg vir haar hoenderhok-trippie. Patrys se pappie het haar gegroet en na sy werk toe gegaan, maar min het hy geweet dit sou sy laaste keer wees wat hy sy dogter sien. Die tannies van die dorp sou later skinder hieroor, baie stories met baie stertjies, maar die een storie het bo almal uitgestaan. Toe Patrys se pappie die aand by die huis kom, was Patrys weg. Hy het haar by die hoenderhok gaan soek. Daar gekom, sien hy die hoenders sit op torings eiers en half vrek van die honger. Patrys was nooit daar om kos te gee of eiers uit te haal nie. Hulle sê die spinnekoppe het haar gevat. Sy het weer so met die paadjie afgestap hoenderhok toe, arms wyd uitgestrek om die fyn draadtjies te voel, toe takel hulle haar. Hulle spin en spin lang drade en hulle spin haar toe in ’n ronde papie in. Wat toe van haar geword het weet niemand nie. Party sê die spinnekoppe het haar net daar opgevreet ander bespiegel die wind het die menspapie weggewaai. Haar pappie het net ’n blou strikkkie wat sy altyd in haar hare gedra het onder die olyfbome gekry. Hy het daarna die olyfbome uitgekap, die hoendertjies verkoop en lank en gelukkig alleen in sy huisie gebly.
Lees ander kortverhale deur Leha
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die kortverhaal
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie kortverhaal
Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae