Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Herman kyk gesteurd op van die trekker enjin waaraan hy in die skuur werk toe hy ‘n dowwe slag hoor. Dit klink soos ‘n ontploffing. Martie se benoude geskree klink of iemand vermoor word. Hy sit die gereedskap half onwillig neer. Hierdie trekker kom ook nie vandag klaar nie. Hy stap vining deur toe en merk verbaas ‘n suil rook wat agter die berg opstyg.

Platberg is die grens tussen sy plaas en die Van Reenens. As daar ‘n brand ontstaan gaan altwee plaashuise in die moeilikheid wees.

“Kom vrou, klim dat ons gaan kyk wat by die bure aangaan.”
Hy trek in ‘n stofwolk weg met Martie se een been wat nog halfpad by die bakkie se deur uithang.
“Stadig Herman, wil jy my nou staan en verongeluk?” Herman grinnik. As daar nou iets is wat Martie al die jare goed kon doen dan is dit in ‘n kar spring as dit beweeg. Hy noem haar nie verniet Martie wielietjies nie. Hy verminder effens spoed en Martie kry die deur toegeslaan. “Hoe word jy dan deesdae so stadig, ek dog….” Martie val hom vies in die rede. “Jy weet wat dog oorgekom het. Ry Herman … ry!

Hy kies die kortpad oor die berg. Die ruwe terrein is gelukkig kinderspeletjies vir die 4X 4. Toe hulle oor die kruin van die berg kom sien hulle met verbystering dat rook uit die buurhuis se kombuisvenster borrel.

Met die stilhou op die werf sien hulle die buurvrou Marlize voor die agterdeur staan. Die helfte van haar voorskoot is weggebrand. Waar Bak en Brou gestaan het, is nog net Brou oor. Waar haar ‘perm’ was, sit net ‘n paar verskroeide haarstoppels. Sy is papnat – vol swart strepe. Sy lyk kompleet soos ‘n tweevoet-zebra ... en duidelik hoogs ontsteld. Op die manier wat sy beduie kan Herman en Martie sien dat daar iets onaards in die kombuis moes gebeur het.

Regard haar man kom met ‘n paar werkers by die kombuis uit. Tuinslang in die hand. Toe sien Herman die gat in die dak.

“Môre Buurman, het iets uit die ruimte op julle huis geval? Wat het hier gebeur?

Regard is wit om die kiewe. “Nee jong, dit is mos nou as ‘n vroumens ‘n eie wil het en niks van gas af weet nie en nie wil wag nie. So lyk DIY…. Do it youself ... en brand amper die huis af! Van instruksies lees? Aikona, sy volg mos altyd haar eie kop.

Herman kan nie help om te lag nie. “Verskoon tog buurman, maar vertel?”

Regard gaan sit op een van die tuinstoele. Vee die roet van sy gesig af, skud sy kop heen en weer en kyk op. In die boom bokant sy kop hang repe rou vleis en groente. Hy sluk swaar - lyk na aan ineenstort. “Kyk waar hang die sop… die kombuis is in sy peetjie en net die geraamte van die gasstoof is oor. Ses hoenders is op slag dood toe die soppot die hoenderhok getref het. Nou lê daar nog ‘n soektog in die berg ook voor. Die honde en res van die asems op die plaas is met kokende deeg oor hulle koppe agter skreeuende bobbejane die berg in. Vlugtend vir die dood uit die lug.

Dit alles oor ‘n gasstoof. As Marlize mos ‘n ding gedoen wil hê moes dit al gister gewees het. Ai die skade! Nee man buurman, ‘n man se senuwees kan dit nie hou nie. Kom ons gaan gooi ‘n aaroopmakertjie. Sommer so vier vingers. Gelukkig is my drankkabinet nog ongeskonde en Marlize kan verseker nie kla of ‘n ‘n eier lê oor die vroeë versterkingtjie … sonder koffie nie.”

Oppad terug huistoe lag Herman dat die trane loop. Hy moes homself inhou toe hy die skade sien en Marlize se breedvoerige verduideliking aanhoor van hoe sy die gasstoof gekoppel het. Op ‘n man kan mens mos nie staatmaak nie. Altyd more-môre. Sy het die oond eers met gas laat volloop vir die bak van die koek. Toe die soppot gevul het met die heerlikste vleis en groente om die nuwe stoof in te wy. Dit was toe sy die stoof aanskakel dat daar iewers iets verkeerd gegaan het. Definitief nie haar skuld nie. Seker ‘n fabrieksfout.

Die uitdrukking op Regard se gesig toe hy die storie aanhoor, kan geen mens beskryf nie.

Martie skreeu soos sy lag. “Bid jou aan, eers die oond met gas vul. Dit is mos ‘n bom bou! Nee wat, ek bly maar by my betroubare elektriese stoof en as die krag af is, terug na die koolstoof. Om vir maande ‘n mussie te moet dra gaan nie vir my werk nie.

Liefie, kom ons ry sommer weer die kortpad oor Platberg. Die sonsondergang is skouspelagtig teen die ruwe rotse en ek kry nie elke dag die geleentheid om die plaas van die berg se kant af te sien nie. Ons moet tog op ‘n dag weer ‘n mandjie pak en die gaan berg uitstap. Ek wonder of die waterval nog dieselfde lyk. Daardie yskoue vars bergwater-vingertjies wat oor mens se lyf stort en kielie."  Martie ril net aan die gedagte daarvan.

Herman kyk skalks na sy vrou. “Die waterval… hmmmm… Onthou jy wat gebeur het na die laaste kuiertjie. Geen wonder die tweeling is so mal oor bergklim nie."

“Toe nou Herman hou jou in. Ses kinders is ‘n handvol." Sy kyk hom tergend aan. "Miskien moet ek ook vir my ‘n gasstofie aanskaf – een met ses plate en….”

Herman verstik in sy woorde. ” Vroulief, ‘n gasstoof is uit … uit soos in…”

Hulle verstar. Platberg lyk soos Blinkberg.

Op die kruin van Platberg sit sewe en twintig bobbejane met erge bewerasie. Hulle nekhare taai en gekoek van deeg. Die kranse het vreemdsoortige strepe wat onnatuurlik glinster in die ondergaande son. Herman dink ... hy sal tog moet onthou om ‘n soutblok uit te sit. ‘n Tekort aan elektroliet kan ‘n gevaarlike gesondheidstoestand vir die bobbejane wees.




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

PLATBERG SE GASSTOOF
Heerlik mos om oor ander se skandes en skades te lag! Baie goed geskryf!
5 jaar 4 maande 3 weke 4 dae 7 ure oud


berg
emk het lanklaas in my lewe so lekker gelag waow wat n storie
5 jaar 5 maande 4 weke 9 ure oud


Platberg
Jy vertel vooruit

Ek skat die koerante gaan nog eendag skree van nuus oor gas ontploffings.

Met elektries skakel die kok aan en gaan sit voor die TV - Die ergste sal wees kos wat brand.

Gas . . .
Jy loop sit op 'n stoel en check en haal nie jou oog van die gas af nie..

Even vir badkamer sake - maak liewer dood
Die weer start is vining en effektief

Jy heb't gesegd

Ek't be-aam!!!
5 jaar 5 maande 4 weke 18 ure oud


Platberg
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die BERGE projek.
5 jaar 5 maande 4 weke 21 ure oud



Grafte op die Berg

deur Johannes de Swart

Prosigma, dagboek van 'n paranoiese skisofreen



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar