Projek: WOESTYNE (2015-04-01 tot 2015-04-14)
Weergawe: 1
Aantal woorde: 701
Kere gelees: 0
Datum gepubliseer: 06 Apr 2015
So is ons toe Pretoria-Wes uit. Al agt bakkies gepak met waterbottels en blikkieskos. Regs in Van der Hoff. Weswaarts. Woestyn toe. Eers verby die magtige Hartebeespoortdam, wat pa sê God vir ons die waters van sou skei, was dit nie vir die pad wat alreeds oor die damwal loop nie. Op die damwal het pa die ramshoring laat weerklink en toe luidkeels gejuig, “Dogter van Sion, neem jou plek in! Neem jou ewige plek in!”
Ons vlug nie van Uhuru nie. Allermins vrees ons die Nag van die Lang Messe. O nee, my maat, ons slaan ‘n ander koers in. Ons gaan hemel toe. “Olie vir my lamp. Olie vir my lamp. Almal oppie lorrie, ons gaan hemel toe… en ek gaan saam. Ja, ek gaan saam!”
Op Kuruman het my pa weer begin profeteer. Hy moet eintlik nie bestuur wanneer hy sy openbaringe ontvang nie want hy kry hierdie oorweldigende hoofpyne. Ek het maar die wiel by hom geneem en my ma het afgeskrywe. Toe hy daar teen Upington se kontrei weer bykom, moes my ma vir hom, soos gewoonlik, uit die Gedenkboek Van Jahweh lees. Dit is ons vertaling van die Bybel. Dit is so ‘n wonderlike boek. Die ander seuns by my ou skool lag daarvoor, maar vir ons Joodse Boere is dit die enigste ware Woord van God. Ongelukkig het die oom wat dit vertaal het 40 000 foute gemaak… volgens die Sisterskerke. Hy het die foute begin regmaak, maar my pa het hom gestop en vir hom gesê dat daar nie meer tyd daarvoor is nie. Ons lees nou maar so om die spelfoute en spasiëringsprobleme. My pa sê die kern is reg en dít is wat tel.
Die Dogter van Sion was eers baie sterk. Ons was seker so ‘n duisend mense. Toe daar egter met Mandela se afsterwe geen wit volksmoord was nie, het baie mense hulle vertroue in ons verloor. Hulle het my pa se profesieë begin bevraagteken. ‘n Mens sou dink dat hulle sou bly wees dat ons die bloedslagting vrygespring het, maar nee, dit het hulle net afvallig gemaak. Almal was almal só gereed. So, nou is ons maar ‘n handjievol wat ons Saligmaker in die woestyn gaan ontmoet. Ons is nie seker waar die wegraping gaan gebeur nie. Pa sê ons gaan vir veertig dae en veertig nagte in die woestyn rondswerf. God sal ons kry waar Hy ons kry.
Ons het vir die eerste twee weke rondom die Goegap Natuurreservaat naby Springbok gesirkel, waarna ons die diep woestyn binne is. Dit was verskriklik warm met een duin na die ander. Ons was net oor die Holgatrivier toe een van die bakkies die gees gee. Ons kon een van twee dinge doen. Óf ons kon die bakkie tou na die naaste dorp om reggemaak te word óf ons kon eenvoudig net wag vir dag veertig. Ons het gewag. Dit was lewende hel. Behalwe vir die ontsaglike hitte was daar sand orals – in ons hare, in ons ore, in ons holle.
Toe, op dag veertig sien ons iets op die horison. Dit het al hoe nader gekom. Ons was ongelooflik opgewonde. Die figuur het groter en groter geword. Ons het soos een man na die wese toe gehardloop… “Goeie more, mense”, het dit gesê. “Ek is die Paashaas.” Voor ons oë was ‘n mensgrootte haas wat praat. “Is u God?” het my pa oorbluf gevra. “Nooit! Ek het jou gesê ek is die Paashaas.” “Waar is jou eiers dan?” het my pa ontsteld gevra. “Sjokolade-eiers in die woestyn, profeet?” het die Paashaas gelag. “Die mensdom bly darm naïef!”
Óf my pa is werklik skisofrenies soos almal sê óf daai 40 000 foute het ons op ‘n dwaalspoor gebring. Pa sê ons gaan nou Ethiopië toe. Hy en die gees van ‘n ene Koningin van Sheba kommunikeer af en toe. Sy sê dat die Verbondsark daar in ‘n grot begrawe is en dat die uitverkorenes blykbaar dáár bymekaar moet kom vir die wegraping. Hierdie keer weet ek dat pa reg is. Ek glo my pa. Ons ís reg! “Olie vir my lamp. Olie vir my lamp. Almal oppie lorrie, ons gaan hemel toe… en ek gaan saam. Ja, ek gaan saam!”