Kortverhale

Titel: Riana
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Dit is nie ‘die Magaliesberg’ nie – dit is haar Magaliesberg. Elke skeur, elke krans, elke kloof ken sy soos die palm van haar hand. Nie eers die wilde bobbejane vlug meer vir haar nie want dit is haar grootword plek.
Dit is waar sy en pa ure deurgebring het, op daai oorhang krans wat sy van hier af kan sien, het hulle saam gesit terwyl hy met sy stap stok oor die plaas wys en sorgvuldig beduie waar en hoekom hy ‘n nuwe boord gaan aanlê.

Vandag keer die berg. Dit is bedompig warm en die berg keer dat ‘n koel luggie haar gemoed kalmeer. Dit is die stemme van die werkerskoor – eers die sagte begin van die vrouens en dan val die diep melodieuse mans stemme met net ‘n agtergrond neurie in en die weemoed en hartseer kerm ten hemele.

Riana het nog nie gebreek nie. Sy kan nie breek nie omdat sy nog nie kan glo nie en omdat sy nie weet nie. Sy het nie antwoorde nie en leun effe teen Roelf, haar neef, se arm wat hy om haar lyf hou en haar oë verstar op die ses werkers elkeen met die punt van tou vasgedraai om hulle hande.
Drie toue onderdeur die kis en hulle laat sak gelykmatig – so onwerklik grasie vol, daal die kis in die graf af; streng volgens die werkers se ernstige wens:
“Laat ons asseblief die oubaas wegbêre”
Dis toe die voorsanger vrou haar stem die hoogte instuur en die weemoed en askuus deur die hartseer omstanders skiet – toe eers breek Riana en Roelf en nog ‘n ander neef is net betyds om haar te steun en te regop terwyl die snikke haar wese aan’t flarde skeur.

Hy het haar alleen grootgemaak vanaf twee jaar oud nadat haar ma se motor in die grondpad gegly het. Daarvan weet sy baie min maar die plaas was in haar bloed en dit het alle tekorte in haar lewe gekanselleer tot die dag. . . .
Dit was aand en sy berei die aand ete en hoor haar pa se roep vanuit die badkamer.
“Riana, kom in en kom kyk asseblief “
Sy gaan in en hy staan met die handdoek om die lyf gevou voor die groot spieël: “Kyk op my rug asseblief so in die middel langs, daar is ‘n jeuk en ‘n brand, wat sien jy?”

Sy het gekyk en toe sy sien ruk dit deur haar lyf want sy weet en sy kry net uit : “Pa, dis ‘n bontpoot Bosluis.”
Toe keer hy. “Moenie dit aftrek nie, brand dit dood met ‘n vuurhoudjie ek sal vasbyt”

Dit was Saterdag aand nadat hulle al van Vrydag af met die beeste gewerk het. Sondagoggend toe sy vir pa sy oggendkoffie kamer toe neem, vind sy hom deurmekaar van koors en met die werkers se hulp het hulle hom gelaai en sy is hospitaal toe.
Dit was te laat.

Neef Roelf is met een jaar ouer, haar tydgenoot en hy boer saam met oom Petrus oorkant die krokodil rivier. Dit is hoe die twee broers ge-erf het en saam-saam soos broer en suster het hulle van kleins af grootgeword, skool gegaan en sy het gaan verpleeg en net na opleiding plaas toe gekom. Roelf het verder gaan swot maar vakansies was hulle saam.

Dit is dan ook Roelf wat as Veearts in die dorp praktiseer en steeds as enigste kind op die plaas bly om oom Petrus te help, wat sê:
“Riana, ek het my tas gepak en kom slaap ‘n paar aande hier.”
Roelf het al sy eie kamer in die huis. Sy oorslaap hier is normaal veral as hulle laat kuier.
Die werkers is getrou en sy gaan voort met die boerdery en laat Mieta elke aand voordat sy bad inspekteur – haar hele lyf deurkyk. Sy het ‘n manie oor Bosluise ontwikkel.

Dit is drie jaar later. Riana boer en doen dit ernstig en indien sy van die sosiale uitnodigings kry en Roelf kan haar vergesel, voldoen sy na keurige oorweging. Maar almal kan sien, veral ongetroude mans, Riana het geen belangstelling in enige verhouding nie, die plaas alleen is haar lewe.

Met ryp word en lewens behoeftes wat stadig maar seker ontwikkel, het die enigste onenigheid tussen haar en Roelf ontstaan. Roelf is ‘n man en hy beweeg wyd in sy beroep en vrouens loop op voete maar elke keer moet Riana saam en dan is sy die derde man en hierdie speletjie moet sy stop.
Sy sien op haar foon dis weer Roelf en sy het haar besluit geneem en voordat hy kon praat is sy vinnig:
“Roelf, die lewe gaan aan. Jy het ‘n eie lewe en ek vra jou mooi; bring jou meisies, ek sal vir jou ‘n goeie een kies, kom kuier en leef jou lewe – asseblief, ek sal regkom. Ek glo daar sal iemand oor my pad kom.”

Die stilte wat van Roelf se kant af kom, sny deur haar wese- dit is ‘n verwyt, ‘n lewens verwyt. Riana verwyt die lewe vir die onregverdigheid en aan die anderkant gebeur dieselfde met Roelf.
Vyf en twintig jaar se saam en vir albei effe onnatuurlik – die samehorigheid gevoel – was al vreemd diep binnekant.

Roelf se flou woorde:
“Riana, wat van jou . . . ? “
Sy weet hierdie is ‘n lieg, maar sy lieg dit nogtans:
“Soek vir my ook iemand – jy beweeg mos wyd.”

Daardie Arend daar vêr bo in die lug . . . Daardie Arend en sy maatjie wat elke jaar twee kleintjies groot maak; ja, twee kleintjies wat onnatuurlik is omdat die sterker een vat altyd die swakker een se kos – maar nie hierdie twee nie.
Beide Roelf en Riana het op hulle plase elkeen ‘n Arend etenstafel. Hierdie paartjie hoef nie te soek na kos nie – daar is genoeg vir al twee kuikens; vars geslagte hoenders tot vars vleis met beentjies – baie beentjies wat Arende baie nodig het.
Ja, daardie Arend daar vêr bo . . . hy kan kyk en hy sien twee mense. Sy kyk is anderste; hy kan kyk tot binnekant die twee mense en wat hy sien is nie mooi nie.
Hy sien twee mense wat diep, baie diep binnekant – eensaam en ontevrede is. Ontevrede met die lewe.

Roelf probeer. Hy bring jong manne vir naweke en ‘n meisie vir hom en die een naweek is hulle by oom Petrus en die ander na-week is hulle by Riana en die volgende naweek is dit weer ‘n ander meisie saam met Roelf en dan bring hy weer ‘n ander man vir Riana en die resep is ‘n flop.
Dit werk nie uit nie en ‘n pitseer ontwikkel want daar is ander mense ook wat geraak word . . .

Oom Petrus en tannie Ralie en nog al die jare – Riana se oorlede pa ook. Hulle het almal sulke vreemde kyke in hulle oë gehad; vreemde kyke wat al hoe vreemder geword het soos die neef en niggie volwassenheid bereik.

‘n Pitseer vat nege dae om ryp te word en te bars en die bars van hierdie situasie was sommer ‘n paar maande later, op ‘n Sondag oggend. Riana is saam met Roelf en sy ma en pa in die Kerk en die Dominee het oor vergiffenis gepreek.
Die Dominee het daar van die preekstoel af half en half gesmeek vir vergiffenis en Riana het gewonder wie sit agter hulle, hoekom kyk Dominee na hulle kant toe – so aanhoudend.

By die huis kon Riana sien tannie Ralie het regtigwaar moeite gedoen met die kos. Sy was stil, baie stil en Riana weet sy is moeg want sy moes al baie vroeg opgestaan het om alles reg te kry en Oom Petrus had ook maar nie baie woorde nie, hy had die hele oggend nog so ‘n stilte binne hom en so ‘n snaakse kyk na die verte en toe, met die aansit begin die ding:
Oom Petrus is nie lekker nie maar hy staan sterk:
“Roelf, loop sit jy langes jou ma – Riana kom sit jy hier langes my.”
Nou is die kop en voet van die tafel leeg. Oom Petrus en tannie Ralie se plekke is leeg en Roelf en Riana voel aan hier kom ‘n ding en hulle sit pa – seun, Tannie Ralie – Riana, oorkant mekaar.

Oom Petrus se stem is swak:
“Kom ons vat hande . . .”
Riana voel ‘n effe bewe in die sterke hand van oom Petrus en met haar ander hand voel sy tannie Ralie se hand maar dit is yskoud en kramp-kramp en oom Petrus wag nie lank nie en sy eerste woorde maak Roelf en Riana se oge oopgaan:
“Roelf my seun, vandag moet dit uit en dominee se preek moet jou help en ek vra vir jou asseblief.”
En dit is of oom Petrus se stem breek want die volgende kom sag en Riana sien die grote sakdoek wat tannie Ralie van onder die tafel uitbring:

“Roelf ek en Ralie het probeer. Ons het alles probeer en net die Here kon ons help. Ralie kon en sou nooit kinders had nie, maar die Welsyn had ‘n babatjie. Dit was ‘n seuntjie, vir my ‘n erfgenaam en vir Ralie ‘n kind wie se ouers niemand geken het nie. . . Roelf ons kon jou nooit vertel nie want ons het so geglo jy was eintlik maar vir ons bedoel en ons vra nou net hier, om hierdie tafel, vra ons albei askuus en vergiffenis vir ons onreg teenoor jou . . .”


Willie F van Tonder
2014/07/17



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Bravo!
Ai hoe mooi! die kan 'n movie word!!!!
welgedaan ou Wolfie!
5 jaar 2 dae 12 ure oud


Riana
Dit is aangrypend.

Soveel onkunde, soveel liefde en dan die waaroms daarna.

Ek het dit geniet.
5 jaar 2 maande 4 weke 1 dag 7 ure oud


Riana
Willie, dis n baie goeie verhaal ek het dit terdee geniet en dan speel die hele storie af in n mooi kontrei ook. Alles pas pragtig maar ek het hier teen die einde n helse argument verwag van oom petrus en tant Talie, was bang vir bloedskande. Mens weet nooit wat om in n storie te verwag nie, haha. Maar hierdie skrywer laat alls so mooi verloop, so bietjie seer dalk vir Roelf maar n groter vreugde ook.

Dankie Willie
5 jaar 2 maande 4 weke 1 dag 10 ure oud


Riana
Willie, dis 'n beautiful storie. Ek het dit regtig baie geniet. Goed geskryf...dankie. Al die nodige elemente is daarin vervat..
5 jaar 2 maande 4 weke 1 dag 18 ure oud


Ano
Riana
Sjoe, dit was nou werklik lekker om te lees en het ook nie die einde sien kom nie. 'n Glasie sjampagne op die tweetjies. Baie dankie :-))
5 jaar 3 maande oud


Riana
Wat 'n vreugde!!! Ek het maar naderhand gedink hulle sal vir altyd so alleen bly, maar ek het vergeet wie maak die planne! Dis Sneeuwolf se storie en daar is altoos 'n knoop in die stert. Ek is nou so bly ek het tyd gehad om te lees!
5 jaar 3 maande oud


.
My eerste gunstellinge kortverhaal.

Ek het hoendervleis uitgeslaan en ek dink ek verstaan nou met "Ek het dit NIE verwag nie!" - maar ek is BAIE bly en moes sommer die trane sluk so mooi is dit.

Vergifnis ... al die tyd. Soms werk dinge uit soos dit moet.

Kritiek?
nee, nie vir hierdie een nie. Hierdie een is perfek. Magalies, krokidilrivier ... die omgewing, die storie ... alles.

Dankie ♥
5 jaar 3 maande 2 ure oud



Wie Praat Nou? Boek 1 - ʼn Gids na die wêreld van Geestelike Energie

deur Thalita Goosen

Wie Praat Nou? Boek 1 - 'n Gids na die wêreld van Geestelike Energie - is die eerste van 'n reeks opeenvolgende boeke wat vanuit 'n geestelik/wetenskaplik/sielkundige denkrigting onderrig. Hierdie reeks boeke is gemik op daardie mense wat gereed is vir 'n hoër Waarheid en reguit antwoorde.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar