Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

“Hallo Janneman,” groet Karlien.

 

“Karlien!  Is dit tog nie jy nie.  Ek het wanneer laas iets van jou gehoor,” antwoord ek.

 

My hart klop woes wanneer ek haar stem herken.  Karlien het nog altyd die uitwerking op my gehad.

 

“Ja jong, Jo’burg het nou nie die Kaap se rustige gang nie.  Ek is gedurig aan die draf,” sê sy.

 

“Geniet jy darem nog jou nuwe werk daar in die Goudstad?” vra ek.

 

Ja, daar is elke dag ‘n nuwe uitdaging en ek leer vreeslik baie.  Maar dis eintlik hoekom ek bel.  Ons het volgende maand ‘n konferensie en ek het gedink jy moet ons kom toespreek oor rekordbestuur,” antwoord sy.

 

“Nee Lientjie, ek weet darem nie – ek het mos nou nie eintlik grade of so nie,” weifel ek.

 

“Maak nie saak nie, daar is niemand wat ‘n argief kan bestuur soos jy nie.  Praktiese ondervinding is soveel meer werd as boekkennis.  Toe man, dis ‘n alle-onkoste-betaalde geleentheid, en dan het ons darem die naweek om te kuier voor jy Sondag terugvlieg.  Ag toe, sê ja…” pleit Karlien.

 

“Nou toe, waaroor moet ek praat?” willig ek in.

 

“Ek gaan nie vir jou ‘n tema gee nie – deel net al die geheime van goeie rekordbestuur met ons – jy weet al die goed wat die boeke ons nie leer nie,” verduidelik sy.

 

“Nou goed .  Laat weet dan maar wanneer my vlug is,” groet ek.

 

-----00000------

 

“Alle passasiers vir vlug B003, maak gereed om aan boord te gaan,” weergalm ‘n blikstem deur die vertreksaal.  Ek gryp my tas en volg die res van die passasiers na die hek.

Soos skape in ‘n drukgang, dink ek.  Wat het my besiel – ek moes nooit ingestem het nie.

 

“Enige iets om te drink, Meneer?” vra die lugwaardin.

“Net lemoensap, asseblief,”  antwoord ek terwyl ek deur ‘n tydskrif blaai.

 

Mmmm… dis nou interessant. 

 

Ribes Nigrum of die bekende swartaalbessie word gebruik vir die maak van wyn met ‘n soortgelyke geur as die Graves of Rhine wyne.  In Amerika is die bessie oorspronklik beskou as ‘n natuurlike lakseermiddel, maar mense het gou agter gekom dat dit in groot hoeveelhede hardlywigheid veroorsaak.  Die swartaalbessie is die hoofbestanddeel in die bekende Franse likeur – Cassis.

 

Ek soek-soek deur die skare na die bekende blondekop.

“Jan! Dis so goed om jou weer te sien,” en sy gryp my om die lyf.  “Jy lyk nog net soos ek jou onthou.”

“Hallo, Karlien.  Jy lyk goed” en ek bekyk die lyfie in die snyerspakkie – so anders as die Karlien wat ek gewoond is.

“Kom, het jy nog ander bagasie?”

Ek skud my kop ontkennend en moet net hardloop om by haar vinnige pas by te hou.

 

“Hier is ons.  Jy is in kamer 131. Ek kom haal jou sewe uur.  Daar is ‘n fantastiese nuwe seekosplek wat ek wil probeer.  Ek kan nie wag om al die nuus te hoor nie,” babbel Karlien.

 

Verdwaas staan ek op die sypaadjie met my tas en kyk die groengrys BMW agterna.  Die klere mag miskien verander het, maar Karlien is nog steeds Karlien.

 

Net so voor sewe staan ek myself in die spieël en beskou, en ek onthou....

 

Ek ek Karlien op Blouberg se strand.  Sy hardloop laggend voor my uit.  Ek vang haar en ons val laggend in die vlak branders neer, my gesig naby hare.  Die branders breek oor ons wanneer ek haar soen.  Ek proe weer die see se sout gemeng met die soet van haar mond. 

 

Met ‘n kreun kom ek terug na die werklikheid.

Ja Karlien, jy is maar nog steeds die vrou van my drome, dink ek, maar ek het jou seker nou vir goed verloor.  Hoekom kon jy tog nie maar in die Kaap gebly het nie?

 

‘n Paar minute later staan ek sprakeloos voor Karlien in haar noupassende swart aandrok en haar hare op haar kop gestapel.  “Karlien, jy lyk ….”  My mond is te droog om te praat en my knieë knik.

“Kom ou grootman, laat ons gaan eet.  My maag dink al my keel is afgesny.”

 

“Sjoe Karlien, ek is beïndruk.  Dit is nie aldag dat ‘n restaurant in Johannesburg seekos kan maak soos die Kapenaars nie.  Dit was die beste salm wat ek in ‘n lang tyd geeët het,” sê ek.

“Ja nee, Pieter het geweet waarvan hy praat het toe hy Le Cassis aanbeveel het,” antwoord Karlien.

“Ek het op die vliegtuig gelees van die Cassis likeur – ek moet net ‘n bottel hê...?” 
“Wel, dit sal seker bietjie duurder wees as die drankwinkel, maar ek sal met die bestuurder reël,” antwoord sy.

 

Heelwat later laai Karlien my met my bottel Cassis by die hotel af.  Wat ‘n genotvolle aand, dink ek terwyl ek in die bed klim en dadelik aan die slaap raak.

 

Karlien kyk na my met haar blouselblou oë – haar hand in myne.  Nou is my kans – so met die musiek van die see en die son wat die westerkim kleur met sy gloed.  Ek sak op my een knie neer voor haar neer in die sand.

“Karlien…”

 

Ek skrik wakker, sopnat gesweet en my maag….  O genade tog, dink ek en hardloop vir die badkamer.  Ek maak dit net betyds!

 

So gaan dit toe die hele nag aan.  Waar kom dit tog nou vandaan, ek is tog gewoond aan seekos, dink ek desperaat toe ek vir die soveelste keer van die toilet af opstaan.

Wat gaan ek maak?

 

“…..mense het gou agter gekom dat dit in groot hoeveelhede hardlywigheid veroorsaak” onthou ek die reël in die artikel.  Ek het nie swartaalbessie nie, al die winkels is toe en agtuur moet ek my praatjie lewer.

 

Die likeur! – swartaalbessie word vir die maak van Cassis gebruik – desperaat gryp ek die bottel en vat ‘n groot sluk.

 

Glad nie sleg nie…

 

Ek word wakker met ‘n kloppende hoofpyn.  Die nag se gebeure voel soos ‘n verre droom.  Die sonnetjie sit darem maar baie hoog, dink ek.  Ek strek         my arm uit na my selfoon en ruk van die skrik as die leë bottel op die vloer aan skerwe spat.

 

O genade tog, dis sowaar al tienuur!  Karlien sal my storie nooit glo nie.  Niemand hou Karlien Fourie vir die gek nie!

 

Ek luister desperaat na die eindelose gelui van die foon.  Karlien, antwoord tog! bid ek in my binneste.

 

Ek is soos ‘n sleg hond op die eerste vliegtuig terug Kaap toe.  By die huis bel ek dadelik weer en kry telkens net die antwoordmasjien.  “Karlien Fourie.  Laat asseblief ‘n boodskap en ek bel jou terug.” 

 

Teen Woensdag is ek heeltemal paniekerig.  Ek het al hoeveel boodskappe gelos en sy ignoreer my.  Ek kan dit goed verstaan maar ek kan nie so maklik opgee nie.  Ek het nog net een idee, wat dalk moontlik net kan werk…

 

Ek onthou nog daardie aand by Edgars – haar skraal vingers wat saggies oor die parfuumbottel streel, dit optel en sensueel aan haar polse spuit.  Sy adem die geur in -   Kenzo Flower – ‘n geur wat haar  volmaak pas. Ek kry weer die geur van die swartaalbessie wat nog  lank daarna bly draal.  Ek onthou haar sagte suggie as sy wegdraai en ons uitloop. 

 

Die volgende oggend gaan koop ek die grootste bottel Kenzo Flower wat ek kan kry en stuur dit met dringende koerier na haar werksadres in Johannesburg.  Nou kan ek net sit en wag en hoop…

 

Alleen op 'n Vrydagaand.  Daar is niks op TV nie en selfs Clive Cussler kan vanaand my aandag nie hou nie. Ek kyk op my horlosie - 'n geskenk van Karlien.  Elfuur.  Ek kan maar net so wel gaan slaap.

Die skril geskel van die deurklokkie onderbreek my gedagtes.  Ek maak oop – en daar staan sy – my droomvrou!  Sy tree oor die drumpel, kom staan styf teen my en ek ruik die geur van Kenzo Flower….

 

 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ribes Nigrum
Die einde het ‘n beter afloop as die vorige weergawe.

Ek dink die gedeelte kan jy in kursief sit eerder as tussen aanhalingstekens omdat dit iemand se monoloog sal voorstel. Tensy die karakter dit hardop lees.

“Ribes Nigrum of die bekende swartaalbessie word gebruik vir die maak van wyn met ‘n soortgelyke geur as die Graves of Rhine wyne. In Amerika is die bessie oorspronklik beskou as ‘n natuurlike lakseermiddel, maar mense het gou agter gekom dat dit in groot hoeveelhede hardlywigheid veroorsaak. Die swartaalbessie is die hoofbestanddeel in die bekende Franse likeur – Cassis.”

Kyk dat jy in die kortverhaal by die regte perspetiefbelewing hou. Jou verhaal is vanuit die ek-verteller se oogpunt geskryf.

“Karlien kyk vir die soveelste keer na die naam wat flits op haar sel. Sy voel weer die rooi blos van vernedering terwyl al haar nuwe kollega’s haar met vraende oë aankyk en die tyd meedoënloos aanstap. Met finaliteit sit sy die foon af.”

Hier het jy weg van die ek-verteller beweeg en derdepersoonsverteller toe verskuif. Dis steurend.

Groete

Chenél
11 jaar 6 maande 1 week oud


Oulike storie van dié bessie gemaak! ‘n Paar opmerkings (as erg leek, hoor!): Ek sou die hele verhaal eerder in die enkelpersoon vertel; vir my is dit meer georden so. Gebruik ook spasiëring tussen die verskillende karakters se woorde, net soos paragrawe; dit vergemaklik (vir my) die lees van die storie. Ek hou baie van die slotparagraaf!
11 jaar 6 maande 3 weke 5 dae 17 ure oud


Ribes Nigrum
Ek het nie gehou van jou vertelsperspektief wat van die een karakter na die ander wip nie. Dit maak mens ietwat verwatd. Jou aanloop was redelik goed maar die slot laat veel te wense. Ek voel dat jy die storie vooruitgehardloop het en meer detail kon spandeer om atmosfeer te skep. Daar is een ongelooflike oorspronklike sin wat ek baie geniet het.

Daar kan ook gewerk word aan die “dink” gedeeltes. Gewoonlik is dit nie in aanhalings tekens nie.

Groete

Chenél
11 jaar 6 maande 3 weke 6 dae 2 ure oud



Sirkeldans

deur Driekie Grobler

'n Vars briesie van inspirasie en genotvolle saamkuier



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar