Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

RISIKO-ORS :

Wat is die doel van die lewe, as jy nie kan leef nie, of om te loop as jy nie voete het nie. Kan jy vlieg sonder vlerke, of iemand aanraak sonder hande ? Kan ek jou vertel hoe ek voel sonder ‘n tong, of sonder die beweging van my lippe ? Kan ek jou hartklop hoor, as ek nie my oor teen jou bors kan druk nie, of jou asemhaling … ?
Kan ek ‘n klip wees as ek myself sny en daar kom bloed uit ?

Ek sien die son, ek voel die hitte, maar die staar verblind.
Ek lê in die holte van die halfmaan, net om my weg te druk soos dit voller word.
‘n Verskietende ster, net om te verdwyn en niemand mis jou nie, met ‘n melkweg wat nog dieselfde lyk, en die een wat jou nie gesien het nie, weet nie eers van jou bestaan nie, of jou dood …soos ‘n verskietende ster nie.
Die suiderkruis nog steeds in sy plek om rigting aan te dui, waar die sterretekens baljaar in die sonnestelsel.
‘n Kontras van donker en lig, ‘n sekerheid sonder redinasie.
Ek hoor die golwe by die see, en sien die ronde spoelklippe op die sand, hulle rondings, gevorm en bevoel deur ontstuimige branders, in die palms van my hande, te pas soos ‘n legkaart, en my voetspore in die sand van korte duur wanneer die see hulle soos ‘n besem wegvee, haarself herstel asof jy nooit daar was nie, asof sy nie wil hê iemand moet weet jy was daar nie. Die geheime van die oseaan, diep onder die waters versamel, ja, geheime te diep om ooit ontdek te word, en al een wat weet is jy, en as die geheim gedeel word, die julle.

Kan iets wat gesê of gedoen is ooit teruggetrek word ?
Kan ‘n mens jou gevoel ontken vir iemand, of ‘n situasie, sonder om jouself te bedrieg ?
‘n Moordkuil is my hart, ‘n dolk is in my hand, waar die waarheid ‘n doodsteek in iemand anders se vlees kan wees, ’n leuen, my eie sterfbed, die waarheid, ‘n baie eensame lewe.
Is daar ooit ‘n wenner of ‘n verloorder ?
Ek staan op ‘n krans, en voor my die donkerte wat my verslind, ‘n afgrond van hoop, agter my die naderende dood.
‘n Magdom slange wat nader seil, met gif wat uit hul tande drup, en tonge wat vibreer soos aanvalsdromme.
Hulle wat opsweep, verraai en ‘n belofte van bloed, waardeur vryheid gekoop kan word.
Dis koud, die gladde vel, deusnydende oë…, die dooie kleure van moord…, die sissende geluid wat jou hipnotiseer…
Ek moet spring…dis al uitweg…ek weier om ‘n gevangene te wees…
Die keuse om ‘n paar sekondes langer te lewe, met net genoeg tyd om te vra vir genade en vergifnis…
‘n Paar sekondes van hoop…van vryheid…
Jou hande in die lug te steek en stadig vooroor te val, met die donkerte so dik dat ‘n mens dit met ‘n mes kan sny…
‘n Swart jellie waarin jy stadig afsak na onder…, ‘n skree wat eggo teen die vel van die kranse…, en al persoon wie jou terugantwoord is jyself.
Die eensaamheid in jou diepste denke, soos ‘n stywe voorportaal, ‘n kamer waar mense te bang is om in te stap…, die onbekende…, die boom in die tuin van Eden…, die boom van kennis, van goed en kwaad…
Ek is goed en kwaad, maar gebrek aan kennis neem ons na ons sterfbed toe.
Die boom, ‘n verbod volgens reël, maar as die reël verwyder word, voedsel vir die siel, en kennis wat ontbreek.
Dimensies wat nog nooit verken was nie, ‘n nuwe speelveld waar jy die reël is, besluite neem, en na hoogtes ruis hoër as die sneeubedekte piekke, hoër as die wolke, deur die aarde se atmosfeer, in ‘n sfeer van jou eie, en self bepaal wat is moontlik en nie moontlik nie…die “Matrix” in jouself…
Vry van die moordlustige nasies, die nousiende mensdom en die selfsugtigheid self.
Geen gebreke, in reënboog kleure soos lig deur ‘n prisma, nie die reënboog van Suid Afrika nie, -dit was nog altyd daar, maar onsigbaar vir die oog.
Dit was net om verder te kyk, soos twee klippe in die woestyn. In wind en weer lê hulle, naak vir almal en enige iets om opgeraap te word. Die wind wat waai en sandduine wat nader kruip totdat die twee klippe oordek is met sand. Hulle is nie meer sigbaar vir die oog nie, maar die wete dat hulle daar is maak hulle werklik. Beskerm lê hulle nou totdat tyd hulle weer sal ontbloot.

Ek sien my en ek sien jou…, anders as die res van die mense om ons…, om in tyd terug te gaan…, na waar alles begin het, en die wete in werking te stel… !

As ons die gister kon verander, sou môre ook anders gewees het, maar vandag is as gevolg van gister, die sekerheid van môre, want niks is seker nie behalwe die dood wat vir ons elkeen wag…, sekond vir sekond tik tyd af, en die oneindige val na onder, raak ons ouer en die lewe gaan verby, soos ‘n bus verby ‘n bushalte.
Gaan jy opklim of is daar nog iets die moeite werd om te doen sodat jy wil agter bly… ?

Gaan daar later nog ‘n bus verby kom…, of gaan daar nog ‘n geleentheid wees ?
Wie weet, die lewe is ‘n dobbelspel tussen wen en verloor, lewe en dood, liefde en haat…

Ware vriendskappe is skaars, en om jouself te verbind, die grootste risiko en dobbelspel van jou lewe.
Ons grootste vyand tradisie, en tog die trots van jou gister !?

Die wêreld is daar om ontdek te word, denke is daar om ontwikkel te word, en as jy mooi daaroor dink…, kan jy versadig word as jy nie eet nie ? Kan jou dors geles word as jy nie drink nie ? Kan jy deelneem aan ‘n spel as jy nie deel daarvan is nie…?

Om te wen moet jy waag, deur te waag kom die risiko…, om te spring…, die hoop…, en hoop slegs deur geloof…en jou geloof bepaal jou einde…jou doodgaan…jou lewe…



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

HOOP

deur Ano

HOOP is 'n hulpmiddel vir persone wat sukkel om die dood van 'n geliefde te verwerk. Die hoofstukke is kort en aan die einde van elkeen is 'n paar vrae wat jy aan jouself kan stel. Vrae soos 'Van watter metodes maak jy gebruik om van jou rou af weg te vlug', of 'Hoe hanteer jy verjaarsdae en ander feestelike byeenkomste'? Hierdeur hoop ek die leser sal tyd in introspeksie deurbring en vir homself 'n paar antwoorde vind.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar