Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Martin trek sy oë op skrefies. Sy gedagtegang slinger in sirkels van planne maak. Vandag verwurg hy nog hierdie viswyf maar see toe sal daar gegaan word.

“Liefie ek het vir jou ‘n verrassing”

Anel kyk gesteurd op van die rekenaar. As Martin dáárdie stemtoon gebruik weet sy al by voorbaat hier kom vandag weer ‘n rusie.

“Ja?” antwoord sy half ongeduldig.

“Sien jy Anel, al wat ek van jou kry is ‘n koue skouer. Jy stel deesdae meer belang in daardie glasgod voor jou as in my. Jy wil nêrens gaan nie. Altyd ‘n verdomde verskoning. Dan is dit te koud, dan pyn jou maag, dan….”

Sy onderbreek sy tirade. “Martin hoeveel keer het ek nie al vir jou gesê dat ek na die kolonoperasie nie meer op die ingewing van die oomblik iewers kan gaan nie. Beplanning is van uiterste belang ten einde my menswees en waardigheid te behou – kan jy nie Afrikaans verstaan nie … maar kom ons los dit daar. Wat is die verrassing?”

Martin is wit om die lippe van ingehoude woede. Hy kners sy tande om sy humeur in bedwang te hou. Die arseen wat hy in beperkte hoeveelhede vir Anel ingegee het, werk nie soos hy dit beplan nie en met die forensiese gevorderde toetse sal dit fataal wees om die dosis te vermeerder. Hy sal uitgevang word. Die ses-maandelikse dosering mimiek nog steeds net ‘n maagvirus. Hy dink hoe lekker dit was om vir haar met die onlangse akute buikpyne te vra of hy vir haar ‘n pil of ‘n pleister moet bring om haar bek toe te plak.

Hy sit weer sy heuningstem op. “Ken jy die dorpie de Kelders? Naby Gansbaai en Hermanus? Nouja.. Louis my ou lugmagpel het daar ‘n vakansieplekkie wat ons vir ‘n naweek kan gebruik. Gratis.. al wat ons nodig het is om -“

Martin se stem vervaag in die gedagtes wat deur Anel se kop gaan. Sy kan net nie haar vinger op iets konkreets lê nie, maar Martin se aanhoudende verwysing na haar testament, laat die hare in haar nek regop staan. Fyn kriewelinge van onrus. Is dit moontlik die sesde sintuig van ‘n vrou wat haar waarsku? Waarom is hy is voortdurend behep met wie haar erfgename is?

“Martin, ek is nie lus vir ‘n suipsessie by die see nie en dit is soos jy tereg gesê het, ek kry maklik koud. Dit is in die middel van die winter met stormsterkte reën en wind, nou wil jy see toe neuk?”

Hy val haar in die rede. “Daar is ‘n heerlike kaggel en as dit by die suip kom, moet jy jou woorde tel. Weet jy wat suip is? Ons manne van die lugmag mag maar vat – anders as julle …” hy sluk sy woorde in en gaan aan. “Liefie, ons kan selfs skulpies gaan optel en mekaar net geniet”.

Anel skud haar kop. Mekaar geniet? Moet ons mekaar dan nou gaan opvreet? Sy oormaat gebruik van drank en lae libido, dui nie juis op romanse nie. Inteendeel volgens sy taalgebruik klink dit of daar ‘n soppot op die vuur gesit gaan word en sy die aandete gaan wees.
Om die vrede te bewaar stem sy half onwillig in. Dit sal miskien goed wees om net weer buite die vier mure van die huis te kom. Weg te kom van die gedurige rusies en verwyte. Afkraking en vernederende aanmerkings. Dalk doen die naweek hulle beide goed.

In die flietende lig van die verbystormende reënwolke oor die see, sien Anel die romp van die boot toe sy na die diep donker seebodem afsak. Die ysige waterkake sluk haar gulsig in. Sy wens sy kon swem. Die deuntjie, Kinders van die wind draal deur haar kop - meng met brandende soutwater in haar neus. Die wete dat sy oppad is na die vergane skepe se roeswerwe laat haar instinktief reaggeer.
Sy skop en beur na bo. Snak na asem toe haar kop deur die wateroppervlak breek. Die volgende oomblik sien sy Martin se hand wat haar weer onder die water indruk. Toe swem sy. Hondjie-swem en is dankbaar vir die krag in haar bene en arms. Huiswerk sonder ‘n huishulp het haar fiks gehou. Die liggies van die hawe lyk ‘n leeftyd vêr. Sy ontspan - haal diep asem, trap water en beur voort. Die seewater is nou haar hulp en ondersteuning. Sy spoel bibberend van die koue op die strand uit. Seewier hang in slymerige drade in haar hare toe sy tussen die skulpe uitkruip na lewe toe en ylings vir die naaste hulp hardloop.

“Kolonel, hier staan ‘n half-kaal vrou voor die polisiestasie. Sy het ‘n stuk bamboes om haar lyf en ‘n man probeer haar in sy kar laai! Dit is net boude en bor….”
“Kom nou van Staden – dit is nag – wie swem nou kaal in hierdie koue?”
“Genuine kolonel en sy het groen hare”
“Sersant… is jy gesuip of wat gaan by die stasie aan ?” Ek is oppad.”

Anel roer die warm koffie nadenkend om en om. Martin se verskoning dat hy haar probeer gryp het toe sy van die boot afgeval het is teenstrydig met die prentjie wat sy het. Niemand sal haar storie glo nie, daarvoor is hy te ‘n charismatiese leuenaar. Die seepgladde dek… die boot wat opsetlik skerp swaai… haar val en sy hand wat haar kop onder die water druk ….

Sy sit nog ‘n stukkie hout op die vuur en skink nadenkend vir Martin ‘n glasie sjerrie. Hy is gou uit om die motor in die motorhuis te trek. Sy krap vining deur die dokumentasie wat in sy aktetas lê. Sy verstar. Laaste wil en testament… en op die laaste bladsy… haar handtekening. Nog ‘n leuen waarmee hy haar gevang het. Die sogenaamde volmag-dokumentasie wat sy geteken het is toe nie die geval nie.

Sy neem ‘n slukkie van die warm koffie, gooi nog twee teelepels suiker by – soet en lekker. Sy glasie Old Brown sjerrie staan gereed. Die wit pilletjies wat in die kantsak van die aktetas versteek is, word vanaand beproef. Sy hoop dit is nie net suikerpilletjies nie – die manne kán mos vat!




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

seenimf
En ek se jou ne. Ai man ek het hom genietm danki.
4 jaar 8 maande 1 week 6 dae 20 ure oud


Ano
Seenimf
Nee man! Het sy nou wraggies haarself gaan staan en vergiftig? Nog seblief...
4 jaar 8 maande 2 weke 2 dae 21 ure oud


***
Goeie aanbieding, lekker gelees, dankie, Fx
4 jaar 8 maande 2 weke 4 dae 19 ure oud


Seenimf van die kelders
Oulik. Ek het lekker hieraan gelees.
4 jaar 8 maande 2 weke 5 dae 8 ure oud


seenimf
Ek het hierdie ene nou gate uit geniet. Boontjie kry sy loontjie hoop ek van harte. Lekker gelees.
4 jaar 8 maande 2 weke 5 dae 10 ure oud


Seenimf
'n Gemene man as daar ooit een was, maar sy't hom terug gekry.
4 jaar 8 maande 2 weke 5 dae 16 ure oud


Skelm
In die ,Fernsehen' (TV) was 'n reeks: ,Vrouens is die betere moordenaars'. Dis die bewys. Jy behoort daartoe.
Grrr fanToom
4 jaar 8 maande 2 weke 5 dae 19 ure oud


Seenimf
Spannend van begin tot end. Hou van die kinkel aan die einde.
4 jaar 8 maande 2 weke 5 dae 20 ure oud


Seenimf
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die KELDERS VAN DIE SEE projek.
4 jaar 8 maande 2 weke 5 dae 20 ure oud


oeps
oeps dit is nou n storie met n lekker draai
4 jaar 8 maande 2 weke 6 dae 4 ure oud



Katarsis

deur http://www.woes.co.za/

Katarsis, ’n versameling gedigte deur 3 skrywers, tribalmoon, Berg en Chenél Pieterse-Boyle in Afrikaans, bevat ’n uiteenlopende versameling gedigte wat ’n ryk diversiteit van temas en denke byeenbring.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar