Weergawe: 2
Aantal woorde: 544
Kere gelees: 0
Datum gepubliseer: 15 May 2015
Met liggaam, verstand, siel en gees deur ’n geslote opening waarvan die wande van wanhopige misplasings getuig. Uit by die deur. Kloue. Vieslike vuil fokken kloue wat my van alle kante gryp. Ek word soos goedkoop papier uitmekaar geskeur. Vir vyf dae en nagte word die konsentriese sirkel van die onmiddellike omgewing in die kloue van ’n naamlose anomalie gevange gehou. Deur die solder se geheime laat die kinderlykie ’n spyker val. Met ’n mond vol semels en ’n keel wat krap versin sy die gehawende triade wat huppelend deur smart se mantel skeur.
In eenvoud is die bevindings van ’n belydenis wat gesmoor word in die doodsengel se siele-oes. Die ruiter saal langs doringbome af. ’n Druppel bloed op sy ringvinger versteur die gees van Lente. Laat my tog deur die atmosferiese waansin van troebel waters struikel. Ek is verslaaf daaraan om my kop op die rotse stukkend te val. Met geslote oë en ’n mond wat toegestik is met die sondige ikoon se stomp naels, tas ek in die water na die verskroeide lotus se ontwykende kern. Geloof my niet – te vinde is die belydenis van moordenaars tog te niet…want versinnebeeldings spieël vanuit bome op die glans van ’n gevalle skepping se waters wat van bloedsuiers wemel.
Stroompies reduseer my fokus tot die vokale versletenheid van net nog ’n gestremde gerug. As die vuur van my voorgeslag se vrees maar net hierlangs bly tuimel het. Maar oordrewe vlugte wat in impulsiewe onbeholpenheid oordink en geensins antisiperend betrag word nie…dít, juis dít is die onbesonne val van ’n skedel wat tussen die heks se vingers verkrummel. My siel is ’n stuk verfrommelde papier. Gereed vir die asblik. Gereed vir die ashoop. Gereed vir die vuur. Ek ruk my hart uit my borskas en hou dit in my hande omhoog. Ek kwyl soos ’n roofdier wanneer ek my aorta hoor skree.
My maag draai ses keer in die rondte. Dit is toe dat ek begin skiet. ’n Hele magasyn leegmaak. My hande is te bewerig om die magasyn weer vol te maak. Ek gooi die pistool in ’n mangat en loop weg. My middelvinger se nael is ’n skalpel waarmee ek reinheid dissekteer. Die oorblyfsels word slagoffers van dissosiatiewe venyn tussen tande wat in 1791 laas ’n lyk verslind het. Die verskrikte non hang ’n lappie waarop Psalm 91 geverf is, teen die muur op en kies hasepad deur die veld. Ek skree agterna “bid vir my!” maar sy is reeds te ver weg om te hoor.
"Godspeed, you pious virgin!"
Die volgende dag is die mangat weg, die pistool ’n halfdooie vink wat vir die grond staar en die non ’n lyk wat op ’n glaspaneel met stokstywe oë direk in die swart son van die Donker Noorde staar. Dodelik direk. Verbeel ek my of hoor ek iewers die heks skelmpies roggellag terwyl nog ’n skedel tussen haar vingers verkrummel?
’n Lyn word loodreg deur harsings tot diep binne die breinstam getrek. Vingerafdrukke dans glimlaggend rondom ’n verwarde forensiese patoloog wat sy mond vol hamburgers prop. Voor die kansel lê ’n bebloede spyker. Terwyl hy dit optel, prewel hy “bid vir my.”
Ruite kraak.
Mure mompel.
Die vloer gaap verveeld.
Dakbalke dreig om te val.
“Asseblief, bid vir my…”
© T. Fourie