Kortverhale

Titel: Skaaptel
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die groot fout het ingekom toe Bollie (my suster) op die plaas kom kuier na haar eerste jaar op universiteit. Die fout was nie die kuier nie, maar toe bring sy mos nou hierdie boek saam.
Sy het doer vêr in Stellenbosch geswot. Een of ander mooimaak kursus. Ek dink hulle noem dit skoonheidtegnologie of so iets vreesliks. Wel onder andere leer hulle daar van reg eet, en wat dan konsuis goed is vir ligaam en gees.
Nou sy kom toe met hierdie groot kennis en die boek hier aan, en begin toe ook sommer vir pa bearbei om op die regte pad te kom.
Wel sy was die eerste een in die familie wat so hoog gaan leer het, en pa moes seker ‘n hele paar ekstra karakoele weglaai om daarvoor te betaal. So hy moes agslaan op wat sy verkondig, ander was dit geld in die water. Nou die geld was min, en die water in Namibie nog minder, so dis nie regtig ‘n probleem nie, maar jy weet wat ek bedoel.

Sommer op die tweede dag van die vakansie het sy al vir pa oorreed dat die rokery sleg is, en dat suiker dan nou ook nie so wonderlik is nie. En dan was daar nog die rooivleisetery ook. Nou kyk man, dis ‘n plaas met skape die. En ons skape het nie witvleis nie. Hulle het rooivleis, soos dit ‘n ordentlike skaap betaam. Wat moet mens dan nou eet ? Maar pa besluit toe as Bollie se boek so sê, sal dit so wees.
Hy los toe die rook, suiker, en rooivleis. Daai vakansie het ons hoender populasie aansienlik gekrimp. Die goed is gewoonlik in ‘n hok, en sovêr ek weet slaap hulle op stelasies, maar die vakansie sweer ek het hulle ondergronds gegaan om weg te kruip.

Die storie het nie vreeslik goed gegaan nie, want pa rook al jare, en hy ken van rooivleis eet en drink graag suiker in sy koffie. So na so 4 dae begin die onttrekkingssimptome. En in pa se geval was dit in die vorm van volkakgeit. Dis nou figuurlik gesproke, maar as ek reg onthou was dit soms letterlik ook, want sy maag het ook nog hewig geprottesteer teen al die tekort aan rooivleis. So enigiets vreemds (soos te veel hoender) moes uit. So gou moontlik. En die maagstorie het sy buie net erger gemaak.

Wel niks loop reg in pa se oë nie. Dit lyk kompleet of hy met sy poephol in sy hand loop en iets slegs ruik. Sy neus sit amper permanent deesdae op sy voorkop.

Ek was gelukkig klein genoeg om te kan draaie om pa loop, maar Boetie Piet was nie so gelukkig nie. Nee hy was toe nou net mooi op daai ouderdom waar daar van hom verwag word om vakansies op die plaas te help. Nou boetie Piet was ‘n aktiewe mannetjie wat sy kos nodig gehad het. Veral vleis. Rooivleis. Hy het gewoonlik sommer ‘n ordentlike bord kos of in meer gevalle twee borde weggepak met eettyd.

Maar die spesifieke middag wil Pieter nie eet nie. Hy sit en krap in sy bord die kos rond asof hy besig is met die een of ander moerse kos kunswerk. Hy het nie eers vir homself vleis ingeskep nie. Net ‘n ou snytjie brood wat te oordeel aan sy gesig sekerlik van beesmis gebak is, en ‘n klein stukkie hoender. Ma is natuurlik baie bekommerd of die kind nie dalk iets onder lede het nie, maar laat dit toe aan tafel maar gaan, want sy sien dis nie ‘n gesels ete die nie.
Dis na ons almal uit is, en ma die kombuis aan die kant maak, dat Pieter so half skeef teen die kombuiskas kom hang. Kan dalk van swakgeit gewees het van te min kos ook.
Dis toe dat ma haar kans waarneem en vra wat dan fout is.
Boetie Piet het eers so na die gangdeur geloer om te sien of pa buite hoorafstend is voor hy toe uitkom met die storie.

Die oggend moes hulle skaap tel. Nou ‘n skaaptellery werk so: Die klomp skaap word in die kraal gejaag en dan word die hek net so op ‘n skrefie oopgelos sodat hulle weer daar kan uit. So drie of vier op ‘n slag. En dan word hulle so getel. Ou Krisjan moet die skaap uitja, en pa en Pieter staan by die hek en tel. Nie die eerste keer wat Pieter skaap tel nie, maar vandag moet hy leer om dit te doen sê pa. Hier is waar die fout inkom. Die twee van hulle kom nooit ooreen op wat die getal is nie. En pa is nie verkeerd nie. Nooit. Kyk, hy het darem mos nou ook alles soos rooivleis gelos, so sy verstand is helder en sy oë goed. Daar kan onmoontlik nie fout daar kom nie. En ons kinders is geleer om nie te stry met grootmense nie, al is jy ook hoe oortuig dat jy ook kan tel.

Dan word die skaap maar weer teruggejaag en oorgetel. So het dit aangegaan vir sker ‘n stuk of vier keer.
Toe’s pa se geduld op, en hy skel vir Pieter uit omdat hy wat Pieter is dan nou konsuis te veel vleis vreet. Dis hoekom hy nie kan skaap tel nie.

En dis hoekom hy nie die middag wou eet nie, want pa se mood het nog nie gesak nie, en daar was wel vleis op die tafel. Blykbaar net om na gkyk te word.

Gelukkig was dit nie te lank hierna nie wat pa ook agtergekom het dat Bollie se boek ook maar partykeer skoon stront is. Want g’n normale boeremens kan sonder rooivleis eet bly nie.
Op die manier het ma se hoenders darem ook weer kans gekry om hulle gesigte te wys sonder om hulle vas te loop in ‘n byl, en met die geluk in hul harte het dit ook nie lank gevat voor die populasie weer opgetel het nie.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Skakerings van Grys

deur Swartberg

n Bundel van 54 gedigte oor n hele aantal jare geskryf. Beskikbaar in elektroniese formaat.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar