Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die legkaart van haar jarelange geestelike aftakelende huwelik is byna voltooi. Vandag is dit die laaste skuif van die lewensblokkie. Die dodelike breinsmokkel-afkraak-blokkie val vandag in ‘n kleurespel van woede, harseer en bittersoet herinnerine, in plek. Skaakmat. Met sieledood het Magriet jarelange fases van verskillende huweliksrou gehad. Woede, pyn, en soms selfverwyt en onbegrip en later - met die hulp van Bo - aanvaarding. Maar na vandag is die rou wonde weer oopgekrap. Genesing is daar nie meer nie. Haar menswees is nou terminaal siek. Dit is tyd vir aksie - vir Skoppensboer.

Marius se kop gaan waai. Letterlik en figuurlik. Vier buite-egtelike kinders? Die besoek van die merrie met die swart beplakte brommerogie-grimering was die laaste strooi. Haar arrogante houding en rondkyk in die huis – so asof sy alreeds die nuwe Mev de Wet is – het die wal laat breek. Magriet bekyk haar naels. Sal sy dit in sy oë wegslaan, of sy gorrel probeer uitskeur?

Sy het die eerste glipsie by sy sekretaresse aanvaar en vergewe. Die tweede ‘glipsie’ was glo haar skuld – haar koue katelmaniere se skuld. Maar nou hiérdie gemors van nog twee kinders by Elna? Jarelange dubbele standaarde – twee huishoudings - en sy, kiepie plooigesig, moes haar beursie skud! Marius se geld het vir onderhoud en sy eie gerief gegaan.

Magriet spring voor die rekenaar in. Arseen….. reuk van knoffel… sianied … reuk van amandel. Marius is ‘n vleiseter. Die amandellikeur sal ‘n goeie nagereggie wees na die knoffelsousie op sy fillet steak. Sy grinnik en dink. ‘kospotte hier kom ek’

Marius daag vroeg by die huis op. Sy kan op sy gesig sien hy is bewus van Elna se besoek aan haar. Dat sy weet van die twee kinders, sy ontrou en dubbelspel as eggenoot. Sy normale bravade is weg. Hy lyk soos Wagter wat ‘n klapper in sy agterend het, wagtend op die ontploffing.

Magriet se stroopvriendelikheid ontstig Marius nog verder. Het hom van balans af. Hy het trane, verwyte en ‘n geskreeu verwag. Hy kyk haar half begogeld aan. Hoekom tree sy so vreemd op? Sy is ‘n mooi vrou vir haar jare. Goed versorg. Dit is net die ysige Suidpool blou oë en wrang trek om die mond wat ‘n aanduiding gee dat sy innerlik ‘n wroeging het en daarom kan hy nie die kloutjie by die oor bring vanwaar die skielike vriendelikheid sy ontstaan het nie.. “Magriet ons moet praat”

“Sit Marius, ek skink vir jou ietsie vir die senuwees.” Sy loop na die luukse kroeg en skink vir hulle twee glasies sjerrie in. Op die kroegtoonbank sit sy die bottel amandellikeur saam met ‘n dosie duur Duitse likeursjokolade neer. Sy buk oor na waar hy penorent op sy spesiale stoel sit – anders as die normale nonchalante sitlê kannie-omgee posisie. Sy sien die onrus, spanning en afwagting op sy gesig en oorhandig die sjerrie.

Haar gedagtes by die nuwe ongetekende testament wat sy vanoggend in sy studeerkamerlaai gekry het. Sy het nog nooit in sy goed gekrap nie, maar na Elna se besoek kon sy haarself nie keer nie. Die vuilgoed, na al die jare se vreet en verteer bemaak hy sy deel van die gemeenskaplike boedel aan sy ‘kinders’! Sý kinders, want hulle is kinderloos. Wat de hel het hy gedink… dat sy dan op die vlak moet sit as die huis verkoop word as hy sterf of hulle skei en dit vir ‘n los vrou en sy spul optel telge! Waar kom sy dan in die prentjie na al die jare se werk, finansiële hulp en onderskraging? Die polisse sal seker ook gesedeer word – dus, hy het sy plannetjies mooi agtermekaar.

“Nou toe Marius laat ek hoor” Sy gaan sit oorkant hom en teug aan die sjerrie.
“Magriet”… Marius hoes amegtig en en tussen die hoesbuie slaan hy die sjerrie met een teug weg. Magriet verkyk haar aan die man voor haar. Was sy dan so stiksiennig. Op sy kaalkop staan drie haartjies orent. Soos antennas. Waar sy maagspiere was, hang daar nou ‘n drom en die sweterigheid… dit is wat haar altyd afgesit het as sy warm asem oor haar gejaag het. Dun straaltjies loop teen sy voorkop af. Hy vee dit met die agterkant van sy hand weg.
“Elna … en … en … die .. uhm…die kinders” hy stotter “Sy plaas die afgelope tyd baie druk op my en ek het nie ‘n keuse nie …. die kinders is ook betrokke.” Hy staan op en skink vir hom ‘n halwe glas brandewyn en vul dit sommer met kraanwater op. Sy grinnik innerlik. Dit is nie dieselfde Marius wat voor die gaste so puntenerig is oor etiket nie. Sy wonder wat nou gaan kom.

“Ek het nou so gedink. Jy weet nou van Elna en die kinders. As dit reg is met jou kan jy Elna se woonstel oorneem, dan het sy en die kinders meer spasie hier by die huis.” Magriet verstik aan haar sjerrie en hyg na haar asem. Marius gaan sit, vat gulsige slukke aan sy drankie en gaan voort. “Die helfte van die huis se waarde en inhoud is in alle geval my eiendom – so ons maak ‘n ruiltransaksie wat almal gaan pas?”
Magriet kry haar asem terug. “Woonstel? Wie se woonstel is dit dan Marius? Hy kyk haar stip aan, vryf die nattigheid van die drank van sy lippe af, kug effens … “Dit is Elna se woonstel wat ek vir haar gekoop het toe sy swanger was met die tweede kind.” Magriet is nou warm om die kraag en die sjerrie gee haar selfvertroue ‘n hupstoot. “Wat jy die geld waarvandaan gekry het?” Marius staan op en begin heen en weer stap. “Ek het voor ons troue, jare gelede, geld op die aandelebeurs gesit – dit het vrugte afgewerp en ek kon toe die geld vir Elna en die kiddies gee.” Die woord kiddies en Marius se agterbaksheid stoot Magriet se bloeddruk op na twaalfduisend revolusies per minuut. Sy bars amper ‘n aar. Haar toereteller tot sy limiet beproef. Die grysstof-ratkas se ratte gestroop – alle rasionele denke se tande aan flarde.

“Uit my huis Marius … vat die pad – gaan trek in by daardie los gemors… ek is klaar met jou en vergeet van die huis … my prokureur sal dit uitsorteer. Die verdomde vermetelheid… jy en daardie…. slet…lae gemors van ‘n teef… verbeel jou, my man steel, buite egtelike kleintjies aanteel en dan nog in my huis wil intrek. Raas julle koppe? Uit Marius, uit my huis uit” Magriet verstik van woede, sy kan nie meer skreeu nie, haar stem is weg.

Marius spring op. Nou briesend. “Met so ‘n gillende mal mens kan geen mens redeneer nie – ek is uit en jy en jou prokureur kan doen net wat julle wil. Ek stel nie verder belang in jou saligheid nie.” Hy stap driftig by die kroeg verby, steek vas en brul terug. “Ek neem aan hierdie likeur en sjokolade het Elna vir jou gebring as ‘n soenoffer. Aangesien jy jouself soos ‘n kopdoek straatslet gedra, vat ek dit terug. Met jou soort sal mens nooit kan huishou of verstaan nie. Ondankbaar. Alles net myne, myne, so kry vir jou… vat die huis en druk dit in jou…..” Marius se woorde vervaag soos hy teen die trappe afstorm.

Magriet staan in die kombuis. Op die eetkamertafel staan die vleis en glasie likeur onaangeraak. ‘n lui brommer dreun al stadiger, moeisaam, in sirkels van die figuur agt oor die bord. Die maaltyd wat Marius nie aan geraak het nie eis sy tol. Sy skakel die radio aan en die radioomroeper se stem ruk haar tot stilstand. Sy buig haar kop om beter te kan hoor. Kan dit moontlik wees? Hoe het dit gebeur? Net die glasie likeur op die tafel was gedokter – nie die bottel nie!

“Die polisie het gisteraand op ‘n man en vrou en twee kinders afgekom nadat die bure gekla het van onaardse en harde geluide in die woonstel bokant hulle. Vier lyke is gevind. Beide die man en vrou sowel as die kinders is dood aangetref. ‘n Bottel likeur asook sjokolade is deur die forensiese span verwyder vir verdere toetse. Dit blyk dat die gesin vergiftig is. Die saak word verder ondersoek.”

Magriet skud haar kop in ongeloof – die legkaart is toe tóg sonder haar insette voltooi. Sy praat met haarself “Nou toe nou Elna ek en jy was toe op stuk van sake, voëls van enerse vere.

Jy het vir my ‘n graf gegrawe en self daarin geval”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Skoppensboer
Spanning uit die heel boonste rakke!!!!!
4 jaar 10 maande 5 dae 8 ure oud


Ano
Skoppensboer
Heerlik gelees! Applous vir jou
4 jaar 10 maande 5 dae 16 ure oud


Skoppensboer se Legkaart
Lekker gelees,op die ou end vang slim sy baas.
4 jaar 10 maande 6 dae 17 ure oud


SKOPPENSBOER SE LEGKAART
Die noodlot bepaal wie trek aan die kortste end
4 jaar 10 maande 1 week 2 dae 1 uur oud


Legkaart
Jy weet net hoe om mens se aandag te hou.
4 jaar 10 maande 1 week 2 dae 20 ure oud


Legkaart
'n Goeie storie met lekker kinkels!
4 jaar 10 maande 1 week 2 dae 22 ure oud


Drama
Laat my terug dink aan my kinderdae se (Springbok) radio dramas in die aande - geboei luister jy en verbeel jou hoe die karakters lyk en wat hulle doen. Niemand mag praat of geraas maak nie! Heerlik gelees.
4 jaar 10 maande 1 week 3 dae 9 ure oud


skoppensboer
Boeiend gepen, knap gedaan.
4 jaar 10 maande 1 week 3 dae 13 ure oud


Skoppensboer se legkaart
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die LEGKAART projek.
4 jaar 10 maande 1 week 3 dae 13 ure oud



Treë na Innerlike Genesing

deur Leonard John Holmes

Hoe werk mens deur die verlies van ’n geliefde? Hoe hanteer jy die depressie, haat en selfverwyte op ’n jong ouderdom? Hoe vind jy God as jy Hom nog nooit persoonlik geken het nie?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar