Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ben bel my een Vrydagoggend by die werk en vra of ek nie lus was om ‘n week verlof te vat om saam met hom te ry nie.

“En waarheen is die reis,” wou ek weet. Ben is nie ‘n ou wat onbepland dinge doen nie - selfs sy maandelikse begroting word gewoonlik tot op die laaste vyf sent presies uitgewerk. As Ben dus êrens heen wou ry, dan het dit beteken dat die ding al ‘n entjie vêr kom en deel van sy vooruitbeplanning was.

Hy is baie ontwykend. “Jong ja, hoe sal ek nou sê? Al wat ek kan sê is dat dit ‘n bietjie van ‘n verleentheid vir my is en dat ek die ondersteuning van ‘n goeie vriend hierin nodig het.”

“Iets met vroumense te doen?” Ben is in sy laat dertigs en sukkel al vir jare om ‘n verhouding met ‘n meisiemens aan die gang te kry.

“Los tog al die gevra vraery. Ry jy saam of moet ek iemand anders vra?” Beslis iets met vroumense te doen.

“Ek skakel jou terug. Ek moet net kyk hoe lyk my program vir volgende week en, as dit moet, dan skuif ek ‘n paar afsprake.” Ben het geglo ek weet alles van vroumense af nadat my Karlien ‘n jaar gelede saam met haar hondesielkundige weggeloop het. Skynbaar, en dis wat die hondepsigiater gesê het, het haar ses fynbesnaarde en hooggeteelde Pomeranians my antagonisme teenoor hulle aangevoel.

Tog snaaks hoeveel rustigheid daar intussen oor my blyplek gedaal het. Ek kon net nog nie weer aanklank vind by iemand van die vroulike geslag wat ‘n voorliefde gehad het vir klein hondjies nie. Snaaks genoeg is dit ongelukkig al wat die noodlot die afgelope paar maande oor my pad gebring het.

Die oulike blondekoppie wat nou onlangs langs my ingetrek het, het my ‘n week of wat gelede oorgenooi vir koffie. Net toe ek myself wou tuismaak en haar kêffende Miniatuur Pinscher agter die ore wou krap, byt hy my vinger dat die bloed loop. Nodeloos om te sê dat enige hoop op vriendskap net daar in die kiem gesmoor is.

Selfs Jennifer, die aanvallige rooikop wat saam met my werk, se twee Silky Terriers het seker gemaak dat ons twee niks meer as net kollegas sou bly nie. Dit nadat hulle ‘n splinternuwe broek van my amper van my lyf afgeskeur het omdat ek hulle ounooi wou nagsê na ‘n baie romantiese aandjie.

Ek het Ben later daardie Vrydag teruggebel en bevestig dat ek vry was om saam met hom te ry, waarheen en agter wie aan hy ookal op pad was.

Hy’t my die volgende Maandagoggend douvoordag by die huis kom haal. Sy hare was netjies gekap en ek kon sien dat selfs sy klere nie té lank gelede nie nog aan hangers in die klerewinkel gehang het. Ek het my opmerkings vir myself gehou en geduldig gewag dat hy self sy storie vertel.

Ek het nie nodig gehad om te lank te wag nie. Ben het nie nodig gehad om petrol aan te vul of om banddruk, olie en water na te gaan nie. Dit sou reg wees, want hy sou dit die vorige week al met tussenposes nagegaan het en aangevul het waar nodig. Voordat die voorstedelike verkeer na en van die Rand behoorlik op dreef kon kom, was ons al by Potchefstroom verby.

“Ek het met ‘n meisie oor die internet kennis gemaak en ons het begin korrespondeer,” lig hy my so terloops in. “Ons deel dieselfde belangstellings en ek hou van haar voorkoms en agtergrond.”

“Ek hoop jy’t die meisie behoorlik nagevors, want baiekeer is hulle alreeds tien jaar ouer as op die foto of hulle leen hulle jonger sussie se kiekie omdat 150kg nie té goed lyk op ‘n foto nie. Dan ontmoet jy die vroumens en in pleks daarvan dat jy omdraai en huistoe gaan, vermurwe jy uit pure jammerte vir die arme siel. Voor jy behoorlik tot verhaal kan kom en daaroor kan nadink staan jy voor die preekstoel, stewig in haar halwe Nelson en daar’s g’n meer omdraaikans nie.” Ek het gevoel ek moet die man waarsku.

My negatiewe prentjie het hom egter min gepla. “Ek het geweet dat jy iets soos daardie sou kwytraak en daarom het ek so min as moontlik voor die tyd aan jou gesê. Ek neem jou nie saam om na jou kritiek of goedbedoelde raad te gaan luister nie. Ek en sy het klaar besluit dat ons vir mekaar bedoel is en sou daarom baie graag so ‘n bietjie tyd alleen in mekaar se geselskap wou deurbring. Die probleem is haar suster wat ons nie daardie alleentyd gaan wil gun nie. Ek neem jou saam met die uitsluitlike doel om haar geselskap te hou.”

Daarvan het ek nie baie gehou nie. In my geestesoog sien ek hierdie oujongnooi suster met haar skeefgetrapte pantoffels wat aanmekaar koffie en vetkoek aandra.

“Waar bly die meisiekind?”

“’n Feitlik onbekende plekkie aan die Weskus met die naam van Fraia de Conchas. Dit is blykbaar Portugees vir skulpiestrand of so iets. Sy en haar suster besit die een of ander visverwerkingsbesigheid op die dorp.”

‘n Swaarmoedige gevoel het meteens oor my toegesak. Dit was nie bloot ‘n swaarlywige suster met skeefgetrapte pantoffels nie, sy was boonop van Portugese afkoms en het na vis geruik.

Die laaste sewentig kilometer na ons bestemming toe was verstikkend warm, stamperig en stowwerig. Dit was dus met ‘n sug van verligting dat ons die koelte van die seelug verwelkom het op die tien kilometer soutpad wat afgedaal het na die vissersnedersetting toe.

Fraia de Conchas was een van daardie ou dorpies wat gaan stilstaan het in tyd. Terwyl meeste ander Weskusdorpies bloeitydperke beleef het in terme van die verkoop van erwe aan welgestelde binnelanders en die bou van eksotiese vakansiekomplekse, het Fraia de Conchas niks verder gekom as waar dit vyftig jaar gelede ook was nie. Daar was ‘n kleinerige hawe waar ‘n sestal visserskuite vasgemeer was. Twee groterige grys geboue met vuil vensters en meeue op die asbesplaat-dakke, was die eiendom van die twee visverwerkingsbesighede op die dorp. Albei het gespog met indrukwekkende name soos Yellow Star Fishing en Atlantic & Richtersveld Fishing and Cannery. Of enige van die twee plekke ooit vis in blikkies ingelê het, is te betwyfel, want soos meeste van die visbedrywe het hulle ook maar deur moeilike tye gegaan as gevolg van verminderde kwotas en immer-kwynende visbronne.

Die res van die dorpie het bestaan uit ‘n klompie witgekalkte huisies, ‘n paar standaard besighede en ‘n hotelletjie wat êrens uit die 1930’s dateer. Die hotelletjie was my en Ben se bestemming vir die dag. Hy sou die volgende dag kontak maak met die meisie en dan sou ons die dinge van daar af verder vat. Ek was aangenaam verras met die hotel wat verbasend baie van sy 1930’s fleur behou het, kompleet met sepia foto’s en aandenkings uit daardie tydperk. Daar was selfs ‘n spyskaart wat gedurende 1948 deur ‘n besoekende koninklike uit Denemarke geteken is.

Daardie aand aan die etenstafel, lig Ben my terloops in dat ek en hy die volgende oggend baie vroeg op twee van die visserskuite sou uitgaan. Hy’t die afspraak vroeër daardie aand telefonies vasgemaak. Dit sou my die geleentheid gee om die sussie te ontmoet want sy was die skipper van die boot waarop ek sou uitgaan. As sy ‘n skipper was, het ek by myself gedink, dan’t sy waarskynlik nog ‘n paar massiewe bo-arms ook gehad.

Vyfuur die volgende oggend het ‘n baie opgewonde Ben my uit my gesellige warm bed kom uitjaag en is ek brom-brom saam met hom hawe toe. Die bote en hulle bemanning het ongeduldig vir ons twee gewag om diepsee toe te vertrek.

Ek het eenkant op ‘n bankie in die donker op die skip gesit en tevergeefs probeer om die dunnerige denimbaadjie stywer om my vas te trek teen die vroegoggend byt in die lug. Ek was nou maar eenmaal nie die vroeë voëltjie wat die vetste wurmpies gekry het nie en die oggendstond het geen goud vir my in die mond ingehou nie. Rondom my het donker figure heen en weer geskarrel ter voorbereiding van die dag se werksaamhede. Die son het net-net sy kop oor die horison begin uitsteek toe daar ‘n geroep opgaan en die boot wiegend tot stilstand kom. Die anker het met ‘n geklangel in die water in verdwyn en die gebeure wat gevolg het is iets wat mens baie graag permanent sou wou vergeet. ‘n Olierige dieselreuk, die aroma van ou vis en die rustige geskommel van die boot het saamgesweer en besluit dat alles wat op daardie stadium binne-in my was dadelik moes uit. Vir die res van die dag het ek óf oor die reling na die see gestaar en gal gespoeg of skeef op ‘n bankierige ding gesit en gewens ek gaan baie vinniger dood. Van die ouer see-hande het my op ‘n stadium toebroodjies met verlepte kaas en olierige salami aangebied wat glo nét die ding was teen seesiek. Die halfgekoude brood was nog nie eers in my maag nie, toe’s dit al klaar weer viskos.

Die hele dag lank was daar ‘n gewoel en gewerskaf rondom my en ek neem aan dat daar baie goed visgevang is. Ongelukkig kon ek nie deel in hulle vreugde nie en toe die bote skemeraand teen die olierige dok vasmeer is ek, soos my kragte my toegelaat het, daar af en met wankelrige bene reguit hotel toe. Dit was in my opinie ‘n totale vermorsing van ‘n pragtige dag en ek het nie eers die Portugese skipper-vroumens, in die skeefgetrapte pantoffels, met ‘n oog gesien nie.

Terug op vaste aarde het ek terdeë besef dat ek niks in my maag het nie en is ek reguit na die hotel se eetkamer toe waar ek ‘n oordentlike maaltyd bestel het met beesvleis as die basis. Behalwe vir brosgebraaide aartappelskyfies was daar nie veel meer as net daardie basis in my bord nie. Van vis wou ek vir ‘n rukkie niks weet nie. Ek het Ben nie met ‘n oog gesien nie en het aangeneem dat hy seker maar tyd saam met sy geliefde deurgebring het. Na ete, terwyl ek rustig aan ‘n koppie koffie sit en teug, kom ‘n korterige, effens mollige, swartkopvroumens die eetkamer binne. Sy kom reguit na my toe.

“Goeienaand, ek is Maria,” groet sy terwyl sy haar hand uitsteek. Ek bespeur effens van ‘n aksent. Sy’t ‘n oop en aangename gesig.

“Ernst,” groet ek en vat haar uitgestrekte hand.

Daar’s ‘n glimlag om haar mondhoeke. “Na vandag se episode neem ek aan jy’t nie vanaand enige van die uitsoek visgeregte op die spyskaart probeer nie?”

Ek skud my kop. “Vir ‘n rukkie sal ek liewer wegbly van vis af.”

“Ja, as jy nie gemaak is vir die see nie, dan sukkel dit gewoonlik aan die begin op die bote. Gelukkig raak mens dit meesal na ‘n paar keer gewoond.”

“Dis daardie paar keer totdat mens daaraan gewoond is wat my pla.”

Sy lag spontaan. “Mag ek maar hier by jou kom sit?”

“Asseblief. Verskoon tog my onbeskoftheid. Koffie vir jou ook?”

“Dankie, dit sal lekker wees.”

Ek bestel nog koffie vir my en een vir haar en ons gesels later ‘n hond uit ‘n bos uit nadat ons uitgeskuif het tot op die groot voorstoep. Daarvandaan kon mens die liggies van die dorpie op die water sien weerkaats en die geruis van die branders in die agtergrond hoor.

Dit is op die stoep waar Ben en Veronica ons dan ook later kry. “O, dis hier waar julle twee wegkruip. Ons was nogal bang dat jy, na daardie nagmerrieondervinding van jou op die bote, in jou kamer sou gaan wegkruip. Maar ons was duidelik verniet bekommerd en sien jy’t klaar vir Maria ontmoet - kuier julle lekker?”

Ek glimlag opreg. “Sy’s baie goeie geslskap en, ja, ek dink ons kuier lekker.”

Sy glimlag spontaan terug as ‘n teken van bevestiging.

Vir die res van daardie week wys Maria vir my al die besienswaardighede in en om die dorp en ek moet eerlikwaar sê dat ek elke oomblik daarvan geniet het. Sy nooi my om die Saterdag saam met haar piekniek te gaan hou op ‘n beskutte en skynbaar private strandjie. Die manier waarop sy die uitnodiging gerig het, het my nogal baie daarna laat uitsien. Die weer was onverbeterlik en ek glo dit kon ‘n fantastiese dag gewees het, as dit nie was vir haar twee Maltesers wat om die een of ander rede ook moes saam nie.

Die twee honde het sommer met die intrapslag nie van my gehou nie. Hulle wou volstrek nie dat ek langs hulle ounooi inklim nie en na ‘n dreigende geknor en gegrom bly die twee brakkies met hulle pienk en blou strikkies ewe vernaam op die voorste passasierssitplek sit. Ek het nie ‘n keuse gehad as om maar gedweë agter in te klim nie. Maria sweer hoog en laag dat dit die eerste keer is wat die honde so snaaks optree en het geglo dat dit sou verander sodra ons by ons bestemming aangekom het. Dit het nie, en vir die paar ure daar buite in die lekkerste weer denkbaar en die mees romantiese omgewing, het ons op ‘n afstand gekuier met die honde wat seker gemaak het dat daardie afstand nie krimp nie.

Toe sy my net voor vyf aflaai, was my gemoed seker nie van die joviaalste nie en met die groetslag het albei van ons besef dit was “koebaai meraai”. Terwyl die twee brakkies in die kar staan en blaf asof ek besig was om hulle ounooi te vermoor het ons gegroet en elkeen ‘n traan of twee afgevee. Ons het wel e-pos adresse en telefoonnommers uitgeruil, maar dit was meer uit formaliteit as iets anders. Op ‘n manier was ek tog spyt dat dinge nie reg uitgewerk het nie, want ek het haar geselskap baie geniet.

Daardie Sondagoggend vroeg staan ek tas in die hand en wag vir Ben sodat ons kan wegkom van die ou dorpie af. Ek was uitgekuier en gereed om die oggendstond met die goud in sy mond te betrap.

Terwyl ek daar in die ontvangsvertek vir Ben staan en wag, kom die mooiste meisie, waarop ek in my ses-en-dertig lewensjare my oë gelê het, die vertrek van die straat se kant af binne. Haar lang swart hare roer liggies in die oggendluggie wat saam met haar by die deur inkom. Sy trek ‘n groot tas agter haar aan. Met naeltjiebruin oë kyk sy onseker om haar rond en toe sy my sien, toe glimlag sy. ‘n Glimlag wat alles aan my doen wat geen meisie nog ooit aan my kon doen nie.

“Jy moet seker Ernst wees. Ek is Miranda, Veronica se suster.” Haar stem is effens hees en toegevou in fluweel.

Sy moes seker gesien het dat my kakebeen afgesak het tot op die grond en daarom verduidelik sy haarself. “Jy was blykbaar veronderstel om my geselskap te hou, maar toe beland ek die aand voor ons op die see uitgegaan het in die bed met ‘n maagvirus. Maria het toe maar in my plek die boot uitgevat en, teen die tyd dat ek beter was, toe’s jy en Maria al groot pelle.”

Ek kon maar net my kop skud. “En, wat maak jy so vroeg vanoggend hier?” My stem was krakerig en droog.

“Ek ry saam met julle tot op Springbok en vandaar haal ek die bus Kaapstad toe. Dit is hoog tyd dat ek so ‘n bietjie vakansie neem.”

“Miranda – die naam, as ek reg onthou, beteken iets soos ‘die een wat bemin moet word’. Ek het dit toevallig nou die dag oor die radio gehoor. Daar’s die een of ander country-sangeres wat dieselfde naam het.” En, net na ek dit gesê het toe klink dit totaal verspot.

Sy glimlag egter. “Jy’s nogal reg. Maar, nouja, my naam en die betekenis daarvan het my nog nooit juis iets in die sak gebring nie . . .“

“Hoe dan so?”

Sy trek net haar skouers op.

Dis toe dat Ben sy verskyning maak en met hulle twee wat die geselskap vir die res van die pad tot in Springbok oorheers, kry ek so wragtag nie eers weer ‘n woordjie dwars in nie.

Na ons haar afgelaai het en terug was op die pad waag ek ‘n vraag.

“Hoekom het julle my nooit gesê Maria is nie Veronica se suster nie? Hier probeer ek my bes om julle die privaatheid, waarvoor jy gevra het, te gee en toe’s dit al die tyd die verkeerde meisie. Wie is sy eintlik?”

“Maria? Maria is die hoteleienaar se suster. Dit het gelyk asof julle so lekker oor die weg kom dat ons nie wou inmeng nie en omdat hier nie juis baie jonger mense is nie, het sy waarskynlik jou geselskap net so baie waardeer.”

“Ja, ja, ja. Maar nou sal ek mos vir altyd wonder hoe alles anders kon wees.”

Ben bars uit van die lag. “Jy kan mos nog altyd uitvind. Miranda het gevra dat ek vir jou haar e-pos adres moet gee. Sy’t net so baie uitgesien na die kuiertjie saam met jou.”
 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Hondesielkundige
Karlien se hondesielkundige het beslis die spyker op die kop geslaan! weereens 'n lekkerleesverhaal, dankie!
7 jaar 2 maande 3 weke 4 dae 1 uur oud


Skulpiestrand
Baie mooi verhaal goed geskryf.
7 jaar 3 maande 1 week 3 dae 20 ure oud


Skulpiestrand
Ongelooflike kortverhaal! Boeiend en baie goed geskryf. Ek haal my hoed vir jou af.
7 jaar 3 maande 2 weke 3 dae 2 ure oud



vir koeitjies en kalfies

deur Doret Johnstone-Robertson

'n Lekkerleesboek met kort stories vol liefde, spesiaal vir vrouens en kinders.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar