Kortverhale

Titel: Smulgoed
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Karlientjie sit en vroetel met ‘n stokkie in die grond. “Ai ou Poekels” praat sy met die swart steekhaarbrak by haar voete. “Wanneer kom Pappa dan nou huis toe? Vrydagmiddae is altyd so lank…..”

Vrydag is sakgelddag. Dan kom Pappa altyd vroeër huis toe.

Karlientjie trippel in die bekende stofpaadjie af, die blinknuwe vyfrandstuk styf in haar vuis geklem. Elke dag loop sy hierlangs om vir Mamma brood en melk te koop, maar vandag is sakgelddag….

Haar ogies skitter opgewonde. Nog net die laaste stukkie verby die haarkapper en die apteek, dan is sy daar – die kafee op die hoek.

Haar wipneusie frommel so ‘n bietjie van al die geure op die laatmiddagluggie. Maar dis sakgelddag, so sy haas haar verby die muntmasjiene sonder om soos gewoonlik eers te gaan stilstaan en te kyk hoe die skoolseuns Pacman speel.

Sy weet al presies in watter ry is al haar gunsteling smulgoed. Soos gewoonlik loop sy eers by die sjokoladerak verby, maar dis te duur – ek wil vandag baie verskillende lekkers koop. Daar is tog so baie om van te kies…

Nickerballs – ek moet ‘n nickerball hê. “Rooi….of swart?”
“Beslis rooi – dan lyk ek soos ‘n groot nooi met ‘lipstick’ aan.”

Hier is die rak met die Chappies. Ek wens ek kon ook sulke groot borrels blaas soos Boetie, maar hy wil my nie wys hoe nie. “Mamma sê sy wil ons kinders nie sien kougom kou nie. As ek haar darem van Boetie se skelmstreke kon vertel….” verkreukel sy haar ‘n oomblik in die gedagte.

“Slangetjies of teddiebeertjies. Watter jellie-lekkers moet ek kies. Of dalk liewer van die vissie-marshmallows. “Ek kan nie besluit nie… Daar is so baie en alles lyk so lekker.”

“Chomps of Smarties – ek moet tog ook bietjie sjokolade kry.

“Fizzers! Die suur smaak wat my kieste so laat kriewel. Ek moet ‘n Fizzer hê. Vandag sal ek ‘n pienke vat. Mens kan so lekker lank daaraan kou tot jou kake pyn”

“My hande word nou vol – ek hoop my geldjies is genoeg…” Sy pak alles op die toonbank neer. Haar hartjie klop benoud want sy is doodbang vir die kwaai Griek wat altyd so oor sy groot bril vir haar loer.



“Karlien! Karlien!”
“O, hallo Pappa, ek het jou nie sien kom nie…”
“Ja toe my dromertjie, jy sal moet draf as jy nog vanmiddag wil kafee toe gaan – dit word laat,” sê Pappa met ‘n breë glimlag, en druk ‘n blinknuwe vyfrandstuk in haar hand.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Smulgoed
Oulik - laat my aan my eie kleinkindjie dink! Rika du Plessis
10 jaar 2 dae 7 ure oud


Smulgoed
O – die dagdrome van ‘n kind. *lag* Oulik geskryf.

Groete

Chenél
11 jaar 7 maande 6 dae 13 ure oud



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar