Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Sarah is Dinsdagoggend weer eerste op en Janet stap kort na haar in by die kombuis, “Gedog jy sal op wees”, lag sy en vryf speels oor Sarah se hare, “reg vir vanmiddag?” Sarah knipoog en giggel gemaak-stuitig, dan plaas sy twee bekers koffie op die tafel en gaan sit op die stoel langs Janet.

“So by the way”, vra Janet tussen slukke deur, “hoe het jy jouself uit jou sessie met Desmond gewikkel gisteraand?” Sarah lag, gryp skielik na haar maag en begin oordrewe kreun, “Period pains”, fluister sy glimlaggend en Janet bars uit van die lag, “Briljant!” Hulle drink hul koffie en eet beskuit, dan kry Janet skielik ’n plan, “Ek het ’n idee ... ek vertel hom jou pyn is regtig erg en jy moet dokter toe gaan vir ’n inspuiting of pille of so iets ... dan het ons immers ’n verskoning om alleen weg te kom.”

“Cheers!” sê Sarah en hulle klink hul koffiebekers teen mekaar.

Martin sit agter sy lessenaar en voer die hele oggend onderhoude met hoopvolle applikante, chirurge wat aansoek doen vir ’n vennootskap in sy welvarende praktyk. Teen die einde van die oggend het hy ’n kortlys van tien. Hy sal hulle kans gee tot Donderdag-oggend en dan weer onderhoude voer met die finale tien, Vrydag wil hy ten minste ’n kortlys van vyf hê.

Vivian gaan haal hom net na een en sy maak ’n vinnige middagete by hulle huis, daarna sit hy langs die swembad voor sy laptop met ’n stapel papier langs hom, besig om deur al die aansoeke te sif en dan afsprake te maak vir Donderdag.

Vivian sit gebukkend oor haar tekenbord en is druk besig om planne op te trek vir ’n nuwe winkelkompleks naby Johannesburg. Sy was vanoggend by Sarah se B&RS en is heel in haar skik met Jerome en Slade se vordering.
Pietertjie stap heen en weer op die lang toonbank in haar studeerkamer en mompel binnensmonds − hy het vandag nog net twéé neute gekry en is duidelik nie gelukkig met die situasie nie.

Sarah het haastig haar beursie, haar disket en haar Oosterse top in haar handsak ingeprop en beplan dat sy slegs daarmee gaan padgee, later vanmiddag wanneer sy en Janet uitgaan. Waarheen, wonder sy ... miskien Giovanni’s, dis ’n baie publieke plek en ek kan wegkom te voet, redeneer Sarah − terwyl Janet eers die parkade-kaartjie moet betaal voordat sy by die parkade kan uitkom met die kar, plus, ek ken die omgewing. Dit sal my alles ’n voorsprong gee, al is dit selfs net ’n geringe voorsprong. Sy glimlag en stap terug na die ateljee.

Janet stap na Desmond toe, waar hy aan een van die geboue werk, “Desmond, ek moet Sarah later dokter toe neem, sy vrek van die pyn”, vertel Janet en Desmond kyk geïrriteerd op, “Man, gee net vir haar ’n spul pille uit die noodhulpkissie.”

“Jy verstaan nie”, hou Janet aan, “sy moet ’n spesifieke spierverslapper kry, ek ken dit, dis ál wat help vir sulke menstruasiepyne − ’n dokter moet dit inspuit.”

“Ja, okay”, antwoord Desmond en dan word sy aandag in beslag geneem deur twee ouens wat nie seker is oor die afmetings op een van sy handgetekende planne nie. Hy draai om en stap ongeduldig saam met hulle weg. Janet glimlag en in haar kop broei allerhande planne.

Ek gaan na die Lippo Center in Salisbury Drive om my visa te verleng. Dis ’n hele proses en ek moet klaarblyklik bankstate voorlê, ’n Hong Kong-burger moet ’n dokument verskaf wat as ’n karakter-aanprysing dien en ek moet ’n voltydse verblyfsadres opgee vir die visa-tydperk. Later stap ek effens moedeloos weer op met Cottonwood Drive, neem weereens die tram na The Peak en kry gelukkig gou vir Lee Xiang in die hande. Miskien sal ek môre reeds die dokumentasie by Lee Xiang kan kry, hoop ek, as ek hom vandag laat weet en vra of hy bereid sal wees om die dokumente vir my te gee, dink ek.

“I wait you”, lag hy al wuiwend vanaf sy ou staanplek in die koelte langs een van die Sjinese leeus en ek vertel hom van die dokumentasie wat ek uiters dringend benodig om my visa te laat verleng. Hy glimlag ondeund, haal die karakter-dokument uit, dan ’n dokument met sy adres, beroep en kontakbesonderhede.

“How did you know?” vra ek verstom en hy lag heerlik, uit sy maag uit, “I know you want stay long time, be Lee Xiang student. I know Hong Kong government want many paper for visa. I prepare and I wait you come get.” Ek is nog besig om hom te bedank, dan is hy reeds oppad na ‘n nuwe groep toeriste met sy foto’s. Hy waai vir my en glimlag as ek hom verwonderd agterna staar en dan met die dokumentasie in my hand terugstap na die tram.

Daarna stap ek terug na die Lippo, handig alles in en kry ’n kwitansie om my dokument die volgende dag te gaan afhaal. Ek stap verlig uit, dan oor die straat na Pacific Place en bestel my trio in Dan Ryan’s Chicago Restaurant. Ek wonder oor Julia, Sarah en Diana-hulle. Vivian is gelukkig, glimlag ek, die gelukkigste wat sy in ’n baie lang tyd was. Ek maak my laptop oop en sien Jeff het ’n e-mail gestuur. Hy vertel dat alles goed gaan en dat al sy voorbereidings reg is vir die ‘inkwisisie’, soos hy die komitee skertsend benaam. Lee Xiang gesien? vra hy.

Ek stuur vinnig ’n briefie terug en wens hom alles van die beste toe, dan vertel ek hom kortliks van my planne om in Hong Kong aan te bly vir ’n onbetaalde tyd, van Lee Xiang en van Julia wat kom kuier.

Daarna stuur ek ’n e-mail aan Diana en vertel haar ook van Julia se planne om by my te kom kuier. Ek vertel my prokureurs van my planne en dan geniet ek ’n heerlike slaai en “chau mei cha (aarbei-tee)” vir middagete.

Sarah en Janet ry uit by die hekke van POWER Ranch, albei steeds geklee in jeans en hul oranje POWER T-shirts. Sarah forseer haarself om die hele pad na die Brooklyn Sentrum opgewonde te babbel. Miskien is dit senuwees ook. Sy praat altyd aanhoudend as sy senuwee-agtig is oor iets. Janet trek in by die parkade, neem ’n kaartjie by die masjien, die valhek lig op en hulle soek ’n hele rukkie na ’n parkeerplek. Die Sentrum is altyd vol. Uiteindelik kry hulle ’n plek, parkeer en Sarah stap voor, verby die dames toilette, op met ’n stel trappe, opgewonde en reguit oppad na Giovanni’s.

Net na vyf gaan sit hulle heel agter, in die glasomhulde rokers-gedeelte van die restaurant en Janet bestel ’n bottel wyn. “Waarvoor is jy lus?” vra Sarah en blaai deur die spyskaart. Janet glimlag skalks , “Asof jy nie weet nie.”

“Wou net seker maak”, glimlag Sarah en vryf oor Janet se been. Janet giggel en besluit op slakke, “Pla knoffel jou?” vra sy en Sarah antwoord stout, “Nie as ons albei dit eet nie.” Janet bestel die voorgereg en die kelner hervul hul glase. Janet staar dromerig oor die tafel na haar en Sarah besluit dat sy sal wag vir die hoofgereg en miskien eers ’n paar happies moet neem om seker te maak dat Janet niks verwag nie, voordat sy haar breek maak.

Ek kry amper onmiddellik ’n e-mail terug van Diana af, waarin sy wil weet of sy ook vir die naweek kan oorkom. Pieter en die kinders gaan op een of ander rowwe ekspedisie na die Outback, vertel sy en in elk geval is Australië nie só ver van Hong Kong af nie. Visa? vra sy.

Ek antwoord haar dat sy méér as welkom is en dat die visa geen probleem inhou nie, veertien dae outomatiese visa vir enige buitelandse besoeker. Ek bespreek solank nog ’n kamer, laat ek haar weet en dan wonder ek ... Nelson of Viljoen? Ek vra haar om my so gou asmoontlik te laat weet.

“Viljoen”, kry ek die antwoord, “die ander een is net vir bank-onttrekkings” en glimlag, terwyl ek liewers ’n sluk wyn neem. Ek weet nie hóé sy dit hou nie, dink ek − my senuwees sou lankal ingegee het as ek met ’n vervalsde paspoort in my sak rondgereis het.

’n Vriendelike kelner plaas Janet en Sarah se hoofdisse voor hulle neer en Sarah se hart begin onbedaardelik vinniger klop. Sy neem ’n vinnige slukkie wyn en dink ... een sigaret, dan gaan ek my breek maak ... Sy steek twee op en oorhandig een aan Janet. Sarah gesels entoesiasties oor verdere planne vir lewendige opnames in die POWER RANCH-ateljee, oor idees wat sy het vir die POWER RANCH en Janet luister stil-glimlaggend.

“Wat glimlag jy so?” vra Sarah en Janet lag, dan neem sy ’n sluk wyn en fluister, “Ek weet alles van jou planne af, Sarah. Jy kan mý nie só maklik flous nie...” Sarah word bleek en vra stamelend, “Wat ... eh ... wat bedoel jy?” Haar hart klop vinnig, klop in haar kop en hamer teen haar slape ... en sy probeer dink hóé Janet op dees aarde van enige iets kan weet, as sy niks met enigeen bespreek het nie. Haar bene is lam en haar hand met die sigaret begin effens bewe. Sy plaas dit liewers terug in die asbakkie en Janet staar steeds stil na haar, merk elke beweging van Sarah op en glimlag dan takserend, “Jy moet mý nooit onderskat nie ... nie vir Janet nie”, sy lag sinies en Sarah vryf ongemaklik oor haar nek.

Vivian is besig om aandete vir haar en Martin voor te berei en sy verwag ’n oproep van die nuwe kompleks se skakelpersoon, die winkelsentrum se private ontwikkelaars, haar selfoon lê op die kombuistafel. Martin is in sy studeerkamer, besig om verdere vrae op te stel vir applikante op die kortlys, met Pietertjie wat heel gelukkig aan ‘n hopie neute kou op die vloer langs Martin se lessenaar. Hy begin Martin manipuleer. Hy hoef net lank en intens na Martin te staar, sag te mompel terwyl hy sy ruggie op hom draai ... dan gee Martin hom ’n paar neute. Pietertjie praat gelukkig met homself en kraak nóg ’n neut met sy bekkie oop.

Julia se reëlings is alles getref, haar sak is reeds driekwart gepak vir haar vlug Donderdag en sy ontspan in my jacuzzi, met jazz, kerse en wierook. Dis maar ‘n paar van die dinge wat ek by Eliza en Sarah opgetel en aangeleer het, glimlag sy − musiek, kerse en wierook. Sy dink aan David en stil trane loop oor haar wange. Ek is nie kwaad vir hom nie, dink sy. Wat gebeur het, is ’n menslike fout en hy het berou. Dit kon netsowel met mý gebeur het, sulke dinke dinge gebeur só maklik en vernietig soveel wonderlike verhoudings ...

Maar steeds ... los dit ‘n merk, ’n kloof, wat slegs tyd sal genees, dink sy − dis die beste vir my om myself te distansieër van alles ... van David ... en my swangerskap ... Ek moet éérs vrede maak met myself, ín myself, voordat ek kan terugkeer en aangaan met ons verhouding ... Dis beter om weg te kom van al die bekende plekke en mense, net weg, weg, weg ...

“Watse planne van my, Janet?” vra Sarah so kalm as moontlik as hulle begin peusel aan hul pasta-disse.

Janet glimlag geheimsinnig, neem ’n goeie sluk wyn, leun rustig terug teen die rugleuning van die bank, tuur vir ‘n oomblik diep in Sarah se oë en antwoord uiteindelik, ná ’n lang, uitgerekte stilte, “Dat jý die nommer EEN vrou wil wees”, antwoord Janet,”dat jy mý wil makmaak, onttroon en dan mý plek as Desmond se Aardsvrou wil inneem”. Sarah staar vir ’n oomblik byna onbegrypend-verbaasd na haar en vra, “Is jy nou ernstig of joke jy?” Sy kan byna nie glo dat enige regdenkende persoon se wêreldjie só klein en verkramp kan wees nie en begin dit amper vuriglik ontken, maar bedink haarself gelukkig net betyds. Janet staar stil terug na haar en Sarah besluit dat hierdie die beste tyd is om haar ding te doen, terwyl Janet steeds glo dat sý, Sarah, vasgevang is in die proses en probeer kompeteer vir ’n plek in die hiërargie van die bliksemse POWER RANCH.

Sarah staan op, hang haar handsak oor haar skouer, glimlag verskonend en sê, “Verskoon my net ’n oomblik, asseblief. Ek’s nou terug, ek moet ’n vinnige draai gaan loop, dan praat ons daaroor.” Janet knik afwesig en peusel steeds aan haar pasta.

Sarah stap uit by die restaurant, hardloop byna af met af met die stel trappe en storm in by die kleedkamers op die onderste vloer. Sy verdwyn in ’n oop toilet-afskorting, pluk die oranje T-shirt oor haar kop en druk dit in die asdrom, dan trek sy met bewende hande die Oosterse top oor haar kop, stap vinnig en doelgerig uit by die toilette en verdwyn in die donkerte van die parkeerruimte. Sy stap uit en hardloop af met die sypaadjie, dan oor Duncanstraat, verder af in donker systraatjies, terwyl sy die heeltyd hygend oor haar skouer loer. Sy hardloop tot by die Blue Crane en haar bene voel later asof hulle wil ingee van senuwees. Sarah hardloop na binne en sy vra die bestuurder uitasem, wat haar oombliklik as ’n gereelde kliënt herken, of sy één oproep mag maak en verduidelik dat haar selfoon gesteel is. Hy neem haar onmiddellik na sy kantoor.

Vivian se selfoon lui. Sy luister na’n desperate, steeds hygende Sarah en antwoord, “”Ek’s NOU daar!”

Vivian skakel al die stoofplate af, vlieg by die kombuis uit en vertel Martin vinnig van haar gesprek met Sarah, dan skiet sy uit by die deur en jaag met ’n onheilige spoed na die Blue Crane. Sy hardloop in en sien Sarah alleen agter op die dek sit, by ons ou tafel.

Sarah vertel haar alles wat sopas gebeur het en dan jaag hulle weg in Vivian se BMW. Sarah is tjoepstil en selfs Vivian se gedagtes is vol. Vivian trek in by hulle huis, hulle groet Martin, wat steeds besig is voor sy rekenaar en stap dan kombuis-toe.

“Maak jy solank koffie, ek skink wyn, dan bel ons vir Eliza”, beveel Vivian.

Gelukkig is dit hierdie keer maar net een-uur die oggend as my foon lui en ek is steeds wakker. Vivian het haar foon, soos gewoonlik op speakerphone en hulle vertel my alles wat gebeur het. Ek luister en vertel hulle later dat Diana ook oorkom en dan stel ek voor, “ ... dat dit miskien die veiligste sal wees vir Sarah om vir ’n rukkie uit die land uit te kom ... mens weet nooit met sulke fanatiese tipe mense nie.” Vivian en Sarah knik glimlaggend na mekaar.

Vivian”, praat ek skertsend verder, “kom jý tog nou maar ook sommer saam. Dan kan ons praat oor die planne van Ramon se galery in Seville.” Sy lag uitbundig en stem opgewonde in, “Ek sou in elk geval”, giggel sy,”dink jy ek wag daarvoor om genooi te word?”

Ek gee Julia se vlugnommer vir Vivian en sy hardloop om haar laptop te gaan haal, terwyl Sarah en ek verder gesels. Vivian is terug, skakel haar laptop aan, gaan aanlyn en soek vinnig na die Cathay Pacific –besprekings website, alles terwyl ek Sarah meer vertel van Hong Kong, die mense, plekke en ook ’n bietjie van Lee Xiang ... Vivian beduie vir Sarah dat sy haar paspoort nodig het. Sarah grawe diep onder in haar sak, haal dit uit en skuif dit oor die tafel na Vivian, wat al die besonderhede vinnig insleutel. Ek gee hulle ook my rekeningnommer en bied die ‘trippie’ as almal se kersgeskenke aan, namens Ramon en my.

“Ons het plekke op dieselfde vlug gekry as Julia!” gil Vivian later skielik opgewonde van agter haar laptop se skerm.

“Nouja, dan het ons Vrydagaand beslis ’n dogters-van-die-son-aand ... in HONG KONG!” gil ek oor die foon en kan byna nie my opgewondenheid beteuel nie.


***(dRiE)**



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

N VERGANE ERA

deur neels claasen

spoorweg staaltjies en verhale uit die verlede



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar