Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die yskoue September wind waai Ansie se hare skierts regop. Van ‘n lente-oggend is daar nie sprake nie. Liewer ‘n ongewone sneeu lentedag. Sy trek haar kop dieper in haar baadjie in, weg van die swiepende reënaanslag. Die sjier-sjier van die langbroek se gekners by haar binneboude onhoorbaar teen die storm. Dawie lê met ‘n Vicks-lap op sy kop. Hy het haar die hele nag wakker gehou met sy dorstige gesluk aan die waterbottel. Die glas was nie meer groot genoeg vir die wrede dors nie. Haar weet-te-vertelle skoonma, die oorsaak. Gisteraand in die ysige koue, moes Dawie terstond snoek braai want moedertjie se lus het uitgehang vir snoek en patats. Nogal gekoopte pakkies snoek. Raar, want sy glo aan vars snoek op die kole. Die sous waarmee die snoek bedruip word, is volgens haar uniek, voorberei soos net sy dit kan doen. Haar eie geheime resep. Die ou ou storie van hoe niemand nog ooit haar snoekresep kon oortref nie, het Ansie gisteraand sommer na nog ‘n stuk sjokolade laat gryp.

“Ansie, jy moet jou gewig dophou. As jy eet soos ek, sal jy nie ‘n gewigsprobleem hê nie. Vis is baie beter as vleis. Jy moet dan nou maar die frikadelletjie wat jy gemaak het, alleen eet want vanaand moét Dawie net eenvoudig vir ons die ou vissie op die kole kry……. Dawietjie, Bokkie-kind gaan kry jy tog gou vir jou ou moedertjie die vuurtjie aan die gang. Ek maak solank die sousie sodat jy vir ‘n slag weer ordentlike mamma-vis met my beroemde sousie kan eet. Dit is tog só ‘n jammerte Ansie eet nie vis nie, sy mis baie. Ansie is jy seker jy is allergies vir vis? In ons dae het ons nie fiemies gehad nie, my pa het die sambok agter die stoel se leuning opgehang en die kinders moes eet wat op die bord is.” Skoonma kyk haar veroordelend aan. Ansie kook innerlik maar hou haar kalm. “Ja ma ek is allergies vir vis”. Dit is seker die honderdste keer dat sy dieselfde vraag moet beantwoord. Nou is Ella in haar element. “Soos ek gesê het,in ons dae was daar nie so iets soos allergies vir iets nie. My kinders het alles ge-eet, geen fieterjasies nie. Moet darem bysê my snoek was al die jare hulle gunsteling dis.” Ansie sluk die stuk sjokolade sommer heel in. Sy staan op en loop kombuis toe. Skoonma is dadelik by. “Ansie ek sal gou die sousie maak. Jy weet in alle geval nie hoe my resep werk nie. Vandag se vroumense wat so voor die rekenaar in plaas van die stoof boer, weet mos nie wat in die kombuis aangaan nie. Alles is deesdae wegneem etes en kitskos!”….. Geen wonder die mans slaan so jonk dood neer nie. Jy moet na Dawie se dieët kyk, hy moet ten minste een maal per week vis inkry. My ou man sê mos ek het met my wonderlike kos sy hart gesteel.” Ansie dink in haar enigheid. Seker hoekom sy hart begin ingee, van al die botter, room en gebraaide vis! Sy gril as sy dink aan die asyn wat skoonma by al die vleisgeregte ingooi. ‘n Gewoonte, oorgelewer van die oumas wat nie vrieskaste gehad het nie. Seker maar om die benoude klankie van die vleis wat te lank in die koeler gehang het, te verdoesel. Oorgedra van geslag tot geslag.

Ansie sit die bedrywighede so om haar en aanstaar. Ter wille van Dawie en skoonpa bly sy maar kalm. Die vuur brand hoog en Dawie gaan haal twee bottels wyn uit die yskas. Ella roer en meng vir ‘n vale. “Dawietjie gooi tog vir moeder net ‘n halwe glasie wyn, jy weet ek is nie ‘n drinker nie. Sy kyk Ansie half beskuldigend aan. Ansie teug rustig aan haar glasie rooiwyn. Volgens skoonma is ‘n mens ‘n alkholis as jy twee glasies wyn drink en pa Piet is maar versigtig met die voggies en die preek wat daarmee saamgaan. Dawie kom buk oor haar en sê “Liefie het jy al die patats reg vir die kole?” Genade tog, sy het vergeet, skoonma maak haar heel verbouereerd! Sy spring op en rol gou die patats in foelie toe, sit dit in ‘n bak en sien Ella skud haar kop heen en weer. Ansie is lus en gooi haar tussen die oë met ‘n patat. “Nouja, nou is alles ten einde laaste gereed. Ek gaan net gou badkamer toe. Ansie ek sal jou nou nou kom help om tafel te dek. Julle jong mense weet mos nie hoe ‘n tafel vir ‘n feesmaal gedek moet word nie.” Dawie is besig om die patats in die kole toe te krap en Ansie neem haar kans waar. Sy kry die soutbottel in die hande. Die spierwit sout stroom gewillig, soos deur die seuntjie op die bottel aangedui en smelt vinnig weg in die wondersousie. Háár bydrae tot die visgereg en om uiting aan haar frustrasie te gee.

Toe Dawie die vis op die tafel sit, vryf hy sy hande met genoegdoening. “My vrou, hierdie is koningskos en beter as my ou moedertjie se resep kan jy nie kry nie. Sy het nog nooit in haar lewe ‘n flop met enige kos gemaak nie. ‘n Voorslag met kos, sê ek vir jou! Jy moet tog eendag maar die resep by haar kry” Ansie grinnik. “Ma sal maar moet help jong, jy weet ek is bekend daarvoor dat hier al onaardige goed uit my kombuis gekom het. Ek is nou nie juis die beste kok nie. Dit moet wonderlik wees om so begaafd te wees met alle geregte en gebak.” Ella straal…… “Nou toe, skep Dawietjie en val weg my kind, jy lyk juis half verhonger, seker al die blikkieskos en take-aways”. Dawie hap die eerste stuk vis gulsig. Begin kou, verstar en bondel die vis in sy kies. Gryp die wyn en sluk die vis heel af. Ella volg sy voorbeeld. Na die tweede stuk snoek skree sy half benoud “Gooi nog wyn my kind” Dawie gooi die glasie half. “Nee maak sommer vol” Van die oormaat sout rep hulle nie ‘n woord nie. Ella se reputasie is op die spel. Ella sluk die helfte van die wyn weg, hoes en kry ‘n stuk patat in die hande. Die kokende patat laat gryp haar weer na die glas wyn. “Nee man Dawietjie wat is jy nou so suinig met die drinkgoedjies, gooi my kind gooi! Vis en wyn gaan wonderlik saam.” Dawie stop weer ‘n stuk snoek toegeplak met patat in sy mond. Hy volg dit op met ‘n vol glas wyn. Met die derde probeerslag gaan steek ‘n visgraat dwars in Dawie se keel vas. Hy gryp die bottel en probeer die graat afsluk. Spring brullend op en grawe met sy vinger in sy keel. Ella spring op en skreeu “Ansie…… help vir Dawie, slaan hom tussen die blaaie!” Die wyn en ou Ella se bene werk nie saam nie. Sy tref Dawie met ‘n slag en die visgraat kry sy pad genadiglik terug. “So ‘n verdomde visgraat, nou is my eetlus ook sommer daarmee heen”! Die res van die snoek het skielik net verdwyn en al die lofsange oor die visresep het saam vertrek. Skoonpa Piet is nog steeds herkouend aan die eerste happie vis, sout-stom met Ella hangend aan sy sy, huistoe. Hy was nie in staat om te praat nie, net kouend, met sy kop beduie.

Ansie sleepdra die vullissak na die agterplaas. Sy sien buurman Jan is besig om sy hond Rufus agter in sy Pajero te laai en wonder of die man nou ook soos skoonma die kluts kwyt geraak het. Wil hy nou die hond vir ‘n lente uitstappie in hierdie storm ys-weer vat? Ansie stap nader. “More buurman. En nou? Gaan jy en Rufus stand toe?” Sy skrik toe sy die benoude uitdrukking op Jan se gesig sien. “More Ansie, nee ek is oppad veearts toe. Rufus kan nie ophou water drink nie. Selfs die stormreën kon die visdam nie vol hou nie. Rufus het dit oornag leeggesuip. Lê vanoggend op sy sy om die laaste poeletjies op te lek. Iets is ernstig verkeerd met die hond” Ansie kyk met afgryse na Rufus. Dit lyk of die reunhond dragtig is. Die maag is bieliekan geswel. Sy hoor die buurman verder kerm. “Tina se twee katte is alreeds op drup. Neuse gebars van die droogte en om hulle oë – jy moet dit sien Ansie ! - het lae spierwit soutkringe uitgeslaan. Die veearts sê hy het in sy dag des lewens nog nooit so-iets gesien nie. Een of ander sodium oordosis. Die katte kan dalk nog hoë bloedruk en ‘n beroerteaanval daarvan kry. Ek het ‘n vermoede Rufus het dieselfde siekte.”

“Sterkte buurman” … Ansie grinnik so in haar innigheid.  Rufus en Dawie se simptome stem ooreen en sy weet nou waarheen skoonmoeder se beroemde snoek verdwyn het. Geen wonder sy het nie, soos gewoonlik na ‘n braai, ‘n ontbyt-bakkie saamgeneem nie. Sy wonder of sy nie vir Dawie saam met Rufus veearts toe moet stuur vir ‘n binneaarse drup en vir buurman Jan moet vra om sommer so in die ry vir skoonma ook op te laai nie. Van die beroemde visresep gaan sy verseker nooit weer hoor nie. Saligheid!

Wat ‘n heerlike nat koue lentedag!






Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

soutsnoek
Kyk as jy nou nie sterk is nie moet jy slim wees. Dankie vir hierdie heerlike souterige storie, het hom geniet.
6 jaar 7 maande 1 dag 23 ure oud


Lente
Ditsem Ansie! Wat 'n lekker storie...ek het dit nou regtig geniet..
6 jaar 7 maande 2 dae oud


Snoek.
Ai, ek het lanklaas so lekker gelag. 12 Uit 10 vir Ansie!! Man jy laat my nou stukke verlang na die goeie ou Kaap met sy snoek en patattas! Sal maar nie my geheime reseppie met julle deel nie. Kyk uit vir nog van hierdie.
6 jaar 7 maande 2 dae 13 ure oud


Ag nee!
Eers dog ek Dawie is sommer 'n papbroek om nie sy vrou se kant te vat as skoonma haar so boelie nie. Maar toe ek lees dat Ansie AGTER HAAR SKOONMA SE RUG aspris 'n klomp sout in die kos gegooi het, dog ek sy in ook maar 'n papbroek - miskien verdien die twee mekaar!
6 jaar 7 maande 2 dae 14 ure oud


Snoek
Knap gedaan soos altyd en hoe lus kry ek nou vir daardie snoek.
6 jaar 7 maande 2 dae 14 ure oud


Soutsnoek vir Lentedag
Vat so! Lekker gelees, baie dankie.
6 jaar 7 maande 2 dae 15 ure oud



Kruispad

deur Manie Jackson

Toe Luzette en Manie se paaie gekruis het, en die lewe daarna.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar