Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Nols staan vroeg die volgende oggend op. Die geur van gebraaide ham en uie laat hom besef hoe honger hy is.

In die kombuis kry hy vir Sanna besig om die tafel te dek. Ma het vir Sanna al van kleins af die fynere kuns geleer van tafel dek en kos maak.

“More Sanna. Maar dit ruik vanmore lekker hier in die kombuis,” komplimenteer Nols vir Sanna.

“More Nolsie. Ek het hom gadenk dat jy dalk vanmore banja honger gaan wees. Toe ek maak maar genoeg van jou gunsteling ontbyt,” verbaas Sanna vir Nols met haar goeie geheue.

“Kom sit maar solank, ek het klaar vir jou die koffie ingegooi. Ek hoop jy hou nog van jou koffie soos doentertyd,” vra Sanna en sit ‘n beker koffie voor hom neer.

“Dankie Sanna, Alles het dieselfde gebly. Niks het verander nie. Ek besef nou eers hoe baie ek Spioenkop en my mense gemis het,” antwoord Nols en voel hoe die spanning stadig sy liggaam verlaat.

“Waar is pa Sanna?” vra Nols

“Hy sal netnou kom eet Nolsie, dan vat hy maar weer pad daar na jou ma en Rudie toe,” antwoord Sanna met ‘n heimwee in haar stem.

“Bly hy dan die heeldag daar Sanna, kom hy nie deur die dag huis toe nie?” kom die vraag bekommerd van Nols af.

“Jan Nolsie, so met die geweer, hy set daar die heeldag. Ek vat hom die kos, water en fles koffie elke dag, maar hy eet maar min die laaste tyd.” Kom dit bekommerd van Sanna af.

Nols se pa kom sleepvoetend met die geweer in die hand die kombuis binne. Nols is bekommerd oor die geweer, maar merk tog dat die magasyn nie in die geweer is nie. Verlig staan hy op en trek ‘n stoel vir sy pa uit.

Rudolf kyk na Nols. ‘n Bekendheid kom lê vlak in sy oë. Lank staan hy vir Nols en aangluur.

“Wat soek jy hier, kom krap jy net ou wonde weer oop?” skel oom Rudolf op Nols.

“Nee pa, ek het teruggekom om vir pa te kom boer,” Nols se stem breek plek, plek en trane vloei vrylik oor sy wange.

“Vir wat staan jy hier en tjank, seker omdat jy jou ma en broer vermoor het,” kom dit verwytend van oom Rudolf af.

“Nee, nee, meneer Rudolf kan nie so praat nie, meneer weet mos Nolsie was nie hier nie. Daar hy was die hofsaak. Hulle het gasê dit was die groot ongeluk, dit was niemand se fout gawees nie. Nolsie het gakom om jou te kom help, laat hy jou nou help, jy kan hom nie meer so aangaan nie. Hier hy gaan niks meer aan op die plaas nie. Netnou hulle vat hom die plaas, dan waarheen gaan ons dan, hê?” paai en probeer Sanna vir oom Rudolf insien dat hy sy siening moet verander.

Dit is stil om die tafel terwyl oom Rudolf homself amper verwurg hoe hy die kos instop van hongerte. Nols kan nie glo dat die harde man met die dooie oë hier voor hom sy pa is nie.

Oom Rudolf staan op. Vat sy geweer en beweeg na die kombuisdeur toe.

“Dan moet jy maar jou ding doen Nols. Doen wat jy goed dink. Los my net uit daar by jou ma en Rudie,” sonder ‘n woord draai oom Rudolf om en stap by die agterdeur uit reguit na die twee grafte toe.

“Sanna ek gaan maar eers kyk wat hier op die plaas aan die gang is. Dit het gister vir my maar verwaarloos en verlate gelyk,” lig Nols vir Sanna in en stap ook die agterdeur uit.

By die krale is Nols nogal verbaas om te sien in watse goeie kondisie die beeste is. Hulle is maar vol bosluise maar genoeg kos en water het hulle darem gehad. Daar is heelwat kalwers wat hy kan uitkeer vir die vendusie merk hy op. Hy sal dan maar ‘n ander bul moet kry vir ‘n nuwe bloedlyn.

“More klein Nolsie,” kom ‘n verbaasde groet van ‘n verrimpelde ou man wat langs Nols kom staan het.

Nols kyk die ou man verbaas aan.

“Petrus?” vra Nols uit die veld geslaan.

“Ja klein Nolsie, dit hy es Petrus nog hierdie,” kom die krakerige stem van die ou mannetjie af.

“Ek kan nie glo jy lewe nog nie,” Nols voel hy kan op en af spring van blydskap, maar gee die ou man tog ‘n druk van blydskap.

“Ek het hom net vir jou gewag klein Nolsie, net soos ons is klaar met die beeste en ek weet hom jy is weer reg hierso, dan ek sal gaan. Die ander lewe hy roep my al,” antwoord Petrus met ‘n ou krakerige stem.

“Nee Petrus jy is al te oud. Is hier nie jonger mense wat kan kom help nie. Jy kan my help om te kyk of hulle reg werk. Ek sal vir jou ‘n stoel bring dat jy daar onder die boom kan sit en kyk of alles vlot verloop,” Nols besef Petrus kan nie meer werk nie, die man is hopeloos te oud.

“Ek sal hom vir jou die volk gaan haal klein Nolsie,” antwoord Petrus en begin stadig weg te stap waar hulle huisies tussen die bome staan.

Petrus het nie gespeel toe hy die volk gaan haal het nie. Hulle is gou daar, en Nols spring saam met hulle aan die werk.

Die ou koeie word uitgekeer en eenkant in ‘n kamp gejaag. Die jonger koeie in ‘n ander kamp, en die versies volgens ouderdom uitgesorteer die wat gehou gaan word en die wat verkoop gaan word. Die bulletjies word almal apart in ‘n kamp gejaag.

Nols besef dat daar in jare nie medikasie of bosluis dip vir die beeste gekoop het nie. Gelukkig was ou Petrus slim. Waar hy brandstof vandaan gekry het weet hy nie, maar daar is brandstof in die bakkie wat nog splinternuut lyk. Hy het blykbaar elke dag die bakkie aangesit en vir ‘n rukkie laat luier sodat die battery nie moet pap word nie.

Na middagete ry Nols gou na die Koöperasie om die nodige te kry. Hy soek ‘n afslaer om seker te maak wanneer die volgende vendusie is, en reël sommer vir ‘n trok om die beeste te kom laai. By die supermark kry hy die lysie wat Sanna vir hom in die hand gedruk het en wonder hoe sy altyd die kosvoorraad vir die huis gekoop het.

By die huis neem hy eers Sanna se kosvoorraad. Een van die slimmer klonge roep hy nader en verduidelik vir hom hoe hy die medikasie gestoor wil hê en dat dit sy plig in die vervolg sal wees om toe te sien na die medikasie.

‘n Paar soutlekke word met die bakkie aangery veld toe in verskillende kampe vir die beeste. More sal hy ekstra voer by ‘n boer hier naby gaan haal, dan is hy eers weer reg vir ‘n ruk lank.

Die volk begin die beeste in te jaag vir die aand. Eers die een kamp se ou koeie. Almal help dat Nols hulle gou kan dip, dan is dit die ander kamp se beurt.
Uitgeput klim Nols sommer oor die houtpaal van die kraal en met die wat hy sy een hand gebruik om die sweet uit sy gesig te vee, steek hy in sy spore vas.

‘n Paar tree van hom af staan sy pa. Die geweer hang los aan ‘n band oor sy skouer. Die skouers krom getrek. Die oë is leeg en dood. Maar sy houding is een van pyn en lyding wat oor jare lank strek.

Nols beweeg stadig na sy pa toe. Onbeweeglik bly oom Rudolf staan. Kyk vir Nols niksseggend aan. Soms sien Nols die haat oorwin, dan weer iets soos verlange en herkenning in sy oë.

“Pa,” Nols staan voor sy pa, smeking in sy stem.

“Pa, ek het ook seergekry. Ek het my vrou en kind op een dag verloor. Ek het pa so gemis,” snikkend druk Nols sy kop op sy pa skouers.

Rudolf kyk af na sy huilende seun. Stadig tel hy sy arms op. Plaas dit om Nols se liggaam. Die volk draai almal stil om en beweeg terug huis toe.

Net pa en seun bly by die kraal agter. Vir lank huil die twee saam. Snikke weerklink in die oop ruimte van die natuur.

Rudolf oorhandig die geweer aan Nols.

“Kom ons gaan huis toe seun,” kom dit sag vertroostend van Rudolf af.

Nols sien dat sy pa se oë sag geword het, al die haat en verwyte is weg, net die pyn en ontnugtering wat oorgebly het.

Saam stap pa en seun hand om die lyf terug huis toe.

Sanna draai ook tevrede om, en gaan kyk na haar kos. Nou sal Spioenkop weer lewe.

©ANS BOTHA



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Vrede . . .
is tog altyd die grootste oorwinning!
4 jaar 3 maande 3 weke 4 dae 1 uur oud


spioenkop
Wat n pragtige verhaal en volmaak met n gelukkige einde afgesluit.
4 jaar 3 maande 3 weke 4 dae 8 ure oud


Spioenkop.
Nou het ek self 'n traan of twee af gevee. So dankbaar daar het vrede gekom tussen pa en seun.
4 jaar 3 maande 3 weke 4 dae 12 ure oud



DAG VAN DIE BLOEISEL

deur Johann P. Boshoff

"Dag van die bloeisel het my gevange geneem vanaf die eerste bladsy. Skielik was ek terug in my tienerjare – bewus van die tere vitaliteit van jeugdigheid. Die karakters kry lewe in persone wat ek iewers geken het. En wat ek wéét vandag nog rondom en tussen ons is. Dit is die soort eerlike boek wat ek enige tyd in die hand van ‘n Christen-tiener sal plaas." -- Dr. Ralph Barnard, skrywer, predikant en teoloog



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar