Kortverhale

Titel: Spioenkop
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Nols klim styf en koud van die bakkie af. Hy bedank die oom wat hom so goedgunstig ‘n saamrygeleentheid gegee het.

Nols staan voor die hek en kyk op na Spioenkop. Tien jaar gelede het hy die plaas verlaat na ‘n rusie tussen hom en sy pa. Die Coetser’s was in daardie dae gesiene ryk boere gewees. Sy rekening het ‘n stewige balans gehad, en met die bakkie wat sy pa vir hom gekoop het, na hy sy lisensie gekry het, het hy Spioenkop daardie dag verlaat.

Op ‘n plekkie in die ou Oos Transvaal, Hoedspruit, het Nols ‘n werk op ‘n wildsplaas gekry. Daar het hy sy kennis in die wild uitgebrei, en veral die bewaring van die wild en natuur het hom gefassineer. Nols het elke oomblik van die tien jaar op Hoedspruit geniet.

Dit is ook die eienaar se dogter wat Nols se liefde gewen het. Linda en Nols is ook na vier jaar getroud, en haar pa wat toe reeds baie sieklik was het die plaas aan Nols en Linda oorgegee. Nols was baie opgewonde maar wat hulle nie geweet het nie, is dat die skuldlas op die plaas toe reeds al so groot was dat hulle nie lank sou kon oorleef daar nie.

Na Linda se pa se dood moes die plaas verkoop word. Nols het werk gekry by ‘n naburige buurman. Linda het na jare swanger geraak, en met ‘n genealogiese ondersoek is daar agtergekom dat sy baarmoederkanker het. Linda is oorlede terwyl hulle die baba verwyder het, om haar lewe te probeer red.

Dit was ‘n groot begrafnis. Van oom Dawid se vriende, familie en sy en Linda se vriende het die dubbele begrafnis bygewoon. Dit is nou twee jaar later. Nols het alles verloor. Sy geld wat in sy spaarrekening was het hospitale opgevreet, hy moes sy bakkie verkoop om dokters te betaal, en werk om nog skuld af te betaal. Hy is nou skoon. Nou is die regte tyd om te kom vrede maak, en te smeek om terug te kom Spioenkop toe.

Met ‘n laaste kyk hoe die son oor Spioenkop skyn, maak Nols die hek oop, en weer toe. Hy stap stadig aan na die ou opstal wat redelik ver van die pad af staan. Hoe nader hy kom, hoe opgewonder raak hy. Nie meer lank nie, en hy sal sy ou moeder en pa weer sien. Hy wonder of Rudie die plaas nou behartig. Rudie was nie eintlik ‘n boer nie, maar Nols glo Rudie sal seker sy pa op die plaas kom help het, nadat hy weg is hier.

Die plaaswerf is redelik stil. Nie ‘n hond wat soos gewoonlik rondhardloop en blaf nie. Alles is toe, selfs die store. Niks lyk meer so netjies soos voorheen nie. Wat het hier aangegaan dat alles so agteruitgegaan het wonder Nols.

Nols stap tot by die agterdeur, waar hy verwag om sy ma te kry. Maar die deur is toe. Hy stap om die huis, en klop by die voordeur aan. Alles is doodstil. Hy skrik toe die tuinhekkie skreeu in sy skarniere, en draai vinnig om.

“Ou Sanna! Is dit tog nie jy nie,” vra Nols en sit sy sak op die stoep neer.

Hy hardloop amper na Sanna toe. Sy het hulle help grootmaak en het in die kombuis gewerk vir sy ma.

“Nols? Dit hy is jy, wat hier staan,” vra Sanna met verbasing, en die trane begin vrylik oor haar wange loop.

Nols druk haar styf teen hom vas, hy voel haar ongemak en los haar.

“Dit is ek Sanna. Waar is almal, hoekom is alles so stil en hoekom lyk my pa se plaas so?” borrel al die vrae uit Nols uit.

“Ai Nolsie, jy het hom te laat gekom, dit es hoekom dit lyk soos dit es hier,” antwoord Sanna vir Nols. Sy vee die trane van haar wange af.

“Wat bedoel jy ek het te laat gekom Sanna, wat gaan aan? Waar is my ma en pa?” wil Nols nou angstig weet.

“Jou ma en Rudie hulle es onder die krans begrawe, jou pa hy es nie meer ‘n mens nie Nols, miskien jy moet omdraai en tereg gaan waar jy al die jare was,” antwoord Sanna op haar eerlike manier.

“My ma en Rudie oorlede, wat het hier gebeur op Spioenkop Sanna?” kom die hoeveelste vraag van Nols af.

“Gaan tereg Nols, dit es beter so jy nie weet nie,” smeek Sanna hom amper.

“Nee ek wil weet Sanna en jy gaan my vertel,” Nols gaan sit op die gras en wys vir Sanna om te gaan sit. Sanna kyk ongemaklik na die huis se kant toe.

“Goed Nols, ek, ek sal hom jou die deng vertel,” willig Sanna in en gaan sit by Nols op die gras.

“Daardie dag toe jy weg gaan by die plaas, daardie dag jou pa hy roep vir Rudie. Rudie hy kom daardie naweek hier. Jou pa hy wil hê Rudie hy moet kom boer in jou plek. Maar Rudie hy sê nee, hy wil bly by die groot stad. Jou pa hy raak baie kwaad, hy vat hom die geweer. Rudie en jou ma hulle wil by die kar klim om weg te jaag, maar jou pa hy keer hulle. Jou ma en Rudie hulle gaan by Spioenkop. Jou pa hy gaan agterna. Daar bo by Spioenkop, ons hier onder kon hulle. Hulle baklei, hy wil vir Rudie skiet, maar jou ma hy keer. Jou ma hy stamp hom vir Rudie. Soos Rudie val hy gryp jou ma, hulle val by die kop af. Vandag Nols hulle lê daar waar hulle geval het. Jou pa hy is nie meer die mens nie,” kom die hele verhaal van Sanna af.

Nols kan nie glo wat hy hoor nie. Maar Nols besef dat Sanna die hele verhaal in haar eenvoud so eerlik as moontlik vertel het.

“Gaan liewer Nolsie, dit hy es beter so,” smeek Sanna weer.

“Wat het agterna gebeur Sanna, die polisie . . .” probeer Nols vra maar Sanna keer hom.

“Die polisie hulle het geseg dit was ‘n groot ongeluk. Hulle was banja lank hier daardie dag,” antwoord Sanna vir Nols.

“Wanneer hulle gaan by die hof, hulle seg dit was die ongeluk, jou pa hy kom huis toe. Maar toe al hy was nie meer mens nie,” gaan Sanna voort met haar vertellery.

“My pa, waar is hy Sanna?” vra Nols weer.

“Nou jou pa hy es by jou ma en Rudie. Netnou, hy sal kom slaap,” antwoord Sanna draai om en loop weg.

Nols se skouers ruk van rou snikke wat hortend uit sy keel uitkom. As daardie verdomde dag net nie plaasgevind het nie.

By die twee grafte kry Nols sy pa knielend tussen die grafte. Sy hand op elke graf. Hy sit daar soos ‘n standbeeld wat opgerig is ter ere van die gebeure wat daar plaasgevind het.

Lank staar Nols hom so aan. Hy wil nader stap om sy pa op te help. Hy wil hom so graag omhels om hom te troos. Maar iets keer hom. Iets is nie reg in die houding van agteraf van sy pa nie. Nols hou homself terug.

Na ‘n lang tyd wat vir Nols soos ure voel, kom sy pa kreunend orent.

“Lekker slaap mamma. Rudie dink oor my voorstel, die plaas kan nie so bly lê nie,” praat Nols se pa met die twee grafstene en draai stadig om.

Nols ril as hy vas in sy pa se oë kyk. Dit is die oë van ‘n mal man. Dit kan onmoontlik nie sy pa wees nie.

Nols se pa kom na hom toe aangestap. Vir ‘n oomblik lyk dit lyk of sy pa hom wil kom groet. Nols steek sy hand uit. Nols se pa loop by hom verby sonder of dit lyk of hy hom raak sien. Lank staan Nols en kyk hoe sy pa met geboë rug terugstap huis toe.

Nols staan ‘n rukkie by die twee grafte. Onseker wat hom nou te doen staan. Hy het die liefde in sy lewe en sy kind op een dag verloor. Hulle albei op eendag begrawe. En nou, nou staan hy by sy geliefde moeder en broer se grafte. Almal dood vir wie hy so lief was. Net sy pa wat soos ‘n vreemdeling is vir hom lewe nog. Is dit sy straf vir daardie dag toe hy weg is van die plaas af, wonder hy stilweg.

Nols stap terug huis toe. Hy sal maar moet kyk of hy met sy pa sal kan praat. Hy weet nie of ‘n mens nog met hom kan praat nie. Sal hy ooit kan verstaan. Sal hy ooit vir Nols herken. Hoekom het hy sommer net by hom verby geloop?

Die agterdeur staan oop as Nols by die huis aankom. Hy stap die kombuis binne. Hy trek die onderdeur toe. Nols skrik as hy vaskyk in die loop van sy pa se .303.

“Pa,” is al wat Nols kan sê.

“Wat soek jy hier jou moordenaar?” kom dit haatdraend van die ou man.

“Ek het vir pa kom help pa,” antwoord Nols terwyl hy ‘n skiet gebedjie opstuur. Wanneer laas het hy gebid, wonder hy skielik.

“Lyk dit vir jou of ek jou hulp nodig het hê?” skreeu die ou man kranksinnig.

“Ja pa, dit lyk so. Pa kan nie so aangaan nie, gee my ‘n kans om pa te help,” kom dit kalm van Nols af.

“Jy het my vrou en kind vermoor jou gemors,” kners die ou man die woorde uit.

“Nee pa, ek was nie hier nie, dit was ‘n ongeluk, pa het mos gehoor wat die polisie gesê het,” antwoord Nols so sag en bedaard as moontlik.

Nols sien dat Sanna agter sy pa staan. Sy stap tot by hom. Sy vat die geweer uit sy hande uit. Nols kan nie glo dat sy pa dit so gelate aanvaar dat Sanna die geweer by hom vat nie.

“So ja nou julle kan kom eet, ek het hom die tafel gedek,” praat sy terwyl sy wegstap met die geweer.

Sanna laat twee mense in die kamer agter wat net na mekaar staan en staar. Nols besef sy pa is nie meer homself nie. Wat hy daaraan gaan doen weet hy nog nie. Maar hier, sal hy nooit weer kan weggaan nie.

©ANS BOTHA



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Spioenkop
Ek stem saam met Neels. Ons eis 'n opvolg. Jy kan ons nie nou hier los met al die onbeantwoorde vrae nie.
4 jaar 3 maande 4 weke 1 dag 21 ure oud


spioenkop
Ans hierdie is n spannende storie wat vra vir n opvolg
4 jaar 4 maande 3 ure oud


Spioenkop
Briljante storie.
4 jaar 4 maande 9 ure oud


Haat . . .
en onvrede is ook soos kanker, né?
4 jaar 4 maande 9 ure oud



Dagboek van die tuinvoëls

deur http://www.woes.co.za/

Spesiale gevalle van interaksie wat tussen die tuinvoëls onderling asook met ander wesens plaasgevind het.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar